#JongStemme: Leuens, verdomde leuens en statistieke

Deur Frederik Andersen

Frederik Andersen.

Ek was ses jaar oud toe ek een aand voel dat ’n tand van my los is. Almal was reeds aan die slaap en ek was mos nou ’n groot seun wat niemand wou wakker maak nie. Ek het die tand in my skoen geplaas, daar waar ek al my vorige tande geplaas het, vir die tandmuis om hom uit te ruil vir ’n geldjie (ons tandmuis se finansies het beter geword oor die jare, maar hierdie is nie ’n stuk oor inflasie nie). Ek het dadelik na my skoen gaan kyk toe ek wakker word. Die tand was steeds daar. Hy het eers verdwyn nadat ek vir my pa daarvan vertel het. Van daardie dag af het ek alles om my bevraagteken.

Om alles te bevraagteken het daartoe gelei dat ek bedryfsingenieurswese gaan swot het. Tydens my studies, waarmee ek steeds besig is, het ek die voorreg gehad om te leer hoe om statistiek te verstaan en te lees. Maar ook, hoe om statistiek te gebruik om ’n halwe waarheid te vertel. In die moderne wêreld waar daar meer data as ooit vantevore is, was dit nog nooit so maklik gewees om ’n situasie te laat lyk soos wat jy wil hê dit moet nie.

Daar is 28 Covid-19 sterftes gerapporteer in die laaste 24 uur, die meeste sedert Mei. Covid-19-hospitalisasies vermeerder met 36%. Die benutting van intensiewesorgfasiliteite styg na 67% weens die pandemie.

Is jy al bang? Geen van die bogenoemde is leuens nie, maar is dit die waarheid? Die bogenoemde is aanhalings van internasionale media en politici op Twitter. As ’n mens ’n bietjie dieper delf, sien ’n mens die volgende raak:

  • Die 28 sterftes het oor ’n tydperk van 10 dae gebeur maar dit is op een dag gerapporteer;
  • Net 8% van die betrokke staat se hospitaalbeddens word opgeneem deur Covid-pasiënte ná die styging;
  • Die benutting van intensiewesorgfasiliteite is gewoonlik tussen 90% en 100%, wat 67% relatief laag maak.

Statistieke is beslis hier so gebruik om ’n narratief van paniek te skep. Dieselfde statistieke kan gebruik word om ’n narratief van kalmte en perspektief te skep. Ongelukkig gee kalmte en perspektief nie die nodige advertensie-inkomste wat verkry word deur verbruikers se webbladbesoeke nie.

Ek hoop dat die drie voorbeelde, van vele meer daar buite, jou nuuskierigheid sal laat prikkel as jy weer ’n opskrif sien wat jou in koue sweet laat uitslaan as gevolg van die syfers wat gebruik word. Ek hoop dat jy sal onthou dat goeie nuus selde koerante verkoop. En, soos ons almal weet, is ’n halwe waarheid net so goed soos ’n leuen.

  • Frederik Andersen is ’n derdejaarstudent in bedryfsingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria. Hy glo dat elke vandag beter is as gister en dat daar data is om dit te bewys al moet ons soms hard daarvoor soek.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kosie ·

Die Covid-19 sterftes is so uit verband getrek met die hulp van statistiek en die media, en nou praat hulle van verder inperkinge. Ek wil graag weet, hierdie geskepte histerie, hoe is dit anders as wanneer mens “Bom!!!” skree op ‘n vliegtuig of “Brand!!!” binne in ‘n rolprentteater. Ons is nog maar aan die begin van die gevolge weens die vernietiging op die ekonomie. Gaan Cyril en sy raadgewers langs die beddens staan van die kinders wat weens wanvoeding sterf? En wat van die bydra van die “wetenskaplikes” en ander met hulle voorspellings van 10 miljoen wat sou sterf in Sub-Sahara Afrika. Ons is nie eers by 1/200ste van die getal nie. Hoekom word hulle nie vervolg vir die skree van “Covid!!!” op die TV’s nie? Ja, Covid mag dalk nog lei tot die dood van 10 miljoen in S.A., maar dit gaan nie weens die virus wees nie. Is daar geen aanspreeklikheid en geregtigheid in die wêreld nie?

Derek ·

Statistiek en wiskundige statistiek is niks anders as die berekening van waarskynlikhede nie, dit kan gebeur of dit kan nie gebeur. Dit is hoekom die rekenaar modelle nie geslaag het nie, alles word bepaal deur die korrektheid van feite en ons weet almal dat dit totaal ontbreek het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.