#JongStemme: ʼn Matriekleerder se ‘Covid-19-lewe’

Deur Bernard van Jaarsveld

Bernard van Jaarsveld.

Daardie gevoel wat jy kry as die skeidsregter hom blind staar teen die mees ooglopende vuilspeltaktiek van die opponerende rugbyspan. Daardie één onskuldige puntjie wat die juffrou nie aan jou wil toeken nie of daardie een persentasiepunt wat jy nodig het om ’n onderskeiding te behaal. Daardie gevoel wat jy kry as jy by ʼn leë, kaalgesteelde huis instap… Daardie gevoel wat jy voel as iets wat joune is, weggeskeur word. Gesteel word. Skoonveld is…

Dis die gevoel wat matriekleerders van 2020 tans ervaar. Die idee van húl matriekjaar. Hul kans om ’n verskil te maak. Hul kans om die beste matrieks nóg te wees. Die idee… Net ’n idee wat vasgevang is in ’n nou onrealistiese toekoms. Die idee wat nou van my en jou, ons matriekjaar, gesteel is.

Dit het begin met die eerste kwartaal wat twee dae vroeër geëindig het. Vir die meeste was die nuus van ’n maand weg van skool, ’n groot verligting. Ná ’n baie uitdagende eerste kwartaal het ’n verlengde “vakansie” glad nie so sleg geklink nie.

Die matriekklas van 2020 het met baie vreugde en waardering hul blaaskans aangegryp, min wetend dat daardie laaste paar rateltaaidae van hul laaste gewone skooldae ooit sou wees.

Verwarring het begin broei in elke leerder se gedagtes toe die nasionale krisis verklaar is en ons in nasionale afsonderingstydperk geplaas is. Die teleurstelling dat daar nog ʼn paar weke van hul kosbare matriekjaar weggevat is, is met wye reaksie onder matrieks ontvang. Wat nou?

Dit was chaos onder onderwysers en leerders toe die manier van leer vir die voorsienbare toekoms verander is na aanlyn klasse. Dit is alles ’n groot, vriendelik-verpligte eksperiment wat nie juis die opsie het om te faal nie.

Die aanpassing het tot die ironie van die saak gelei: leerders het in teorie meer tyd omdat hulle geforseer word om heeldag by die huis te sit, alhoewel leerders nie noodwendig meer gedoen kry nie. Met al die nuwe metodes van leer en onderwysers wat hul bes probeer deur middel van tegnologiese kommunikasie, het effektiwiteit drasties verminder en die moeilikheidsgraad van die werk drasties vermeerder. Leerders het definitief ’n nuwe respek en waardering vir onderwysers ontwikkel. Dis moeilik om oor daardie tienertrots te kom, maar uiteindelik besef elke matrikulant – die onderwyser voor in die klas wat omgee, is toe nie so sleg en swak soos wat almal altyd gedink het hy/sy is nie.

Vandat Covid-19 gekom het en so te sê elke mens in die wêreld se normale lewenswyses heeltemal onderstebo kom gooi het, is veral die matriekleerders se ware karakter getoets. Karaktereienskappe soos selfdissipline, deursettingsvermoë en vasberadenheid is opgeskerp en die kaf word definitief in dié tydperk van die koring geskei.

Dié tydperk is vir die meeste matriekleerders ’n tyd waar die “skille van die oë “ moet val. Dit los jou met die volgende vraag: As jou sport, jou vryheid en jou kosbaarste skooljaar van jou af weggevat word en jou sosiale lewe word oorrompel en beperk, wat bly oor? Wat is waarlik die belangrikste en kosbaarste dinge in jou lewe?

Vir party leerders bly daar hul geloof en families oor. Vir ander bly daar die besef oor dat hul prioriteite verkeerd georden was. Die werklikheid is dat wat ook al oorbly, ’n groot effek op die meeste se sienings gehad het en dat hul perspektiewe in die meeste gevalle op ’n permanente wyse verander is.

Matriekleerders gaan deur ’n baie moeilike tyd met al die veranderinge en monumentale tradisies en gebeurtenisse wat van hulle weggestroop is. Maar in dié tyd besef ek en jy dat ons moet fokus op wat werklik belangrik is en dat dié tydperk net ’n groot toets is om die opkomende generasie soveel sterker te maak.

Matriekleerders, en al die ander skoliere van jonger grade wat saam met hulle dié gevoelens deel, is besig om hul teleurstellings te verwerk en hul siening oor 2020 te verander. Die proses en situasie het heeltemal verander, maar die doel om ’n matriekklas te wees wat in die geskiedenis sal onthou word, is nou meer werklik as ooit.

Covid-19 het sy houe geplant, maar dis nou tyd dat ek en jy, die 2020-matriekklas, met mening terugslaan.

  • Bernard van Jaarsveld ’n matriekleerder aan Grey Kollege in Bloemfontein. Hy is ’n akademiese presteerder en ’n kranige bergfietsryer wat vanjaar die kaptein van Grey Kollege se bergfietsryspan is.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en advies met jou loopbaan!

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ‘n meningstuk wil skryf, stuur ‘n e-pos na [email protected] en ons kontak jou graag.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jaco ·

ek weet nie waaroor kla die kind nie. gaan kyk net na die programme op DSTV waar hersiening van matriekvakke gedoen word. Geskiedenis was my sterk vak op skool, maar baie moeilik. Dit feature nie eens op daardie kanaal nie. So maklik is dit deesdae. Geografie was ook my sterk vak op skool en ook moeilik. Nie op daardie DSTV kanaal nie.
Standaarde het regtig laer geraak. Ek sidder om te dink dat uiversiteitsgrade se standaarde ook laer is. So waarmee gaan die mense die beroepswereld binne? Met gebrekkige kennis?

Erik ·

Jaco, ek neem aan jy is sarkasties? Dis maklik om deur te kom , daarmee stem ek saam. Die werk is egter baie moeiliker (ek is onderwyser) in sekere vakke as jare gelede. Vakke soos Rekeningkunde, Wiskunde en Skei-Nat is baie moeiliker nou as toe ek op skool was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.