#JongStemme: Ons kyk opgewonde vorentoe

Jan van Staden het onlangs tydens Sol-Tech se derde promoveringsplegtigheid vir die jaar die volgende toespraak gelewer:

Goeiemiddag mnr. Paul van Deventer, Sol-Tech-personeel, mede-studente en gaste.

Sol-Tech het die beste in my na vore gebring. Tydens my “toast masters”-kursus in matriek, het ek die beste vordering getoon, in so ʼn mate dat ek gevorder het van iemand wat niks gesê het nie, tot iemand wat kan “goeiemiddag” sê. Vandag staan ek voor julle en wil so ʼn bietjie van Sol-Tech en my ervaring vertel.

Op Jeugdag is daar aan ons studente gevra wat jou opgewonde maak vir die toekoms. Hendry Reynecke het geantwoord: “Kundigheid wat ʼn sekere toekoms waarborg”, Danelle Viljoen het geantwoord: “Veerkragtigheid van Afrikaans”, Francois van der Merwe weer: “Fantastiese toekoms” en Gerdre Noeth: “Gemoedsrus van ʼn goeie werk.”

Ek dink hulle almal som presies op waarom ons by Sol-Tech studeer. Ons het almal met ʼn droom Sol-Tech toe gekom, maar nie besef wat Sol-Tech ons regtig gaan bied nie.

Ons idilliese toekoms wat ons in ons drome geskep het, het vir ons gerealiseer op die Sol-Tech-plaas. Van die eerste dag af was ons deel van Sol-Tech. Deel van jou mede-studente, deel van die groep, deel van ʼn familie. Ek het die voorreg om deel te wees van die studenteraad, wat ʼn nuwe tradisie geskep het deur Sol-Tech se eie vlag te ontwerp en die hysing daarvan kon sien gebeur.

Ons is deel van ons eie toekoms. Sol-Tech het ons ʼn studentelewe gebied, ons kon sorgvry op die kampus wees, ons kon deel wees van SPYS – wat moes instaan vir ons ma se kos – en die Windpomp om ons dors te les. Die Spilpunt, want ons is so eg Afrikaans – ons braai vir ontbyt.

Die Werf bied ons geleentheid om te bou aan ons studenteverhoudings. Tussen klasse bied die Kraal vir ons ʼn plek om solank produktief te wees vir die volgende dag se tuiswerk, en ons kan sommer net sit en eet of ontspan.

Op die Werf staan die “Ons bou-standbeeld”. In die Roepstem sing ons: “Hier is my twee hande, ek gee wat ek het. In Sy Almag is geloof my krag, Sol-Tech elke dag”. Ons het ons hande na Sol-Tech uitgereik, Sol-Tech het ons hande gevat en, net soos wat die standbeeld die Beiteltjie-gedig van NP van Wyk Louw uitbeeld, ons gehelp om ons beiteltjie te slyp en ons bemagtig om self ons beiteltjie in ons eie hande te kan vat om ons toekoms verder uit te kap.

Hannes Noeth het vir Sol-Tech die volgende gebed tydens die 120 jaar feesvieringe van die Solidariteit Beweging toegebid: “Laat Sol-Tech ʼn baken van hoop in hierdie land wees. Soveel seëninge en genade het U reeds vir ons almal deur Sol-Tech gegee. Laat elke hand wat oplei kragtig bou aan die toekoms van ons mense in hierdie land – hardwerkende, roepingsbewuste, getroue hande wat met ywer diensbaar is”. God het ons geseën deur Hannes se gebed te verhoor.

Ons hande moet nou self verder van hier af gaan en soos Marinette Sparks op Facebook ons studente baie raak opgesom het, sê sy dat sy dink dat elke kaliberstudent wat by Sol-Tech studeer net die positief uit elke negatief kan haal.

Ons sien uit na ons toekoms en om mnr. van Deventer se woorde te gebruik, “ons kyk dankbaar terug en opgewonde vorentoe”.

Mag elke student onthou dat Sol-Tech ons bemagtig het met kennis en ervaring maar dat ons ons oë op die Here moet hou, waar ons ook al mag gaan.

Ek sluit af met die volgende stelling wat my Oupa altyd gesê het: “God hou jou op jou knieë, sodat mense nie op jou tone kan trap nie.”

  • Jan van Staden is ‘n Sol-Tech-student. 

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 26 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elizma ·

Ons is baie trots op jou, ons wens jou net sukses toe vir die toekoms.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.