#JongStemme: Ons moet nou uitstyg!

Deur Chanté Koekemoer

Chanté Koekemoer.

Aan die einde van elke jaar tob mens oor die jaar wat verby is en hoe nuwe uitdagings aangepak en meer gefokus kan word om doelwitte in die nuwe jaar te bereik.

Die jaar 2020 het vol verwagtinge en met positiewe uitsigte op die toekoms voor ons gelê, altans so het die meerderheid van ons gedink.

Wêreldwyd staar die onbekende, naamlik Covid-19, ons in die oë. President Cyril Ramaphosa kondig aan dat daar ’n nasionale staat van inperking vanaf Donderdag 26 Maart 2020 om middernag sal intree. Die lewe in Suid-Afrika het radikaal verander ná hierdie aankondiging gemaak is. Hoewel ’n aansienlike verandering in ons daaglikse roetine plaasgevind het, het ons persepsie van “normaal” ook drasties verander.

Onsekerheid, woede, benoudheid, ontevredenheid en hartseer. Ons as mens het talle emosies, reaksies en gedagtes. Die koronavirus het wêreldwyd paniek gesaai. Dit was ’n eerste in almal se lewe wat ons met meer vrae as antwoorde gelaat het.

Onbekende tye kan verskillende dinge vir verskillende mense beteken. Om die onbekende tye te hanteer, is nooit maklik nie. Kinders dink aan die inperking as ’n verlengde vakansie terwyl volwassenes hulle bekommer oor finansies, verdraagsaamheid en ’n plan B. Ons kan hierdie situasie vanuit verskeie perspektiewe sien. Daar is gesinne wat die inperking sien as ’n geleentheid om meer gesinstyd saam te spandeer, ander bekommer hulself oor finansiële uitgawes/verliese en sommiges probeer oorleef in dié onseker tyd. Die naaste wat jy aan daardie Vrydagaandkuier saam met vriende sal kom, is via ’n aanlyn video – dis te sê as jy voldoende data het.

Ons almal is in dieselfde bootjie. Ek wens iemand kon my voorberei vir hierdie nuwe korona-lewenstyl. Ons kan nie altyd beheer wat in ons lewens plaasvind nie, maar wat ons wel kan beheer, is ons reaksie(s) daarop.

Die pandemietydperk is ’n toets wat jou keuses bepaal en jou gedagtes organiseer. Net jy alleen kan bepaal om in hierdie tydperk te oorwin of om in die swart negatiewe gat neer te daal. In ’n onseker tyd is dit moeilik om positief te bly. Vind iets wat jou gelukkig maak waaraan jy kan vasklou in donker dae. Hetsy dit jou geloof, algemene take of ’n stokperdjie is.

Bo en behalwe die virus waarteen die hele wêreld veg, het elkeen sy eie persoonlike stryd – waarvan ons geen kennis dra nie – wat gestry moet word.

Elke keer wanneer ’n struikelblok van die lewe gekruis word, bou jy ’n nuwe persoonlikheidseienskap. Dit is hierdie karakter wat jou na die goeie sal lei. Die koronavirus het nie net ’n mediese pandemie geword nie, maar ook ’n geestelike pandemie.

Alhoewel die koronavirus ons met talle vrae en onsekerheid laat, is daar waardevolle lesse wat ons in hierdie tydperk met ons saamneem. Die lewe is korter was wat ons dink, daarom moet jy elke dag voluit leef asof dit die laaste is. Jou beroep is tydelik. Gesondheid kom eerste. Om op ’n gesonde, gebalanseerde geestelike fondasie te bou, is jy verseker van ’n toekoms en ewige lewe.

Ek laat julle met die volgende gedagte: Ongeag waar jy jouself bevind in die lewe, tel jou kop op en styg hoër as jou omstandighede.

  • Chante Koekemoer is ’n eerstejaarstudent aan die NWU se Vanderbijlpark-kampus, sy studeer BA Kommunikasie, en spesialiseer in joernalistiek.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.