#JongStemme: Tradisies

Deur Lindy Steyn

Lindy Steyn.

“Tradisies – is dit nog die moeite werd of is dit net ʼn mors van tyd?”

Dit was ons debatsgroep se onderwerp by ʼn sosiale geleentheid en sonder om twee keer te dink, het ek al die redes, waarom tradisies steeds die moeite werd is, begin lys.

ʼn Tradisie, soos ons dit ken, is die oordrag van beginsels, lewenswyses en kultuurgoed van een geslag na die volgende geslag.

Ons kry immers verskeie soorte tradisies:

Gesinstradisie is wanneer ‘n familie oor Kerstyd van ver saam kom en die tyd saam vier. Godsdienstradisie is die orrelspel wat die liedere in die erediens op ʼn Sondagoggend lei, die handevat met ʼn gebed. Kostradisie is die geheime koeksister- en melktertresep wat ouma bak vir die Sondagmiddag se familie-ete. Wat is ons, as Afrikaners, sonder ‘n lekker braaibroodjie op die kole by ‘n gesellige braaigeleentheid?

Die waarde van tradisie lê veel dieper as om dit net in die oomblik te geniet – dit voed ons op. Dit is soos die ontgroeningskamp wanneer jy hoërskool toe gaan, dit is nie net vir die lekkerkry van die jeugraad wat vir jou sê om hulle as “u Edelagbare” te groet nie – dit leer jou respek toon aan ander om jou. Dit gaan hand-aan-hand met die trots toe ons in die oggende met die saalopening die skoollied gesing het of selfs voor ʼn rugbywedstryd ons nasionale lied sing. Dit is ons kultuur! Neem kultuur weg en tradisies gaan daarmee heen.

Wat is ‘n lewe sonder riglyne, reëls, waardes en tradisies? Is dit nie juis dít wat ons gegrond hou, ons verenig nie? Tradisies versterk nie net familiebande nie, dit bring mense bymekaar. Dit is wie ons is en dit raak deel van ons identiteit.

Eendag, wanneer ons soos Ouma en Oupa op die stoep gaan sit, is dit die stories van lank gelede wat oorgedra gaan word aan die kleinkinders – die tradisies. Dit is die tradisies van ons skooldae, universiteitsdae en elke ander tradisie waaraan ons blootgestel word in ons grootwordjare. Dit is ‘n positiewe herinnering wat ons vir altyd saam met ons dra.

Tradisies kan opnuut geskep word en elkeen van ons doen dit sonder dat ons dit besef. Dit kan die oproep wees wat ons weekliks op ʼn Sondagaand maak om te hoor hoe dit met mamma en pappa gaan daar anderkant die wêreld. Die Vrydagaandbraai saam met vriende om die week lekker af te sluit. Dit is hande vat om die etenstafel om ʼn dankgebed te sê.

As ek terugkyk op die lewe wat ek tot dusver gehad het, is ek innig dankbaar dat ek hierdie tradisies kon aanleer en saam met my dra. Ek dink reeds aan eendag wanneer ek die geleentheid gaan kry om dit aan my kinders oor te dra, want dit is hoe ons dit gaan laat voortleef; of selfs nou waar ons as die studenteraad nuwe tradisies skep en die fondasies lê by óns instelling, Akademia. Dit is hoe ons gekenmerk word.

Tradisies is ons wortels, dit bring ons bymekaar en help ons om ʼn nasie en monumente te bou. Die feit bly staan, tradisies is deur-en-deur die moeite werd.

  • Lindy Steyn is ʼn studentewerwer asook ʼn nauurse finalejaarstudent in BCom ondernemingsbestuur aan Akademia. Sy dien ook tans op die studenteraad as voorsitter.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.  

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.