#JongStemme: Tyd vir ʼn Reagan-revolusie in SA

Deur Reuben Coetzer

Reuben Coetzer.

Wyle Koos du Plessis was reg toe hy in “Sprokie vir ʼn stadskind” gesing het dat as jy geluk en vreugde wil vind, soek die neonboog se punt.

In Suid-Afrika ken ons daardie soektog maar te goed in ons strewe om die florerende reënboogland te word wat ons in 1994 beloof is. Maar, ongelukkig in die afgelope dekade of twee, het dit baie duidelik geword dat hierdie reënboognasie-strewe aan die vervaag is, want die rook van korrupsie, geweld, nepotisme en rassespanning hang swaar oor die reënboognasie van 1994 en belemmer ons sig in die alewige gesoek na die neonboog se punt.

Kom ons wees nou maar met mekaar eerlik – die Zuma-era is deur talle skandale en korrupsie gekenmerk. Die ekonomie en werkloosheid het in ligte laaie opgegaan, misdaad het die hoogtes in geskiet en groot verdeeldheid het onder landsburgers begin inkruip. En toe, die skrale moontlikheid van ʼn neonboog se punt: president Cyril Ramaphosa se verkiesing wat vir ʼn greintjie optimisme en hoop gesorg het, maar selfs dít was van korte duur. Die een leë belofte na die ander. Die belofte van vooruitgang wat soos saad op droë grond gesaai is, met geen werklike bedoelings om daardie belofte te vervul nie. Het die ekonomiese landskap rooskleuriger geword na die Zuma-era? Nee. Inteendeel. Werkloosheid het ʼn rekordhoogte van 34,4% bereik en geen van die ander probleme, waarvoor Ramaphosa aangestel is om aan te spreek, is steeds opgelos nie.

Dit het ʼn gevoel van anargie onder baie Suid-Afrikaners laat posvat en het verder daartoe gelei dat baie finaal hoop begin verloor het – in hulself, in mekaar en bowenal in hul land. Suid-Afrikaners het hul moed, hul trots en die waardes waarin hulle hul lewens anker, begin versaak.

Daarom glo ek dat die tyd, nou meer as ooit, vir ʼn Reagan-revolusie in Suid-Afrika ryp is. Amerika het in die laat 1970’s iets baie soortgelyk aan wat Suid-Afrika vandag beleef, ervaar – die ekonomiese klimaat was die slegste sedert die groot depressie, inflasie was buitensporig hoog, petrol en diesel was onbekombaar en boonop peperduur, en dan was daar ook nog ʼn gyselaarskrisis in Iran. Bo en behalwe al hierdie uitdagings het Amerikaners hoop begin verloor in hul krag as individue, hul families en hulle land, baie soos Suid-Afrika vandag.

Ronald Reagan, 40ste president van Amerika, het op daardie stadium die “verhoog” betree en speel toe waarskynlik (as voormalige akteur) sy beste rol nóg, om ʼn Amerika wat op sy knieë was na ongekende hoogtes te lei. Sy impak was só groot dat sy naam bykans 50 keer tydens die twee uur lange Republikeinse-debatte in 2015 opgebring is, amper 30 jaar nadat hy die Withuis verlaat het.

Reagan se ekonomiese beleid en sy ferm aanslag met die Sowjetunie is van die enkele kenmerke waaraan ʼn mens gewoonlik dink as daar na die Reagan-revolusie verwys word. Ek wil egter eerder vandag op die toepassing hiervan op hedendaagse Suid-Afrika fokus, op die waardes wat hy tydens sy ampstermyn uitgestraal het, en die invloed wat hy op Amerikaners gehad het om hulle weer hoopvol oor die toekoms te maak en ʼn gees van patriotisme te laat opvlam.

Reagan se kernwaardes het ʼn hoë premie op familiewaardes geplaas, asook op die rol van familie as steunpilaar vir die gemeenskap. Hy het mense weer trots laat voel op hulle land en op mekaar, en het weer ʼn trots vir hul vlag en simbole aangewakker – dít nadat Amerikaners finaal hoop in hulself, mekaar en hul land verloor het. Die belangrikste kernwaarde was egter sy geloof en dat God die middelpunt van sy lewe en sy besluitnemings uitgemaak het.

In Suid-Afrika – met ʼn egskeidingsyfer van 17,6%, waar byna 1 uit elke 5 huwelike in ʼn egskeiding eindig, waar families meer disfunksioneel as ooit vantevore is en waar geweld teen vrouens en kinders hoogty vier – moet ons dalk begin (al is dit net vir nou in ons eie huise) om eerstens na ons familie om te sien. Miskien moet ons minder daarop begin fokus om ons sosiale aansien te bevorder, om mense waarvan ons nie eens hou nie te probeer beïndruk met bates wat ons nie self kan bekostig nie, en meer tyd in ons gesinne begin investeer. Ons moet weer terugkeer na die dae van saameet om ʼn tafel, probleme uitpraat, daar wees vir ons kinders en werklik ʼn noemenswaardige rol as mentor en rolmodel in hulle lewens speel. Ouers moet steunpilare as fondasie vir hulle kinders oprig om staande te kan bly teen die talle ongevraagde uitdagings wat die lewe na hulle kant toe slinger, met die wete dat daar ʼn pa of ma is op wie hulle kan steun in plaas van goedkoop (en meestal verkeerde) raad op ʼn sosialemediaplatform.

Verder moet ons weer ʼn trots vir ons land kweek. Wanneer laas het jy vir jou man, vrou of kinders iets positiefs oor die land uitgewys? Is daar, behalwe vir Tatjana Schoenmaker en Ntando Mahlangu, iets anders wat jou oor jou geboorteland opgewonde maak, of knor en steun jy elke dag wanneer jy met iemand oor die land praat? Ons kan nie hierdie krisissituasie in ons land omkeer as ons nie hoop het vir die projek wat ons aanpak nie; as ons nie geloof het dat dit wat ons probeer red die moeite werd is nie. Die Israelitiese volk het nie oornag in die beloofde land ingestap nie. Hulle is met uiterste omstandighede in die woestyn gekonfronteer – hongersnood, geweld, rampe. Amper soos vandag.

Daarom moet ons weer begin trots raak op ons mense, ons simbole, ons vlag, ons kultuurerfenisse; dit wat ons as Suid-Afrikaners uniek maak. Daardeur sê ek glad nie dat ons nie bewus moet wees van die uitdagings en tekortkominge in Suid-Afrika nie. Ons moet en kan wel begin deur die glas half vol eerder as half leeg te benader.

Deur om weer patriotisme te koester, Suid-Afrika (en ja dit gaan nie oornag gebeur nie), kan ons weer daarna streef en droom om die florerende reënboogland te wees waarna ons almal smag. As ʼn mens nie trots is op die land wat jy probeer red nie, hoe gaan jy ooit die wilskrag hê om daardie veranderinge na vore te bring as jy nie by jouself gaan begin nie? Daarom moet die fokus van negatiewe klagtepraatjies om die braaivleisvuur en verdeeldheid in ons huise en gemeenskappe verskuif na eenheid, patriotisme en trots.

Oudpresident Reagan is as die alewige optimis uitgebeeld en, hoewel so ʼn aanslag by tye naïef kan wees, is dit juis daardie tikkie optimisme en geloof wat enigiets moontlik kan maak.

Laastens moet ons as Suid-Afrikaners weer ten volle in die Here geanker raak en ons vertroue ten volle in Hom plaas. Dit wil voorkom of Suid-Afrikaners vergeet het wat die Here al telkemale vir hierdie land gedoen en beteken het, dwarsdeur die bestaan van die wêreld. Suid-Afrika blyk ʼn land te wees wat van God vergeet en meer op sy eie insigte begin staatmaak het. Sê die Woord nie juis in 2 Kronieke 7:14 dat “wanneer my volk oor wie my Naam uitgeroep is, berou toon, bid en vra na My wil, en wegdraai van hulle bose weë af, SAL Ek luister uit die hemel en hulle sonde vergewe en hulle land laat herstel” nie?

Ons beroep onsself as gelowiges en troos onsself daaraan dat ons kerkgangers is, maar is ons werklik bereid om van ons bose weë (korrupsie, bedrog, moord, alkoholisme, pornografie, rassisme) weg te draai en na God se wil vir ons land te begin soek? Glo en vertrou ons werklik enduit dat die Here ʼn plan vir ons land het en dat die Here die paaie vir ons, as ʼn land, gelyk sal maak en dat ons wel by die neonboog se punt sal uitkom?

Ek dink ons almal weet baie duidelik dat ons dit nie doen nie. Daarom wil ek jou, geagte leser, uitdaag om daar te begin waar die oë van die wêreld jou nie gaan kritiseer en uitlag nie, en dit is in jou eie huis. Begin weer ʼn premie op die Christelike waardes plaas wat ons so diep koester en gebruik dit weer as die anker vir jou huisgesin, jou persoonlike lewe en in jou werksplek. Leef daardie beeld na buite. Begin bid vir jou land en sy regering en sit daardie gebede om in konstruktiewe aksie. Begin weer vertroue in die Here plaas en glo dat die Here, soos wat Hy nog altyd gedoen het, ook hier aan die suidpunt van Afrika vir ons, Sy mense, ʼn uitkoms sal gee. Al wat dit vat is geloof soos ʼn mosterdsaadjie.

Daarom moet ons die Reagan-revolusie in Suid-Afrika aan die gang sit – in ons huise, kerke, skole, gemeenskappe en in ons werksplekke – om sodoende ʼn kragtige tsunamiboodskap van optimisme, patriotisme en familie-eenheid deur ons land te stuur, wat ek glo die sleutel is om werklik weer ons hoop in onsself, ons gemeenskap en in mekaar te laat opvlam. Dit sal ons in staat stel om weer geluk en vrede te vind; dalk nie by wyle Du Plessis se neonboog nie, maar by die voete van ons Skepper.

Without God, there is no virtue, because there’s no prompting of the conscience. Without God, we’re mired in the material, that flat world tells us only what the senses perceive. Without God, there is a coarsening of the society. And without God, democracy will not and cannot long endure. If we ever forget that we’re one nation under God, then we will be a notion gone under.” – Ronald Reagan, 23 Augustus 1984.

  • Reuben Coetzer is ʼn eerstejaarstudent (BCom in Regte) aan die NWU.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.  

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Filistyn ·

Wow jongman. Soveel insig. Goeie skrywe wat beslis ter harte geneem moet word.

Rupert Ashford ·

Interessante skrywe – en dit ignoreer totaal dat die VSA ‘n tweede Reagan revolusie in 2016 probeer het wat deur die establishment geneutraliseer is. Is dit doelbewus gedoen of per ongeluk? Feit is Reagan was net so onpopuler onder die establishment media en hulle meelopers en hy word vandag net so verguis soos Trump op linksgesinde webwerwe.

FM ·

Dankie vir jou positiewe gedagtes wat jy baie goed verwoord het, Reuben.

Ek glo onwrikbaar dat God gewone mense soos Gideon, Moses, Paulus en jouself gebruik om SY wil te dien.

Die groot EK IS

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.