#JongStemme: Vat jou goed en trek, Ferreira!

Deur Arno Roodt

Arno Roodt.

Vat jou goed en trek, Ferreira, vat jou goed en trek…

Soos dit mode geword het onder jong Afrikaners, is ek binnekort ook op pad landuit. Die mengelmoes van rassemal-regulasies, kaders, misdadigers, kommuniste en konstante korrupsie, het my uiteindelik genoodsaak om myself uit die #ImStaying-Facebookgroep te verwyder. Skaars werksgeleenthede, trae ekonomiese groei en ’n onophoudelike kruistog teen my taal, erfenis en kultuur is net nóg kersies op my emigrasiekoek.

Boonop word ek elke dag gekonfronteer met die ouderlinge van my gemeenskap wat my en my vriende aanmoedig om “iets van onsself te gaan maak in die buiteland”, want “daar is nie meer geleentheid vir óns hier nie”.

Dus, ek gaan na hul gryse wysheid luister en my fortuin oorsee najaag – maar met ’n twist…

Ek kom binnekort weer terug. Ek het geen ambisie om nuwe fondasies te gaan grou in die gryse Engeland of China, die land van slinkses nie. Nee, ek wil eerder my en my gemeenskap se fondasies hier in my geboorteland kom versterk.

Nou, ek besef dit is niks revolusionêr om vir ’n paar jaar in die buiteland te gaan werk en dan terug te keer nie. Talle jong Afrikanerseuns skiet weg na die VSA en Australië om ná matriek te gaan “boer” en rye der rye jong Afrikanermeisies gaan “ontdek hulself” as ’n au pair-meisie tydens ’n gap year in Europa.

Wat egter die hartseer tendens is in gevalle soos dié, is dat hulle die finansiële voorsprong wat hulle opgebou het (die dollars en ponde waarvoor hulle vrek hard gewerk het), kort ná hul terugkeer uitgegee word op ’n hamburger hier en ’n hot dog daar. Of – in meeste van die kêrels se gevalle – op ’n kombinasie van bakkies, bier en brandewyn.

Ek moet dalk daarop wys dat ek geen probleem daarmee het dat mense hul jeugdigheid en hard verdiende geld geniet nie. Maar dat dié wat wel dit so uitermatig doen, ’n goue geleentheid mis om nie net hulself nie, maar ook vir hul gemeenskap, ’n toekoms en voortbestaan hier op die suidpunt van Afrika te verseker.

Dus, dit bring my nou by waarom ek oorsee gaan (en waarom ek gaan terugkeer):

Die realiteit is dat baie jong Afrikaners met die een hand agter die rug gebind, hul plekkie in Suid-Afrika moet probeer uitkerf. Of dit nou die SEB-wetgewing is wat ons uit die werkplek probeer hou, kwotas in sportspanne, immergroeiende studieskuld, of doodeenvoudig ’n regering is wat ons by elke entrepreneurskap-, onderrig- en hulpprogram probeer blok, is daar ’n reeks struikelblokke wat voor ons staan wat baie net nie voor kans sien om te trotseer nie.

Wat ’n jaar of twee se werk in die buiteland jou kan bied, is slegs ’n fast pass verby die struikelblokke – ’n wegspringblok na finansiële vryheid en welvaart. As jy die geleentheid effektief gaan benut, en met langtermynvisie na die moontlikhede gaan kyk, kan jy jou en jou gemeenskap ’n hupstoot bied om “staatsbestand” te word en van die kettings wat die regering op jou plaas, vir ’n wyle af te skud.

Dus, hoe gaan jy dit regkry? Wel, deur jou geld te spaar en te belê eerder as om gehoor te gee aan jou spandabelrige gees. Of jy na eiendom gaan kyk, jou eie besigheid gaan begin of jou vertroue in die aandelemark gaan plaas, is jou besluit. Wat egter belangrik is, is dat jy die geleenthede en hulpbronne wat jy dan tot jou beskikking het, so sal gebruik dat jy jou en jou gemeenskap se fondasies kan versterk en uitbrei.

Ek is vas oortuig daarvan dat as genoeg van ons jongmense hul toekoms benader met dié denkwyse, ons as Afrikanergemeenskap onsself kan opbou tot nuwe hoogtes – met nuwe Afrikaner-besighede, -instansies, -opvoedingsentrums, -kultuurorganisasies en só wye welvaart in die hande van ons jongmense plaas. Hiermee kan ons seker maak dat geen regering, wet, virus of weerstand ons uit ons Afrika-rooigrondfondasies sal kan losbreek nie.

Ek hoop dat julle kan insien hoe ons as Afrikaner-jongmense ’n wyer verantwoordelikheid het as om net ons eie fortuin oorsee na te jaag, of ons spaargeld op bakkies, bier en brandewyn te blaas in ons soeke na jeugdige genot. En hoe ons eerder ’n verantwoordelikheid het om kennis, kundigheid en ervaring in die buiteland te gaan opdoen wat ons kan terugbring om ons eie instansies en mense se lewe te verbeter.

Ons het ’n verantwoordelikheid om die finansiële voorsprong wat oorsese werk ons kan bied, so te benut dat ons onsself en die volgende generasie na ware welvaart en finansiële vryheid sal lei. Ons het ook ’n verantwoordelikheid om ons hulpbronne so te benut dat ons kultuur, erfenis en geskiedenis beskerm en ontwikkel sal word.

Dus, voordat jy jou goed vat en trek, Ferreira, dink oor waar die nood en tekortkominge, asook die geleentheid en beskikbare ondersteuning in jou kultuurgemeenskap lê – want dit is daar waarnatoe ek en jy moet terugkeer en help bou.

  • Arno Roodt is ‘n student in regte aan die UVS, en voorsitter van die Universiteit van die Vrystaat se Afrikaanse Debatvereniging (Uvada). Hy is passievol oor Afrikaans en die saak van die jong Afrikaner.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

saggiespraat ·

Baie Baie dankie vir die pragtige stuk hoop seun… Alles van die beste en kom veillig terug… Geniet dit daar bo.

OW ·

Hier is jong en dinamiese leiers soos jy met ‘n toekoms visie brood nodig.As jy vir my antwoorde en waarborge kan gee op sake wat van kritieke belang is en nie weer herhaalbaar is soos wat in die verlede gebeur het nie, dink ek kan ons ‘n toekoms bou vir komende geslagte.Sterkte met dié reis.

Vrijburger ·

Goeie stuk en insig.
Dit is jou keuse om terug te gaan na SA, met jou spaargeld, sou jy dit so verkies. Maar ‘n bietjie raad – hou altyd, maar altyd, ‘n neseier in die buiteland.

JJ ·

Nou watter kopskuif is dit die? Is daar ‘n rede hoekom jy nie hier kan bly en oorsee werk of produkte verkoop nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.