#JongStemme: Verandering is die enigste konstante

Deur Maree van den Berg

Maree van den Berg.

“Die enigste konstante in die lewe is verandering”. Hierdie woorde van die bekende filosoof, Heraclitus, steek deesdae gereeld in my kop vas.

Ek het my leierskaptermyn as hoofseun aan die Hoërskool Centurion baie anders voorsien as wat dit eintlik geword het. Ek wou met diepliggende, brandende passie elke aspek van die skool versterk, en min verander. Ek wou juis nie te veel veranderings by die skool aanbring nie, ek wou nie nuwe tradisies begin nie, want hoe kan tradisies ooit versterk as daar elke termyn nuwe tradisies bygevoeg word? As elke leierskorps sy eie tradisies elke termyn probeer infaseer, sal geen tradisies mos ooit in die skool vasgelê word nie.

Ek wou lei met voorbeeld op alle velde: kultuur, sport, akademie en algemene voorbeeld van Woerie-wees. Ek het verwag dat roetine (ʼn konstante program) my sinkplaatpad tot sukses vir my gaan teer, maar weer eens is daar bewys dat die enigste konstante wel verandering is. Nou moet ons aanpas om by ʼn virus se konstant veranderende grendelstatus in te val.

Gewoonlik is al die matrieks teen die tyd van die jaar behoorlik keelvol vir skoolgaan. Gewoonlik hierdie tyd van die jaar het akademiese druk al die volwassenheid en verantwoordelikheid uit elke matrikulant gedwing. Verantwoordelikheid ten opsigte van akademie en ons toekoms sou nou baie hoog loop. Nou word al daardie verwagtings, ervarings en gemoedstoestande aangeskuif, uitgestel, maar tog steeds vereis.

Die geleidelike gedragsverandering wat ek al by elke matriekgroep oor die jare gesien het, gaan hierdie jaar beslis anders lyk. Ek dink dat die skole se fokus, sover moontlik, slegs op akademie is, en gaan wees. Ek dink dat matrieks as ʼn eenheid mekaar meer as ooit nodig gaan hê en mekaar dus op ʼn ander vlak sal moet ondersteun. Ek dink die grootste uitdaging gaan wees om die hele skool gemotiveerd te hou om nie net vir die res van 2020 skool te gaan nie, maar te volhard in elke geleentheid wat moontlik oor elkeen se pad kom.

Ek dink dat ons uit hierdie uiters unieke, hopelik eenmalige, Covid-19-situasie kan leer dat ons meer waarde moet heg aan familie en waardes eerder as aan materialistiese dinge. Kundiges praat daarvan dat ʼn Tweede Groot Depressie moontlik op pad is as gevolg van die ongelooflike ekonomiese terugslag wat die wêreld (én ons dierbare Suid-Afrika!) tans ervaar of nog gaan ervaar weens hierdie pandemie. Wat gaan die impak van ʼn Tweede Groot Depressie op my wees? Ek, as onseker matriekleerder wat oor sy toekoms moet besluit, gaan dalk nie meer ʼn loopbaan kan kies wat ek wil hê nie, maar eerder een wat in die toekoms broodnodig gaan wees.

Hoe maak ons dan? Een van die baie lewenslesse wat my rugbybreiers my geleer het, is om dit wat jy kan beheer, te beheer. “Control the controllables,” sê John Buchanan.

My plan van aksie is om nou te doen wat ek kan doen: kliphard werk aan my akademie, op my eie fisiek gesond en fiks te bly en om my kop reg te kry vir enigiets wat die toekoms mag inhou. Ek weet nie of enige van die harde werk binnekort vir my tot nut gaan wees nie, maar terwyl ek kan, gaan ek dit doen om reg te wees vir enige onverwagse geleentheid wat ek onmiddellik met beide hande kan vasgryp en aanpak!

Ons kan nie noodwendig alles beheer of voorspel nie, maar ons kan onsself voorberei en aanpas om op die ou end ʼn sukses van enigiets te maak!

  • Maree van den Berg is ʼn matriekleerder aan die Hoërskool Centurion wat lief is vir sy taal en kultuur. Rugby, fotografie en die bosveld lê baie na aan sy hart en hy wil graag veeartsenykunde gaan studeer.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en advies met jou loopbaan!

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ‘n meningstuk wil skryf, stuur ‘n e-pos na [email protected] en ons kontak jou graag.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sokrates ·

Jou kop is reg aangeskroef, jongman! Jy sal dit nog ver in jou lewe bring. Nêrens lees ek enigiets van skuld uitdeel, slagoffer speel, of simpatie probeer uitlok nie. Nerens kla jy oor die lewe se onregverdighede nie. Inteendeel. Jy kyk na die realiteite, en hou jou oog op nuwe moontlikhede. Jy omhels onsekerheid, maar respekteer diepgewortelde waardes en tradisies. Mag 2020 jou verras!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.