#JongStemme: Waarom ʼn volk homself moet ken

Deur Louis van Wyk

Louis van Wyk (Foto: Verskaf)

Die mensdom wêreldwyd bestaan nie uit een eensoortige groep mense wat een taal, kultuur, geloof en tradisies deel nie. Die mensdom bestaan uit ʼn samestelling van verskillende volke wat elkeen uniek en eiesoortig is.

Dis nie iets wat ons sommer sal kan verander nie. Nes dit werklik nie so ʼn vreemde konsep is om te verstaan nie. Ons hoef net na die diereryk te kyk en te sien hoe divers hy is.

Soos wat elke volk uniek is, is elke volk nie altyd ingelig oor wat dit is wat hom spesiaal en kenmerkend maak nie. Waarom is dit dan belangrik dat elke volk homself moet ken?

Waarom moet elke volk weet waar hy vandaan kom, wat sy kultuur behels, wat sy simboliek is en wat sy erfenis vir hom beteken? Waarom is sulke dinge belangrik wanneer ons kos op die tafel, klere om aan te trek, ʼn dak oor ons koppe, stabiele finansies en ontwikkelde tegnologie het wat ons lewens aansienlik vergemaklik?

Die vraag kan baie wyd beantwoord word, maar na my mening is daar ʼn baie eenvoudige antwoord (onder andere) wat ons in ag kan neem. Volke wat bewus is van hulle uniekheid, is vinnig van reaksie wanneer hulle ekstern bedreig word – hetsy deur ʼn ander volk of deur ʼn vyandige regering of staat onder wie se gesag die betrokke volk homself bevind.

Die antwoord kan baie simplisties verduidelik word: Jy beskerm dit wat aan jou behoort, want jy weet hoe spesiaal dit is. As jy egter nie weet wat jy het nie, sal jy dit ook nie wil verdedig wanneer dit van jou afgevat word nie, want jy sal nie eers weet dis weg nie. Dieselfde beginsel geld vir volke.

Die volk wat bewus is van sy eienskappe, sal weet wanneer dit bedreig word en dit verdedig. Maar die volk wat sy rug draai en homself net bekommer oor die gemaklike lewe, word vertrap en uit die geskiedenisboeke verwyder.

Laat ons nie ons koppe in die sand druk nie, want baie volke regdeur die geskiedenis, wat hulself uitstekend geken en hulself met trots gedra het, is al deur ellendes. Die Afrikaner het homself op die ashoop gevind ná Britse oorheersing. Die geheim lê daarin dat Afrikaners hul uniekheid geken en verstaan het en dit dus as dryfkrag gebruik het om uit sy situasie te ontsnap.

Sou die Afrikaner verrys het as hy nie aandag aan sy kultuur, geloof en agtergrond geskenk het nie? Ek betwyfel dit. Dit is dan presies waarom ʼn volk homself moet ken – dan is hy bereid om te veg vir dit wat hom vorm en wat vir hom belangrik is.

  • Louis van Wyk is ʼn vierdejaar regstudent aan die Universiteit van die Vrystaat en ʼn jeuglid van die Vryheidsfront Plus.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 26 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.