#JongStemme: Waarom voel ons deesdae ons wil net ’n breek vat?

Deur Elisma Olivier

Elisma Olivier.

Ek staan met my voete in twee wêrelde. Die een nostalgies in die verlede en die ander een opgewonde in die toekoms.

Ek onthou hoe ek opgewonde posseëls gaan koop het, nuuskierig oor hoe die prentjie daarop lyk. Boekrakke, koekblikke, fotoalbums … laat dit jou ook nostalgies voel? Dalk ruik jy nou jou ma se kos…

Waarom voel ons deesdae ons wil net ’n breek vat? Dalk omdat ons nie saans of naweke genoeg ontspan nie. Hoekom? Want daardie slimfoon agtervolg jou in jou broeksak en jy loer kort-kort daarop, of vir werkdoeleindes of jy volg sosiale media slaafs na.

Baie dinge moes plek maak vir ’n moderne weergawe, alles in die naam van vooruitgang. Die Kook en geniet versamel stof, want resepte is op Google. Ons doen aanlyn inkopies. WhatsApp en Telegram in plaas van die vriendelike vrouestem by die sentrale wat vra: “Nommer asseblief?” Ouers wat ʼn selfoon in ʼn kind se hand prop wanneer hy moeilik raak. Emosionele interaksie het ʼn skaarste geword en ons is ons eie grootste vyand.

Ek is seker jy het al waargeneem hoe oud én jonk in openbare plekke na skerms gluur, besig om hul huidige hoe, wat en waar by te werk gevolg deur ’n rits hutsmerke. Hoe almal in stilswye deelneem aan die oorlog van aanvaarding op sosiale media. Merk jy ook op hoe gesinslede saam in ’n restaurant sit, maar elkeen is verdiep in sy selfoon? Hulle lag en gesels al minder.

Nietemin vergemaklik tegnologie ons lewens. Familie oorsee is net ’n video-oproep ver, aanlyn inkopies, ’n nooddiens-app, ens. Internet is ’n hulpbron tot absoluut enige iets – ons kan onmoontlik teruggaan na die knoppie-selfoon-era.

Ek sê glad nie jy moet jou selfoon in ’n dam gooi en “off the grid” leef of soos Sarah Robbins-Cole vir 100 dae dieselfde rok aantrek om te wys hoe min jy werklik nodig het nie. Die feit is: ons is afhanklik van tegnologie. Omarm dit en maak vrede daarmee, maar nié ten koste van menseverhoudings en jou innerlike vrede nie, want vanaand as jy in die bed klim, is dit net jy en jou gedagtes.

Moenie dat die glinster in jou oog die refleksie van ’n skerm word nie. Die mens self het nie soos tegnologie verander nie – ons het steeds dieselfde oeroue behoeftes. Tegnologie moet jou lewe verryk, nie emosioneel verarm nie.

Kom ons leef modern en gebruik tegnologie, maar kom ons vergeet nie van die mense om ons nie. Luister na die reën, kyk hoe die son sak, gee vir vroulief ʼn piksoentjie op haar wang en ’n drukkie vir Ouma, lees ou briewe, kyk deur albums. Sit so nou en dan die Wi-Fi af en dans kaalvoet op die nat gras! Kom ons wees weer mens-mense.

Jy kan Maandag kyk waar jou kollegas visvang, watter gesigprodukte jou buurvrou aangeskaf het en hoe jou skoonma se Le Creuset-potte lyk. Lag ’n bietjie hard, praat oor herinneringe en waardeer mekaar weer, ten spyte van al die veranderinge en afhanklikhede.

Vind die balans. ’n Muntstuk het twee kante en jy het net een lewe!

  • Elisma Olivier kom van Viljoenskroon in die Vrystaat en was in 2020 in matriek.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SomeOne ·

“Vind die balans. ’n Muntstuk het twee kante en jy het net een lewe!”,
wat in jou lewe verby is, is verby, geen “rewind” knoppie nie,
leef voluit, leef dag tot dag, geen van ek gaan volgende week, maand of jaar soontoe nie, alles hang van God en Sy beplanning af

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.