Kameroen: Spanning langs taalgrense

kameroen-vlag-teen-muur

Engelssprekende Kameroeners word deur die Franssprekende meerderheid onderdruk en voel afgeskeep in die land. Foto: Public_Domain_Photography/Pixabay.com

Afrika is bekend vir sy ongelooflike verskeidenheid etniese groepe wat weens koloniale grense in een land saamgegooi is en dikwels teen mekaar veg. Omdat die verskeidenheid etniese groepe net te groot is om in meeste gevalle etnies homogene state te skep, het die post-koloniale leiers besluit om die koloniale grense, hoe onlogies ook al, te behou, en, miskien nog belangriker, om die taal van die onderskeie koloniale moondhede as amptelike tale te behou. Meeste spore van die koloniale bewind is weggevee, soos monumente, straat- en dorpsname, maar die grense en tale is behou.

In enkele gevalle is die grense wel effens aangepas, wat dus gebiede van verskillende koloniale moondhede saamgevoeg het tot ʼn nuwe land. Dit was veral die geval met die voormalige Duitse kolonies, wat ná die Eerste Wêreldoorlog in 1919 tussen Frankryk en Brittanje gedeel is ofte wel deur hulle geadministreer is in opdrag van die Volkebond (die voorloper van die Verenigde Nasies). Kameroen was ʼn Duitse kolonie wat so opgedeel is. Die westelike deel is administratief by die Britse kolonie Nigerië gevoeg, die grootste deel (80%) het onder Franse administrasie gekom en as eie eenheid met die naam Cameroun bestaan. Die administratiewe moondhede het natuurlik hulle tale, Engels en Frans onderskeidelik, in hulle gebiede toegepas as amptelike tale.

Die Franssprekende deel het in 1960 onafhanklikheid van Frankryk gekry as Republiek Kameroen. In die Britse deel van Kameroen is ʼn referendum gehou of die inwoners deel van die Engelssprekende Nigerië (ook onafhanklik sedert 1960) of van die Franssprekende Kameroen sou word. Die noordelike streek het vir Nigerië gekies, die suidelike deel vir herinlywing by Kameroen, wat aan die land dus twee taalstreke gegee het. Godsdiens het daarby ʼn rol gespeel: Die noordelike streek is oorwegend Moslem en dus ʼn logiese toevoeging tot Nigerië met ʼn groot Moslem-bevolking, die suidelike deel veral Christelik en dus meer tuis by die meesal Christelike Kameroen. Na die insluiting van die Engelssprekende deel het Kameroen ʼn federale republiek geword om erkenning aan die tweetaligheid te gee. Dit was egter van korte duur en in 1972 het die land, in ooreenstemming met sentralistiese neigings in Afrika, ʼn unitêre republiek geword met ʼn eenpartystelsel. 1984 het Paul Biya president geword en deur bekookte verkiesings en skreiende korrupsie aan bewind gebly tot vandag toe.

ʼn Separatistiese beweging onder die sowat 5 miljoen Engelssprekende Kameroeners, wat deur die Franssprekende meerderheid onderdruk en afgeskeep voel, het na 2000 begin kop uitsteek. Dit het egter veral sedert die besluit van die regering in 2016 om Frans die amptelike taal ook in die Britse streek te maak en om die Franse regstelsel daar toe te pas, opgevlam. Teen die Engelssprekende Kameroeners word ook gediskrimineer wat poste in die staatsdiens betref. Daar het selfs ʼn separatistiese beweging, die Southern Cameroon National Council (SCNC), ontstaan.

Die regering onderdruk hardhandig gereelde protesoptogte van die Engelssprekende Kameroeners wat betoog teen hulle benadeling. Talle mense is gedood toe die polisie betogings opgebreek het. Lasbriewe teen 15 leiers van die SCNC is ook deur die regering uitgereik en sterk taal word gebruik teen enige ontevredenes. Dit verhoog egter nog die gevoel onder die Engelssprekendes dat hulle tweedeklasburgers is en besorg die SCNC en ander separatistiese organisasies meer steun.

Die resep van onderdrukking van ontevredenheid het nog geen konflik opgelos nie – dit word daardeur hoogstens vertraag, om by ʼn volgende geleentheid nog feller uit te breek. Afskeiding word meer en meer as ʼn opsie gesien namate die konflik voortduur en in felheid toeneem. Deur Kameroen federaal en volgens tale territoriaal te orden en deur mense uit die streek in die staatsdiens aan te stel sou dit verhoed kon word dat die land toenemend in oorlog met homself is.

Vir Suid-Afrikaners mag dit vreemd voorkom dat Engels iewers bedreig is en die minderheidstaal is, maar in Kameroen is dit wel die geval. Soos met meeste konflikte oor taal of godsdiens is dit nie die enigste grief nie, maar gaan saam met ekonomiese afskeep en etniese geskille. Feitlik oral in Afrika is daar ʼn elite-groep, dikwels van dieselfde etniese afkoms, wat alle magsposisies beset en ook in gebiede waar ʼn ander groep ʼn meerderheid het, bestuurders uit die elite plaas, met die ou uitgediende resep om nasiebou en eenheid deur sentralisasie en beheer te bereik. Op grondvlak is daar ook in Suid-Afrika ontevredenheid met byvoorbeeld Engelssprekende Xhosas wat in bestuursposisies in die Noord- of Wes-Kaap geplaas word en nie die plaaslike Afrikaanssprekende bevolking verstaan nie.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk as navorser, argivaris en toergids vir die Orania Beweging in Orania, is ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling en skryf is veral politiek, geskiedenis, reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Nico K ·

Baie ironies dat Afrika so vasklou aan sy koloniale verlede. Europa het jare terug al die nasie staat geskep en hoewel daar seker ook probleme is, is dit niks in vergelyking met die oorloë wat in state voorkom waar daar meer as een etniese groep is nie. Selfs in Europese state. Maar vir Afrika leiers gaan dit meestal daaroor dat hulle regering geld gaan verloor as daar afskeiding moet kom.

Eish ·

Weereens n bewys dat integrasie n onhaalbare praktiese droom is.

Kosie Kramer ·

Hier in die suide van Johannesburg bly ons as verskillende tale en gelowe en geure saam. Oorkant die straat bly Tasong, van die Kameroen. Hy is `n briljante wiskunde en wetenskap onnie, maar het moed opgegee met ons Suid-Afrikaners. Volgens hom stel die jeug hier net belang in drank, rook, sokker, bling, en koitus. Hy het nou `n tuindiens en is Christen prediker.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.