Kampusgeweld moontlik ‘20-jaar-verskynsel’

tut-studentebetogings-pretoria-1

Studente betoog in die strate van die Pretoria-sakesentrum (12 Oktober 2016). Foto: ANA

Daar bestaan nie iets soos historiese “wette” nie, maar daar kan dalk wel historiese “wetmatighede” uit die verlede afgelei word. Een hiervan is ʼn “20-jaar-” oftewel ʼn “nuwegeslag-verskynsel”, wat miskien kan help om die kampusgeweld te verklaar. Natuurlik verteenwoordig dit ʼn vereenvoudiging en ʼn veralgemening van die geskiedenis, maar daarsonder is ʼn vergelyking nie moontlik nie.

Die geskiedenis wys dat die nuwe geslag wat groot word ná ʼn historiese gebeurtenis gereeld teen die orde wat daardie gebeure onderlê in opstand kom. Kom ons kyk na ʼn paar voorbeelde:

  • Die nuwe geslag Afrikaners wat ná die Anglo-Boereoorlog opgegroei het, het die Britse koloniale bewind verwerp. Hulle was sowat 20 jaar daarna verantwoordelik vir opstande soos die 1922-mynstaking en die oorname van die destydse Nasionale Party in die 1924-verkiesing.
  • Die nuwe geslag Duitsers wat ná die Eerste Wêreldoorlog opgegroei het, het die verdrukkende Verdrag van Versailles verwerp, Hitler aan bewind gestem, en die Tweede Wêreldoorlog laat uitbreek.
  • Die nuwe geslag jongmense wat ná die Tweede Wêreldoorlog opgegroei het, het 20 jaar daarna oor die hele Weste én in talle Oosblok-state in opstand gekom en in lande soos Frankryk byna die bewind omvergewerp. Hierdie jeugrewolusie het die Weste vir altyd verander.
  • Die swart jeug wat tydens die 1976-opstande polities bewus geword het, was as volwassenes in die vakbonde en die UDF die groot dryfkrag agter die ANC se oorname in 1994 sowat 20 jaar later.
  • Net meer as 20 jaar ná 1994 verwerp ʼn betekenisvolle deel van die swart jeug die 1994-ooreenkoms en Westerse instellings soos universiteite.

Grondwetlike leeftye

Dit is interessant dat die Chicago Law School enkele jare gelede uitgewerk het dat grondwette gemiddeld net 17 jaar lank bestaan. Dis nadat hulle die geskiedenis van moderne grondwette sedert die Franse grondwet van 1789 oor 227 jaar uitgewerk het.

ʼn Moontlike verklaring hiervoor is dat die “politieke leeftyd” van ʼn geslag politici ongeveer 20 jaar is voordat hulle uittree. Die nuwe “politieke geslag” voel hulself moontlik nie so verbind aan ʼn ooreenkoms waarvan hulle nie deel was nie. Suid-Afrika is ʼn goeie voorbeeld hiervan. Daar is blykbaar nou net 12 politici in die parlement oor van die 1994-parlementslede. Hiervan is net vier van die ANC, onder wie mnre. Zuma en Ramaphosa, en politieke veteraanleiers soos dr. Buthelezi, die VF+ se dr. Mulder, mnr. Lekotha van Cope en ʼn paar DA-leiers.

Praktiese verandering

Dit is so dat die grondwetlike wysigings wat wel aan die Suid-Afrikaanse Grondwet aangebring is, nog niks wesenliks aan die bewoording daarvan verander het nie. Maar in die praktyk het die Grondwet intussen dramaties verander deur die veranderde politieke omstandighede, die ANC se politieke mag, wetgewing en hofuitsprake. Voorbeelde hiervan is dat die grondwetlike bepalings oor “gelykheid” in die praktyk intussen “verteenwoordigendheid” geword het, dat veeltaligheid prakties Engelse eentaligheid geword het, dat eiendomsreg afgewater is, en dat daar van die grondwetlike voorsiening vir taal- en kultuurgemeenskappe bykans niks gekom het nie.

Maar die oorskatting van die ekonomiese voordele van politieke mag het ook talle ANC-ondersteuners ontnugter, wat voel dat demokrasie nie hulle omstandighede wesenlik verbeter het nie. Dit wys op die teenstellende sienings van ʼn grondwet. Waar Westerlinge ʼn grondwet as ʼn soort politieke “reëlboek” sien van hoe die land moet werk, sien baie ANC-ondersteuners dit as ʼn soort politieke “tjekboek”, wat ná die verkiesing vir gratis huise, werk en welsyn ingeruil kan word.

Demografie

Die 20-jaar-verskynsel is in wese ʼn bevolkingsverskynsel omdat bevolkingsgroei, -bewegings en ontwikkelings histories nog altyd bepalend was. Harvard se prof. Samuel Huntington het byvoorbeeld daarop gewys dat wanneer die getal jongmense tussen 15 en 25 jaar meer as 20% van die bevolking vorm, dit gewoonlik tot politieke, godsdienstige of etniese geweld lei. Ander kenners meen dat die “vredesdrempel” van ʼn land bepaal word deur die persentasie jongmense onder 30 jaar. Indien hierdie persentasie oor 50% gaan, volg onbestendigheid. In Suid-Afrika is die persentasie swart jongmense sowat 60%. Daarmee saam word net 28% swart kinders in gesinne groot, en is 80% in disfunksionele openbare skole, wat swak prestasie op universiteit beïnvloed en ook indiensneming moeilik maak.

Opvolgskikking

Die Kanadese denker Charles Taylor het moontlik die beste oplossing vir Suid-Afrika se probleem. Hy sê dat vertroue in multi-etniese samelewings soos Suid-Afrika nie as gegewe aanvaar kan word nie, maar dat dit altyd “werk in proses” sal wees. Daarom is ʼn eenmalige politieke ooreenkoms nie genoeg om tussengroep-vertroue te waarborg nie, en moet dit gereeld opgevolg word met gesprekke en opvolgskikkings. Sulke skikkings help verseker dat die nuwe geslag ook ingebind word, en dat die “20-jaar-opstande” daarmee besweer kan word. Stellenbosch se prof. Pierre du Toit het daarom al in 2009 gewaarsku dat dinge nie alles uitgewerk het soos wat dit in 1994 bedoel was nie, en dat ʼn voorkomende “opvolgskikking” dringend noodsaaklik is.

Kom ons hoop dat die nodige leierskap in Suid-Afrika ontwikkel om hierdie voorkomende instandhouding te doen, om te sorg dat ons mooi land nie nog ʼn ongeval op hierdie groot vasteland word nie.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

Ria ·

Ek kan nie verstaan hoekom die media berigte plaas oor die studente stakings nie nadat hulle gesê het hulle plaas geen stakings waar geweld gewys word nie. Wat maak die studente stakings so spesiaal? Hulle sien sensasie wat hulle kom op die tv en is in koerante en dit dryf hulle net om meer skade aan te rig.

Billie ·

Ag nee wat Flip – daar was wel na die Eerste en Tweede WO in Europa en na 1924 in Suid-Afrika ingrypende politieke veranderings, maar gaan ook asseblief in op die resultate van daardie ingrypende veranderings – alles was tog nie vernietig om niks beter in die plek daarvan te plaas nie. Gaan kyk wat het sedert 1980 in Zimbabwe gebeur en vertel vir ons wat die nalatenskap daarvan vandag, na 40 jaar, is en gee ons ook van ander lande in Afrika verslag oor wat 20 jaar na die revolusies daar as die nuwe in plek van die oue geplaas is. Ons hele akademiese stelsel hier in Suid- Afrika het ‘n nekslag gekry wat moeilik oorleef gaan word – en ek sal graag wil sien wat in die plek daarvan gaan kom. Ek dink jou argument is ‘n bietjie oppervakkig en veralgemenend – seker maar om politieke punte aan te teken of hoe?

Flip ·

Billie, my artikel gaan oor die 20-jaar oftewel die ‘nuwe geslag’ verskynsel, en nie oor die soms positiewe en soms negatiewe gevolge nie. Jy’s reg- Afrikaners het nie 100 jaar gelede Engelse universiteite, banke ens vernietig of oorgevat, maar alternatiewe Afrikaner instellings gebou. Zimbabwe het eers 20 jr na Onafhanklikheid radikaliseer- omdat gewone mense nie daardeur bevoordeel is nie agv vrot regering. Dit het hul land verwoes. Stem saam met die nekslag van universiteite.

Louis ·

So wat sal die opvolgskikking wees? Nog meer geld, moord en verkragting… Nee wat ek is nou 30 en soek nie nog ‘n ’94 skikking nie, sal nooit toelaat dat outoppies vir my moord en my vrou en kinders se verktragting skik nie.

Wicus ·

Die 20-jaar teorie bied nogal ‘n aanvaarbare verklaring vir wat om ons gebeur. Dankie Flip, soos altyd sit jy en Herman en Leopold my aan die dink.

Soos dit my lyk gaan ons tans van een beskawing oor na ‘n ander en dis nie aangenaam nie. So moes die Romeine ook gevoel het teen die Germaanse aanslag.

1994 het baie van ons geskok, maar vir nou, watter alternatief is daar as praat? Ons is bloot te min en te verdeeld vir enigiets anders. En dit help tog nie on daarteen te skop nie, dit het gebeur, nou moet ons iets doen met wat ons het om uit die gemors te kom.

Tans is plan B die voertuig met hopelik ‘n plan C gereed werk dinge dalk heeltemal anders uit. En pasop, die aanslag is subtiel, ‘n lae intensiteit en tog.

chrisp ·

‘n Mengelmoes van kleure, tale ,kulture,verwysingsraamwerike ens het nog nerens gewerk nie,nerens nie.Ons is geen uitsondering nie.

Hierdie “beste” is bestem tot uiterse konflik want die wit jeug is ook besig om [email protected] te word.

Johan ·

Flip dis nou die eerste keer wat nie oortuig voel om met jou saam te stem nie. Die argument bevat net te veel afleidings. Ook die navorsing waarna jy verwys bou op te veel op die vooropgestelde 20 jaar periode. Ek is seker as 10 die vooropgestelde tydperk was, sou elke 10 jaar ook hoogtepunte vir politieke verandering kon uitwys. Ek wil Billie saam stem (natuurlik nie met sy belediging teenoor jou nie) daar ‘n verskil in konstruktiewe burgerlike politiek en destruktiewe anargie. Hierin is jou 20 jaar afleidings nie konsekwent nie.

John ·

Afrika is nie deel van die Westerse kultuur nie. Daar is geen land in Afrika met swart leierskap wat as voorbeeld kan dien vir waarheen ontwikkel kan word nie. Die studente se hulle soek ‘n Afrika-gefundeerde stelsel. Dit beteken… haat en nyd, oorlog en gryp. Ons kan bly glo ons ontwaak gou uit ‘n kort nagmerrie na ‘n swaar maaltyd, maar die magtige aanwas wat die ANC aangemoedig het na 1994, het nou baie voete wat kan toi-toi en hulle soek alles wat hul op tv sien of hoop om te sien. ‘n Lang nag le voor ons moet bid dis een sonder lang …..

Tim ·

Blerrie witmense! Koloniseer lande en laat net universiteite, beskawing en wetenskaplikke vordering agter..

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.