Kernkragplan is ʼn ramp in wording

sonkragpaneel-kernkrag-elektrisiteit

Foto: Skeeze/Pixabay.com

Dr. Roelof Botha, ekonomiese navorser en dosent (deeltyds) by GIBS          

Die regering se beoogde kernkragplan het in ʼn bron van allerlei kwaad ontaard, waarvan die afdankings van mnr. Nhlanhla Nene in Desember 2015 en mnr. Pravin Gordhan in Maart vanjaar maar twee duidelike voorbeelde is.

Daar bestaan min twyfel dat Suid-Afrika se huidige politieke woelinge direk met die reusebedrae van die beoogde kernkragaanlegte verband hou.

Energiebeleid in Suid-Afrika het reeds aan die begin van die nuwe millennium op ʼn dwaalspoor beland, waarvan die fiasko rondom herhaalde en langdurige kragonderbrekings getuig. Beurtkrag word allerweë beskou as een van die vernaamste redes vir die stelselmatige agteruitgang van Suid-Afrika se ekonomiese groeivertoning en die lae vlakke van vertroue wat al bykans ʼn dekade onder sowel verbruikers as beleggers heers.

Tydens die eerste klompie jare ná die nuwe demokrasie tot stand gekom het, was elektrisiteit goedkoop, wat daartoe aanleiding gegee het dat Suid-Afrika vir sowat ʼn halfeeu bykans geen aandag aan die doeltreffende aanwending van energie geskenk het nie.

Dit is nogal ironies dat Eskom, wat een van die regering se voorbokke is in die poging om nuwe kernkragsentrales op te rig, die planne lelik deurmekaargekrap het met swak bestuur en sy onvermoë in onlangse jare om genoegsame krag aan die land te voorsien.

Groter doeltreffendheid

Aanhoudende kragonderbrekings het in ʼn ommesientjie gelei tot groter energie-doeltreffendheid, met derduisende Suid-Afrikaners wat na gas oorgeskakel en hul verbruik van elektrisiteit in die algemeen skerp ingeperk het. Laas jaar het Suid-Afrika minder elektriese krag as nege jaar gelede opgewek.

kernkragplan-02

Grafika: Verskaf.

Die belangrikste enkele rede vir die voorkoms van beurtkrag sedert 2008 is geleë in die onkunde oor die destydse invloed van snelle ekonomiese groei en bevolkingsaanwas op die vraag na elektrisiteit wat deurlopend tussen die laat 90’s en die hoë groeitydperk tot 2008 by die regering en veral die departement van energie (DvE) bestaan het.

Die fiasko rondom beurtkrag het meegebring dat die regering geen ander keuse gehad het as om die uitbreiding van hernieubare bronne aan te moedig nie (d.m.v. die REIPPPP), wat uiters suksesvol was en redelik vinnig tot die oplossing van die probleem bygedra het, maar aanvanklik nogal duur was.

Die ekonomiese voordele daarvan om krag op groter skaal te verskaf, het egter nou ingetree, wat die koste van son- en windkrag skerp laat daal het. In dié proses het twee kernbelangrike aspekte na vore getree wat ʼn verdoemende uitwerking op die kernkragplan tot gevolg gehad het, maar oënskynlik deur die regering geïgnoreer word.

Eerstens sit Eskom nou met ʼn oorskot van elektriese kragvermoë – nagenoeg 4 000 mW, wat onmiddellik vrae laat ontstaan rondom die kernkragplan, aangesien die land nie in die volgende dekade energieprojekte van dié omvang benodig nie. Een van die land se grootste vakbonde het die kernkragplan reeds as ekonomiese selfmoord bestempel.

Tweedens het die daling in die prys van elektriese krag uit hernieubare bronne veroorsaak dat die skattings van die koste van kernkrag nou heeltemal te duur geword het – veral in relatiewe terme. Die slotsom waaroor bykans alle energiekenners in Suid-Afrika saamstem, is dat kernkrag uit nuwe aanlegte te duur is.

Verskeie redes bestaan vir agterdog rondom die kernkragplan, veral veiligheid en die betrokkenheid van Rusland, maar die beraamde koste daarvan is ongetwyfeld die belangrikste, aangesien dit rampspoedige ekonomiese gevolge op sowel kort as lang termyn inhou.

kernkragplan

Grafika: Verskaf.

Rommelstatus

Die onmiddellike gevaar hou verband met die afgradering van Suid-Afrika se staatskuld na rommelstatus, wat gelukkig nog nie deur al drie vernaamste kredietgradeerders gedoen is nie, maar in die loop van die jaar wel kan gebeur.

Verklarings deur minstens een van hulle, Standard & Poors, het dit duidelik gestel dat die kernkragplan met valkoë dopgehou word en dat enige wesenlike finansiële waarborge daarvoor deur die regering tot verdere afgraderings kan lei.

Dié kwessie het min te doen met die tegniese aspekte van ʼn groter aandeel van kernkrag in die land se toekomstige energie-samestelling, maar hou slegs verband met huidige begrotingsbeperkings.

Danksy die onbeholpe manier waarop heelwat staatsondernemings bestuur word, is die regering verbind tot ʼn al groter wordende finansiële las (veral weens reuseverliese en onbehoorlike uitgawes) en bestaan daar tans geen beweegruimte vir duur projekte nie – allermins kernkragaanlegte wat na raming meer as R1 biljoen (“trillion”) kan kos.

Indien die regering vanjaar nog tenders vir nuwe kernkragaanlegte gaan vra, bestaan ʼn sterk moontlikheid dat die land weer in ʼn resessie gedompel kan word.

Op lang termyn is dit duidelik dat toekomstige geslagte Suid-Afrikaners vir die gelag van baie duur elektrisiteit sal moet betaal – iets wat die land se internasionale mededingendheid erg kan skaad en die ekonomie se vermoë om werk te skep ook sal benadeel.

Dit is kommerwekkend dat die departement van energie skynbaar tot nou toe die raad van tegniese deskundiges rakende die koste van die kernkragprojek geïgnoreer het.

Een van die grootste enkele foute wat deur die DvE begaan word, en wat aan die kaak gestel behoort te word, is die oorskatting van die koste van hernieubare bronne van energie (hoofsaaklik wind- en sonkrag).

Luister asseblief na die WNNR

Die Wetenskaplike en Nywerheidnavorsingsraad (WNNR) se model vir optimale toekomstige energiebeleid is gegrond op die jongste beskikbare koste, soos vervat in die regering se program vir die verkryging van hernieubare energie van onafhanklike verskaffers (algemeen bekend as die REIPPPP).

Verder plaas die WNNR se model ook geen kunsmatige beperkings op die hoeveelheid elektrisiteit wat in die toekoms uit hernieubare bronne verkry kan word nie. Die insluiting van sulke beperkings in die DvE se weergawe van die langtermyn-samestelling van die verskillende energiebronne is natuurlik gedoen om die uitsluitlike rede om voorsiening te tref vir die vergroting van die aandeel van kernkrag.

Volgens die WNNR sal die DvE se beoogde toekomstige energie-samestelling (hoofsaaklik steenkoolverbranding en son-, wind- en kernkrag) teen 2050 jaarliks sowat R70 miljard meer kos as ʼn samestelling waarvan hernieubare bronne (gasverbranding ingesluit) ʼn relatief groter aandeel besit.

Dit gaan ʼn mens se verstand te bowe dat ʼn regering so met die sekerheid en bekostigbaarheid van die land se toekomstige energiebehoeftes kan dobbel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

John ·

Tans is daar genoeg krag om die swaar belaste landsburgers se lyding te verlig, die ekonomie te groei en ontwikkeling te stimuleer met prysverlagings. Onlangse nagfoto’s van die aarde toon SA se liggie wat dof flikker teen wereldlampe, maar die prez se geliefde middelmanne en Oosterse onderhandelaars se skitterende geskenke verblind hom. ‘n Semi-staatsinstelling wat landsburgers tap vir uitbreidings om winste te wil gaan maak vir nog bonusse in lui buurlande, is erg verby. Hoe lank kan die ANC die armes ooreenkomstig SA se geliefe logo, Rassisme, laat glo dat die party nie skuld het aan sy eie ondergang nie? Atoomkrag, uraan en wapenfabrieke in skelm Oosterling- hande sal N-Korea na ‘n soet nefie met ‘n kettie laat lyk… ‘SA in a sweet spot’ en ‘the darling of the world’? Gaan binnekort ‘n ander gesig wys… ‘n bedreiging vir sy mens-dommes… en wereld-‘blindes’…

Pietman ·

Interessante artikel. 1 billion= 1 miljard in afrikaans, en 1 trillion = 1 biljoen in afrikaans. Wil net weet of die triljoen nie dalk na biljoen ( 12 nulle) verwys nie?

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê Pietman

Baie dankie vir jou navraag! Die bedrag is nou gewysig.

Groetnis

Esté Meyer Jansen
nms Maroela Media

tamboti ·

Nee julle moet net verstaan, NSA regering se enigste doelwit is om die duurste en grootste moontlike transaksies aan te gaan. Dit verseker mos groot komissies, groot insentiewe, groot bonusse en groot konsultasie fooie.
So maak hul mos almal “lief” vir ons NSA en al die beleggers gretig om in ons rommel ekonomie te “bele” en nog groot winste te maak.
Die som staan so: R1 000 000 000 000 gedeel deur +/- 50 000 000 wettige Suid Afrikaners waarvan se maar 30% werk – 15 000 000, en waarvan die helfte belasting betaal – 7 500 000 = R133 333 wat elkeen gaan opdok vir minder as 10% van SA se totale krag!
Jy kan beslis ‘n baie goeie sonkrag aanleg vir jouself daarmee koop – maar jy gaan maar nog belasting betaal vir hierdie duur en gevaarlike projek.
Hoop van harte hul bou hom reg langs Saxonworld of Nkandla.

Rupert Ashford ·

Sg hernubare kragbronne kan nie konstante “base load” elektrisiteit voorsien vir industriee nie, dit is baie wisselvallig en daardie pryse wat gewys word is “best case” en swaar gesubsidieer deur ander bronne. Keuse vir base load le tussen fossiel brandstowwe en kernkrag. SA het 30% (???) werkloosheidsyfer en benodig industriele belegging. Soos met baie dinge in Afrika is die idee goed maar die stertjies en uitvoering nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.