Kernwapens en verpersoonlikte diktature

Kim Jong Oen (Foto: Korean Central News Agency/Korea News Service via AP)

Kan diktators, spesifiek dié gewapen met kernwapens, beteuel word? Baie waarnemers van kernaangeleenthede dink nie so nie.

Hoewel vrese oor irrasionele leiers in besit van kernwapens byna so oud soos die kernera self is, word daar vandag opnuut kommer uitgespreek oor die rasionaliteit van die huidige – en toekomstige – oes van wêreldleiers, veral dié in beheer van verpersoonlikte diktature (“personalist dictatorships”).

Volgens die Amerikaanse politieke wetenskaplike, Scott Sagan, verskil dié diktature van ander outokrasieë deurdat hul leiers sodanig persoonlike mag uitoefen dat géén ander staatsinstelling besluite kragteloos kan maak nie. Die besluite van verpersoonlikte diktators is wispelturig, sonder oorlegging en in belang van hulself (en hul lojaliste) en nie in dié van die burgery nie. Voorts noem Sagan dat daar slegs een historiese voorbeeld van ’n verpersoonlikte diktatuur gewapen met kernwapens bestaan, dié van die Sowjetunie onder die beheer van Joseph Stalin gedurende 1949-1953.

Vandag is die leier van Noord-Korea, Kim Jong Oen, die toonbeeld van ’n verpersoonlikte diktator. Sedert hy agt jaar gelede aan bewind gekom het, het Kim sy beheer oor alle staatsinstellings verstewig en moontlike andersdenkendes (insluitend lede van sy eie familie) glo laat vermoor. En, tot die ergernis van die internasionale gemeenskap, gaan Kim onverpoosd voort om missieltoetse uit te voer. Die een of ander tyd, so word daar wyd gevrees, gaan Kim ’n kernwapen afvuur.

Verskeie kerndeskundiges is dit eens dat die leiers van weleer – onder andere, Nikita Khrushchev, Leonid Brezhnev, Dwight D. Eisenhower, John F. Kennedy en, wel, net mooi almal behalwe Kim – deur ’n kernafskrikkingstrategie beteuel kon word. Die term “afskrikking” beteken om deur skrik of vrees iemand van iets te laat afsien of te ontmoedig. ’n Kernafskrikkingstrategie het dan tot gevolg dat kernwapenstate vergeldingsmagte tot stand bring wat die vooruitsig van onaanvaarbare verwoesting vir ’n toekomstige aanvaller inhou. Die leiers van weleer (en, soos reeds vermeld, eintlik elke ander leier behalwe Kim) was oënskynlik rasioneel, in staat om die berekening te maak dat ’n aanval op ’n kernstaat onaanvaarbare vergelding tot gevolg sal hê.

Vandag word daar gevrees dat verpersoonlikte diktators (en by name, Kim Jong Oen) nie die boodskap van ’n kernafskrikkingstrategie sal snap nie en dat hy moontlik sal misreken en ’n kernwapen afvuur. Vir leiers soos Kim, meen president Donald Trump se voormalige nasionale veiligheidsraadgewer, H.R. McMaster, werk ’n kernafskrikkingstrategie eenvoudig nie: “A regime that engages in unspeakable brutality against its own people? A regime that poses a continuous threat to its neighbours in the region and now may pose a threat, direct threat, to the United States with weapons of mass destruction? A regime that imprisons and murders anyone who seems to oppose that regime, including members of [Kim’s] own family…?” “Hoe kan die klassieke strategie van kernafskrikking vir ’n regime soos dié van Kim werk?”, vra McMaster voorts.

Wel, daar is genoegsame rede om te glo dat Kim – én ander (toekomstige) verpersoonlikte diktators – deur ’n strategie van kernafskrikking beteuel kan word. Wat gee aanleiding tot hierdie optimistiese siening?

Allereers, die luide aandrang dat rasionaliteit die beslissende faktor in kernafskrikking uitmaak, wys op ’n basiese misvatting oor die beginsels en vereistes van kernafskrikking. Soos die Amerikaanse politieke wetenskaplike, Kenneth Waltz, tereg uitwys, kernafskrikking berus nié op rasionaliteit nie, wat ook al die term “rasionaliteit” impliseer. ’n Persoon is, eenvoudig gedefinieer, rasioneel as hy/sy in staat is om te redeneer. Dit verg weinig redenering om tot die slotsom te kom dat dit onmoontlik is om ’n kernoorlog te voer en te wen en dat aggressie te midde van vernietigende vergeldingsmagte klaarblyklik dwaasheid is. Só ’n gevolgtrekking vereis nie ingewikkelde berekeninge nie – slegs ’n klein bietjie gesonde verstand. Ook wys Robert Jervis, ’n politieke wetenskaplike aan die Universiteit Columbia in die Verenigde State van Amerika (VSA), dat rasionaliteit nie ’n voorvereiste vir kernafskrikking is nie en dat persepsies van irrasionaliteit eintlik kernafskrikking versterk. ’n Irrasionele leier word dikwels bestempel as een wat emosioneel impulsief is, tot hoë risiko’s neig en vasbeslote is om ’n aanval te loods. Irrasionaliteit kan egter juis die teenoorgestelde uitwerking teweegbring, deurdat dit ’n staat tot passiewe instemming kan lei, terwyl ’n rasionele waardering van die situasie ’n staat tot aggressie kan aanspoor. ’n Toekomstige aanvaller sal ook minder geneig wees om ’n aanval te loods indien die vrees bestaan dat ’n teëstander sal weerwraak neem sonder om die risiko’s behoorlik te oorweeg.

Foto: Ahn Young-joon/AP

’n Bykomende rede tot optimisme is die feit dat internasionale uitkomstes (lees: oorlog en vrede) nie uitsluitlik deur die interne eienskappe van state en hul leiers bepaal word nie. Terloops, die neiging om die bestudering van die internasionale politiek tot die binnelandse aangeleenthede van state te reduseer, is ’n strik waarin waarnemers van die internasionale politiek al te dikwels trap. Daar is geen direkte verbinding tussen die eienskappe, doelstellings en interaksies van state en die uitkomstes wat hul interaksies voortbring nie. Met verwysing na binnelandse aangeleenthede, kan leiers moontlik wreed, radikaal en impulsief wees, en kan hulle rewolusie (internasionaal en plaaslik) voorstaan. Wreedheid en geweld tuis lei egter nie outomaties tot wreedheid en geweld in state se eksterne gedrag nie. Die geskiedenis van die internasionale politiek wys onomwonde dat eksterne faktore die gedrag van state bedwing, met die effektiwiteit van die druk wat wissel na gelang van omstandighede.

Daar bestaan géén groter eksterne beperking op die gedrag van state as kernwapens nie. Die interne eienskappe van state (demokraties, sosialisties, Fascisties en dies meer) sowel as die bepaalde kenmerke van leiers (charismaties, rewolusionêr, wreedaardig en dies meer) maak weinig saak wanneer almal – vanaf Jan Alleman tot Kim Jong Oen – die vernietigende krag van kernwapens kan verstaan. Om ’n pad van aggressie te stap sonder die waarborg van sukses enersyds, en die waarborg van vernietigende vergelding andersyds, impliseer dat almal wat oor die gebruik van kernwapens besin, gelyktydig waansinnig moet raak.  Die harde en onaangename werklikheid van ’n kernwêreld oortref die politieke retoriek van leiers. Kernwapens beteuel hul eienaars – almal van hulle – om met groot omsigtigheid op te tree. Alle tipes diktators het hoofsaaklik een doel voor oë: om hul oorlewing en voortbestaan te verseker. Die gebruik van kernwapens sal ’n einde aan dié doel bring. Selfs Kim Jong Oen weet dít en so ook sal ander verpersoonlikte diktators gewapen met ’n kernwapen.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Eben Coetzee

Dr. Eben Coetzee is ʼn senior lektor aan die Universiteit van die Vrystaat se departement vir politieke studie en regeerkunde.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Schalk N ·

Ek sê maar net elke dag DANKIE dat ek heel aan die SUIDE van Afrika bly…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.