Kniebuig is net nog ʼn manifestasie van ‘wokeness’

Gareth Cliff. (Foto: Facebook)

In die afgelope weke het twee voorvalle weer skerp na vore getree met venynige en eensydige debat in skerp teenstelling met rasionale debat wat groter en verantwoordelike denke verg.

Die eerste voorval het gekom nadat Gareth Cliff in sy aanlyn program, The Burning Platform, met DA-leier John Steenhuisen en One South Africa se Mudzuli Rakhivhane in gesprek was. Toe Rakhivhane oor haar “geleefde ervaring” met rassisme begin praat, het Cliff dit as anekdoties en onbelangrik afgemaak. Dit het weer ʼn sosialemediastorm tot gevolg gehad met borge wat van die program onttrek het.

Die tweede voorval met Quinton de Kock het nog groter opslae gewek toe hy aanvanklik geweier het om met ʼn gebalde vuis die knie ter ondersteuning van die Black Lives Matter-beweging te buig. Dit was nadat Krieket Suid-Afrika spelers by wyse van ʼn opdrag gedwing het om die knie by die T20-Wêreldbekertoernooi te buig omdat dit dan ʼn eendragtige en simboliese gebaar teen rassisme sou wees.

Isak Burger skryf oor die kwessie vanuit ʼn geloofsperspektief en sê om voor iemand te kniel tradisioneel een van twee betekenisse gehad het. Daar is voor iemand gekniel vir wie daar die allergrootste respek, agting, liefde, verering en dankbaarheid was. Dit is altyd ʼn vrywillige en spontane simboliese gebaar. Die tweede rede wanneer daar gekniel is, was ʼn teken van gedwonge oorgawe voor ʼn vyand wat jou oorwin het. In tradisionele oorlogvoering en wanneer jy jou heerskappy en baasskap oor iemand wou bewys, is die persoon gedwing om te kniel. In teenstelling met die eerste rede is dit nie vrywillig nie maar gedwonge, en dit word teësinnig gedoen. Nou is dit nie meer verering nie, maar vernedering. Oor die gebalde vuis skryf Burger verder dat dit van aggressie, veglustigheid, rebellie en verset spreek.

Quinton de Kock. (Photo by INDRANIL MUKHERJEE / AFP)

Vir ʼn sportliggaam soos Krieket Suid-Afrika om voor te skryf om te kniel ter simboliese teenkanting teen rassisme is om opnuut ʼn voorgeskrewe politieke simboliek voor te hou. Vergete is die beeld en politiek van die #BlackLivesMatter in wie se naam daar gebreek, vernietig en gevandaliseer is, standbeelde geval het, die geskiedenis herskryf is en ʼn nuwe rassisme wat in die sogenaamde “veilige spasies” vir swart mense of ander groepe, waarin pertinent wit mense nie mag kom nie, geregverdig word.

Die gebalde vuis het nie ʼn onskuldige betekenis nie. In die ANC- en EFF-embleme hou die gebalde vuiste spiese vas. By Azapo en Black First Land First bied die gebalde vuis ruimte vir die nuwe swart nasionalisme (Black Power) wat deur die EFF en ook faksies van die ANC bevorder word.

Oor die kniebuigkwessie binne die breër afdwing van identiteitspolitiek moet die kwessie verder en dieper gaan haal word. Professor Francis Fukuyama, Amerikaanse sosioloog, politieke wetenskaplike en filosoof, skryf: “Daar is niks verkeerd met identiteitspolitiek as sodanig nie; dit is ʼn natuurlike en onvermydelike reaksie op onregte. Dit word slegs problematies as identiteit op sekere spesifieke maniere geïnterpreteer of afgedwing word.” Hy sê dan dat “identiteitspolitiek vir sommige progressiewe mense ʼn goedkoop plaasvervanger vir ernstige besinning geword het”.

(Foto: AP Photo/Alex Brandon, File)

Die kniebuigsimbool vir #BlackLivesMatter en die “woke”-kultuur skep besondere uitdagings. Dit stuur egter ook ernstige waarskuwings vir elke individu, minderheidsgroep of politieke party in Suid-Afrika, maar ook op internasionale vlak vir elke instelling, internasionale korporasies, universiteite, staatsdienste, museums, die media, skole, staatsdienste, plaaslike regerings en selfs kerke.

“Wokeness” en die vernietigende effek daarvan bedreig soveel van ons demokratiese waardes wat nie-rassigheid, maar ook die regte wat in die Republiek van Suid-Afrika se Grondwet beskerm word, insluit. Hierdie regte sluit in die gelykheid voor die reg, menswaardigheid, vryheid van godsdiens, oortuiging en mening, vryheid van uitdrukking, vryheid van assosiasie en dan ook veral politieke regte.

“Woke” beteken basies dat mense waaksaam moet wees teen ongeregtighede en diskriminasie. Helen Zille omskryf “wokeness” as “die politiek van ras- en kulturele identiteit, en wat gemobiliseer word om die ekonomiese en politieke belange van gemarginaliseerde groepe te bevorder”. Daar kan dus afgelei word dat “woke” oor ʼn spektrum kan beteken dat iemand ʼn bewustheid moet hê van die omgewing tot die meer aktivistiese uitwys en mobilisering van ongelyke mag, ongeregtighede, diskriminasie en ander kwessies van veral gemarginaliseerde groepe.

In haar boek #StayWoke: Go Broke: Why South Africa won’t survive America’s culture wars (and what you can do about it) skryf Zille oor die Suid-Afrikaanse konteks wat nie die Amerikaanse kultuuroorloë sal kan weerstaan nie en gee tien redes:

  1. “Wokeness” is ʼn oefening in selfmisleiding en verkeerde diagnose – dit stel as vereiste dat “witheid” in Suid-Afrika die groot probleem is en daarom uit alle posisies van mag verwyder moet word.
  2. “Wokeness” moedig slagofferskap aan en vernietig selfbemagtiging – om vooruit te gaan, is slagoffers van hulle vervolgers of oortreders afhanklik. Die uitgangspunt moedig nie ekonomiese groei aan nie.
  3. “Wokeness” bevorder sosiale ingenieurswese op ʼn rassebasis – regstellende aksie het tot kaderontplooiing en swart ekonomiese bemagtiging gelei. Die ANC se bewindsoorname was die stryd teen apartheid, maar in hulle regering word rasgedrewe beleid al meer ingevoer.
  4. “Wokeness” vererger en maak armoede ewigdurend – armoede vererger met die krimpende ekonomie, groter werkloosheid en ʼn verswakkende staat en korrupsie.
  5. “Wokeness” maak die goeie wil en bydraes van Suid-Afrikaners op grond van onveranderlike biologiese karaktertrekke onregmatig – veral die minderheidsbevolkings ervaar dit dat hulle vaardighede en toegang tot kapitaal misken word. Die minderheidsbevolkings ervaar voortdurend geteikende vervreemding.
  6. Amerikaanse “rasoplossings” doen Suid-Afrika meer skade as goed – die Amerikaanse ekonomie en instellings is onafhanklik en sterk genoeg om die voortdurende aanslag van identiteitspolitiek af te weer. Amerika kan die ekwilibrium na afloop van die “wokeness” en sy gevolge herstel. Die probleem is dat die meerderheid in Suid-Afrika bevoordeel word en die rasprofilering pas die politieke elite.
  7. “Wokeness” is skepties oor die Suid-Afrikaanse Grondwet en vernietig funksionele instellings. Die veelvuldige institusionele verval is onherstelbaar. Die Grondwet is ʼn koloniale instelling en is ondervang deur transformasie. Universiteite is onder voortdurende beleg van die “woke”- kultuur en die regstelsel begin stelselmatig ook die gevolge van transformasie en ideologie toon.
  8. “Wokeness” verhoed ons van eerlike en oop gesprek oor ons probleme en oplossings – dit verhoed vryheid van uitdrukking op die basis dat dit aanstoot kan gee.
  9. “Wokeness” maak dit veel moeiliker om ʼn demokratiese uitweg te vind – rasmobilisasie en staatsbeheer oor die ekonomie word toenemend deur die ANC ingespan om sy meerderheid te verskans.
  10. “Wokeness” vernietig die kapasiteit om ʼn Suid-Afrikaanse nasie te bou. Die Suid-Afrikaanse ideaal van nasiebou het vir selfidentifikasie gebaseer op ras, geslag, seksuele oriëntasie en ander persoonlike en onveranderlike karaktertrekke plek gemaak. In Amerika word die regte van minderhede deur “wokeness” bevorder, maar in Suid-Afrika word minderhede deur “wokeness” geteiken.

(Foto: @OfficialCSA/Twitter)

Om die knie as simboliese gebaar teen rassisme te buig mag dalk onskuldig klink en word dit deur sommige kommentators as ʼn positiewe bydrae deur Krieket Suid-Afrika tot die diep verdeelde verlede van Suid-Afrika gesien. Ongelukkig word daar telkens na leë simboliese gebare gegryp wat nie altyd so onskuldig is nie. Onthou – die Nazi-saluut was ook aanvanklik onskuldig.

Ons het al vantevore oor ʼn Nasionale Aksieplan (NAP) teen rassisme geskryf wat ook as mislukte beleidsraamwerk deur die ANC en die regering gedryf is. Die Suid-Afrikaanse regering het in 2001 reeds die opdrag van die Wêreldkonferensie teen rassisme en diskriminasie ontvang en het ʼn halfgebakte poging in 2019 die lig gesien. Die algemene doel van die NAP is om ʼn nie-rassige, nie-seksistiese samelewing te bou wat gebaseer is op die waardes van menswaardigheid, gelykheid en die bevordering van menseregte en vryheid. Bewusmaking onder staatsamptenare en die burgerlike gemeenskap sowel as die mobilisering van breë ondersteuning in ʼn veldtog wat teen-rassisme, gelykheid en teen-diskriminasie insluit.  Dit sou die volgende doelwitte gehad het:

  • Moedig die insameling van data rakende rassisme, rassediskriminasie, xenofobie en verwante onverdraagsaamheid aan, en maak voorsiening vir ʼn meer omvattende assessering van behoeftes om dit doeltreffend te bestry.
  • Verseker dat die kommer van individue en groepe wat rassisme, rassediskriminasie, xenofobie en verwante onverdraagsaamheid beleef, meer doeltreffend aangespreek word.
  • Verhoog die doeltreffendheid van maatreëls teen rassisme, rassediskriminasie, xenofobie en verwante onverdraagsaamheid, insluitend finansiële en menslike hulpbronne.
  • Skep ʼn verbintenis om rassisme, rassediskriminasie, xenofobie en verwante onverdraagsaamheid uit te skakel deur toepaslike programme wat daarop gemik is om haalbare teikens te bereik.
  • Versterk programme vir individue en groepe wat rassisme, rassediskriminasie, xenofobie en verwante onverdraagsaamheid in onderwys, gesondheid, indiensneming, behuising, voedselsekuriteit, maatskaplike dienste en toegang tot geregtigheid ondervind, insluitend waar nodig deur middel van toepaslike remediërende hulpmiddels.
  • Fasiliteer die identifisering van wetgewing wat aangepas moet word, of aangeneem moet word, wat die beskerming van slagoffers ten doel het.
  • Skep ʼn meer gelyke samelewing en versterk die oppergesag van die reg en demokrasie.

ʼn Nasionale Aksieplan teen rassisme en diskriminasie moet in die eerste plek op ʼn nasionale dialoog gebaseer wees waarby alle taal, kultuur en geloofsgemeenskappe betrek is. So ʼn nasionale dialoog sou ook daartoe kon bydra dat die Grondwet en die Handves van Regte weer hul regmatige plek as die hoogste reg inneem. Sodoende sou politici en die publiek aanspreeklik gehou kon word vir hul optredes en uitsprake.

In die afwesigheid van enige aksieplan is dit vir joernaliste, kommentators en politici sowel as sportliggame moontlik om die reg in eie hande te neem en op uiters onverantwoordelike wyse opdragte uit te reik wat “simbolies” teen rassisme kan wees. Die regering se versuim om ʼn Nasionale Aksieplan in konsultasie met alle taal-, kultuur- en geloofsgemeenskappe daar te stel, skep voortdurend die perfekte storm vir ʼn heksejag op vermeende rassiste en word onskuldige persone betrek en in die hof van openbare mening skuldig bevind. Net soos McCarthyisme in Amerika in die 1950’s kommuniste agter elke bos gesoek het, soek Suid-Afrikaners voortdurend rassiste. Daar is wel ʼn klein groep rassiste, wit en swart, maar om te veralgemeen is om onherstelbare skade aan verhoudinge in die land tot gevolg te hê. Ons bly daarvan oortuig dat daar nog steeds meer Suid-Afrikaners, wit én swart, is wat wel verby ʼn rassebril na Suid-Afrika se probleme kyk en daadwerklik ʼn verskil wil maak.

Kniebuig en gebalde vuiste vervang een vorm van rassisme met ʼn ander vorm van rassisme en onderdanigheid – dit sal beslis nie ʼn langtermynoplossing vir Suid-Afrika wees nie; beslis nie vir sport nie en allermins vir krieket. Rassisme gaan nie met simboliek beveg word nie, maar deur toewyding, aksie, woord en daad. Dit sluit almal in, en veral politici. ʼn “Woke”-ingesteldheid vir krieket- en ander sportliggame gaan op die langduur ʼn oordadige politieke korrekte sportsamelewing vestig ten koste van meriete en uitnemendheid.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jan Bosman

Meer oor die skrywer: Jan Bosman

Jan Bosman is Hoofsekretaris van die Afrikanerbond.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pieter

Almal hier klink vir my ge-woke.

Pieter9

Stem saam.

AW

Daar ward grsê die mens mag doen sois hy WIL, Dit is die mens se REG!!

Vir my, Enige Blanke wat die Knie buig, is n Swak Mens!!

Dan , MM Leser, Jy het die REG om saam te stem of Nié.

En ek het dié reg tot my Denke !!

Porseleintjie

Jy word soos die met wie jy jou omring en ook die wie jy ondersteun. Geen krieket of rugby ooit weer vir my. My keuse is om net voor God te kniel, want my ewige lewe maak meer saak.

Kwikkie12

Hoeveel aanteken name mag jy hê.. Hier is iemand wat baie dieselfde klink onder Piet, Pieter ens. Sy kommentaar is meeste van die tyd links en in die minderheid en dan ondersteun hy homself?