Kom ons bou weer aan ons kultuur

Flip Buys, voorsitter van die Solidartiteit Beweging. (Foto: René Roux)

Die antieke Egiptenare het al 4 600 jaar gelede indrukwekkende piramides gebou wat vandag nog as wonderwerke beskou word. Die mensdom staan steeds verstom oor die hoë vlak van ingenieurswese, argitektuur, wiskunde, wetenskap en logistiek wat hierdie piramides moontlik gemaak het. Daarbenewens het bouwerk van daardie omvang gevorderde vorme van staatkundige ordening, ekonomiese ontwikkeling, bestuur en organisasie, en geletterdheid en opleiding geverg.

Argeoloë sê wel dat die antieke Egiptenare die piramides gebou het, maar in werklikheid het die piramides terselfdertyd die Egiptenare as ʼn hoogs ontwikkelde beskawing gebou. Daarmee word bedoel dat die eeue lange bouwerk aan piramides en ander infrastruktuur wat ʼn beskawing nodig het, op hul beurt ook die Egiptenare se kultuur en beskawing gebou het. Bouwerk van daardie omvang vereis immers ʼn gevorderde beskawing wat in staat is om groot gesamentlike projekte aan te pak, die hulpbronne daarvoor te bekom, doeltreffend te beplan en te organiseer, en wat oor die leierskap en kundigheid beskik om dit suksesvol uit te voer.

Bouwerk

ʼn Volk, kultuur of beskawing se vlakke van ontwikkeling word eeue later steeds aan die bouwerk gemeet wat hulle tot stand gebring het. Ons kan onsself nie die antieke Egiptenare, Romeine en Grieke indink sonder hulle bouwerk nie. Die Romeine se kultuur en vlakke van beskawing is vandag steeds duidelik as gekyk word na hulle bouwerk wat vandag steeds bestaan. Maar hierdie bouwerk het ook betrokke beskawings gebou, omdat dit die uitleef, uitdra en oordrag van hulle kulture moontlik gemaak het. Winston Churchill het immers gesê dat ons eers ons geboue vorm, en daarna vorm ons geboue ons. Die Romeine se paaie, brûe, watervoorbrûe, teaters en stede het ʼn Romeinse lewe moontlik gemaak en die oordrag en verspreiding van hulle kultuur regoor die ryk vergemaklik.

Die Afrikanerkultuur kan ook nie verwyderd van sy bouwerk ingedink word nie. President Paul Kruger was nie net ʼn staatsbouer nie, maar ook ʼn stadsbouer. Hy het ʼn groot rol gespeel om Pretoria vanaf ʼn stowwerige dorpie na ʼn hoofstad uit te bou. Dink maar aan die Ou Raadsaal, die Paleis van Justisie, museums, hospitale, skole en die forte rondom Pretoria. Geboue is in werklikheid die kulturele infrastruktuur van ʼn volk. Dit “bou” die volk deurdat die Ou Raadsaal die kern van die staatkundige republiek was, en die Paleis van Justisie die sentrum van die regsorde was.

Afrikaners het later jare ʼn landvol geboue opgerig wat ons ook as ʼn kultuur gebou het. Dink aan die geboue wat vir opvoedkundige, ekonomiese, kulturele, mediese, militêre en ander doeleindes gebou is.

Afrikaanse lewe

Afrikaners is vandag met rede oor die toekoms bekommerd. Soveel van wat opgebou is, is tans vervalle, verlore of oorgevat. Dit maak ʼn “Afrikaanse lewe” en die oordrag van ons kultuur baie moeilik. Dink maar net hoe min openbare ruimtes daar nog bestaan waar ons veilig en vry die heerlike somersaande kan geniet. Mense leef vandag feitlik net in handelsruimtes soos winkelsentrums en privaatwonings. Ons voel ontuis en selfs onveilig in die meeste openbare ruimtes.

Die vraag kan gevra word hoeveel, behalwe huise en inkopiesentrums, ons werklik nog vandag bou. Is die probleem nie dat ons moed verloor oor alles wat die ANC afbreek, maar dat ons as gemeenskap nie meer bou nie? Afrikaners voel nie meer tuis in die land nie, want ons het nie meer genoeg plekke waar ons tuis voel nie. Die oplossing vir ʼn kultuur wat wil leef, is om weer te begin bou aan die kulturele infrastruktuur wat vir voortbestaan nodig is. Daardie bouwerk sal dan weer terselfdertyd ook ons Afrikanerkultuur bou. Dan het ons niks te vrees vir die toekoms nie. Die ongekende geesdrif wat die bou van die Solidariteit Beweging se Sol-Tech ontlok het, is genoeg bewys van hierdie stelling.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

anniekiewiet ·

Insiggewend en iets om werklik opgewonde oor te raak. Sal ons jonger mense belangstel en die waarheid hiervan insien?

annie ·

Mmm… Flip! Ek stem egter nie saam met Churchill nie. Wat jy oprig ís ooreenkomstig jou kulturele en godsdienstig-ingebedde waardes. Kyk hoe verskil die Russiese en Sjinese boustyle maar hul probeer mekaar respekteer. Inderwaarheid verwag die Vader dat ons nie bou aan die toring van Babel nie maar volgens ons unieke Gegewe genetika. Boustyle saamgeklits is smaakloos-kleurloos en dit kós. Uiteindelik verloor ‘n volk sy vonk en sy hartklop. Klop Afrikaners se harte nog reg? Of word ons nou soos gevange-‘Israeliete’ in ons eie land wat ‘ander’ se totempale regop hou en te graag hul gode dien?

Groen Ghoen ·

Wat is dan die oplossing? Myns insiens is die Afrikaner se trots en selfbeeld sedert 1990 vernietig deur onophoudelike aanslae om veral skuldgevoelens te vestig. Indien ‘n mens “Jammer-dat-ek-lewe” oor jouself voel, gaan jy beslis ook nie jou kultuur uitlewe nie. Indien ‘n mens jou wil om terug te baklei verloor, wen die vyand sonder ‘n oorlog. Dit is die ou Chinese filosofie. Lees gerus “The Art of War.”

Deon ·

Die kultuur van verwaarlosing, afbrand en vernietiging van alles wat opgebou was voor die ANC aan bewind gekom het moet net eers gestop word. Ons kan tog nie bou aan iets wat net weer vernietig gaan word nie. Ons kan maar net vashou aan die onthou van die goeie en mooi wat was. Dan wag ons, seker vir nog n leeftyd, dat orde geskep word in hierdie land.

Andrew ·

Die bou is goed mits eie grondgebied beset en uitbrei word, wat wel al reeds begin het. Sateliet areas , of hubs kan elders wees en gekoppel aand die “hoof grondgebied”. Daar is privaat Afrikaans Christelike skole (dit is no nie die curros) maar te veel mense verkies maar nog die model C hier om die hoek, dan nog dubbel medium helfte van die tyd ook . Op die ou end gaan model c skole heeltemal verengels en sal mense wat Afrikaans wil laat voortleef, mooi moet besluit oor die keuses waar hulle kinders skool gaan, en aan watter skole dit die moeite werd is om te help bou.

En ek is bevrees die Mistreams vand die wereld is nie Afrikaaner hubs nie, en bou sy skole nie aan die Afrikaner kultuur nie.

MakersMark ·

Die kultuur om te vat wat nie wetlik bekom is nie, te verband of af te breek, binnegevegte en faksionalisme sal nie stop nie. Uiteindelik gaan als verval en kriminele bendes sal die land oorheers elk in sy gekose gebied. Dink aan Somalië. Ek bou vir my en my gesin ‘n toekoms in ‘n land waar beskawing heers. En my kapitaal is reeds uit.

Chris ·

Ek dink weer dit sal beter wees indien ons bou aan bewuswording van wat rondom ons aangaan. Die probleem is dat te veel mense aan ‘n soort kognitiewe afstomping ly dat die vyand besig is om seggenskap te kry oor ons diepste wese en bestaansreg. Die probleem is egter dat daar nie genoeg mense is met ruggraat en integriteit nie. Indien jy teen jou gewete ontken dat daar fout is met ons samelewing hoef jy nie op te staan en te veg teen die diaboliese sameswerings ten bate van die nageslag nie. Ons sal maar soos met die “Keiser se nuwe Klere” moet wag tot ons kinders uitroep in beskuldiging – “die Covid Keiser was dan naak”, hoekom het jul dit ontken?

Hendrik ·

Die liefde vir die kultuur begin by die huis en indien dit nie ‘n gedwonge in die keel afdruk wat kinders skuldig laat voel nie, sal die kinders die voorbeeld van die ouer aanhang. Ek ken kinders wat in CVO en in openbare skole was wat lief is vir die kultuur en ander wat heeltemal die humanistiese wereld aanhang waar as jy goeie persoon is, is alles reg.

Jacob ·

Goeie artikel, baie dankie. Stem saam: bou weer.
Risiko is seker dat Afrikaners bou maar dat (die regering toelaat dat) dit afgebreek word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.