Kom ons los die emosionele gekyf oor taal

hans-du-plessis-02

Hans du Plessis. Foto: Nwu.ac.za

Deur prof Hans du Plessis

Moeggepraat

Ons sal moet loskom van ʼn oorverhitte emosionele gesprek oor taal. Ons het nie ʼn oorlog nodig nie, en ons kwesbare demokrasie kan dit nie bekostig nie. Om ʼn oorlog te kan verklaar, moet daar immers ʼn vyand wees, want sonder ʼn vyand is daar nie ʼn oorlog nie. Nou hoe nou gemaak as jy oorlogsugtig is, maar daar is nie ʼn vyand nie? Maklik, jy skep ʼn vyand! Verkieslik ʼn kollektiewe vyand, want jy is mos nou tog so lus vir oorlog. Fabriseer ʼn vyand en sweep die massa op om die sogenaamde vyand te bestorm. Nog beter: As daar ʼn vrot regering byderhand is, dwing hulle om die windmeul storm te loop, want dit trek die aandag van mislukking af.

ʼn Onregverdige politieke bestel is ʼn legitieme kollektiewe vyand, omdat dit mense verneder, en vernedering is die een ding wat ʼn mens nie sommer net so vergeet nie. As sodanige bestel egter nie meer institusioneel bestaan nie, is dit as ʼn geldige kollektiewe vyand weg en die vrede word gesluit.

Die probleem is net dat baie nie die vrede wil aanvaar nie en daarom eers weer ʼn vyand moet skep.

Ongelukkig is taal deur die geskiedenis van baie wêrelde heen ʼn gerieflike sondebok omdat dit ʼn hoorbare en algemeen menslike besitting is. Taal is nie net ʼn kommunikasiemiddel nie. Dit is wat jy is, ʼn identiteit, ʼn emosionele dimensie met ʼn verlede en met ʼn brose toekoms. Daarom word taal maklik misbruik as kollektiewe vyand, veral as jy dit ʼn naam soos transformasie gee. Nou word taal die sondebok vir enige onreg.

Die grootste bate van taal is tegelyk sy grootste las: Dit is allemensgoed, dit behoort aan almal wat kan praat en daarom het almal iets daaroor te sê. Jy ken dit dan van moedersknie af. Elke taalgebruiker word ʼn taalbeplanner met ʼn oorwoë mening. Kyk nou maar net na die taaldebat, luister na die taalgesprekke, lees koerantbriewe of gesels sommer net met die bure. Die taalgesprek is altyd emosioneel gelade, en meestal wetenskaplik ongegrond. Soos dat ʼn taal sal bly lewe solank dit net gepraat word.

Gaan sit nou net en dink ʼn bietjie nugter na oor Afrikaans en die argumente vir en teen die gebruik daarvan. Jy ken dit mos, hoor en sien dit elke dag: Dit is wit en suiwer of dit is die taal van die onderdrukker en dit sluit uit. Dit is die enigste taal van kolonialisme. Nogal oppervlakkig, nie waar nie?

Maar ons voer debat op debat, besprekingsprogram op besprekingsprogram, polemiek op polemiek. En verreweg die meeste argumente, vir sowel as teen, is meer emosie as feit. Soos: “Ek het my Afrikaanse kinders na Engelse skole toe gestuur, want die wêreldtaal is Engels.” Seker dié dat Duitse kinders na Engelse skole toe gaan. “My Afrikaanse kind moet in Engels gaan studeer, want Engels is die taal van die werkplek.” Seker dié dat daar nie meer ʼn enkele Franse universiteit in Frankryk is nie. “My handboeke is in elk geval almal in Engels.” Seker dié dat die Japannese handboeke in Japannees vertaal. “Afrikaans kan nie die wetenskaplike dinge verwoord nie.” Seker dié dat ons Afrikaanse mense het wat vir NASA werk. “Swart mense praat nie Afrikaans nie.”

Dit is hoekom ek sê ons moet die gesprek oor taal los. Kom ons doen iets.

Ek wil niemand dwing om Afrikaans te gebruik nie. As jy dan Engels wil word, is dit jou saak. Moet dit net nie my saak maak nie. Jy kan die taal van jou keuse gebruik waarvoor jy dit ook al wil gebruik. Hou net op om my te probeer dwing om Afrikaans nie te gebruik nie. Ek en jy het dieselfde voortreflike grondwet wat aan ons ʼn vrye taalkeuse gee. Ek vra nie bevoorregting nie; ek vra nie ʼn onbillike bestel nie, ek vra nie die terugkeer na ou ordes nie. Al wat ek vra is die ruimte om in Afrikaans ʼn konstruktiewe bydrae te maak tot ʼn suksesvolle demokrasie. Ek het as Afrikaanssprekende iets positiefs te sê oor suksesvolle onderwys; ek het ʼn Afrikaanse akademiese geskiedenis wat dwarsdeur die wêreld erken word, ek het ʼn Afrikaanse letterkunde wat met die grotes saam gesels. Ek het musiek wat in baie lande se ore weerklink. Kortom: Afrikaans is ʼn bate, nie ʼn las nie. Dit moet net nie van binne of van buite misbruik word vir ʼn oorlog wat nie bestaan nie. Jy hoef nie daarvan ʼn verbeelde vyand te maak nie, want dit is al vir meer as vierhonderd jaar ʼn vriend in Afrika.

As dit afgedwing sou word as een enigste onderrigtaal, kan jy dit as vyand bestorm. Jy mag vra wat jy wil, ek vra dat die Potchefstroom-kampus van die NWU Afrikaans bly sodat studente, van watter taal- of kultuuragtergrond ook al, in Afrikaans daar kan studeer. Dié Afrikaanse of nie-Afrikaanse ouers wat hulle kinders in ʼn ander taal wil laat skoolgaan of verder studeer, is vry om hulle kinders na enige van die vele ander Suid-Afrikaanse inrigtings te stuur waar hulle in die taal van hulle keuse kan gaan leer.

Maar vir dié wat Afrikaans wil kies, moet daar ʼn ruimte wees om dit sonder skroom te kies.

Nee, ek vra nie meer nie, ek sê.

  • Prof Hans du Plessis is ‘n skrywer en navorsingsgenoot aan die Noordwes-universiteit.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Hans Du Plessis

Meer oor die skrywer: Hans Du Plessis

Hans du Plessis is ‘n woordmens van formaat: taalkundige, skrywer, digter, navorser, akademikus en dramaturg. Hy het groot bekendheid verwerf met sy bundels Griekwapsalms.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

11 Kommentare

Loeis ·

Een argument wat teen Afrikaans gebruik word is dat andertaliges nie in hul eie tale onderrig word nie, dat Afrikaansprekendes bevoordeel word, en dat dit nie regverdig is nie. Ek dink nie dis waaroor dit regtig gaan nie: al het universiteite alle klasse in Sotho en Zulu aangebied, sou hulle steeds die “taal van die onderdrukker” weg wou he.

Dit is ironies, want Engels is eintlik die taal van die kolonialiseerder, die taal van volksmoord in SA, die taal waarin die 1914 “lands act” geskryf is.

Dit is ook ironies dat die moeilikheidmakers net TEEN Afrikaans baklei, maar nie VIR hul eie tale nie, en dit versterk bogenoemde vermoede.

Ons probeer niks van hulle weg te neem nie, maar die teenoorgestgelde is wel waar. Dit maak die verwysing na “regverdig” bitter ironies. Die massas glo ook dat hulle benadeel is en steeds word, en die media en linkse akademici dra soms aktief tot daardie persepsie by.

tamboti ·

Die antwoord is dat die oorlog nie teen Afrikaans of kolonialisme nie, (wat lankal verby en reggestel is) maar teen ‘n volk van ‘n betrokke velkleur, met ‘n trotse geskiedenis en bewese rekord.
Die rede vir die “oorlog” is jaloesie en haat, want die wat voorheen “verloorders” was wil nou inhaal deur die opponent te verwond.

Loeis ·

Jy is heeltemaal reg oor die “inhaal” waarvan jy praat, Tambotie. En daar was verskille tussen rasse in die land in 1994. Die ANC het egter daarin gefaal om die swart bevolking deur opheffing te help inhaal, nou lyk dit of hulle gelykheid wil bewekstellig deur blankes af te trek. Wanneer mens na die hoeveelheid blanke plakkerskampe kyk, lyk dit of die ANC baie goed met blanke verarming vaar. En hoeveel kleurlinge voel nie ook nie gewig van swart bevoordeling nie?

Goeie onderwys is noodsaaklik (vir almal, ongeag kleur en ander verskille) om suksesvol te wees. Weereens, die ANC se regering faal, en nou word frustrasies op Afrikaans uitgehaal.

Bruno Stef ·

Ek het laasjaar met n kleurling ouer gesels wat sy seun by NWU Potchef stroom ingeskryf het juis omrede hy sy kind in Afrikaans wil laat studeer.Die ironie van die saak is dat hulle van die Kaap afkomstig is en al die ander Universiteite vermy het.Ek glo as groot ouer dat my kinders die regte besluit geneem het om my kleinkind by Potch in te skryf soos menigte ander gesinne.

P J Strydom ·

Daar is toenemend meer mense in hierdie land wat besef dat dit nie eintlik oor die afrikaanse taal gaan nie maar omdat die taal grootliks deur mense gepraat word wat as blankes geklassifiseer word. Die haat vir blankes en die aksies wat hulle as groep teiken is ‘n wêreldwye verskynsel wat ook hier nou momentum kry. Die kwessies soos “white privilege” en “black lives matter”, “affirmative action”, “BEEE” en die verdaaide begrip en eensydige definisie oor wat rassisme is, maak dat ‘n mens begin glo dat daar duistere agendas is om die blanke ras te ondermyn en te elimineer. Watter ander afleiding kan julle slim mense hieruit maak?

anna ·

dit gaan daaroor dat n faksie in die land nou n terroristiese faksie geword het. gaan die regering die goahead daarvoor gee of het hulle alreeds?

Trolle ·

Die ergste is dat dit witmense vanuit engeland is wat die swartes nou gebruik hier by ons om hulle doelwit te bereik.Gaan soek op waar malema gereeld gaan kuier en gaan geld haal.
Daai mense soek gahos orals in die wereld nou,sodat hulle kan inkom en kamtig tot reding kan kom en hulle police state kan instel.Totale beheer oor almal met chippie en als.NWO
Ek sterf liewers voor ek dit sal toelaat.

Marius ·

Ons gaan haal al weer die bobbejaan agter die berg met die komplotstories oor die blanke ras wat vervolg word deur sinistere wêreldmagte. Dit is waar dat baie van die huidige gemors in SA (deur die radikale EFF en ANC) rasgedrewe en nie taalgedrewe is nie, maar ons moet nie verval in ‘n slagoffer mentalieit nie. Dit klink presies soos hulle wat al die CHAOS veroorsaak – Sê jy is ‘n slagoffer en dan kan jy dit as ‘n verskoning vir enigiets gebruik.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.