Kommunisme verdruk en verarm werkers

Flip-Buys

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: Reint Dykema.

Workers of the world – forgive me. Karl Marx. Grafitti in Moskou 1991

“Socialism only works
In two places:
Heaven where they don’t
Need it and hell where they already have it.”
-Ronald Reagan

Socialism can be summed up in one word: no property rights. (Karl Marx)

Kommuniste het hulself nog altyd as ʼn “Werkersideologie” beskryf en hul planne in die naam van die “werkers” bedryf. Daar is voorgegee dat kommunisme “uit die werkers, deur die werkers, vir die werkers” was. Daarom was hul Groot Belofte dat die kommunistiese ideologie hemel op aarde vir die werkers sou wees. Maar in die praktyk het hierdie Werkersparadyse werkers veel eerder aan die hel as die hemel herinner. Dis waarom die filosoof Hoelderlin betekenisvol opgemerk het dat hel op aarde juis veroorsaak word deur ideologieë wat hemel op aarde probeer skep. Dit het ook geblyk dat diegene wat aan bewind gekom het met plegtige beloftes dat hulle die werkers wou dien, eerder net oor hulle wou heers.

In die praktyk is dit oor en oor bewys: kommunisme is die slegste stelsel denkbaar vir werkers. Werkers in kommunistiese state het die laagste lewenstandaard en swakste lewensgehalte gehad, hulle het  die minste vryheid geniet, hul werksomstandighede was beroerd, beroepsveiligheid en gesondheid was swak, vakbonde was onwettig of ʼn verlengstuk van die owerhede, omgewingsbesoedeling was algemeen en hulle was veel eerder die slagoffers  van ʼn verdrukkende stelsel as wat hulle as “werkersklas” hulself regeer het.

Hoe langer die Kommunistiese bewind geduur het, hoe meer moes hulle die staatsmag aanwend om aan bewind te bly omdat hul regerings al ongewilder  geword het. Maar uiteindelik kon die ideologie nie meer standhou teen die werklikheid nie en het die stelsels met ʼn magtige gedruis wat regoor die aardbol weerklink het, ingeplof. Karl Marx het altyd beweer dat die kapitalisme op ʼn onkeerbare ondergang afstuur weens die innerlike teenstellings van die stelsel. Die ironie van die geskiedenis is dat dit toe die kommunisme was wie se eie innerlike teenstellings so groot geword het, dat die stelsel  op homself ingeplof het. Terwyl die Marxisme ter wille en in die naam van die werkersklas kommunisme wou instel, was ʼn werkersopstand in Pole die begin van die einde van hierdie veronderstelde werkersideologie.

Base word slawe

Die Ideologie wat gelykheid moes bring het uitgeloop op oorheersing en ʼn gelykopverspreiding van armoede. Die staat wat die werkers moes dien, het in werklikheid oor hulle geheers. Die werkers moes uiteindelik die staat dien. Die base het die slawe van die kommunisme geword. Die staat wat die werkers moes versorg, moes uiteindelik deur hulle gedra word. Die werkers se armoede is juis veroorsaak deurdat hulle die staat moes subsidieer deur middel van hul swak salarisse!

Die vraag is wat presies verkeerd gegaan het. Waarom het die kommunistiese ideologie wat ʼn beter lewe vir werkers moes bring, juis tot armoede en onderdrukking gelei? Die redes kan as volg opgesom word:

  1. Kommunisme lei tot verarming

In kommunistiese stelsels mag niemand wins maak nie, omdat wins gesien word as diefstal van die werkers se geld. Omdat niemand wins mag maak nie, mag niemand ook geld belê nie. Daarom is daar altyd ʼn tekort aan geld in die land. Kommunistiese lande sluit die deur vir buitelandse beleggers, omdat sulke beleggers gesien word as uitbuiters van die werkers. Daar is dus nie buitelandse geld wat in die land inkom nie en ook nie binnelandse beleggers nie. Kommunistiese lande is dus verplig om geld iewers vandaan te kry om te betaal vir fabrieke, myne, salarisse, skole en hospitale en kos en klere vir die bevolking.

In ʼn kommunistiese land werk almal vir die staat, wat beteken dat die hele bevolking staatsamptenare is. Die staat is die enigste werkgewer, wat alleen besluit oor werkers se vergoeding. As ʼn werker voel hy word te min  betaal, is daar niks wat hy daaraan kan doen nie, want daar is nie ander werkgewers wat dalk meer betaal nie. Hy het nie die vryheid om ʼn ander werk te soek met meer geld en voordele nie. Daar is ook nie vakbonde wat namens hulle kan onderhandel nie, of die vakbonde is self deel van die stelsel wat werkers beheer.

Die enigste manier waarop die staat dan geld kan kry om vir alles te betaal, is om die werkers uit te buit deur almal se salarisse laag te hou. Net die staat kan dan wins maak deur die land se produkte goedkoop genoeg uit te voer na ander lande wat dit vir ʼn hoër prys koop. Só kry die staat dan geld om vir alles in die land te betaal. Maar die ingeboude bose kringloop van die stelsel lei tot ʼn permanente en groeiende armoede. Hoe meer geld die staat nodig het om vir alles te betaal, hoe meer wins moet hulle met uitvoere in die buiteland maak en hoe minder moet hulle die werkers van die land betaal. Só subsidieer die werkers dan die staat.

Omdat die verarmde werkers nie geld het om vir die produkte en dienste wat hulle nodig het te betaal nie, is daar nie ʼn binnelandse vraag na produkte en dienste nie en word fabrieke nie opgerig om dit te maak nie. Daar is dus nie ekonomiese groei nie en dus ook nie werkskepping nie. Maar omdat die bevolking groei en daar nie werkloosheid in ʼn kommunistiese land mag wees nie, word die bestaande salariskoek net deur meer en meer werkers gedeel en kry almal minder en minder. Daarom word almal net armer en armer, behalwe natuurlik die regering wat as  “verteenwoordigers van die werkers” alles beheer. Geen fabriek kan bankrot speel nie, omdat daar nie iets soos wins en verlies is nie. Bestuurders word om politieke redes aangestel, omdat die kommunistiese party alles beheer. Dis nou kaderontplooiing op sy ergste! Daar was byvoorbeeld nie een sakeskool in die hele Sowjet Unie waar bestuurders opgelei is nie, maar wel talle politieke skole wat kaders opgelei het. Die bestuur het gevolglik nie die kennis gehad om die “ondernemings” te bestuur nie. Grootskaalse wanbestuur, vermorsing en korrupsie was gevolglik algemeen. Dit het in alle kommunistiese state tot wydverspreide verval en agteruitgang gelei, wat uiteindelik die hele stelsel laat verbrokkel het.

Produktiwiteit in kommunistiese lande is ook so laag is dat dit die land en die werkers arm hou. Die rede hiervoor is dat almal (feitlik) dieselfde salarisse kry, ongeag watter soort werk jy doen of hoe hard jy werk. Die luiaard en die werkslaaf kry ewe veel. Daar is geen aansporing vir mense om harder of beter te werk of hul produktiwiteit te verbeter nie, terwyl daar terselfdertyd alle rede is om saam op die stelsel se rug te ry.

Die rede hiervoor staan sentraal in die kommunistiese siening van werk en vergoeding. Karl Marx het dit die beste opgesom met sy beroemde sleutelstelling “werk volgens jou vermoë en verdien volgens jou behoefte.” Dit beteken dat jou vergoeding nie bepaal word deur jou bydrae of produksie nie, maar deur jou behoefte of verbruik soos deur die staat bepaal. In die praktyk kan ʼn lui hande-arbeider met ses kinders dan meer verdien as ʼn produktiewe tegnikus met drie kinders wat homself gekwalifiseer en opgewerk het, omdat die hande-arbeider se behoeftes meer is. Dit lei tot armoede, omdat ʼn stelsel wat verbruik beloon en produksie ontmoedig, ʼn resep vir ondergang is. Die probleem van sosialiste, het Margaret Thatcher gesê, is dat die ander mense se geld uiteindelik opraak.

ʼn Kommunistiese staatsekonomie raak uiteindelik dan maar net ʼn reuse welsynstelsel waar almal uittap maar niemand intap nie. Dan raak die dam gou leeg. Daarom is die gemiddelde salaris in Kuba vir die afgelope dekades al 20 Amerikaanse dollar oftewel sowat R240 per maand. Kommuniste kla nie te veel hieroor nie, want almal is minstens gelyk. En kommunisme is mos ʼn gelykheidsideologie. Daarom het Winston Churchill gesê die keuse is tussen die ongelyke verspreiding van rykdom en die gelyke verspreiding van armoede.

Karl-Marx

Karl Marx. Foto: En.wikipedia.org

 2. Skaarste aan gehalte produkte en dienste

In ʼn kommunistiese stelsel het mense nie die vryheid om self te besluit waar hulle wil werk en of hulle eerder ʼn eie onderneming wil begin nie. Jy moet vat wat die staat jou gee en kan nie ʼn beter huis of kar koop of met jou geld maak wat jy wil nie. ʼn Sentraal beplande bevelsekonomie neem van bo af die ekonomiese besluite vir almal. Dit het twee gevolge. Eerstens word mense se vryheid ingeperk. Hulle kan nie meer hul eie besluite na goeddunke en in hul eie belang neem nie. Dit word weggeneem en vervang met besluite deur die owerheid wat namens hulle besluit wat die beste vir hulle is, selfs oor die mees basiese dinge. Tweedens word mense se besondere behoeftes misken, omdat ʼn sentraal beplande bevelsekonomie nie voorsiening maak vir persoonlike behoeftes nie.

Mense se eie behoeftes het geen rol gespeel in die staat se beplanning van produksie nie. Die staat het oor alles besluit, ook oor wat wanneer produseer moes word. In Mao Zedong se China het almal in die land altyd dieselfde klere gedra (ʼn groen uniform) en in die Sowjet-unie was daar tot sy val in 1990 net een soort kar, ʼn 1955 model Lada.

Daar is ook geen mededinging nie, wat beteken dat daar vir dekades lank feitlik geen ontwikkeling of verbetering was in produkte of dienste nie. Dit was nou behalwe die Weermag se wapens, wat goed was omdat hulle met die Amerikaners moes meeding! Sonder mededinging kan daar ongelukkig geen vooruitgang wees nie. Die politici se behoeftes het bepaal wat produseer moes word en nie die bevolking se voorkeure nie. Die uitwerking hiervan was dat daar in kommunistiese lande altyd ʼn nypende tekort is aan feitlik alle produkte, dat feitlik alles wat wel beskikbaar is totaal verouderd en van ʼn uiters swak gehalte is en dat dienste soos onderwys en gesondheid swak en ondoeltreffend is. Die groot state was so lomp en duur dat hulle uiteindelik geval het.

Die geskiedenis het onteenseglik bewys dat die vrye besluite wat miljoene mense vir hulself neem, beter werk as die sentrale beplanning, outokratiese besluite en planne van ʼn klein klompie politici en staatsamptenare. Wanneer politici die ekonomie regeer, is armoede en vedrukking die noodwendige gevolg.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Leendert van Oostrum ·

“In Mao Zedong se China het almal altyd dieselfde klere gedra.”

Nou dra ons dit – plastieksakke uit China.

Wanneer laas het iemand enige katoen/wol/linne by kettingwinkels (of selfs “beter” winkels) gesien?

Alles plastiek en “made in China”.

Harry ·

Maroela, is dit dalk moontlik om hierdie artikel in Engels te vertaal, dat ons dit soos ‘n veldbrand deur hierdie land kan versprei.
Met al die toelaes wat die regering betaal and al die arbeidswette wat werkers (meer die lui/slegte as die goeie) beskerm is ons al byna daar.

Johan 2 ·

Harry die wat dit moet hoor kan dit nie lees nie en die wat kan lees weet dit baie goed maar oes te lekker terwyl hul nog kan…

Bruno Stef ·

Ons sit met die Kamerade in SA op ons voorstoep en hulle is in baie strategiese posisies van gesag geplaas.Kameraad Lem met sy skril stemmetjie en pofferhandtjies/gesiggie is dikvellig besig om sy ideologie in die mees goedgelowige nie belangstellende publiek as aanvaarbaar te verkwansel.My vraag aan Kameraad Blade is waarom trek jy n pak klere aan en ry in n peperduur motor rond stel die voorbeeld met grys safari pakkie kommunistiese styl dan kan jy miskien meer geloofwaardigheid onder die armes bekom wat jy se jy verteenwoordig.

Peet Schabort ·

Dankie vir ‘n uiters insiggewende artikel Flip.
In ‘n boekie “Die Hart, Gesindheid en wese van die KOMMUNISME en die Christelike weerlegging” deur Dr.. Fred C. Schwarz definieer hy kommunisme as “‘n Godsdiens van belofte. Dit het dwarsoor die wêreld op die vleuels van ‘n belofte aangeruk. Daardie belofte is van ‘n tweevoudige aard. Een voorkoms van die Kommunistiese belofte is baie goed bekend, dog die ander is byna onbekend. die een voorkoms lok die arme, die onkundige en die onbevoorregte; die ander voorkoms lok die ryke, die verstandelik meerdere en die idealistiese hervormers”.
Dit is ook gebaseer op Godloëning (Daar is geen God nie), materialisme, ekonomiese voorbeskikking, die vernietiging van die kapitalisme, die diktatorskap van die proletariaat (Klas sonder besittings; onderste laag van die samelewing; persone wat hulle arbeid verkoop; volgens Marx e.a. die vyande van die burgery. Aanhaling HAT), afrekening met die besmetlike sosiala stande, ens. aldus Dr. Schwarz.
Schwarz gaan voort met “Om ‘n kommunis te wees, beteken om ‘n opgeskorte doodvonnis te ontvang, wat die party enige oomblik kan opeis”. Lenin het die Kommunisme gedefinieer as “Dooie mense met verlof”.
Mense met toegang tot die internet kan gaan oplees “How to be a good communist” geskryf deur Nelson Mandela.
Gaan lees ook PD Strauss se “Van Moses tot Marx” ISBN 0 7987 0377 6 Soos afgelei handel die boekie oor God(sdiens) en die kommunisme.
Deur die jare het die kommunisme ook tred gehou met die verandering op politieke terrein en homself aangepas. Derhalwe is deur die jare gereeld waarskuwings uitgestuur d. m. v. boeke ens. Nogtans bly daar die gedurige beloftes aan die sg. armes en minderbevoorregtes. Nou kan jy vir jouself besluit of ook jy onder hulle tel want daar is nie ‘n definisie oor wie ryk en wie arm is.
Kommunisme moet ook natuurlik toon dat daar vordering gemaak word met sy doelstellinge en hierby sluit ek magsvertoon in wat tot gevolg het die verandering van dorp- , stads- , straatname. Die vernietiging/skending van standbeelde afgesien van politieke verband is deel van die proses.
Die inmenging in skole is deel van die kommunistiese opset.
Tereg soos ook in die artikel uitgewys moet almal ewe arm wees. Daarom in 2005 het R6 een Amerikaanse dollar gekoop. Tans staan ons op R12.40 vir daardie dollar. Maar wie gee om, geld gaan nie meer saak maak vir die burgery. Almal gaan uiteindelik vir die staat werk teen ‘n minimum loon. Die onopgeleide werker met 6 kinders gaan meer kry as die geleerde met 2 kinders want sy behoeftes is groter. Dis so eenvoudig soos dit is.
Om dit vir ons gewone mense meer tasbaar te maak gaan kyk ons na munisipaleite waar kleineres saamgegooi is om dan een ‘werkbare’ eenheid te vorm. Selfs dit was nie genoeg en daaruit voortspruitend kom toe die metropool. Die meeste, indien nie almal, van hierdie klein munisipaliteite het onafhanklik goed presteer. Daar was egter neseiers (geld vir toekomstige gebruik vir onvoorsiene gebeure en opgraderings) in die vorm van GELD wat ook in die hande gekry moes word om te blaas. Die kanse was dus goed dat van hulle nie ANC oorheers sou wees nie en dit was ‘n slim en skelm manier om hulle in die hande te kry asook hulle neseiers. Wys my EEN munisipaliteit wat vandag beskik oor ‘n neseier ?
Die volgende stap was die metropool waar die nuutste is om Midvaal en Emfuleni saam te gooi. Midvaal wat goed funksioneer saam met Emfuleni met sy slaggatpaaie ens. Die rykdom moet dieselfde armdom wees.
Natuurlik is daar ook die gradering van munisipaliteite: hoe groter hoe meer invloed en GELD (glo dit as jy wil) vir die aan bewind.
Opmerklik is die ‘wegraak’ van die eiendom van die oorspronklike munisipaliteite. Waar daar verskeie selfsorgende padskrapers, grassnyers, ‘cherry pickers’ (mandjie-tipe vir elektrisiëns) was, is daar nou net een of hoogstens twee wat oorgebly het. Daar was toe van ‘n sentrale punt (munisipale hoofkantoor) dan gery om by die ander dorpe diens te gaan doen. Selfs dit het uitgesterf omdat dit wat oorgebly het nie meer diensbaar was a.g.v. brekasies ens. Omdat personeel nou ‘uit’ werk is daar nie meer kontrole en sit hulle daagliks op hulle louere en niks doen. Wat ‘n beslommernis is dit ook om jou mun. rek. reggestel te kry. Selfs werk soos instandhouding van voertuie, paaie en elektriese aanlegte word uitgekontrakteer. Munisipaliteite word al meer en meer ‘n middelman wat ‘n deel van ons geld in sy sak druk en dan die werk uitkontrakteer.
Alles voorgaande is deel van die kommunisme om volledige gelykheid te bewerkstellig want almal moet EWE ARM wees.
Die oorloop van riool in ons spruite, riviere en damme is van minder belang want die kommunistiese ideologie in ons land is eers besig om die haatlike kapitalisme en die oorblyfsels van apartheid, soos hulle dit graag noem, te vernietig. Daarom die aanval op ons skole om godsdiens, taal en kultuur uit te roei want die jeug is die teelaarde van die kommunisme.
Wat ‘n groot- en ontsettende jammerte is is dat die oorgrote meerderheid gevang word deur hierdie geelwortel voorgehou aan hulle omdat hulle nie van beter weet a.g.v. omstandighede waarin hulle vasgevang is.
Jammer dat ons vroeër jare op skool weerhou is om te leer oor kommunisme want dit sou die enigste manier gewees het om jou vyand te leer ken. Nou is daardie paadjie toegemaak deur die owerhede en is ons op onsself aangewese om die waarskuwing uit te dra.
Nogmaals dankie Flip vir die belangrike vonk wat jy aangesteek het. Ons mag dit nie ignoreer.

Henry ·

Vreemd.
Was tot nogtoe onbewus dat mens voor 1994 daarvan weerhou was om meer van kommunisme oftewel Marxisme, tewete te kom.

Henry ·

Goeie beskrywing van die Marxiste se onwerkbare Utopia.
Die ou spulletjie en hul geesgenote die sosialiste, se Utopia’s is soos alle ideologieë gedoem tot mislukking.
Probleem met meeste ideologieë is dat dit so voorskriftelik is en gewoonlik geen ruimte laat vir alternatiewe oplossings nie. ‘n Miskenning van een van die mens se mees waardevolle bates – eie inisiatief.

Bruno Stef ·

Die jongmense word as teelaarde gebruik vir die kommunistiese ideologie wat baie waar is, Ek het dit persoonlik ondervind dat my mede Afrikaner bure wat in die voorlaaste algemene verkiesing dood ernstig vir my op pad na die stemlokaal gevra het of hulle vir die Nattes of die Sappe moet stem.As jou ouer geslag so min bewus is van wat om hulle aangaan wat se kans het ons dat die jonger geslag as burger van die land van beter sal weet het ek by myself gedink maar ek skat n mens moenie veralgemeen

Winston ·

Dankie Flip.
Ons kan praat en redeneer oor die saak tot ons blou word maar moet aanvaar dat ons verby die punt van omdraai is. Die ou landjie van ons gaan bitter lank moet wag voor iemand hom weer reg kan ruk. Dit gaan nie net oor kommunisme nie. Afrikanisme is eintlik wat gebeur en dit gaan nooit ophou nie.

Dit wat ons nou beleef is n goeie voorbeeld van geskiedenis wat homself herhaal. Die skrif is aan die muur dat ons met tyd ook n diktatorskap gaan beleef. Ons land moet ook eers verkrag en verkoop word en dit sal aanhoudend gebeur. Gaan kyk gerus wat met die res van Afrika gebeur het en steeds gebeur.

Die vrot is hier om te bly en niemand gaan dit uitroei nie. Hoe gouer ons kan aanpas by die Afrika kultuur hoe beter want ons gaan saam met die boot sink of ons wil of nie. Afrikane is magsbehepte mense en voel niks vir enige iets wat met demokrasie te maak het nie. Die vergrype wat leiers hulle aan skuldig maak is tekenend van wat hulle voel vir n land. Hulle besef dat dit tydelik is en maak seker dat selfvereiking hoogty vier.

Ons sit met n kopseer wat nooit sal weg gaan nie. Die behoud en voortbestaan van n land en sy bevolking dra nie krag in Afrikanisme nie maar magsbesit wel maak nie saak hoe dit bekom word nie.

Johan 2 ·

Almal oulike komentaar (soos altyd) maar wat staan EK te doen? Gaan nou landuit en spaar my kinders die trauma van emigrasie?

Winston ·

Johan
Het jy al gesien as n man huil uit woede frustrasie en magteloosheid? Ek het en dit is nie mooi nie. Ek ken boere wat in Zimbabwe was en wat geglo het dathulle nooit hulle grond sou verloor het nie. My punt is dat ons op dieselfde pad as hulle is. Jy moet onthou dat n grondwet net die waarde van die papier is waarop dit geskryf staan.
My antwoord aan jou: Ja Johan emigreer terwyl jy kan en gaan skep n toekoms vir jou kinders waar hulle en jou bydrae tog waardeer sal word.
Ons het nie n idee wat demokrasie is nie maar volg n stelsel van Afrikanisme. Soek n land waar jou stem werklik n verskil kan maak.
Sterkte en hou my op hoogte.

George ·

In kort opgesom: Almal is gelyk sommige is net meer gelyk en neem besluite vir die ander gelykes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.