Koronavirus: Perspektief is nodig

Die koronavirus (oftewel 2019-nCOV).

Die wêreld sit op hete kole oor die koronavirus (oftewel 2019-nCOV), wat reeds tot honderde mense se dood gelei het.

Die virus, wat besig is om wêreldwyd te versprei, saai veral verwoesting in China waar dit die eerste keer uitgebreek het, en meer spesifiek die stad Wuhan in sentraal-China.

Net kortliks, dit blyk dat die koronavirus ʼn soort virus is wat jou gewone verkoue/griep-simptome gee en sy oorsprong in die 1960’s (deur menslike kontak met diere) gehad het. Die koronavirus op sigself is nie lewensgevaarlik nie, maar daar is variasies van die virus wat wel ʼn groter risiko inhou, soos MORS (Midde-Oosterse respiratoriese sindroom), wat in die vroeë 2010’s tot meer as 800 mense se dood gelei het.

Griep is ʼn gevaarlike siekte

Foto: (Zoltan Balogh/MTI via AP)

Soos alle verkoue/griep-virusse, word die koronavirus oorgedra na mense deur inaseming of aanraking wat dan ʼn nuwe slagoffer besmet.

Griep as sodanig is gevaarlik. Dit veroorsaak die dood van ongeveer 400 000 mense elke jaar wêreldwyd. Die ergste griepjaar was egter in 1918, toe miljoene mense wêreldwyd van die sogenaamde Groot Griep gesterf het. Dit word bereken dat tot soveel as 50 miljoen mense beswyk het aan die siekte – dus sowat 10% van dié wat die griep opgedoen het, het gesterf daarvan.

Amerika se Sentrum vir Siektebeheer en -Voorkoming (CDC) bereken dat 80 000 mense in die winter van 2017/’18 in die VSA gesterf het weens komplikasies wat deur “gewone” griep veroorsaak is. Dit was blykbaar die ergste uitbraak van griepverwante sterftes in baie dekades. Die meeste sterftes was vanweë komplikasies soos longontsteking, beroertes en hartaanvalle. Ná die dood van dié 80 000 mense in die VSA, het niemand juis ʼn oog geknip of in ʼn toestand van paniek verval nie.

Vergelyk dit met die dood van meer as 700 mense weens die Ears-virus (ernstige akute respiratoriese sindroom, ook ʼn tipe koronavirus), wat die wêreld op hol gehad het in die vroeë 2000’s. Dié virus, wat ook in China ontstaan het, het hierdie keer in die suidelike Guangdong-provinsie ontstaan en daarna na Hongkong versprei. Ears is redelik vinnig wêreldwyd bekamp.

Foto: (AP Photo/Ahn Young-joon)

Daarna het ons nog ʼn wêreldwye griepuitbraak gehad in 2009 met varkgriep (oftewel die H1N1 virus), dieselfde virus wat verantwoordelik was vir die 1918-grieppandemie en ook die wêreld op hol gehad het. Varkgriep was nogal ernstig, hoewel dit glad nie beheer kon word nie. Afhangend van wie jy glo, het tussen 11-21% van alle mense wêreldwyd varkgriep gekry en sterftes het tussen 150 000 tot 600 000 getel.

Volgens die departement van gesondheid sterf 6 000 tot 11 000 mense jaarliks weens griep in Suid-Afrika. Die helfte van mense wat weens griep in Suid-Afrika doodgaan, is ouer as 65 jaar en ʼn derde van hulle het MIV/vigs onder lede, wat hul weerstand teen die virus ernstig knou. Kinders onder vyf jaar is ook kwesbaar, aangesien hul weerstand nog laag is.

Nietemin is daar geen paniek oor die aanbreek van die winter in Suid-Afrika nie, en dis eintlik verstommend aangesien ons weet ongeveer 10 000 mense gaan sterf weens griep.

Interaksie met diere

Foto: (AP Photo/Gemunu Amarasinghe)

Dit bring ons by ander ernstige aansteeklike siektes, wat ook in die verlede die wêreldbevolking drasties uitgedun het. Die builepes (oftewel swart dood) het waarskynlik tussen 75 miljoen en 200 miljoen mense se dood veroorsaak – meestal in Europa in die 1400’s (daar was verdere uitbrake). Dit is oorgedra deur bakterieë wat deur vlooie op rotte versprei is. Sommige dorpies en stede is amper heeltemal ontvolk deur die siekte.

Daar is natuurlik nog vele ander aansteeklike siektes, meeste daarvan in tropiese gebiede, waarvan die ernstigste sekerlik die Ebola-virus is. Daar is kort-kort uitbrake van Ebola in Afrika, en die oordrag van die siekte vind skrikwekkend maklik plaas. Dit het gemaai onder gesondheidswerkers wat die uitbraak van Ebola in die middel 2010’s in Wes-Afrika onder beheer probeer bring het. Ongeveer 11 000 mense is destyds weens Ebola dood.

Daar word toenemend verwys na die oordrag van siektes soos korona, varkgriep, Ebola, vigs en ander deur die mens se noue interaksie met diere. Vlermuise en muskeljaatkatte word veral uitgesonder as draers van virusse soos Ebola, Ears en die 2019-nCNA (korona). Die koronavirus se uitbraak word juis verbind aan ʼn opelugmark in Wuhan, wat lewendige wilde diere verkoop het, en moontlik die virus van daar na mense versprei het.

Die meeste van die siektes wat deur diere na die mens oorgedra word (genoem soönotiese oordrag) vind plaas in dig bevolkte gebiede in Afrika en die Verre-Ooste, maar is glad nie beperk tot hierdie dele nie. Mense in vele lande beskou wilde diere as lekkerny of eet dit uit noodsaak aangesien geen ander proteïene beskikbaar is nie. Soönotiese siektes sluit ook in bosluiskoors (deur bosluise), malbeessiekte (deur die eet van besmette beeste wat die brein aantas), brucellose (deur die drink van besmette melk), Ebola (deur primate en vlermuise), melaatsheid (muise en rotte), malaria (muskiete) en ʼn horde ander.

Om egter ʼn meer realistiese prentjie te vorm van die impak van die koronavirus op die mens, moet die sterftesyfer van die verskillende griepepidemies eerder as maatstaf gebruik word. Met die Ears-virus was die sterftesyfer ʼn tamaai 14-15% van mense wat siek geword het, terwyl die koronavirus se sterftesyfer tans op sowat 2% gestel word. Die varkgriep van 2009 het ʼn 1-4%-sterftesyfer gehad, terwyl die Groot Griep van 1918 ʼn 10%-sterftesyfer gehad het. Vergelyk dit met die sterftesyfer van ongeveer 0,2% vir “normale” griep. Niks kom egter by die sterftesyfer onder Ebola-pasiënte wat gemiddeld sowat 50% beloop het nie.

Kan die koronavirus hokgeslaan word?

Foto: (Zoltan Balogh/MTI via AP)

Ons weet nog nie wat die omvang van die koronavirus gaan wees nie. China kan dit onder beheer bring weens drakoniese maatreëls wat miljoene mense verbied om gebiede te verlaat. Dit lyk of die Chinese elke moontlike maatreël tref om die siekte te bekamp. Hoewel dit reeds vanaf Wuhan wêreldwyd versprei het, het die meeste lande vinnig opgetree om die siekte te keer. Daar is egter veral kommer oor die moontlike uitbraak van die virus in Derdewêreldlande met swak gesondheidstelsels.

Dit is bekend dat die gewone koronavirus nie juis gedy in warm en nat omstandighede nie. Dus wil dit voorkom of buiten China, die meeste lande in die res van Asië, asook lande in die Suidelike Halfrond (voorlopig) die effek van die virus gespaar gaan bly. Hoewel mense reeds in tientalle lande siek geword het en die virus op die kort termyn verder gaan versprei, behoort dit egter stelselmatig af te neem soos warmer weer toeneem oor die Noordelike Halfrond. In China word warmer weer hier van Maart/April af verwag.

Indien die koronavirus nog lank gaan neem om beheer te word, kan dit ook ʼn ernstige ekonomiese impak op China hê, wat reeds feitlik alle fabrieke vir ʼn ekstra week ná die Chinese Nuwejaarsvieringe gesluit hou. Aangesien China as “die wêreld se fabriek” beskou word én hy groot hoeveelhede grondstowwe invoer, kan dit die wêreldekonomie ook binnekort raak.

Bevolkingsontploffing

Foto: (Boris Roessler/dpa via AP, File)

Die toenemende uitbreek van mutante griepvirusse wat deur diere na die mens oorgedra word, is kommerwekkend en moet as ʼn simptoom van die moderne wêreld se bevolkingsontploffing gesien word. As voorbeeld word bereken dat Afrika se bevolking teen 2050 amper gaan verdubbel – van 1,3 miljard tot 2,5 miljard mense. Saam met oorbevolking in Asië kan ons toenemend uitbrake of mutasies van virusse voorspel wat op sigself die mensdom gaan bedreig.

Ons kan sekerlik nie enige verspreiding van virusse ligtelik opneem nie. Dit is immers nie seker of die koronavirus verder gaan uitbrei of beheer gaan word nie. Die uitbraak tans (volgens alle aanduidings) is veel erger as “gewone” griep en die sterftesyfer beduidend hoër, maar die uitbraak word soos gewoonlik in die media, en veral die sosiale media, uit verband geruk.

Dis egter nog nie nodig om die bobbejaan agter die bult te gaan haal nie en aan te neem dat miljoene mense gaan sterf weens die koronavirus nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 30 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Therese ·

Nico Stegmann, nóg ‘n puik artikel!
Die paniekerige reaksie wat elke nuwe virus in die wêreld veroorsaak, gaan die verstand te bowe.
Soos gemeld, sterf derduisende mense jaarliks aan gewone wintergriep in alle lande.
Hierdie óórreaksie kos ekonomieë reeds reuse-bedrae en is verstommend, om die minste te sê.
Drieduisend toeriste ‘in aanhouding’ vir veertien dae op ‘n passasiersskip, is net een voorbeeld.
Sou reken hierdie skepe, berug vir die blitsige verspreiding van kieme, moet veiligheidshalwe so spoedig moontlik ontruim en ander reëlings getref word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.