Korrupsie en onbekwaamheid veroorsaak die mynlisensiekrisis

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Argieffoto)

Gwede Mantashe, minister van mineraalbronne en energie (MBE), het onlangs in reaksie op ʼn parlementêre vraag bevestig dat sy departement nie een van die 2 525 eksplorasie- en mynlisensie-aansoeke in 2023 gefinaliseer het nie.

Geen lisensies is dus in 2023 uitgereik nie. In totaal moet 4 486 lisensie-aansoeke nog aandag geniet.

Een van die hoofredes vir die departement se onvermoë om aansoeke vir eksplorasie- en mynlisensies te hanteer, is die gebrek aan ʼn werkbare kadastrale stelsel. Die stelsel is ʼn aanlyn portaal wat minerale en eksplorasie-inligting vervat en ʼn mynhuis en eksploreerder in staat stel om hul lisensie-aansoeke elektronies in te dien.

Toe Mantashe die departement in 2018 by die totaal onbekwame Gupta-minister, Mosebenzi Zwane, oorgeneem het, was die verwagting van alle rolspelers in die mynbousektor dat Mantashe as ʼn oudmyner die ridder op die wit perd sou wees wat mynbou tot sy eertydse glorie sou laat herleef.

Een Saterdagoggend in Mei 2020 het Mantashe my hulp versoek met navorsing vir sy MBA-verhandeling. Mantashe het aangedui dat hy die MBA aangepak het om hom met kennis te bemagtig om die departement reg te ruk. Mantashe het ook verwys na talle MBE-streekskantore wat hy tydelik of permanent gesluit het weens die voorkoms van korrupsie en swak dienslewering.

Pres. Cyril Ramaphosa en die minister van mineraalhulpbronne en energie, Gwede Mantashe, tydens die Mynbou-indaba in 2023. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Ek was, ietwat naïef, nogal beïndruk met Mantashe se MBA-beweegrede en dié Maandag op kantoor deel ek Mantashe se ambisie met Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging. Flip ken Mantashe goed omrede Flip as hoofsekretaris van die destydse Mynwerkersunie (en die latere Solidariteit) van ongeveer 1998 tot 2006 ten nouste saamgewerk het met Mantashe wat toe hoofsekretaris van die National Union of Mineworkers (Num) was. In reaksie op my opmerking het Flip net sy kop geskud en gesê dat Mantashe nie die departement gaan regruk nie.

Ongelukkig was Flip se voorgevoel reg en het die departement onder Mantashe verder agteruitgegaan.

Die verval van die departement kan waargeneem word bloot deur die hoofkantoor in Sunnyside of ʼn streekkantoor te besoek en te merk dat ʼn hoë-prestasie-kultuur geensins daar bestaan nie en op te let dat talle amptenare rondsit en niks doen nie.

Kundige senior DME-amptenare, wat sedert die vorige bedeling by die departement werksaam was en ná die 1994-oorgang totaal daartoe verbind was om onder die nuwe politieke bestel hulle te beywer vir die uitbou van die mynbousektor, is ontnugter en oorwerk. Die bekwame ouhande in die departement dra ʼn swaar las weens ʼn groot aantal onbekwame en onbetroubare kollegas en hulle is ook van mening dat die departement onder Mantashe versleg het.

Die krisis met agterstallige lisensie-aansoeke is dus geen verrassing nie, want benewens ʼn magdom onbekwame amptenare in die departement, vier korrupsie rakende lisensie-aansoeke hoogty.

kumba-iron-ore-1

Die krisis met agterstallige lisensie-aansoeke is dus geen verrassing nie, want benewens ʼn magdom onbekwame amptenare in die departement, vier korrupsie rakende lisensie-aansoeke hoogty. (Foto: Kumba Iron Ore)

Sowat twee jaar gelede het ʼn mynboukundige in die oorname van ʼn gelikwideerde chroommyn in die Rustenburg-omgewing belanggestel en vir ʼn mynlisensie aansoek gedoen. Die aansoeker het die potensiaal van die myn raakgesien en het geweet dat die myn onder die regte bestuur suksesvol bedryf kon word en die 400 geaffekteerde werknemers weer in diens geneem sou kon word. Ten spyte daarvan dat hy aan al die vereistes voldoen het om ʼn mynlisensie te bekom, wou die betrokke DME-amptenaar in die provinsiale kantoor in Noordwes nie die lisensie aan hom toestaan nie, tensy hy R1 miljoen aan omkoopgeld betaal.

Toe die aansoeker weier om die omkoopgeld te betaal, was die DME-amptenaar verbaas want hy kon die lisensie nie teen ʼn afslagprys kry nie – sommige van die groot mynhuise sou glo selfs R5 miljoen aan omkoopgeld betaal om ʼn lisensie te bekom of te hernu. Laasgenoemde situasie is tekenend van ʼn sakesektor wat saam met die staat ook verval.

Die storie raak nog erger. Die aansoeker het twee streeksleiers van ʼn prominente mynbouvakbond wat die meerderheid van werkers by die myn verteenwoordig om hulp genader. Dié twee vakbondleiers het toevallig die DME-amptenaar geken en was meer as bereid om die onderhandelinge namens die aansoeker te voer. Hulle keer toe terug met die goeie nuus dat die DME-amptenaar graag die lisensie sal wil uitreik, maar die bybetaling wat onder die tafel moes geskied, sou toe R2 miljoen beloop.

Die aansoeker nader Solidariteit uiteindelik vir hulp en ons skakel met ʼn senior amptenaar by die departement en bring die lisensiekorrupsie onder sy aandag. Die reaksie was dat die lisensie-omkooppraktyke by die betrokke kantoor welbekend is, maar dat dit bloot te gevaarlik was om navraag te doen oor die betrokke lisensie-aansoek. Die aanbeveling was dat die aansoeker formeel vir die lisensie aansoek moet doen en sodra die aansoek afgekeur is, moet die aansoeker teen die beslissing appelleer. Die appèlaansoek sou dan deur eerbare senior amptenare by hoofkantoor aangehoor en gunstig oorweeg word as alles korrek is. Die lisensie is uiteindelik goedgekeur by die departement se hoofkantoor.

Gideon du Plessis (Foto: Verskaf)

Terug by die kadastrale stelsel: Minister Mantashe belowe al die afgelope drie jaar dat sy departement saam met die Staatsinligtingstegnologie-agentskap (Sita) en ʼn voorkeur-IT-ontwikkelaar hard daaraan werk om ʼn nuwe lisensie-aansoekstelsel te ontwikkel. By elke opvolgterugvoersessie deur Mantashe, word die sperdatum vir die implementering van die stelsel uitgestel. Dit volg nadat pres. Cyril Ramaphosa verlede jaar in Februarie tydens die jaarlikse Afrika-mynbou-indaba aangekondig het dat die regering besig was om ʼn kadastrale stelsel wat “van die rak af” beskikbaar is, aan te koop.

Een van die uitvoerende bestuurders van die Mineraleraad van Suid-Afrika het in ʼn gesprek aangedui dat die departement maklik dieselfde bestaande kadastrale stelsel kon aankoop as wat onder meer suksesvol in gebruik in Namibië, Botswana en Kanada is. Die Mineraleraad het selfs aangebied om die stelsel op sy koste aan te koop en te implementeer. Die departement weier egter om die raad se aanbod te aanvaar, of om die bestaande stelsel te bekom want, volgens die Mineraleraad se uitvoerende bestuurder, is daar beperkte geleentheid vir selfverryking as ʼn proses wat talle diensverskaffers insluit nie gevolg word nie. In die geval van die roete wat die DME volg, bestaan die gevaar ook dat ʼn stelsel van substandaard ontwikkel kan word wat vol gebreke gaan wees en met groeipyne gaan gepaardgaan.

Intussen kan daar sonder die uitreiking van eksplorasie- en mynlisensies geen groei en ontwikkeling in die kwynende mynbousektor wees nie. Dit beteken dat geen nuwe werksgeleenthede vir bestaande mynwerkers geskep word nie en dat geaffekteerde werkers in die gevalle waar myne uitgemyn raak, geen oorplasingsgeleenthede het nie. Tweedens beteken dit dat jeugwerkloosheid ook toeneem omdat geen nuwe werksgeleenthede geskep word nie. Dit is ʼn resep vir versnelde maatskaplike verval in myngemeenskappe en ʼn toename in onrus en onwettige mynbedrywighede.

Dit sal dan interessant wees wat Mantashe en Ramaphosa op 5 Februarie tydens die opening van vanjaar se mynbou-indaba gaan kwytraak oor die status van die kadastrale stelsel.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Gideon Du Plessis

Gideon du Plessis is hoofsekretaris van Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sanet ·

Wat in ons land gaan nie gebuk onder korrupsie, eie-gewin of profeit nie???? Elke staatsampetaar wat gesag het, bewinpel die staatskaste soos dit hulle pas!!! EK HET GEEN HOOP, RESPEK OF JAMMERTE VIR DIE ANC EN DIEGENE WAT HULLE ONDERSTEUN NIE!!!

Republikein in die Wes Kaap ·

Lyk my hier kom jy nêrens sonder omkoopgeld en gunslone nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.