Koskaping net nuutste streek van ou ANC

Dan Kriek, voormalige president van Agri SA, skryf in ʼn artikel wat op News24 gepubliseer is, dat Panyaza Lesufi en Solidariteit Helpende Hand politiek speel met kos en dat dit gevaarlik is.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging (Foto: Reint Dykema)

Flip Buys skryf:

Dan Kriek verstaan nie mense se woede oor ’n swak regering wat die land laat instort nie. Die aanvanklike steun vir president Cyril Ramaphosa se eerste drie weke van inperking val vinnig vanweë die onbepaalde verlenging en die verstikkende regulasies wat van die ergste ter wêreld is. Mense se woede groei omdat die regering besig is om die Covid-19-krisis in ’n volskaalse ramp te omskep wat die land kan laat ineenstort. Die tesourie het reeds gewaarsku dat tussen drie en sewe miljoen poste in die slag kan bly, terwyl talle kenners voorspel dat die ekonomiese gevolge veel erger as die pandemie self kan wees. Die armoede wat hieruit voortspruit, kan baie meer mense se dood veroorsaak as die ergste projeksies van die virus.

Niemand ontken die erns van die pandemie nie, maar die teenmaatreëls moet toepaslik en in verhouding met die bedreiging wees. Die regering se hoofraadgewer het self gesê dat niks meer gewen kan word uit ’n verlenging van die inperking nie, en dat dit buitendien nie die virus kan keer nie. Die inperking kon bloot tyd koop om hospitale gereed te maak indien die ergste gebeur.

Rommelstatus

Die woede wat nou teen die regering oplaai, kom ʼn lang pad. Die oorsprong daarvan is dat die regering nie die land in goeie tye kon bestuur nie, dat hulle dit nie tydens die krisis kan doen nie, en dat mense nou besef dat hulle die land nie ná die krisis daaruit sal kan bestuur nie. Dit is nie ʼn emosionele standpunt of politieke vooroordeel nie. Die gehalte van regering word immers in die rooi ekonomiese syfers uitgedruk. Die land se rekord-werkloosheid, voortdurende resessies, stygende berge staatskuld, begrotingstekorte, industriële skaal straflose korrupsie, kragprobleme en die afgradering na rommelstatus het mense lankal warm onder die kraag.

Die regering se reaksie hierop was nie om beter te begin regeer nie, maar om sout in die wonde te vryf deur nuwe sosialistiese beleidsrigtings. Hieronder tel onteiening sonder vergoeding, die nasionalisering van gesondheidsorg en planne om pensioenfondsgeld in verliesmakende staatsondernemings te “belê” sonder goedkeuring van fondslede, die wettige eienaars.

Die ANC het gevolglik die Covid-19-krisis binnegegaan sonder die morele gesag en geloofwaardigheid wat ’n regering in krisistye nodig het. ’n Groot deel van die bevolking sien die regerende klas as onbevoeg of korrup, in die lig van die ANC se geskiedenis oor die afgelope 10 jaar. Die optrede van die meeste ministers sedert die inperking, het baie mense wat na Ramaphosa opsien vir leiding, geskok na sy kabinet laat kyk. Die president se uitsprake oor radikale ekonomiese transformasie by belangrike geleenthede soos Vryheidsdag verlede maand, en sy swye oor ras as maatstaf vir hulp tydens die krisis, het die vertroue in sy leierskap ook laat taan.

Lesufi se streke

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, neem sedert die afsterwe van die LUR vir maatskaplike ontwikkeling ook in dié belangrike portefeulje waar. Sy regeringsgeskiedenis is nog altyd deur drie eienskappe gekenmerk: rassisme, sentralisering van magte, en swak prestasie. Sy jare lange rassistiese veldtog teen Afrikaanse skole, sy outokratiese sentralisering van magte oor skole en die ondermyning van die wettige gesag van demokratiese beheerliggame duur steeds voort. AfriForum en Solidariteit moet voortdurend sy volgehoue pogings om sy magte te oorskry, in die howe help bestry.

Die derde kenmerk is dat sy uitkomste lynreg met sy uitsprake bots. Hoewel hy ’n gewilde ANC-politikus in die provinsie is met ’n hoë mediaprofiel, is die meeste swart openbare onderwys in Gauteng steeds disfunksioneel. Hy is kennelik meer gegrief oor die uitnemende prestasie van Afrikaanse skole, as wat hy besorg is oor die lot van duisende swart leerders in die swak skole onder sy beheer.

Lesufi se poging om die verspreiding van noodvoeding in Gauteng te sentraliseer, moet dus nie in afsondering gesien word nie, maar in die lig van die groter prentjie en langer verhaal. Dit behels Lesufi se ondersteuning van ras as maatstaf vir noodleniging, sy geskiedenis van sentralisering, en sy onvermoë om ’n belangrike staatsfunksie te bestuur. Die skaduwee wat oor hom hang met betrekking tot die borgskap van sy sokkerklub met belastinggeld, is ’n verdere rooi lig.

Dit is die agtergrond vir ’n gegronde kommer dat Lesufi se eintlike oogmerk is om kosverspreiding te kaap, dit volgens rassemaatstawwe na sy eie kiesers te kanaliseer, en dat dit so onbeholpe gedoen sal word dat die kos nie by derduisende verhongerde wit- en swart mense sal uitkom nie.

Die Nobel-ekonoom Milton Friedman het treffend gesê dat die grondslag van sosialiste se weersin in die vryemarkstelsel, in wese ’n weersin in vryheid self is. Dit geld in besonder vir Lesufi, wat nie net ʼn wrewel in die grondwetlike vryhede van ’n taal- en kultuurgemeenskap se onderwys het nie, maar selfs in die vrye verspreiding van lewensmiddele aan hulle.

Dit bring my by die kritiek van Kriek op my weliswaar growwe taalgebruik waaroor ek my spyt uitspreek omdat dit nie my gewone manier van optrede is nie. Kriek sien egter altyd net die beste bedoelings in alles wat die ANC aanpak, vanaf grondhervorming tot kosverspreiding.

Dit laat my dink aan David Wong se woorde: “Naïwiteit is die mes aan die keel van die beskawing”.

Goedgelowige mense is ’n booswig se droom. Kom ons beoordeel politici eerder nie aan hul uitsprake nie, maar aan die uitkomste van hul beleid.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Raadslid ·

AgriSA is ‘n liberale organisasie. Liberaliste versuip gewoonlik in die resultate van hul beginsels.

Haan ·

Dis waar Raadslid. Ongelukkig veroorsaak n liberale kaptein dat almal op sy skip sáám versuip.

minnie muis ·

ja hebsug maak afrika dood………. en jy kan nie redeneer met iemand wat nie wil verstaan nie… dis dieselde om vir my brak te se om uit huis te gaan …. en te blaf, as hy nie wil nie sal hy nie, en dan sit mens nog met die kommuniste in party wat magsbehep is ….. en ja al die rasse haat beteken net een ding… die mense is vrek bank vir die blankes

Kokkie ·

Dankie, Flip. As dit nie was vir Solidariteit en Afriforum nie, sou ek uiters magteloos en teneergedruk gewees het. Behalwe om te bid vir ingryping van Bo, is julle regtig vir my die enigste bron van hoop. Staan sterk.

Haan ·

Dan Kriek se politieke onderrok skyn deur. Veral sedert hy sy stoetbul aan Ramaphosa geskenk het. Ek hoop ieder en elke boer sê koebaai vir AgriSA

Johan ·

Liewe Dan het dan vir slim Cyril ‘ n Suid Devon bul geskenk. Hy wil sy Akona kudde opgradeer. Wil graag die kruiskalwers sien.

Phillip ·

Dan se onderrok hang uit… weet nie hoekom gee News24 ‘n voormalige president nog lugtyd nie.

Gerhard ·

Dankie Flip vir wat jy en Solidariteit vir die volk doen. Jy het maar net verwoord wat ek glo ons almal voel. Ou Kriek moet homself eerder bemoei met die regering – wat ek glo hy volmondig steun – se totale onvermoee om n land te regeer. Hoe dwaas kan een mens tog wees.

Pieter ·

Dan Kriek lyk vir my soos Bill Clinton. Selfde politieke geaardheid. Neem hom nie ernstig op nie, hy het mos bedank as president van AgriSA. Hy is ook maar eng in sy denke en gatkruiperig.

Kosie ·

Hoewel ek grotendeels met jou saamstem, Flip, ontken ek totaal en al die “erns” van die pandemie. Hierdie is g’n pandemie nie en solank ons die volle waarheid verkondig nie dra ons by tot die leuen. Dit is die leuen wat ons in die gemors gekry het, en dit is die voortsetting van die leuen wat ons hier hou. So, dalk tyd vir brutale eerlikheid, hierdie is g’n pandemie nie en solank ons aanhou met woorde soos “niemand ontken die erns van die pandemie nie” dra ons net by tot die leuen.

Karel Kobus Kruger ·

Ek sien Dan skryf gereeld rubrieke. Vul hy sy inkomste aan deur genadebrood by News24 te eet?

koos10 ·

Flip, jou taalgebruik is 100%.

Gaan lees gerus die onderhoud in Sondag se Rapport met die Gautengse woordvoerder van Maatskaplike ontwikkeling, Thabiso Hlongwane, dan sal jy weer sê: Wat de do……

Wat my egter die meerste ontstel is dat die regering reëls opstel en dan eers daaroor wil onderhandel. As die reëls op paier is dan MOET dit in die hof getoets word.

Kanjynoumeer ·

Lees die PAD NA SELFBESTUUR Anderkant die mislukking van staatsbestuur van FLIP BUYS. Boek kan bestel word by KRAAL UITGEWERS.
Wat n insiggewende boek!

Pieter J ·

Flip daar is hoegenaamd niks verkeerd met jou taalgebruik nie. Ek dink net ń mens moet enige notisie neem van enigiets wat Dan Kriek te sê het nie. Iewers is iets baie snaaks aan die gang met hom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.