Krag uit totale magteloosheid

Foto: Pixabay

Wat het die koronakrisis met die Lydenstyd – die aanloop tot die Paasfees – te make?

In die Christelike kalender staan afgelope Sondag bekend as Palmsondag. In duisende kerke is uit die evangelies van Matteus en Lukas voorgelees oor die intog van Jesus in Jerusalem ’n paar dae voor sy inhegtenisneming en kruisiging, toe ’n menigte hom met palmtakke en krete van “Hosanna!” verwelkom het.

Die skrywers van die twee evangelies lê klem op die feit dat Jesus die stad op ’n donkie binnegery het. Dit staan in skrille kontras tot die verwagting van die menigte, wat volgens Lukas (19:38) geroep het: “Loof die Koning! Hy wat in die Naam van die Here kom!”

Dis duidelik dat die menigte ’n magtige man verwag het, iemand wat aan hul idee van die Messias voldoen het, wat die gehate Romeine sou verjaag en die glorieryke koninkryk van Dawid sou herstel.

Jy sou verwag dat só iemand op ’n pragtige perd sou ry.

Maar Matteus haal eksplisiet aan uit die profeet Sagaria (9:9) wat skryf dat die koning “nederig” is en op ’n donkie ry, asook dat hy die “pyl en boog waarmee oorlog gemaak word” sal breek en “vrede vir al die nasies” sal aankondig.

Ek is geen teoloog nie, maar dit het my al dikwels opgeval dat die Bybel ons menslike, instinktiewe verwagtings en idees op sy kop omkeer. Jesus was toe nie die militêre veldheer wat die Romeinse oorheersing sou verbreek nie.

Die “Koninkryk van God” wat hy verkondig het, was ’n totaal ander een. Dit was dié van die man wat net ’n paar dae later verag, verneder, bespot, gemartel en magteloos aan die kruis gehang het.

In die oorblyfsels van ’n Romeinse bouwerk op die Palatynse heuwel in Rome het argeoloë ’n spottende muurtekening gevind, van ’n figuur met die kop van ’n donkie wat aan ’n kruis hang, en ’n man wat in ’n aanbiddende houding daarby staan. Die teks lui: “Alexamenos aanbid sy god.”

Wie dit geteken het, is onbekend, net soos wie presies Alexamenos was. Maar dis duidelik ’n gespot met ’n vroeë Christen se geloof.

Die tekenaar se houding was tipies van heidense Romeine uit die tyd: Mense, die god wat julle aanbid, het die mees skandelike en vernederende dood denkbaar gesterf! En julle aanbid só ’n gek!

Ek het onlangs ’n fantastiese boek van die Britse oudheidhistorikus Tom Holland gelees met die titel Dominion: The Making of the Western Mind, wat verlede jaar gepubliseer is. Holland kontrasteer die wreedheid, die aanbidding van mag en krag wat die antieke wêreld gekenmerk het, met die boodskap van nederigheid en gelykheid wat Jesus en die apostels verkondig het.

Hy skryf (bl. 523-524): “Repeatedly, like a great earthquake, Christianity has sent reverberations across the world. First there was the primal revolution: the revolution preached by Saint Paul.” Toe die agternaskokke in die Middeleeue en Hervorming.

Hy skilder die basiese boodskap só: “That human beings have rights; that they are born equal, that they are owed sustenance, and shelter, and refuge from persecution: these were never self-evident truths.” Hoe dit kon gebeur het? Die kruis:

“It is the audacity of it – the audacity of finding in a twisted and defeated corpse the glory of the creator of the universe – that serves to explain, more surely than anything else, the sheer strangeness of Christianity, and of the civilization to which it gave birth. Today, the power of this strangeness remains as alive as it has ever been. It is manifest in the great surge of conversions that have swept Africa and Asia over the past century; in the conviction of millions upon millions that the breath of the spirit, like a living fire, still blows upon the world; and, in Europe and North America, in the assumptions of many more millions who would never think to describe themselves as Christian. All are heirs to the same revolution: a revolution that has, at its molten heart, the image of a god dead on a cross.”

Holland is op die meeste ’n agnostikus, geen Christen nie. Maar in sy eerlike, briljant geskrewe boek het hy oopgevlek presies hoe ingrypend die erfenis van die gekruisigde Jesus vir die Westerse beskawing en sy lote elders in die wêreld was.

Omdat hy nie gelowig is nie, doen hy nie die laaste stap nie. Want uiteindelik gaan dit natuurlik om méér as die gemartelde man wat aan die kruis sterf. Dit gaan ten diepste juis om die opstanding, die oorwinning van daardie vernederende dood, wat miljoene Christene so aangegryp en tot Holland se teregte identifisering van die erfenis daarvan vir die latere wêreld aanleiding gegee het.

Natuurlik het Christene deur die eeue sedertdien die voorbeeld van hul gestorwe en opgestane Christus meer dikwels as nie verbreek en verkrag.

Alte dikwels is die oudheid se wreedheid en aanbidding van mag die nederigheid van die intog op ’n donkie in Jerusalem geïgnoreer. Alte dikwels het diktators en populiste God vir hul eie politieke voordeel geannekseer. Alte dikwels het kerke stut-organisasies van politieke partye en regerings geword en goddelike sanksie aan onchristelike beleidsrigtings verleen.

Dis waarom die koronakrisis kerke oor die hele wêreld tot stilstand moet dwing. Daar was tye – ’n mens dink aan die eerste eeue ná Christus en weer tydens die Hervorming – dat kerke onafhanklik van ideologieë was, dat hulle polities magteloos was.

Want, net soos die magteloosheid van Jesus aan die kruis uiteindelik sy grootste krag geword het, lê kerke se krag in die samelewing eweneens in hul magteloosheid. In hul verbondenheid met die magteloses en swakkes, diegene wat vervolg word, wat onder onreg ly.

Ná die Tweede Wêreldoorlog was dit ’n vraag wat dikwels in Europa gestel is: Waar was God in Auschwitz? Ek verkies om te glo dat hy reg langs die gevangenes was, maar op ’n manier wat ons verstand te bowe gaan.

Sondag is dit Paasfees, wanneer ons die opstanding vier. Dit is daardie oorwinning oor die dood, juis vanuit ’n totale magteloosheid, wat die Christelike geloof krag gee. Nie die tipe spierkrag of politieke mag wat ons so graag nastreef nie!

As die koronakrisis ons dié les kan leer, word iets goeds nog uit die kwade gebore.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae