Kultuurorganisasies kan unieke oplossings bied

kruis_h07-cross_sunset-10.jpg

Argieffoto

Deur: Christoff van Wyk

Albert Einstein het eenkeer gesê dat ons nie ons huidige probleme kan oplos deur op dieselfde manier te dink as toe ons die probleme geskep het nie. Die Engelse frase vir hierdie stelling is “thinking outside the box”. Alhoewel hierdie sêding ’n cliché is, is dit presies wat ons vandag in Suid-Afrika nodig het, en dalk kan kultuurorganisasies in dié verband unieke oplossings vir die toekoms bied.

Om kultuur te definieer is moeilik, maar dit moet eerstens gesien word as ’n handeling of ’n manier van optree wat mettertyd deur ’n groep of gemeenskap as die norm aanvaar word. Tesame hiermee moet identiteit en moraliteit ook ingereken word as interne grondslag of rigtingwyser vanwaar die uiterlike optrede gerig word.

Kultuur, identiteit en moraliteit binne bepaalde gemeenskappe en samelewings word geskoei op sekere kernwaardes wat binne daardie groep aanvaar word.

Vir die meerderheid van Afrikaners is die Christelike geloof daardie kernwaarde waarbinne identiteit, moraliteit en kultuur op elke vlak van ons menswees uitgewerk word.

Maar wat tans gebeur, is dat ons kernwaarde toenemend verbrokkel en ons identiteit misken en beswadder word. Ons begin al hoe meer die nuwe moraliteit van die Westerse beskawing aanneem, wat tot gevolg het dat Afrikanerkultuur besig is om heeltemal te verander en in baie opsigte ’n bestaanskrisis beleef.

Verandering op sigself is nie sleg nie, maar die vraag wat egter ontstaan is of hierdie verandering ten goede of ten slegte is? En, hoe hanteer die kultuurorganisasie hierdie veranderinge?

Die antwoord hierop is dat kultuurorganisasies betrokke moet raak omrede hulle juis op unieke wyse kan bydra tot die opbou van gemeenskappe en ook brûe kan bou tussen verskillende gemeenskappe.

Binne die konteks van die Afrikanergemeenskap waar die Christelike geloof steeds as die de facto-kernwaarde van Afrikaners beskou kan word, behoort kultuurorganisasies erkenning hieraan te gee sonder om weg te skram wanneer die kwessie van geloof ter sprake kom. Dieselfde behoort te geld vir identiteit, moraliteit en vanselfsprekend ook, kultuur.

In dié verband word kultuurorganisasies egter toenemend onder druk geplaas om die keuse te maak vir erkenning of ontkenning. Ontkenning is dikwels die maklike roete en ook in lyn met die algemene staatsideologie van die dag waar daar in teorie gestreef word na een algemene Suid-Afrikaanse kultuur.

Kultuurorganisasies wat bereid is om openlik te erken dat daar ’n unieke identiteit, moraliteit en kultuur binne elke gemeenskap bestaan en dat hierdie kenmerke geskoei is op sekere kernwaardes, sal op die lange duur deel word van die oplossing vir Suid-Afrika se probleme.

Dié kultuurorganisasies wat wegskram hiervan en eerder die unieke identiteit, moraliteit en kultuur van verskillende gemeenskappe en veral die Afrikaner wil ontken, dra egter by tot die probleem en sal mettertyd ook die bestaanskrisis wat vir hulle in die toekoms wink, nie oorleef nie.

Daarenteen kan kultuurorganisasies wat die roete van erkenning en wedersydse respek volg, ’n leidende rol speel om bo-oor die politieke- en staatsbestel gemeenskappe op te bou, asook om brûe te bou tussen verskillende gemeenskappe wat op die lange duur stabiliteit kan meebring.

Die denkraamwerk waarbinne ons samelewing tans funksioneer is byna totaal staatsgeoriënteerd. Binne hierdie bestel word natuurlike kultuurgemeenskappe misken terwyl slegs kunsmatige staats- en politieke gemeenskappe erken word. Hierdie kunsmatige vorms van gemeenskap skep egter juis konflik omdat die staat se poging om ’n kernwaarde te formuleer, soos byvoorbeeld die grondwet, nie by magte is om universeel te resoneer met al die unieke gemeenskappe wat binne die grense van die land woon nie. Dus ontaard hierdie poging eerder in ‘n proses waardeur identiteit, moraliteit en kultuur misken en ondergeskik gestel word aan die oorkoepelende staatswaardes van die dag. Wanneer hierdie miskenning lei tot konflik tree die staat tussenbeide as die sogenaamde beskermheer van beskawing, terwyl dit juis hierdie entiteit is wat verantwoordelik is vir die probleem.

Kultuurorganisasies wat bereid is om deur erkenning die ryk historiese en kulturele skatkis waaroor kultuurgemeenskappe beskik te ontsluit en eietyds toe te pas, het reeds ’n alternatiewe oplossing hiervoor.

Die vraag is nou: Kan ons anders dink as wat ons gedink het toe ons die probleme waarmee ons nou sit, geskep het?

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Albaster ·

Ons kultuurverbrokkeling word deur sommige van ons eie mense veroorsaak wat instansies wat ons wil afbreek steeds ondersteun, soos n sekere radiostasie en n sekere mediagroep.

John ·

Soiets sal nooit in der ewigheid toegelaat word in die New Age wat ons hier moet betree nie waarin niksgeit en doodsheid in denke en gevoel die nuwe bloudruk vir die SA-toekoms is wat reeds uitgestippel is nie.

Eish ·

Ek is nie seker hoe wyd die skrywer sy definisie van kultuurorganisasie hier uitsprei nie. My siening daarvan was nog altyd dat hul die bewaarders en beskermhere is van kultuurskatte soos taal en gebruike soos Volkspele, boeresport, basaar en koeksisters en Sarie Marais.

Hierdie kultuurorganisasies word befonds vir hul werk deur hul klièntebasis wat logistiek deur die organisasie sentreer vir maksimum voordeel van skaal. Die Christelike onderbou is kenemerkend.

Dit blyk egter dat die skrywer die definisie rek verby die punt. Dan moet ek aanvaar n organisasie soos die ANC word ook ingesluit aangesien dit vir die meerderheid van die bevolking ook n kulturele tuiste is. Die VF PLUS kultuurorganisasie moet dan maar die sprong van uitreik waag.

Daar is deesdae n onderstroming uit eie geledere wat alhoemeer beklemtoon dat die minderheid moet uitreik na die meerderheid. Dit is n futiele oefening in integrasie wat nog nooit in die wêreld suksesvol bestuur kon word nie.

Natuurlik dink ons anders as toe ons die probleme geskep het. Ons is nou in gestel op oorlewing wat n mate van selfsug moet bevat ten einde oorlewing te verseker. Assimilasie met tradisie wat teen logika ingaan ( Soos voorvaderlike aanbidding en verering)
is ongelukkig n aspek wat geen gemene deler bevat nie. Ons verdra mekaar dus, alhoewel die meerderheid boelietegnieke aanwend om die minderheid te intimideer.

Wanneer jy kultuurorganisasies soos byvoorbeeld die ATKV inspan in die proses, brand sy eie lede die brug af. Daar is dus areas waar toegang verbode is.

Herman ·

Eish…n baie goeie raakvat opmerking.
My vraag… wat het toe met die ATKV en hulle engelse bestuur gebeur?
N artikel sal baie interesant wees.
Hoeveel gereelde skenkers het hulle verloor met hulle “veeltalige” strategie..
Alles het skielik baie stil geword na n baie groot oproer…..

Koos ·

Kultivering is iets wat noodwendig na buite gerig moet wees om sigself te onderhou. Lees gerus Louw se opstel oor vertaling. Op hierdie platform en by die FAK word egter dikwels ‘n benadering gevolg wat slegs na binne gerig is, onder Louw se naam nogal, sies! Dan word die “Christen” idee ook nog daaraan gekoppel. Die Christendom is in sy wese universeel, en “behoort” nie aan een groep nie, of lees ek die brondokument dan verkeerd?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.