Kwotas baat nóg wit, nóg swart: Ontwikkeling die enigste kuur

Rugby_balle_afrig_Pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Deur Francois Redelinghuys

Ek was vandeesweek oorbluf deur sommige kommentare wat gelewer is op Solidariteit se aankondiging dat hy vier sportfederasies, die nasionale Olimpiese komitee asook die minister van sport voor die arbeidshof gaan daag oor die hardnekkige toepassing van sportkwotas by die kies van Suid-Afrikaanse sportspanne. Solidariteit voer aan dat meriete die enigste kriterium behoort te wees om só die bestes in hul onderskeie sportkodes te laat meeding.

Mediadekking wat op die aankondiging gevolg het was oorweldigend en die nuus het natuurlik met behulp van sosiale media soos ʼn veldbrand versprei. Mense het uit alle oorde hul opinie oor die onderwerp gelug wat onder meer opmerkings in die volgende trant ingesluit het: “Ek hoop hulle slaag/slaag nie”; “Solidariteit wil net die status quo (old white boys club) van wit mense behou” en “Wat van sokker?”.

Agtergrond

As vakbond het Solidariteit locus standi (bevoegdheid met voldoende belang om betrokke te wees) in die arbeidshof omdat die betrokke federasies almal werkgewers van honderde sportlui is.

Hierdie stap is maar net die begin van Solidariteit se aksie teen kwotas wat in samewerking met AfriForum gevoer word en volg nadat die voormalige minister van sport, Fikile Mbalula, verlede jaar met groot bravade aangekondig het dat plaaslike federasies voortaan nie ʼn bod mag maak om internasionale sporttoernooie aan te bied totdat hul “transformasieteikens” (lees kwotas) behaal is nie.

Dit is egter verbysterend dat niemand nog vantevore sulke stappe teen kwotas oorweeg het nie. Ons het al so gewoond geraak aan die de facto-toepassing van sportkwotas deur die regering dat die wettigheid en regmatigheid daarvan nog nooit werklik uitgedaag is nie. Kortom, die Grondwet (artikel 9), die Wet op Gelyke Indiensneming (artikel 6) en verskeie internasionale konvensies verbied diskriminasie op grond van ras.

Kwotas as struikelblok

Die absurditeit van hierdie rassefokus in sport het verlede jaar ʼn klimaks bereik toe ene Tony Ehrenreich dit gestel het dat wit spelers in die Springbokspan met opset swak speel om die gekleurde afrigter te laat sleg lyk. Uitsprake soos dié bewys juis dat die spesifieke sportsoort nie by so ʼn absolute fokus op ras baat nie en dat dit boonop ʼn politieke speelbal geword het.

Om boonop aan te voer dat die afskaffing van sportkwotas die “status quo van wit mense” gaan handhaaf, is nie net verregaande nie, maar is boonop beledigend teenoor alle gekleurde sportsterre. Met dié stelling word daar vir alle praktiese doeleindes geïnsinueer dat gekleurde sportlui dit aan kwotas te danke het dat hulle wel op professionele vlak meeding.

Ek laat my egter nie vertel dat uitstaande sportsterre soos Makhaya Ntini, Kagiso Rabada, Paul Adams, Chester Williams, Bryan Habana en Cecil Afrika, om maar net enkele voorbeelde te noem, nie hul plek in Suid-Afrika se sportannale op verdienste verwerf het nie.

Die oormatige fokus op sportkwotas veroorsaak verskeie ander probleme op talle terreine:

  1. Eerstens word te veel aandag, geld en tyd gewy aan sogenaamde transformasietekens, terwyl die identifikasie en ontwikkeling van jong individue gevolglik in die slag bly.
  2. Nog ʼn werklikheid is dat talle spelers van wêreldgehalte besig is om die land teen ʼn spoed te verlaat om eerder ander lande in sport te gaan verteenwoordig. Dink maar aan Josh Strauss, Kevin Pietersen, CJ Stander, Bernard le Roux, Brad Barritt en Richardt Strauss.
  3. In die lig daarvan dat ons skoolstelsel, wat gewoonlik die eerste blootstelling aan georganiseerde sport bied, op die randjie van die afgrond staan, kan die sporttalent van ons jongmense nie genoegsaam ontgin word nie.
  4. Die gekleurde sportsterre wat te midde van hierdie ongunstige stelsel wel bo uitkom, word dikwels weens hierdie rassebeheptheid te vroeg rypgedruk wat dan meebring dat hulle nie werklik hul volle potensiaal bereik nie.
  5. Daarteenoor hang die vraag oor meriete altyd soos ʼn swaard oor die kop van gekleurde spelers, selfs al is hulle op verdienste gekeur.
  6. Ongeag die kleur van die spelers gaan ʼn span wat nie op meriete gekies is nie, nie na wense kan presteer nie en sal die Suid-Afrikaanse publiek ontneem word van die vreugde en eer wat wenspanne vir ʼn land bring.

Talent is kleurblind

Wie is –

Die eerste Suid-Afrikaner wat tien paaltjies in ʼn toetswedstryd op Lord’s kon neem?

Die enigste Suid-Afrikaner wat 13 paaltjies in ʼn toetswedstryd kon laat kantel?

Die eerste en enigste Suid-Afrikaner wat 300 lopies in ʼn kolfbeurt kon moker?

Die eerste en enigste Suid-Afrikaner wat meer as 50 keer agter internasionale opponente se doellyn kon gaan kuier?

Wie is die Suid-Afrikaner wat die meeste drieë (6) in een toetswedstryd gedruk het?

Wie is die eerste Suid-Afrikaner wat die 100 m-naelloop onder 10 sekondes kon aflê en is die eerste atleet ter wêreld wat onder 10 sekondes in die 100 m-naelloop, binne 20 sekondes in die 200 m-naelloop en onder 44 sekondes in die 400 meter kon aflê?

Die persone wat hierdie uitsonderlike prestasies behaal het, was almal gekleurde of swart Suid-Afrikaanse sportlui. Hulle was nie van ʼn kwotastelsel afhanklik nie, maar het staatgemaak op harde werk, deursettingsvermoë, oefening en hul Godgegewe talente.

Ons durf nie toelaat dat kwotas afbreuk doen aan hierdie prestasies nie. Niemand vind baat by ʼn rassegebaseerde kwota nie – nie die spelers nie en ook nie die toeskouers nie en nog minder die land.

Kom ons streef na uitnemendheid deur deeglike ontwikkeling op voetsoolvlak te bevorder eerder as verteenwoordigendheid op ʼn spanfoto.

  • Redelinghuys is woordvoerder en mediaskakelbeampte by Solidariteit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae