Lei rampwetregulasies tot noodtoestande?

Deur Gustaf Pienaar

Gustaf Pienaar

Die boodskap oor Covid-19 is deurgaans: Moenie dié siekte ligtelik opneem nie. Maar daar is opstand in die lug. Mense kla die oppermagtige bevelsraad gebruik plek-plek ʼn haelgeweer om ʼn muggie mee dood te maak. Daar is maatreëls van krag wat ʼn ignoreerbaar klein bydrae lewer tot die bekamping van die virus. Miljoene Suid-Afrikaners het reeds hul werk verloor.

In die Wes-Kaap word veral die wynbedryf erg deur die omvattende verbod op alkoholverkope getref. ʼn Vriend van my is die eienaar van ʼn Bolandse boetiekwynkelder. Sy produkte is plaaslik en in die buiteland gesog. Dis nie die klas wyn wat jy in ʼn agterjaartsjebien sal aantref nie, want dis duur. Hy is persoonlik nie erg deur die eerste verbodfase getref nie, want hy kon steeds sy uitvoerbestellings nakom. Nou word hy egter verbied om aanlyn verkope uit te voer – ondanks die feit dat koerierdienste oral fluks sake mag doen. “Hoe op aarde kan die verbod op aanlyn verkope die virus se verspreiding keer?” wil my vriend weet.

Met baie van sy kollegas in die Wes-Kaapse wynbedryf gaan dit broekskeur: Wynkelderverkope is taboe; ook dáár geld die verbod op aanlyn verkope; die restaurantbedryf is besig om dramaties ineen te stort, met gepaardgaande verdere verliese vir wynprodusente.

Die vraag is of mense, wie se oorlewing deur drakoniese, irrasionele regulasies op die spel geplaas word, hul regtens daarteen kan verset.

Die Grondwet is – soos altyd – ʼn gerieflike beginpunt: Die Handves van Regte verleen aan burgers die reg om vrylik ʼn beroep te beoefen. Grondwetlike regte kan egter beperk word in dié mate waarin dit redelik en regverdigbaar is, met inagneming van onder meer die aard van die regte wat beperk word; die doel van die beperking en die vraag of daar nie dalk minder beperkende wyses is om die einste doel te verwesenlik nie.

ʼn Groep wynprodusente het hul tot die hof gewend om die maatreëls wat besig is om in die besonder die wynbedryf te vernietig, ter syde te laat stel. Volgens hul hofstukke maak hul onder meer staat op die bovermelde kriteria wat die Grondwet daarstel as voorwaardes vir die inkorting van regte.

hof-hamer

Argieffoto

Die probleem is dat wat ʼn hof van eerste instansie ook al beslis, in die praktyk nie die finale antwoord is nie – vra maar vir drukgroepe wat al hof toe was oor die tabakverbod. Die belastingbetaler maak dit vir die staat moontlik om sy spiere te bult: Hofaansoeke word verbete teengestaan en, indien nodig, op appèl geneem. Kyk mooi: die virus sal al lank vergete wees, dan worstel die howe nog met ʼn vloedgolf tergende regsvrae uit dié plek-plek waansinnige era van ministeriële dekrete.

Dalk is daar ʼn ander uitweg. Ter verduideliking: Alle misdaadomskrywings bevat ʼn gemeenskaplike element: onregmatigheid, “wederregtelikheid”. As ʼn handeling nie onregmatig is nie, is daar nie sprake van ʼn misdaad nie.

Ons gemenereg maak daarvoor voorsiening dat ʼn handeling – wat andersins misdadig sou wees – soms nie deur ʼn hof as sodanig beskou sal word nie, bloot omdat dit nie onregmatig was nie. ʼn Goeie voorbeeld is iemand wat in noodweer (selfverdediging) handel. Die gewapende aanval op kerkgangers in Pretoria is nog vars in die geheue. Na bewering het ʼn booswig ʼn vuurwapen teen die pastoor se kop gedruk en gedreig om hom dood te skiet. In wat – volgens mediaberigte – klaarblyklik ʼn noodweerhandeling was, het ʼn kerkganger daarna twee booswigte doodgeskiet. Hoewel hy hulle opsetlik om die lewe gebring het, mag ʼn hof bevind dat dit nie moord was nie, want hy beroep hom op ʼn regverdigingsgrond: noodweer.

Ons gemenereg erken nóg ʼn bekende regverdigingsgrond wat in sowel die deliktereg as die strafreg geld: noodtoestand, wat uit situasies soos slegte weer, brande, aardbewings, menslike gedrag, owerheidsoptrede en dies meer kan ontstaan. Iemand word voor ʼn keuse gestel om óf een of ander nadeel te ly, óf om die reg te verbreek. Kies hy laasgenoemde, mag hy onder bepaalde omstandighede “verskoon” word van sy oortreding, omdat hy in ʼn noodtoestand gehandel het. ʼn Voorbeeld uit ons regsgeskiedenis illustreer dit mooi: Die vader van ʼn kleuter ontdek dat die knapie ʼn hele pakkie pynpille verorber het. Die naaste hospitaal is ver, en die pa steur hom nie aan die owerheid se snelheidsbeperkings nie. Oplaas word hy afgetrek en ʼn stewige boete opgelê. Die landdros het min simpatie en bevind hom skuldig. Op hersiening is ʼn hoërhof hom egter genadig: hy het in ʼn noodtoestand opgetree.

Die hof het in sy uitspraak die volgende kriteria vir ʼn noodtoestand uit ons gemenereg saamgevat:

  • Die (wettige) regsbelange van die beskuldigde moes bedreig gewees het. Daarom sal ʼn smokkelaar in tabakprodukte hom nie op noodtoestand kan beroep nie. Tabak is egter ʼn wettige produk en die (onwettige) koper van smokkelsigarette sou hom straks op ‘n noodtoestand kon beroep: Sy psigiese welsyn mag immers afhang van sy toegang tot die produk.
  • Die bedreiging moes reeds begin het, of sterk dreigend gewees het.
  • Die bedreiging moes nie deur die beskuldigde se eie toedoen ontstaan het nie.
  • Dit moes vir die beskuldigde nodig gewees het om die dreigende onheil (soos finansiële ondergang) die hoof te bied.
  • Die metodes wat die beskuldigde aangewend het om die bedreiging die hoof te bied, moes onder die omstandighede redelik gewees het.

Restaurante in Kaapstad het op 22 Julie 2020 deelgeneem aan ‘n betoging teen die voortgesette alkoholverbod (Foto: A Gorman Photography/Facebook)

Ek kan my indink dat ʼn wynkeldereienaar, wat diep in die nood is, ná oorweging van bogemelde vereistes kan besluit dat hy – in weerwil van die verbod – sal begin om byvoorbeeld aanlyn bestellings uit te voer. Word hy vervolg, kan hy hom straks suksesvol op noodtoestand as regverdigingsgrond beroep.

Dieselfde geld vir ʼn skool, waar die ouergemeenskap, beheerraad en onderwysers gemaklik voel om met die noodsaaklike onderrig van leerders voort te gaan: Die skool het ʼn goed bestuurde veiligheidsregime; daar is dissipline; daar is gemeenskapsondersteuning – noem maar op. Ek twyfel of die owerheid sal besluit om die staat se skaars bronne op ʼn vervolging te vermors – veral te midde van die huidige groot verwarring wat heers oor die 2020-skoolkalender.

Die risiko is ongetwyfeld groter as ʼn restauranteienaar sou besluit hy gaan drank aan aansitgaste bedien ten einde winsgewend handel te kan dryf. Dit sal help as hy redelike maatreëls tref om die verspreiding van die virus – en alkoholmisbruik – die hoof te bied, soos ʼn beperking op die hoeveelheid drank wat bedien word; die verpligte aanwys per tafel van ʼn motorbestuurder aan wie drank nié bedien sal word nie; ʼn streng higiëniese regime, ensovoorts.

Ook die gasvryheid- en toerismebedrywe sou kreatief kon dink oor hoe hul deur redelike optrede dáárdie Covid-regulasies wat steeds hul sakebedrywighede beperk, prakties irrelevant kan maak.

Daar is egter groot risiko’s verbonde aan ondernemings wat willens en wetens die Covid-regulasies verbreek. Die instansies wat ek hierbo vermeld het, is almal in die formele sektor betrokke. Hulle is die spreekwoordelike kwesbare sitting ducks, want hul het straatadresse, lisensies, permitte, akkreditasies en dies meer.

Iemand wat die bevelsraad se regulasies sou uitdaag deur hom op ʼn noodtoestand beroep, moet weet dat hy tien teen een sy saak in ʼn hof sal moet gaan stel. Dit kan daartoe lei dat dié gemeenregtelike regverdigingsgrond – veral in die konteks van die strafreg – verder verhelder word. Ek sou byvoorbeeld graag wou sien wat ʼn hof sou maak van my vriend, sou hy môre begin om aanlyn bestellings vir sy gesogte wyne na te kom. Myns insiens sou hy ʼn sterk saak kon uitmaak. (Hy glimlag net vroom as ek hom vra: “Sál jy?”)

Bronne: Jonathan Burchell: Principles of Criminal Law (Juta, 2016). Oor die pynpille-voorbeeld: S v Pretorius 1975(2) SA 85 (SWA). 

  • Gustaf Pienaar is ʼn niepraktiserende advokaat van Vleesbaai. Hierdie meningsartikel is verkennend van aard en word nie as regsadvies vir enigiemand aangebied nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

christo ·

Ons ken almal die padda wat vrek toe hy in die kookwater beland het, en die paddae wie se water geleidelik warmer gemaak word. Die ramptoestand word deur die ANC gebruik om stelselmatig sentrale beheer op die land af te dwing soos in ‘n kommunistiese stelsel. Baie rampbestuur regulasies kan nie geregverdig word nie. Ek kan saam met vriende by ‘n restaurant uiteet maar mag nie gaan kyk of my bejaarde ouers klaarkom op hulle eie nie. Al saniteer ons, dra heeltyd maskers en handhaaf 1.5 m reël van mekaar af.
Ek rook nie, maar dit lyk my jy gaan nou toegesluit word omdat jou sigarette ‘n vreemde taal waarskuwing het.
Toe my broer se kinders Nieu-Seeland toe is laat 2019, het ons gedink dit kan tog nie soveel beter wees daar as hier nie. ‘n Wyse besluit. Streng reëls (wat natuurlik sin maak) in ‘n demokrasie. Geen ‘swaperegulasies’ soos hier nie. Ramaphosa is die
‘ puppet on a string’ president. Hy regeer nie, hy begeer om te regeer. Vaarwel grondwet, mag dit gewelddadig goed gaan.

david ·

Ek wonder Gustaf…wat nou van die Besigheids eienaars in die toerisme bedryf wat deur Regter Kollapen se uitspraak belet word van enige staatshulp as gevolg van Covid 19.
Watter stappe kan hierdie mense (belasting betalers) nou neem om hulp van die Staat
te ontvang.
Was die Regter se uitspraak , in die lig van die Situasie rondom die Virus pandemie , regverdig en ja dalk onregmatig ..?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.