Linkses gryp na handboek om Trump te troef

Chelsea Clinton. Foto: (AP Photo/Matt Slocum, File)

Hillary Clinton en haar dogter, Chelsea, is mede-outeurs van The Book of Gutsy Women: Favorite Stories of Courage and Resilience. Dit is pas gepubliseer. Met die rondreis in die land vir die bekendstelling daarvan, het dit byna voorgekom asof hierdie onversoenbare politikus al weer met ’n verkiesingsveldtog besig is, want haar bitter aanvalle teen Trump het die verkoop van haar boek heeltemal oorskadu.

Haar stelling dat Trump optree asof sy by hom spook, bewys maar net weer hoe blind haar selfliefde haar maak en dat net mooi die teenoorgestelde waar is. Haar treurmare van verskonings hoekom sy die 2016-verkiesing verloor het, vermeerder by die dag – van “Russiese inmenging” na “stemmeronderdrukking” na “die gemene kieskollege” tot die stelling dat die Demokratiese Nasionale Komitee die verkiesing van haar gesteel het.

Hillary Clinton. Foto: (Jacob Hamilton/Ann Arbor News via AP)

Sy gaan voort om van Trump ʼn bespotting te maak, want sy weet met sekerheid dat haar party bewus is van die feit dat nie een van die Demokratiese presidensiële kandidate teen Trump opgewasse is nie. En geeneen van hulle het die fut van Trump nie. Tog glo Hillary – self letargies – vas dat slegs sý daardie leemte kan vul. Maar demokratiese kandidate kan skaars ’n vol saal trek, waar Trump dit regkry om derduisende ondersteuners na stadions landwyd te lok om hul president in lewende lywe te sien en te hoor.

Bernie Sanders, derde gewildste by die stembus, het so pas ’n hartaanval gehad en dit laat heelwat vrae oor sy gesondheid en verkiesbaarheid vir die troon en, les bes, oor sy verspotte sosialistiese beleide wat eenvoudig nie implementeerbaar is nie.

Joe Biden, wat ál 20 kandidate oorskadu het, het onlangs ’n paar nuwe flaters in sy veldtog begaan – duidelik tekens van vroeë demensie. Biden, wat in ’n korrupsieskandaal betrokke was toe hy Obama se troepleier in die Oekraïne was, verloor nou vinnig ondersteuning vir betaal-vir-speel-transaksies (pay-for-play) waarby sy dwelmverslaafde seun, Hunter Biden, betrokke is.

Pres. Donald Trump. Foto: (AP Photo/Manuel Balce Ceneta)

Hunter is deur baantjies vir boeties op die beheerraad van Burisma Holdings, ’n olie- en gasmaatskappy in die Oekraïne, aangestel en is volgens berigte sowat $83 000 per maand vir 18 maande betaal.

Gedurende hierdie tyd het Biden beveel dat die Oekraïniese staatsaanklaer, Viktor Shokin, wat die korrupte maatskappy ondersoek het, in die pad gesteek moet word voordat enige finansiële hulp aan die land oorweeg sal word. Tydens visepresident Biden se besoek aan China in 2013 saam met sy seun Hunter en kleinkinders, het heelwat bewerings die rondte gedoen dat Hunter ’n geheime privaat aandeletransaksie met ’n Chinese bank aangegaan het, en daardeur $1,5 miljard omkoopgeld ontvang het.

Hoewel dié skandaal reeds in 2018 in Peter Schweizer se boek Secret Empires: How the American Political Class Hides Corruption and Enriches Family and Friends aan die lig gekom het, het dit weer kop uitgesteek toe ’n sogenaamde fluitjieblaser valslik beweer het dat Trump die Oekraïniese president gevra het om ’n ondersoek na Joe Biden in te stel in ruil vir finansiële bystand. Die skandaal het nuwe hoogtes in die presidensiële veldtog bereik toe Trump die media uitgedaag het om eerder ware korrupsie – dié van Biden – te ondersoek. Trump het ook, heel onverwags, sy brief aan die Oekraïniese president, Zelensky, gepubliseer as bewys dat geen beweerde quid pro quo aangebied is nie.

Pres. Donald Trump. Foto: (AP Photo/Alex Brandon)

Indien dit sou wees dat korrupsie van dié formaat wel deur Trump en Kie. gepleeg is, sou die media vir maande aaneen daaroor berig het, die kongres sou jubel en die hele politieke establishment sou versoek dat Trump daarvoor aangekla word. Maar Trump was gewoond aan dreigemente van vervolging sedert hy as president die sondes van die Demokrate die hoof moes bied. Húlle was steeds vas oortuig van hul ewige reg tot die Withuis, die kongres en die regstelsel – iets wat hul histerie die afgelope twee jaar tot ’n koorsagtige hoogte gedryf het. Enigeen wat hierdie vermeende reg sou uitdaag, is, volgens die Demokrate, ’n ketter en behoort op die brandstapel gegooi te word.

Hillary is die verpersoonliking van bogenoemde geloof: “Sy het die Withuis verdien” aangesien sy dit “prysgegee het” vir die eerste swart president, terwyl sý die eerste vroulike president kon wees.

Identiteitspolitiek het gemaak dat dié verbitterde verloorder in ’n permanente toestand van woede verkeer. Haar tyd as presidentsvrou en minister van buitelandse sake was klaarblyklik nie genoeg nie. En omdat die hoogste prys, naamlik presidentskap, haar egter bly ontwyk, takel sy Trump en maak hom die sondebok, terwyl sy eintlik haar eie party en Barack Obama minag.

Die idee dat slegs binnepersone ’n uitverkore reg tot presidentskap het, word wyd in die politieke establishment in Washington versprei. Dus het D.J. Trump, as ʼn randeier, die appelkar so effens geskud.

Pres. Donald Trump. Foto: (AP Photo/Carolyn Kaster)

Trump, wat nog nooit voorheen ’n politikus was of enige militêre ervaring het nie, het na regte nie die nodige kwalifikasies gehad om die hoogste amp in die land te beklee nie. Toe Trump egter as wenner wegstap, was die establishment behoorlik omgekrap – veral toe die ekonomie met rasse skrede vooruitgang begin toon het. Omrede hulle nie hierdie feite kan verdoesel nie, het die Demokrate begin om foute in sy karakter te soek en daarop te fokus – alles om sy mag te ontneem en hom uit die Withuis te dryf. Sy pierewaaierpersoonlikheid is, byvoorbeeld, gebruik om allerhande mites oor hom te fabriseer, sommige daarvan as grondslag vir die Russiese koalisiestorie wat tot die Mueller-ondersoek gelei het.

Hul onophoudelike aanvalle op alles en enigiets wat Trump doen, is so reg uit Saul Alinsky se boek Rules for Radicals – taktieke hoe die Linkses hul mag kan behou. Sewe van die 13 reëls verduidelik die verskillende slenters, leuens en staatsgreeppogings om hom uit sy presidentstoel te lig.

Reël 3: “Whenever possible, go outside the expertise of the enemy.” Look for ways to increase insecurity, anxiety and uncertainty.
Demokrate maak gebruik van wapenbeheer teen massaskietery, identiteitspolitiek asook rasse-, seks-en geslagspolitiek om die publiek te beheer.

Reël 5: “Ridicule is man’s most potent weapon.” There is no defense. It’s irrational. It’s infuriating. It also works as a key pressure point to force the enemy into concessions.
Die Demokrate lawaai tot satwordens toe oor Trump se pierewaaierkarakter, besigheidsverliese, veelvoudige huwelike en kinders.

Reël 6: “A good tactic is one your people enjoy.” They’ll keep doing it without urging and come back to do more. They’re doing their thing, and will even suggest better ones.
Senior Demokratiese leiers roep voortdurend hul volgelinge op vir geweld teen die Republikeine deur hul gewapende vleuel Antifa te gebruik om geweld by protesbyeenkomste aan te hits.

Reël 7: “A tactic that drags on too long becomes a drag.” Don’t become old news.
Die fokus word kort-kort verskuif: van die koalisie met Rusland, na regsverydeling, na vals aantygings betreffende die integriteit van Trump se hooggeregshofkandidaat, regter Kavanaugh, tot sameswering met die Oekraïene met die doel om die 2020-verkiesing te ontwrig, ensovoorts, ensovoorts.

Reël 8: “Keep the pressure on. Never let up.” Keep trying new things to keep the opposition off balance. As the opposition masters one approach, hit them from the flank with something new.
Die Demokrate poog sonder ophou om die president te ontspoor deur middel van weerstand, rassisme en resessie (“The three R’s – Resistance, Racism, Recession”).

Reël 9: “The threat is usually more terrifying than the thing itself.”

Reël 10: “The major premise for tactics is the development of operations that will maintain a constant pressure upon the opposition.” It is this unceasing pressure that results in the reactions from the opposition that are essential for the success of the campaign.
Die Mueller-ondersoek en dreigemente van vervolging ontwikkel nou in ʼn geheime boendoehof-vervolgingsondersoek.

Reël 11: “If you push a negative hard enough, it will push through and become a positive.” Violence from the other side can win the public to your side because the public sympathizes with the underdog.
Etikette van witbevoorregting, wit heerskappy, Nazisme en diktatorskap word voortdurend om Trump en sy ondersteuners se nekke gehang.

Reël 12: The price of a successful attack is a constructive alternative.” Never let the enemy score points because you’re caught without a solution to the problem.
Die groentjie-kongresvroue Alexandria Ocasio-Cortez, Ayanna Pressly, Ilhan Omar en Rashida Tlaib werk hard daaraan om almal te bekeer tot demokratiese sosialisme, die groen nuwe ooreenkoms, en klimaatverandering-histerie.

Reël 13: “Pick the target, freeze it, personalize it, and polarize it.” Cut off the support network and isolate the target from sympathy. Go after people and not institutions; people hurt faster than institutions.

Die Demokrate se arsenaal van vals ondersoeke en aantygings het tot dusver ʼn diepgaande negatiewe impak op Trump gehad – nie slegs nasionaal nie, maar ook wêreldwyd. Volgehoue bemoeiing van Barack Obama, John Kerry, Nancy Pelosi en Chuck Schumer in buitelandse beleidsake teenoor Israel, Rusland, Sirië, die Oekraïne, die NoordAtlantiese Verdragsorganisasie(NAVO) vind steeds plaas.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Rhoda Kadalie

Die rubriekskrywer Rhoda Kadalie is afgetree en woon tans in die VSA. Sy is die voormalige direkteur van Impumelelo Sosiale Innovasiesentrum, menseregtekommissaris en akademikus.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Hendrik ferreira ·

Ek verstaan dit is die media wat die mense beïnvloed, die vsa het die laagste werkloosheid in jare die ekonomie groei,en my mening is Presedent Trump is die beste leier in die wêreld op hierdie stadium en hy besig om nie net sy land maar die wêreld in n beter rigting in te stuur.Die beleid oor immigrasie en muslim ekstremiste is uitstekend en in ag geneem dat hy eers obama se gemors moes regmaak vaar hy baie goed ten spyte van die aanvalle deur die media en veral die clintons.

VanAfrika ·

Mag ons Liewe Heer Sy hand oor President Trump hou en in Sy guns weer laat gekies word as die volgende Amerikaanse President, sodoende kan ons weer Kersfees vier en nie meer in “happy holidays” hoef vas te kyk of te hoor nie. “You go Mr Trump, you have God on your side, stay humble in His presence and in the same time concur your country”

ALLAN ·

Dankie Rhoda, jou artikels is altyd uitstekend, goed nagevors, konsentreer op die kern van die probleem en is altyd aangenaam om te lees

Stephan de S ·

Dankie Rdoda dis altyd goed om nuus uit n eerstehandse bron wat in VSA self woon , te bekom.Ek hou jou artikels dop om sin te maak uit die nuus v daardie land. Dankie vir jou vasbyt en voortgang.

Johann ·

Goeie artikel … wat net in Maroela Media sal verskyn en verseker nie aanvaarbaar sal wees by Netwerk24 nie, want dit vertel die waarheid soos dit is. Dit is wat joernalistiek is.

Hennie ·

Uitstekende artikkel. Trump is Trump sy spoed gaan nie maklik gebreek word nie. Daar is aan die Dem kant niemand wat hom kan klop nie. Brood en botter sake gaan hom nog vier jaar gee. Ek dink die Amerikaners is slim genoeg om deur die Demokrate se agenda te sien

Klara ·

Ou Hilary is net ‘n bitterbek suurknol. Sy voel verwerp. Haar man het rondgeslaap, die land het haar nie gekies nie en insiggewende skryftalent ontwyk haar. Shame!!!

Judge Dredd ·

Dankie Rhoda – goeie artikel – veral omdat jy na Hunter Biden se aktiwiteite noem. Ek het paar weke terug genoem dat die Demokrate se nuutste aantuigings teen Trump maar net is om Joe Biden/Demokrate se eie sondes te probeer verbloem.

Human ·

Rhoda, jy en jou Breibart skoonseun het die verkeerde perd opgesaal en `n Mnr Tantrum Trump (okay Sweis) is oppad uit. Jy moet die Amerikaners oortuig om Tantrum se piere waaierpersoonlikheid(jou woorde) te aanvaar en nie ons gewone Suid-Afrikaners wat geen invloed in die VSA het. Jy maak `n klomp stellings en aannames(jealousy make you nasty) oor Hillary en die Bidens, wat die indruk laat, dat jy probeur aanklank vind het by die “establishment” en hulle jou toe die koue skouer gegee het.

Tresia ·

Human ek het nou amper van my stoel afgeval toe n lagbui my oorval oor die twak en absolute snert wat jy kwyt raak. Het jy niks anders om te se nie,EINTLIK moes ek jou seker net ge-ignoreer het , want jou stellings verdien geen kommentaar nie

JWC ·

Dankie Rhoda – jy kom altyd met die waarheid in bewese vorm na vore! Nie soos die oorgrote “fake” media (baie lewendig in die RSA ook!) met snert vir die “sheeple” nie! Ek het die hoogste respek vir jou!

Gert ·

Wonderlik om ‘n artikel te lees wat gebalanseerd en logies is en nie die linkse agenda najaag nie!

Jacobus ·

Ten eerstens, as mens kyk na die Demokrate in Amerika kan mens net jou kop skut.

Op die internet kan gesien word hoe hulle, hulle taktiek soos in die boek ” Rules for radicals” gebruik teen Trump ondersteuners.

‘n Konserwatiewe Amerikaanse kommentator het opgemerk dat die Republikeine en ander konserwatiewe stemmers te ordentlik is om die selfde taktiek te gebruik as die linkses. Dit het ook uitgekom wat die linkses, mense soos Antifa betaal om teen Trump te protesteer. Die vraag was al lankal gevra in Amerika hoe sommige van die protesteerders ‘n lewe maak as hulle letterlik by elke demonstrasie is en toe kom dit uit dat hulle deur mense soos Soros en sy “Open Foundation” betaal word.

Moody’s het ‘n verslag uitgebring wat wys dat Trump die 2020 verkiesing gaan wen en as hulle voorspelling waar gaan word, met ‘n groot meerderheid as die Rublikeine in hulle massa na die stembus gaan en die Demokrate ‘n swak kanidaat kies om teen Trump te staan.

Die gematigde Demokratiese kieser wil nie geassosieer word met die radikale linkse deel van die Demokratiese party nie en gaan of nie stem nie of gaan in protes vir Trump stem.

Ten tweede, die ANC, EFF en BLF het ook Saul Alinsky se boek “Rules for Radicals” gelees en gebruik dit teen die Afrikaners.

Dalk moet ons die boek ook lees met aandag om dit te gebruik of om die effek teen te werk.

Jerry ·

Indien dit nie was dat President Donald Trump van Amerika al die dinges se dinges op homself gebring het met sy manier van dinge doen nie, dan sou ek goed kon glo dat sy opponente al die krediet verdien wat deur Rhoda aan hulle toegedig word. Gee eerder vir die blonde fopkuif wat terloops die meester is van fopnuus en van die toepassing van die 13 reels al die krediet, want “lets face it” dit kom niemand anders toe nie, beslis ook nie vir Hillary Clinton nie. Donald Trump het niemand nodig om hom te help om in sy eie swaard te val nie, hy doen dit sommer self!

Delarey ·

Die Republikeine in Amerika is aan die voorpunt van die kultuurstryd in die Weste.

Dit moes iemand soos Donald Trump wees wat die goddelose Demokrate ontbloot. Hy is ‘n medoénlose straatvegter, maar besit die hele spektrum van werklike politieke kwessies en is uiters effektief as leier. Dit laat die Demokrate met geen alternatief as om al meer links en onderduims op te tree nie.

Dit ontbloot hulle vir wie hulle is en stadig maar seker sal die publiek besef dat die demokrate se werklike doel die vernieting van die Westerse samelewing en vryheid soos wat ons dit ken, is.

Dankie vir uitstekende artikel Rhoda. Ons het jou nodig hier in SA, maar dalk is jou invloed daar in die VSA vir ons meer werd.

Idn ·

Dankie Rhoda en Maroelamedia vir ‘n uitstekende artikel.
So lekker om te sien hoe ‘n gelowige Donald Trump die wereldleiers stil praat en selfs teenoor hulle almal nie skaam is om te se: “We are one Nation under one God”.
Mooi om te sien dat die magtigste leier in die wereld nie skaam is oor sy beginsels nie. Ook dat hy sy kiesers dien en nie homself nie!
Voor elke belangrike kabinetsvergadering vra hy ‘n medegelowige Christen om te open met gebed.
Voorwaar ‘n geseende man met gelowige ondersteuners, familie en vriende.

Trompie ·

Dankie Jerry, maak nie saak watter Jerry jy is nie, jy is die regte Jerry! Ek wil so graag lank genoeg lewe om die narsistiese, bullebak en anargis se val te sien en te hoor.

Judge Dredd ·

Ja, Julle libs en linkses word deur jul emosies regeer.

Martiens ·

Ou Trompie, jy gaan lank wag. Die kanse is groter dat Hillary agter tralies gaan beland.

Pierewiet ·

Niks is so kortsugtig soos n linkse nie. En ou hillary ek sou eerder stil gebly het as ek jy was. Netnou kry jy ook n sigaar in n ongemaklike plek.

Nahknomaar ·

…ek sal my skoene moet oopsny voor sodat daar genoeg plek is , soos wat my tone spasie nodig het van al die omkrul van lekker kry…

Ronnie ·

Verstommende artikel vertaal van Breitbart na Engels na Afrikaans, Nie die moeite werd om “conspiracy theories” te weerlé met feite nie. So ek het weinig kommentaar om te lewer. Net een vraag miskien: Het jy nou-al kennis geneem van die feit dat Steve Bannon in soveel woorde erken dat die “Deep State” nie bestaan nie? Hy het die teorie self geskep. Sy volgelinge en lesers het dit gesluk soos die spreekwoordelike “hook, line and sinker”. Verder net dit – ek sien ‘n oranje oorpak in Trump se toekoms.

Human ·

Ronnie die Engelse noem dit die “weakest link” ongelukkig is daar in die RSA baie min wat dit verstaan en dan blameer ons die darkies!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.