Lojaliteit is nie gelyk aan blinde gedienstigheid nie

Prres, Cyril Ramaphosa (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Volgens berigte in die media het president Cyril Ramaphosa oor die naweek in Durban gesê dat Suid-Afrikaners “boodskappers” moet wees en die ANC-regering se goeie storie vertel in plaas daarvan om die land te “sleg te praat”.

Volgens Ramaphosa word die model vir hierdie vorm van patriotisme in China toegepas. Weer die media se Engelse aanhaling: “Almal moet ʼn boodskapper wees. Ons moet soos China wees. In China is byna almal ʼn boodskapper – elke Chinees is ʼn boodskapper vir hul land, hulle praat nooit oor hul eie land nie. Moet nooit jou land slegpraat nie,” het hy gesê.

Dalk het die president die kat aan die stert beet oor China.

ʼn Voormalige hoë kommissaris vir menseregte van die Verenigde Nasies (VN) het haar verslag oor Xinjiang, ʼn streek in China, vrygestel en tot die gevolgtrekking gekom dat die misbruik in die streek “misdade teen die mensdom kan uitmaak”. Die groep Human Rights Watch (HRW) skryf dat onderdrukking al meer voorkom in China. HRW verwys dan ook onder andere na die Covid-19-tydperk waar daar in sommige gevalle doringdraad, metaalstawe en groot versperrings gebruik is deur amptenare om te verhoed dat mense hul huise verlaat.

Amnestie Internasionaal is dalk meer krities teenoor China en sê die Chinese regering het voortgegaan om kritiek op sy beleid en optrede en bespreking van onderwerpe wat as sensitief beskou word te smoor deur toenemend deurdringende aanlyn sensuur. Kritici van die regering, menseregte aktiviste, pro-demokrasie-aktiviste en godsdienstige leiers is onder diegene wat aan arbitrêre arrestasie en aanhouding onderwerp is, volgens Amnestie Internasionaal.

Sistematiese onderdrukking van etniese minderhede in Xinjiang en Tibet gaan voort. Joernaliste, uitsaaiers en boekuitgewers was onder diegene wat ingevolge die Nasionale Veiligheidswetgewing en ander onderdrukkende wetgewing vervolg en gevange gehou is, terwyl burgerlike organisasies in Hongkong en in die buiteland kriminele aanklagte of teistering vir wettige aktiwiteite in die gesig gestaar het.

Dit is dalk ʼn onheilspellende verwysing van president Ramaphosa na China, want Chinese word nie toegelaat om oor hulle land te praat nie – beslis nie om krities te wees nie. Is dit Suid-Afrika se voorland as dit die president se versugting is?

As ons Ramaphosa dan korrek verstaan, moet ons dalk die kragkrisis goedpraat deur eerder te verwys dat Suid-Afrika so gelukkig is dat ons slegs fase ses-beurtkrag het en nie fase agt nie. Suid-Afrikaners is ook gelukkig dat ons slegs 68 moorde ʼn dag het en nie meer nie. Ons kon die eerste plek beklee het as die land met die meeste moorde, maar gelukkig is Jamaika ons een voor. Suid-Afrika is dus tweede. Dit is inderdaad goeie nuus.

Dan is Suid-Afrika nie op die top 20 lande van die 137 lande in die wêreld wat gelukkigheid aanbetref op die World Happiness Index nie. Ons is ook nie in die twintig slegste lande nie. Ons is darem in die 85ste plek – voor ons op die indeks is die burgers van Algerië (81) Viëtnam (65) en die Russiese Federasie (70). Dit is seker goeie nuus dat die Russe gelukkiger is as ons!

ʼn Paar jaar gelede het die teoloog, wyle dr. Nico Smit onder andere geskryf: “Ons het geen keuse nie as om lojale Suid-Afrikaners te word en te vergeet van ons minderheidsregte, ons taal en kultuur, ons aansprake op die beëindiging van regstellende aksie en die herinstelling van die doodstraf.”

Dit is min of meer die strekking van Ramaphosa se verwagting. Vergeet die geneigdheid tot kritiek en strewe eerder daarna om lojale kaders van die ANC en napraters van regeringsbeleid te wees.

Ons wil glo die meerderheid Afrikaners en Suid-Afrikaners lojaal is aan Suid-Afrika. Lojaliteit aan Suid-Afrika en lojaliteit aan die ANC en regeringsbeleid is wêrelde van mekaar geskei.

Daar kan nie sprake wees van dislojaliteit aan Suid-Afrika as die regerende party gekritiseer word oor swak dienslewering nie. Net so kan daar nie sprake wees van dislojaliteit aan Suid-Afrika as Suid-Afrikaners bepaalde grondwetlike regte opeis nie.

Dalk moet daar anders na die saak gekyk word. Miskien is iemand wat wel ʼn lojale Suid-Afrikaner is tog ʼn persoon wat in ʼn suksesvolle en veilige Suid-Afrika kan woon en werk. ʼn Lojale Suid-Afrikaner is iemand wat sy of haar kundigheid aanwend tot voordeel van Suid-Afrika en die geleentheid kan kry om dit te doen en nie as gevolg van regstellende aksie ontneem word daarvan nie. ʼn Lojale Suid-Afrikaner is iemand wat onderrig in sy taal ontvang en in sy taal kan skryf en praat oor die land en sy mense en nie sy taalregte ontneem word nie. ʼn Lojale Suid-Afrikaner is iemand wat konstruktief krities wil meehelp om dienslewering te bewerkstellig. ʼn Lojale Suid-Afrikaner is iemand wat inspring en slaggate regmaak en waterpompe herstel in gebroke munisipaliteite.

Kritiek teenoor die regering en op regeringsbeleid is gesonde beginsels van enige demokrasie en het niks met dislojaliteit te make nie. As daar na swart en wit kommentators geluister word, is die regering die probleem. Slegte nuus is nie gewone Suid-Afrikaners se maaksel nie. Ondeurdagte beleidsraamwerke en die verknogtheid aan uitgediende ideologieë wat deur onbevoegde en oorbetaalde kaders uitgevoer moet word, is die teelaarde vir slegte nuus.

Slegte nuus het sy oorsprong in staatskaping en ongebreidelde korrupsie. Slegte nuus floreer as staatsentiteite nie die mas opkom nie. Slegte nuus word gegenereer deur politici wat slegs na hulle eie selfsug en belang kyk. Dit is inderdaad slegte nuus as die prioriteit die beskerming van die einste politici is en gewone Suid-Afrikaners vermoor en beroof word en aan eie genade oorgelaat word.

Goeie nuus is as ons vir een keer in die donker om ons ʼn Wêreldbeker kan wen en dat dit ons verenig. Ons ervaring is dat die meeste Afrikaners met oorgawe en entoesiasme lojaal is aan Suid-Afrika. Ramaphosa se skeefgetrekte definisie van lojaliteit is egter misplaas en mag nie verwar word met gedienstigheid nie.

Mark Twain het immers gesê: “Wees altyd lojaal aan jou land, wees egter lojaal aan die regering wanneer dit verdien word.”

Moet daarom nie verwag dat Suid-Afrikaners boodskappers van die ANC se goeie nuus-storie moet wees nie – want daar is eenvoudig nie goeie nuus nie!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jan Bosman

Jan Bosman is Hoofsekretaris van die Afrikanerbond.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Ore ·

Maar mnr die presedent, in elke toespraak kom die woord “apartheid” op. Hoe wil u hê die gewone landsburger moet positief wees teenoor ‘n korrupte regering? In China is daar wet en orde, hier nie. U minister van polisie word om politieke gewin aangehou in sy pos maar die meeste moorde word in KZN gepleeg. U lei nie die land nie, u veg om oorlewing. Indien u die sosialistiese benadering wil volg, sorg dat u huis in orde is want u en u kaders vernietig dit wat nog oor is.

minnie muis ·

ek is trots suid afrikaner , want die land behoort aan die mense nie die skaamtelose vet afrika mentalitieit van hebsug want onder sekere afikane voorkom nie en die naam anc het nie

Manie ·

Julle is vandag nog net so vertrouenswaardig soos in Dingaan se tyd.

Fontein Tannie ·

Geen mens kan die lof sing oor alles wat induie stort hier nie! Stil bly is ook nie n opsie wanneer dinge so gaan nie! Hoe wil die president dan nou? Moet ons dan dinge kwyt raak soos “ooooo dis wonderlike beurtkrag! Hoe lekker sit ek nou hier sonder kos en drink water in die donker en sien uit na die moontlikheid van n inbraak of aanval! Wonderlike land en regering!” Nee man, CR word wakker, jou koffie is al blou van die koue!!!

kaplyn ·

China bedryf kommunisme, daarom as ‘n Chinees dit waag om iets verkeerd van die regering of land te se, dan word hy/sy inhegnis geneem en lewenslank in ‘n strafkamp opgesluit. Ramaposa is ook ‘n kommunis en dit is wat hy ingedagte het vir SA. Dit gaan my verstand te bowe dat die broederbond dit nie verstaan het voor 1994 nie. Maar hulle uitgangspunt was mos, “kommunisme is dood”. Daarom is SA by KODESA aan die kommuniste oorhandig. KODESA = Kits Oorgawe Deur Eertydse Super Afrikaners. Die Super Afrikaners was die eertydse broederbond.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.