Maak staat op onbetwisbare feite, redelikheid en logika

dr-leopold-scholtz-kruispaaie

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

Tussen die boeke op my rakke is ’n aantal wat ek besonder hoog ag. Fynproewers sal die titels dadelik herken: Trouwe Afrikaners, Tuiste in Eie Taal, ‘Ons gaan ’n Taal Maak’, Penvegter: Piet Cillié van Die Burger, Van Wyk Louw: ’n Lewensverhaal.

Vir kenners sal die rede duidelik wees: Al dié boeke is deur professor Jaap Steyn, wat onlangs oorlede is, geskryf.

Steyn se ontydige dood – hy was “slegs” 82 jaar oud – laat ’n reusagtige leemte in die intellektuele stryd vir Afrikaans. Met ander woorde, die stryd wat jy met die grys selle tussen jou ore voer (in plaas daarvan dat dit deur woede en emosie oorheers word), asook deur feite en logika (in plaas van deur bloed en slagspreuke).

As daar één mens was wat op intellektuele vlak gesorg het vir ’n ongelooflike skat aan argumente vir die oorlewing van Afrikaans en die noodsaak vir die regverdige behandeling van die taal, was dit Jaap Steyn.

Terloops: Steyn was ’n uiters nederige mens wat so op die oog af in die omgang effens onseker oorgekom het. In gesprekke het hy jou nooit met die krag van sy persoonlikheid probeer oorheers nie; hy het dit met die krag van sy redenasies sommer so vanself reggekry.

Dit het hy met sy droë humor gepaard laat gaan. Omdat hy nege jaar ouer as ek is, het ek hom op ’n keer in eerbied as “oom Jaap” aangespreek, waarop hy my, met ewe veel eerbied, met “oom Leopold” geantwoord het.

Sy werk is deur ’n bedaarde en nugtere aanpak van die problematiek gekenmerk, asook deur ’n erkenning dat die wit Afrikaners – agterna gesien – ’n fout gemaak het om die taal as hul eksklusiewe eiendom te annekseer en nie in te sien dat die bruin mense op ewe veel eienaarskap van Afrikaans aanspraak kan maak nie.

Maar nou ja, Steyn het dit nie met verwyte gepaard laat gaan nie; dit was nie wie hy was nie.

Jaap Steyn is net ’n paar dae voor ’n berig wat in die Rapport verskyn het oorlede: Heelparty klasse aan die Universiteit Stellenbosch sal voortaan slegs in Engels aangebied word. Dit volgens die studenteorganisasie StudentePlein, wat amptelik by wyse van ’n prokureursbrief by professor Wim de Villiers, huidige rektor, daaroor gekla het.

Wat op Stellenbosch aan die gebeur is, is skandalig.

As ’n mens die proses by ander gewese Afrikaanse (UP, RAU, UOVS) of tweetalige (UWK, UPE) universiteite bekyk, en jy meet dit aan die oeuvre wat Jaap Steyn nagelaat het, bevestig dit een van my vroeëre waarnemings. Sulke ontwikkelinge gaan met twee kantelpunte gepaard.

Die eerste kantelpunt is wanneer die eentalige Afrikaanse karakter van die instelling deur tweetaligheid vervang word. Dit gebeur met die ekskuus dat Afrikaanse eentaligheid mense van ander tale uitsluit, en dit terwyl die etos van die nuwe Suid-Afrika juis inklusiwiteit verg, anders as die ou apartheidsbestel.

Die probleem is dat UWK en UPE goeie voorbeelde is van universiteite waar tweetaligheid nie goed gewerk het nie. Die oomblik toe dit praktiese probleme gee (en dit was dikwels die geval), was die resultaat dat daar dan maar na Engels gegryp is.

Dis geen wonder nie dat sowel UWK as UPE die eerstes was om eentalig Engels te word.

Pretoria en UOVS (deesdae UV) se tweetalige fase het inderdaad nie juis lank geduur nie. As ’n mens terugkyk, was dit eenvoudig ’n oorgangsfase na Engels-eentaligheid.

Stellenbosch was weens sy intense verbondenheid met die historiese stryd vir Afrikaans ’n hoër hekkie om te oorwin. Professor Chris Brink het dus begin om die klimaat voor te berei deur Engels as onderrigtaal naas Afrikaans moontlik te maak, ’n rigting wat deur sy opvolger, wyle professor Russel Botman, voortgesit is.

Nou beweeg die pendule onder Wim de Villiers baie duidelik na die volgende kantelpunt, waar slegs een taal – Engels – nog gebruik gaan word.

Die senaat het juis al vroeër vanjaar besluit dat modules in die eerste semester slegs in Engels aangebied mag word waar dosente die vertaling (in ’n tyd waar baie klastyd weens Covid-19 verlore gegaan het) te “tydrowend” vind. Formeel was dit slegs op die eerste semester van toepassing, maar volgens StudentePlein blyk dit nou dat talle klasse in die tweede semester steeds net in Engels plaasvind.

Dit dui daarop dat die universiteit die tweede kantelpunt nader, of dalk reeds verbygesteek het.

Wat hou die toekoms in? Wel, een ding is duidelik: As Wim de Villiers ’n vinger lig om Afrikaans op sy universiteit te beveilig, trek ek albei oorblywende hare op my kop uit. Maak nie saak wat hy sê of beloof nie; ek kyk na sy dade. Woorde wek, maar dade trek, sê die spreekwoord.

Met Stellenbosch wat klaarblyklik onherroeplik verengels, bly slegs twee Afrikaanse kampusse in die land oor. Dit is die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) en Akademia, die privaat universiteit wat deur Solidariteit opgerig is.

Die NWU is amptelik ook tweetalig, maar daar is die tweetaligheid van ’n heel ander aard as by die ander. Dié universiteit het aparte kampusse waar Afrikaans en Engels aangebied word.

Dit beteken dat die klasse wat op Potchefstroom aangebied word, almal eentalig Afrikaans is. Die verengelsingsdruk is dus aansienlik minder as wat by die ander gewese Afrikaanse kampusse ervaar is.

Dus het ek hoop vir Afrikaans op Potch. Dit is ook waarom ek ’n paar jaar gelede my posisie as buitengewone professor op Stellenbosch prysgegee en dit na Potch verskuif het; een van die beste dinge wat ek ooit gedoen het.

Intussen wys Jaap Steyn steeds vir ons die rigting aan waarin ons verder moet stap: Moenie gil en skree nie, maak staat op onbetwisbare feite, redelikheid en logika.

Op mense soos Wim de Villiers (of die Afrikaans-hater Blade Nzimande as minister van hoër onderwys, wetenskap en tegnologie) sal dit op kort termyn waarskynlik nie veel indruk maak nie. Maar as ons vasbeslote op dié manier voortgaan, sal die waarheid uiteindelik seëvier.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Groen Ghoen ·

Dankie vir die objektiewe, gebalanseerde analise van ‘n komplekse situasie – met vele waaroms. Wat egter opval is die gelatenheid waarmee die meerderheid Afrikaanstaliges bloot die knie buig en anderkant toe kyk (toekyk?) terwyl hul taal en kultuur verkrag word.

Vrijburger ·

“Maak staat op onbetwisbare feite, redelikheid en logika” maar as jy nie kan nie, ignoreer die onderwerp. Dit is al amper ‘n jaar na die Biden se inhuldeging en steeds geen ‘intelektuele, in diepte’ artikel of evalueering van die Biden-administrasie se reeks mislukkings nie.

Rupert Ashford ·

Hallo Leopold, jou bydrae is een van die wat mens elke maand na uitsien selfs al is dit soms net om te debatteer…:-) Heeltemal reg oor die stryd met die grysselle, maar met baie praat kom mens ook nerens as die ander kant vuil baklei nie – een of ander tyd moet jy van jou sitvlak af opstaan en jou hande uitsteek en dit raak soms in die omgewing waar die ander kant gaan begin rumoer dat jy “nasty” is of “onverfynd” of watookal, want die linkse kant van die politiek het die kuns vervolmaak om onder die dekmantel van “beskaafdheid” soos rysmiere af te breek terwyl hulle die behoudende kant gyselaar hou met “beskaafdheid” en “ordentlikheid”. Hulle het immers lankal gevind dat die behoudende kant se grootste swakpunt hulle voortdurende soeke is daarna om “ordentlik” te lyk.

Rupert Ashford ·

Dit is verblydend om te lees u het u mede-professorskap op Stellenbosch prysgegee en dit weggeneem (dit is aksie, nie net praat en grysstof nie – so onverfynd). Afrikaners sal alles wat vir hierdie instansies prestige en geld gee moet wegneem – alle beurse, leerstoele, institute, skenkings sal weggeneem moet word, ook deur die families van mense wat lankal nie meer daar is om dit self te doen nie. En alumni sal aktief teen hierdie instansies moet begin optree en hulle finansieel boikot.

annie ·

Vér van jou haard is na aan jou skade… Miskien moet Leopold eerder van ‘julle’ praat wat bewaring betref. Nes ‘n man in ‘n veraf land som hy vir die soldate in sy eens tuisland netjies op oor hoe die gevegsfront daar uitsien en watter skote reeds geskiet is, wie gesneuwel het en… oppas, daar vuur ‘n kannon! Koes! En die brief, per spoedpos, is op die gouste vandag eers deur die SA-posdiens afgelewer…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.