Migrasie – ʼn wêreldwye verskynsel met diepsnydende implikasies

ʼn Kunsinstallasie wat migrante uitbeeld, is verlede jaar by die ingang van die VN-migrasiekonferensie in Marrakesh, Marokko, geplaas. (Foto: Mosa’ab Elshamy, AP)

Deur Prof. Theo Neethling

Die verskynsel van transnasionale migrasie bly maar ʼn politieke turksvy wat groot uitdagings aan politici in suksesvolle ekonomieë stel en waaroor daar dikwels ernstige politieke verskille bestaan. Dit gaan in 2019 die internasionale politiek opnuut in talle opsigte raak en selfs konflik veroorsaak.

In die VSA was verskille oor migrasie juis die faktor wat pres. Donald Trump daartoe gebring het om die federale regering tot stilstand te bring. Dit volg natuurlik op sy onlangse verwysings na ʼn “inval” uit Honduras via Meksiko toe duisende mense uit Honduras deur Meksiko beweeg het na die VSA as eindbestemming. Die migrante uit Honduras probeer ontsnap van ʼn bestaan waar misdaad, armoede, werkloosheid en korrupsie hoogty vier en almal hoop op ʼn beter toekoms in die VSA.

Voordat daar verder gegaan word, moet die konsep van vlugtelinge net kortliks hier ingebring word. Migrante (immigrante en emigrante) word grootliks gemotiveer deur beter werkgeleenthede en opvoeding in ʼn ander land, of selfs aansluiting by familie, en hulle kan enige tyd na hul land van herkoms terugkeer. Vlugtelinge wat migreer word dikwels deur dieselfde dryfkragte gemotiveer, maar vlug van gewapende konflik, vervolging en moontlike lewensverlies. ʼn Goeie voorbeeld is die talle vlugtelinge wat van die konflikgeteisterde Sirië na Europese lande beweeg het.

In die globale konteks is die verskynsel van migrasie ʼn geruime tyd reeds van groot belang. Die Amerikaanse regering het etlike jare gelede reeds in sy Global Trends 2030 migrasie uitgelig as een van die sogenaamde tektoniese verskuiwings wat die dinamika van die internasionale gemeenskap onderlê. Miljoene mense migreer jaarliks en in talle gevalle is dit wettig, maar miljoene mense migreer ook onwettig, of word aangedryf deur konflikte en lewensverlies.

Wat in die afgelope dekades egter ook opgeval het, is dat migrasie na veral Westerse lande saamval met verouderende bevolkings en arbeidsmagte. Omdat die betrokke lande slegs hul ekonomiese groeikoerse kan handhaaf met ʼn invloei van kundige jeugdiges of werkers vanuit ander lande, word daar bestuurde, omvangryke migrasieprosesse in regeringsverband bedryf. Dit het veral betrekking op Wes-Europa, die VSA, asook ʼn land soos Australië of Kanada. In Europa is Duitsland veral ʼn goeie voorbeeld van ʼn land waar migrante verwelkom is. Die migrasie wat hier ter sprake is, word deur wettige prosesse gereguleer, ofskoon heelwat onwettige migrante ook in die genoemde lande probeer vestig. Die gevolg is dat die demografie van etlike Westerse lande tans fundamenteel anders begin lyk as ʼn paar dekades gelede en steeds gaan verander.

Suid-Afrikaners wat in Australië of Nieu Seeland besoek afgelê het, sal ook weet dat Oosterlinge ʼn merkbare teenwoordigheid in veral die stede het. Hulle is sterk gevestig in die kleinhandel en behartig dikwels bediening in kosplekke en restaurante. Die punt wat hier ter sprake is, is doodgewoon dat oorgrensverskuiwings ʼn hedendaagse, wêreldwye verskynsel is. Suid-Afrika maak ook deel uit van die groter prentjie van internasionale migrasie en hervestiging. Ons sien dit in ʼn mikroverband in Suid-Afrika, byvoorbeeld waar mense uit die Oos-Kaap na die Wes-Kaap met sy suksesvolle ekonomie migreer.

Tog is migrasie na Suid-Afrika ook ʼn klein bietjie anders as in die Westerse wêreld waar verouderende bevolkings ʼn groot faktor is. In die Suid-Afrikaanse konteks het ons in die afgelope twee dekades gesien hoe etlike miljoene mense ten noorde van ons land hulle hier kom vestig het en die redes hou regstreeks verband met gebrekkige ekonomiese groei. Burgers uit veral Zimbabwe en Mosambiek het hulle in groot getalle hier kom vestig omdat die ekonomieë in daardie lande eenvoudig agteruitgegaan het en mense basies gedwing was om ʼn ander heenkome te soek. Dit het Aaron Motsoaledi, die minister van gesondheid, onlangs tot ʼn uitspraak gebring dat migrante tans groot druk op ons openbare gesondheidstelsel plaas.

In Europa is die kwessie van migrasie uit veral Afrikastate en Sirië ʼn politieke knelpunt. Dit wissel van vlugtelinge tot wettige migrante en die beweegredes wissel van geval tot geval. Statistieke dui daarop dat 21,6 miljoen mense van buite die EU in Januarie 2017 in EU-state gevestig was. Daarby het 400 000 migrante uit Afrika suid van die Sahara na beraming tussen 2010 en 2016 na die VSA beweeg – meesal om te ontkom aan konflikte in hul lande van herkoms. Tog het heelwat migrante uit veral Senegal, Etiopië, Ghana en Nigerië ook na die VSA beweeg wat daarop dui dat opgeleide Afrikane in relatief stabiele Afrikastate dikwels gemotiveer word om te migreer met gunstiger geleenthede en omstandighede in gedagte.

Soos in die VSA, het die migrasiekwessie reeds tot ernstige politieke verskille in Europa gelei. In Europa het die Mediterreense lande, waaronder spesifiek Spanje, Griekeland en Italië, swaar gedra aan die ekonomiese las van migrante, omdat hul ligging ten opsigte van Afrika veroorsaak het dat baie Afrikane, asook vlugtelinge via Turkye, Europa daar binnegegaan het. Die politieke verskille in Europa het duidelik gesentreer rondom die relatief arm Europese “frontliniestate” wat die grootste las moet dra, teenoor die ryker noordelike “teikenstate” wat in ʼn beter posisie was om keuses te maak oor innames van migrante en vlugtelinge. Duitsland het byvoorbeeld in die afgelope jare ongeveer 10 miljoen migrante onder kanselier Angela Merkel se regering uit veral Oos-Europa, asook Afrika en die Midde-Ooste geakkommodeer. Dit het weer die opkoms van anti-immigrasiebewegings in Duitsland asook lande soos Oostenryk aangewakker. Intussen het die sentraal en oostelike Europese state, waaronder Hongarye en Pole, ʼn sterk afwysende houding ingeneem teenoor die akkommodering van migrante vanuit veral die Midde-Ooste en Afrika.

Voorts is daar ʼn ander interessante aspek rondom migrasie wat ook aandag verdien. Dit het te make met die toenemende Chinese betrokkenheid in Afrikastate. Dit is algemeen bekend dat Chinese in etlike Afrikastate teenwoordig is en dit groei soos die Chinese voetspoor in Afrika uitbrei. Afrika kry dus ook ʼn aantal migrante.

Laastens moet daar nog een saak oor Afrika duidelik gemaak word. Die meerderheid vlugtelinge mik nie vir Europa of die VSA nie. Hulle migreer van een Afrikastaat na ʼn ander. ʼn Goeie voorbeeld is die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK). Duisende mense het vroeg in 2018 uit die DRK na Uganda gevlug en later was daar weer duisende wat na Angola gevlug het. Dit lei uiteraard tot verdere politieke en sosiale onstabiliteit en daarom gaan die Afrika-unie sy 2019-fokus plaas op die tema: Vlugtelinge, Terugkerendes en Interne Ontworteldes: die soeke na volhoubare oplossings vir gedwonge verplasings.

Dit is gewoonlik baie moeilik om migrasiepatrone te stuit. Die VSA het lank en hard probeer om die vloei van mense uit sentraal- en Suid-Amerika te stuit of te beheer. Eweso beïnvloed migrasie die politiek van Suid-Afrika met binnelandse migrasie en van buite die grense van ons land. Die enigste maatreël om dit effektief teen te werk, is die bevordering of skepping van stabiele regerings en volhoubare ontwikkeling vir die bevolkings in daardie state of streke van waar migrante beweeg.

Ten slotte moet ons ernstig kennis neem van die belangrikheid van migrasie as ʼn faktor wat die internasionale en plaaslike politiek beïnvloed en as ʼn saak wat toenemende eise aan politieke rolspelers stel. Daar kan geen twyfel wees dat dit in 2019 en die komende jare ʼn belangrike faktor in die politiek van Suid-Afrika, Afrika en die internasionale gemeenskap gaan wees nie.

  • Prof. Theo Neethling is hoof van die Departement Politieke Studie en Regeerkunde aan die Universiteit van die Vrystaat

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

17 Kommentare

jongste oudste gewildste
John

Die gras is altyd groener anderkant van die heining. Dis ‘n ope vraag of dit wat ons demokrasie noem, regtig werk en toegepas word. Die meeste migrante voer aan dat hul lande swak regerings het, maar die volk stem/forseer hulle nie uit nie. Dit wil egter voorkom of die glo paradys wat elders le, eerder die wortel voor in die pad is; om ryk te gaan word en dan geld huis toe te stuur of om ‘eendag’ skatryk terug te keer. Lojaliteit vir die nuwe land is zero… eie gewin dus, al is dit dmv misdadige aksies… Afrokane en Indiers… Lees meer »

Gert

Die argument wat altyd aangevoer word ten gunste van migrante, is dat hulle kundigheid bring en as belastingbetalers die ouer inheemse bevolking se staatsgesteunde dienste kan help betaal. Hierdie is ‘n absolute onwaar argument. Loshande die meeste van die “ekonomiese migrante” en vlugtelinge het geen bruikbare kundigheid of kwalifikasies nie, en meeste eindig op as ‘n las op die land se welsynstelsel, dus verswak hulle die land se ekonomiese posisie, nie verbeter soos die argument probeer voorgee nie. Soos John hierbo ook noem, eintlik behoort hierdie mense saam te werk in hulle eie land om wat ook al fout is… Lees meer »

Ben Opperman

Daar moet ‘n duidelike onderskeid getref word tussen bonafide migante en vlugtelingmigrante. Daar is orde en wanorde. Een voordelig en die ander nadelig. Die lys is lank…..

Jerry

Migrasie vir die huidige Afrikaner gaan beslis nie oor groener weivelde nie. Dit gaan oor werk en leef in n wetsgehoorsame en veilige omgewing, iets wat hulle doodeenvoudig nie meer beskore is in SA nie. Dit gaan daaroor dat hulle besef dat daar n totale aanslag is van diskriminasie teen die Afrikaner en uitsluiting op alle vlakke van die samelewing en dat hulle nie meer welkom is in hulle eie geboorteland nie, dit gaan daaroor dat die Afrikaner weer enige tyd kan terugkeer sodra die revolusioneres uiteindelik klaar geplunder het en mekaar uitgesorteer het. Dit gaan oor oorlewing, dit gaan… Lees meer »

Therese van Schalkwyk

Wanneer duisende mense poog om ‘n land se soewereine grens oor te steek, sonder die nodige dokumentasie en met herhaalde waarskuwings om dit nié te probeer nie, word dit ‘n inval genoem. ‘n Inval is die oorskryding van ‘n landsgrens. (HAT)
Waarom die skrywer aanhalingstekens gebruik , is dus nie duidelik nie?