Moenie fort bou nie, trek eerder laer

Die ossewalaer tydens die Slag van Bloedrivier (Foto: Wikipedia)

Ons moenie ons te veel steur aan wat sekere kommentators oor die idee van “laer trek” te sê het nie. Die idee van laer trek het ʼn gesegde geword waarmee iemand tegelykertyd daarvan beskuldig word dat hy oudmodies is en homself isoleer. In ons konteks is die gesegde natuurlik ʼn verwysing na die Voortrekkers wat hulle waens tydens die Groot Trek in ʼn sirkel getrek het om aanvalle af te weer.

Tog is die idee van laer trek ʼn heel natuurlike konsep. Dit is iets wat gemeenskappe inderdaad soms moet doen om die dinge wat vir hulle belangrik is te beskerm, sodat dit uitgebou kan word en aan die volgende geslag oorgedra kan word. Dit veronderstel dat ons nie geïsoleer is nie, maar juis as ʼn gemeenskap saamwerk.

Die negatiewe assosiasie met die idee van laer trek hou verband met die ideologiese vertrekpunte wat deur die moderne wêreld voorgeskryf word. Vandag gaan alles oor verandering. Om iets te verander word in beginsel as goed voorgehou. Byna elke politieke veldtog word deesdae gedryf met die slagspreuk: “Verandering!”. Leierskap word toenemend gemeet aan die mate waartoe die leier daarin kon slaag om dinge te verander. Kinders word ook grootgemaak met slagspreuke soos: “Gaan verander die wêreld!”.

Die probleem met hierdie soort ingesteldheid is dat dit glad nie ag slaan op die feit dat daar sekere dinge is wat juis nié verander moet word nie. Soms moet dinge inderdaad verander word, maar soms moet dinge beskerm word. As alles bloot oor verandering gaan, dan is die idee van ʼn laer inderdaad iets wat uit die weg geruim moet word. Die doel van die laer is immers om iets te beskerm.

Die idee van laer trek hou verband met ʼn tema waaroor daar oor die eeue heen in gesprekke oor militêre strategie debat gevoer is. Dit is die tema van fort bou. Ek wil aanvoer dat dit inderdaad gevaarlik is om forte te bou en dat die kritiek op die idee van laer trek veel eerder op die idee van fort bou van toepassing is. Dit is omdat laer trek en fort bou om belangrike redes van mekaar verskil. Maar laat ek verduidelik…

Historiese omstredenheid

So lank gelede as die Peloponnesiese oorlog tussen Athene en Sparta (432 tot 405 v.C.) was die kwessie van fort bou alreeds omstrede. Trouens, die tema van fort bou tydens dié oorlog is in die groot werke van antieke geskiedskrywers soos Thucydides en Plutarchus behandel.

In sy opskrywing van die geskiedenis van die Peloponnesiese oorlog verduidelik Thucydides dat daar ʼn geweldige nadeel daarin opgesluit is om te veel op forte staat te maak. Die persoon wat homself in ʼn fort opsluit, loop die risiko om homself te isoleer, terwyl die vyand die geleentheid kry om die omliggende omgewing te plunder.

‘n Geïdealiseerde rekonstruksie van die Akropolis, wat aanvanklik as ‘n fort aangewend is en later tot belangrike stad in Anrieke Griekeland ontwikkel het. (Foto: Wikipedia)

Een van die opspraakwekkende gebeure in hierdie oorlog was die lang mure wat die Atheners gebou het om hulle roete na die see te beskerm. Dit het egter die platteland kwesbaar gelaat, wat nuwe geleenthede vir die Spartane ontsluit het om Athene te verswak. Plutarchus sluit hierby aan wanneer hy sê dat die Spartane in hierdie oorlog belangrike ervaring opgedoen het oor hoe om teen bemuurde stede oorlog te voer.

Dit kom daarop neer dat dit oor die algemeen nie wys is om ʼn bemuurde stad aan te val “waar ʼn gewone vrou of kind” die sterkste kryger kan laat neerslaan nie. Daarteenoor het die Spartane geleer dat die Atheners agter hul sterk mure geïsoleer kan word, wat op die lang termyn in Sparta se guns getel het. Terugskouend kan die vraag dus gevra word of die Atheners se poging om hulleself met groot mure te verdedig nie eerder daartoe bygedra het om hulle meer kwesbaar te maak nie.

Hierdie tema is deur groot militêre denkers soos Sun Tzu, Carl von Clausewits, Antoine-Henri de Jomini en talle ander behandel. Die Renaissance-diplomaat Niccolò Machiavelli waarsku op sy unieke manier dat forte ʼn valse gevoel van sekerheid skep terwyl dit dikwels daartoe lei dat die bouer daarvan die inisiatief aan sy opponent oorhandig. Dit geld nie net vir fisiese forte nie, maar veral ook vir die spreekwoordelike forte wat ons graag in ons persoonlike lewens, by die werk en as kultuurgemeenskap bou om onsself te beskerm.

Ook in die Vryheidsoorlog

In Suid-Afrika het ons self ook hierdie les geleer. In die aanloop tot die Tweede Vryheidsoorlog het Paul Kruger opdrag gegee dat vier forte rondom Pretoria gebou moes word. Dit is die forte by Schanskop, Klapperkop, Wonderboompoort en Daspoortrand.

In die praktyk is hierdie forte nooit gebruik om Pretoria te verdedig nie, juis omdat die Boere besef het dat dit vir hulle beter in die veld sou wees waar hulle meer beweeglik en minder voorspelbaar kon optree.

Laer trek, eerder as fort bou

Dit bring ons by die tema van laer trek. Die onderliggende motief agter fort bou is dat daar iets is wat beskerm moet word, en dat dit die moeite werd is om tyd en hulpbronne daaraan te bestee.

Die probleem met fort bou is egter dat dit vas en permanent is en dat dit nie ruimte vir beweeglikheid laat nie. Daarteenoor is ʼn laer ʼn beweeglike konsep.

ʼn Laer mag dalk stil staan, maar dit het steeds wiele. Die vertrekpunt agter laer trek is juis dat dit ʼn gemeenskap op pad na ʼn bepaalde doelwit veronderstel, en dat hierdie gemeenskap soms eksterne bedreigings moet afweer. Indien die gemeenskap geen anker gehad het nie, en indien daar niks beskermingswaardig in die laer was nie, sou die ganse idee van laer trek onnodig wees.

Dr. Ernst Roets (Foto: Twitter)

Die doel van ʼn laer is egter om op die omstandighede van die tyd te reageer. Wanneer die stryd verby is, kan die laer weer opgebreek word en kan die gemeenskap eenvoudig voortgaan met die reis na sy bestemming. Die laer veronderstel verder dat dit maklik is om mense uit te stuur om buite die laer te gaan veg wanneer dit nodig is, maar ook om buite die laer te gaan verhoudings bou en samewerking te bevorder.

Ons moet dus verstaan dat daar ʼn sterk ideologiese onderbou is aan die idee dat laer trek een of ander verkrampte beginsel is. Dit veronderstel dat dit verkeerd is om die dinge wat vir ons belangrik is, te beskerm; dat ons moet verander ter wille van verandering. Laer trek het sy nadele, maar die wonder van laer trek – in teenstelling met fort bou – is dat die persoon wat laer trek, in staat is om te beskerm wat beskerm moet word, maar sonder om sy beweeglikheid te verloor.

Dit is soveel te meer waar vir die soort “laers” wat ons vandag moet trek. Ons hoef nie aan laer trek en reis as ʼn liniêre proses te dink waar jy óf laer trek, óf beweeg nie. In vandag se tyd en stryd kan ons aanhou met die reis na ons bestemming terwyl ons soms ook laer moet trek om te beskerm wat beskermingswaardig is.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst Roets

Dr. Ernst Roets is beleidshoof van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

skurweberg ·

Dr. Roets se uitgangspunt weerspreek geensins die weerbaarheidsbeginsel wat in die Opvoedkunde van ons kinders behoort toegepas te word nie. Fortbou impliseer vir my oorbeskerming van ons jeug en loop lynreg teen die weerbaarheidsbeginsel in wat katestrofiese gevolge vir ons jeug se leierspotensiaal het.

annie ·

‘n Mens moet nie jouself flous nie, Babel, soos in Genesis beskryf, was ‘n stad wat alles en almal saamgesnoer het mbv ‘oop vir almal’ om juis beheer uit te oefen; mense moet vry voel om hulself uit te leef en inwoners moet alles aanvaar wat ander doen. Biden is die soort president vir so ‘n stad of fort. Eensgesindheid in besluitneming in ‘n laer is eens so belangrik omdat die trekkers meer blootgestel is dus meer waaksaam moet wees. Om te glo skermmure van forte dien geen doel nie is ook verkeerd. Vryheid vra selfdenke en samewerking. Om die Afrikanerdom te wil oopgooi vir almal wat dit wil insypel vir eie gewin, is ‘n erge kwespunt. Daar is politieke leiers wat dink dit kan ons versterk en die laer uitbou. Dit sal ons eerder vernietig. Ons is lank gelede daarteen gewaarsku deur prominente manne. Onthou slim vang altyd sy baas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.