Moenie terugdeins vir turksvy van gister

Partykeer is geskiedenis nes ʼn turksvy.  Aanvanklik stroopsoet, maar wanneer die lekkerte al vergete geraak het, bly die klein dorings nog agter en brand en jeuk en pla.

Burg Weissenstein dateer uit dertiende-eeuse Bavaria. Alana het die uitsig afgeneem en die marteltuie op die binnehof weggelaat.

Op 2 Augustus vanjaar besoek ek Burg Weissenstein, ʼn kasteel uit die 13de eeu in Bavaria.  Die uitsig uit die burg is pragtig, maar die binnehof is minder strelend.  Daar is ʼn uitstalling van marteltuie uit die Middeleeue wat my hare laat regopstaan.  Soseer so, dat ek op die punte van my tone staan en my kamera bo my kop hou om die lieflike uitsig af te neem, sonder om ʼn deel van enige marteltuig op my foto vas te lê.

Tuis gekom, wonder ek al meer oor die wysheid daarvan om net die mooi te probeer verewig en die lens van die tydgenootlike realiteite weg te keer.  Is dit nie ʼn onreg aan beide die voorgeslagte en die huidige een nie, en is dit nie lynreg teen wat Leopold von Ranke, die vader van Geskiedenis as wetenskap, bedoel het toe hy gesê het dat geskiedenis die verlede moet weergee soos dit werklik was nie?

Plaaslik is daar ʼn paar voorbeelde wat die vraag weer en weer by my laat opkom.  Een is die vrystelling van die boek Treurgrond.  Die deurlees daarvan is nie vir die sensitiewe leser nie.  Die bekende plaasaanvalle wat oor die afgelope 20-jaar in Suid-Afrika plaasgevind het, word chronologies in die boek weergee.  Dit gaan nie om sensasie nie – daar is nie bladsye vol grusame foto’s van misdaadtonele en hiper-emosionele beoordelings van die aanvalle nie.  Miskien is die impak van die boek daarom juis soveel harder.  Vir elke drie tot vyf reëls wat aan elke aanval afgestaan word, is daar slagoffers, familie en vriende wat met ʼn leeftyd se trauma moet saamleef.  Tog is ek seker dat daar mense gaan wees wat voel die boek moes maar eerder nie verskyn het nie, want soos ek by Burg Weissenstein, wil hulle eerder die mooi prentjie van Suid-Afrika sien, as om die aanklag te konfronteer dat ons as gemeenskap nie genoeg doen om standpunt teen sinnelose geweld in te neem en die regering tot optrede te dwing nie.  Hopelik sal die boek deur die bewusmaking en debat wat dit ontketen, bydra daartoe dat plaasaanvalle ʼn nasionale prioriteit word en dat ons as gemeenskap ook ons verantwoordelikheid in die verband gaan begin nakom.

Dit dan ʼn stukkie eietydse geskiedenis wat relatief maklik in konteks geplaas kan word.  Deesdae word ouer geskiedenis ongelukkig moeiliker op ʼn objektiewe wyse hanteer, want ons het oor die algemeen ʼn baie gebrekkige kennis van die verlede.  Dit veroorsaak dat baie mense as’t ware bang daarvoor is, omdat hulle nie seker is watter geraamtes daar by wyse van spreke in ons kaste skuil nie.  Nog ʼn gevolg is dat historiese gebeure uit konteks geruk kan word om dit vir propaganda doeleindes te misbruik.

Een voorbeeld wat my teen die bors gestuit het, is ‘n hoorbeeld oor slawerny aan die Kaap wat in Augustus 2011 deur ‘n radiostasie uitgesaai is.  Baie kritiek kan teen die aanslag van die hoorbeeld uitgespreek word.  Daar is byvoorbeeld in baie detail beskryf watter strawwe op slawe van toepassing was – sensasionele strawwe soos marteling, radbraking en ander soorte teregstelling.  Die fyn detail van die slawe se oortredings is nie uitgespel nie en nog minder sou die onkundige luisteraar, wat nie soos ek vir 4 jaar voltyds navorsing oor die tydperk gedoen het nie, kon aflei dat presies dieselfde strawwe ook op vryburgers, amptenare en ander inwoners van Kaap die Goeie Hoop van toepassing was.  Niemand kan slawerny goedpraat nie, maar die voorkoms daarvan aan die Kaap moet aan die hand van die norme van die 17de en 18de eeu beoordeel word, en nie vanuit ons perspektief van die 21ste eeu nie.  Daar was slawe wat bo hulle haglike omstandighede uitgestyg het.  Ek het met hulle bladsye-lange boedels in my hande gesit – maar die aspek is baie vlugtig deur die hoorbeeld genoem.  Laat ek eerlik wees, ek is baie dankbaar ek is nie ʼn slaaf in die 17de eeu nie, maar ek is net so dankbaar dat ek nie ʼn kolonis of VOC-amptenaar van die 17de eeu is nie.

ʼn Laaste voorbeeld – onlangs beleef ek ʼn warm debat oor ʼn gemeenskap in Limpopo se planne om by Moorddrif kopstukke op te rig vir die lede van die Potgieter-groep wat in 1854 daar deur Ndebeles vermoor is.  Op die kopstukke sal die oorledenes se name (waar bekend), ouderdomme en die wyse waarop hulle dood is, gegraveer word.  Aan die een kant het een van die teenwoordiges gevoel die terrein word al sedert 1898 met ʼn gedenkteken aangedui, maar dit maak nie duidelik dat hierdie ʼn begraafplek is nie.  Die gemeenskap voel dit wil op die wyse individueel hulde aan die oorlede voorgeslagte bring.  Hulle het verder ook die Kekana Koningshuis geraadpleeg en die Kgosi is tevrede met die aksie en die weergawe van die voorval soos op die kopstukke aangedui.  Die teenargument was dat die feitelike beskrywing van die gebeure, soos om op die kleuters se grafte telkens te noem dat die Ndebele-krygers hulle koppies teen die kameeldoringbome verbrysel het, “onnodige gevoelens gaan opjaag en gaan krap waar dit nie jeuk nie”.  Toegegee, daar is tans baie polarisasie tussen swart en wit in Suid-Afrika, maar beteken dit dat ons maar mag sê “hier lê Baba Prinsloo, dood aan ontbering en honger in ʼn Britse konsentrasiekamp”, maar nie mag sê “hier lê Baba Prinsloo, dood toe ʼn Ndebele kryger sy kop teen ʼn boom verbrysel het” nie, want alle Suid-Afrikaners is deesdae op “speaking terms” met die Engelse, maar swart en wit is maar krapperig vir mekaar in Suid-Afrika.  Dit kan tog nie.

As geskiedenis feitlik en volledig weergegee word, in die konteks van die tyd waarin dit gebeur het (“soos dit werklik was” om Von Ranke aan te haal), dan bring dit ons tot die gevolgtrekking dat ons almal se voorvaders groot foute begaan het, maar ook bitter swaar gekry het.  Niks wat ons vandag het, is goedkoop bekom nie, en juis daarom moet ons hulle huldig, nie as helde of uitvaagsels nie, maar as doodgewone, feilbare mense.  Aan die verlede kan ons nie veel meer doen as om objektief by die waarheid te hou nie, maar die hede kan ons wel verander.  Hierdie wete moet ons laat met die besef dat waar onmenslike vergrype in ons tyd plaasvind, ons as gemeenskappe die plig het om ons moue op te rol en nie weg te deins van die onaangenaamhede nie.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Alana Bailey

Meer oor die skrywer: Alana Bailey

Alana Bailey is lid van die Afrikaanse Taalraad en adjunk uitvoerende hoof van AfriForum (verantwoordelik vir internasionale skakeling, taal en kultuur).

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Louis du Plessis ·

Alana ~

1  In die voetspore van Leopold von Ranke, lewer jy ‘n besonder sinvolle pleidooi om die geskiedenis so objektief moontlik uit te beeld.  ‘n Riglyn wat vir my nogal help om so ‘n werklik moeilike verstandelike neut te kraak, is dít:  “Probeer jou in die skoene plaas van ALLE historiese indiwidue en partye, met ander woorde, vereenselwig jou so empaties moontlik met die dryfvere van elkeen!”  Ek sê “Probeer”, want dis ongelooflik moeilik.  Ek is trouens nie seker ek kan dit sélf regkry nie. 

2  Die grootste persentasie lede van ons geliefde homo sapiens toon só ‘n gebrek aan meersydige denke dat hulle eenvoudig nie ‘n ewewigtige geskiedenisbeeld kán huldig nie.  Hulle kan tereg vra: “Hoe kan ek gelyktydig, of selfs beurtelings, ‘n Zoeloe wees SOWEL AS as ‘n Voortrekker wees by die Slag van Bloedrivier?”  “Hoe kan ek gelyktydig, of selfs beurtelings, in die Anglo-Boere-oorlog in 1901 ‘n Britse troep wees wat ‘n Boerehuis afbrand en kinders op waens na ‘n konsentrasiekamp toe aanjaag SOWEL AS as die kinders?”  “Hoe kan ek aan die kant wees van die aanvallers op ‘n weerlose boer SOWEL AS die weerlose boer wat gemartel word?”  “Hoe kan ek innerlik die dryfvere peil van die Swapovegters wat in 1980 noord-Suidwes binnesypel SOWEL AS die dryfvere peil van die teeninsurgensiesoldate van 3 SA Infanteriebataljon?” 

3  Die vraagstuk wat jy aanraak, Alana, is een van die heel belangrikstes in menslike denke, en dus ook een van die heel uitdagendstes.  Ons mag nooit ophou om hieroor te besin nie.  Dankie vir ‘n besonder insiggewende opstel. 

Jorik van Suid-Afrika ·

Alana, dankie vir jou uitstekende essay. Ek wens mens kon ‘n lekker seminaar-oggend hou oor hierdie tema wat jy aangesny het. Veral dan ook oor die laaste sinnetjie – om nie terug te deins van die onaangename nie. Joernalistiek-gesproke, en wat die voorstelling van die onaangename in die geskiedenis betref, is daar beslis etiese kodes wat gerespekteer moet word, en dit maak baie saak hoe dinge voorgestel word – soos jy tereg uitwys in verband met die slawe-geskiedenis. ‘n Punt wat terloops ook dikwels verswyg word is wie nou eintlik die slawepraktyke so bedryf het vir hulle eie wins; wie het die slaweskepe besit en dies meer. Daar word ook baie selde verwys na die feit dat die Voortrekkers die slawepraktyke van die Kaap in beginsel agtergelaat het – dit is nie met mag en mening voortgesit in die twee Boererepublieke nie, arbeidswetgewing is ingestel en daar is ‘n nuwe moderne benadering gevolg – weliswaar sou kritici die nuwe bedeling dalk kon beskou as dieselfde wat die gebruik van Swart arbeid betref, maar in die Boererepublieke is daar eerder met stamhoofde en met werkers gekontrakteer – werkers is nie aangekoop en verhandel soos slawe/eiendom nie. Die ontwikkeling van ‘n moderne werkgewer-werknemer verhouding het daar begin.
    ‘n Ander punt wat jy maak interesseer my ook. Dit gaan oor die familie en vriende wat byvoorbeeld deur ‘n plaasaanval getraumatiseer word. Het iemand al ‘n soort berekening of skatting gemaak van hoeveel mense werklik ontwrig en diep geraak word deur so ‘n aanval. Mens sou die bywoning van begrafnisse as aanduidend kon neem – my waarneming is dat dit getal mense wat werklik diep getraumatiseer word (nie net geskok verneem het nie) moontlik in die omgewing van 80 tot 140 mense kan wees; met moontlik iets soos 50 nabye vriende, familie en kollegas. Verder word daar geraam dat ‘n plaas wat deurgeloop het onder ‘n aanval dikwels eers na drie tot vier jaar weer produktief raak. Die ekonomiese skade is enorm. Het jy dalk navorsing van hierdie aard raakgeloop?

Propatria ·

Alana, jy het reg. Geskiedenis kan soms omkrap, maar ons moet dit nou maar so aanvaar. Jy verwys na die geskiedenis van Engelse en dan na die Ndebele maar beide kan ons redelik aklik in perspektief plaas, wanneer geskiedenis nie die huidige politieke standpunte oordra nie, of slefs weerle dan raak dit n bietjie moeilik.

Vat nou maar die haat tussen die Cape Dutch en die Boer, baie deelnemers hier verwys na Afrikaansprekendes as een groepeering (hulle laat gewoonlik weg of hulle bedoel volk, nasie of nasie in vorming), maar die geskiedenis bewys dat die Boer en die Cape Dutch Afrikaner ver verwyderd van mekaar is, en dit was ook nou altyd so, vat nou maar toe die Boere getrek het, – toe word hulle as ketters gesien en uit die verlingsde kerk geskop.
Toe Britanje die Kaapse Afrikaners (Cape Dutch) vra vir steun teen die Boer toe is hulle al te gretig en het as amptelike party teen die Boere geveg.

Hierdie word gou vergeet deur mense wat eenheid wil vorm tussen alle Afrikaansprekendes.

n Ander kraperigheid is die versinsel van die breer Afrikaanssprekendes dat hulle deel het aan die geskiedenis van die Boer, asof die Cape Dutch saam met die vroue oor die Dragensberge gegaan het.

Groete
 

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.