Moet ek in Afrikaans studeer?

dries-diamond

Advokaat Dries Diamond. Foto: Pretoriabar.co.za

Deur adv. Dries Diamond

Veertig jaar gelede, toe Afrikaans in woord en daad ’n amptelike landstaal was, sou enige Afrikaanse ouer sy Afrikaanse kind in Afrikaans laat onderrig het tot op tersiêre vlak, indien moontlik.

Oor die afgelope drie dekades het die wêreld op sy kop gedraai, en die geslote, ingeperkte gemeenskappie Afrikaanssprekendes is blootgestel aan sowel die verlies van mag as die herordening van die regering se prioriteite en globalisasie.

Afrikaanssprekendes wat in baie gevalle nie Engels magtig was nie, moes meteens ʼn groot aanpassing maak toe hulle bykans van vooraf moes leer kommunikeer in hul eie kantoor, asook met die buitewêreld wat nou weer bereid was om met Suid-Afrika besigheid te doen.

Dit is dus verstaanbaar dat ouers van leerders of studente vra: “Moet ek nie eerder my kind in Engels laat onderrig of studeer nie?”

Die algemene argument is dat Engels ʼn internasionale taal is wat in die kantoor en in die buiteland gebruik word. Die veronderstelling is dat iemand wat in Engels studeer het, Engels magtig sal wees en dus beter sal funksioneer in ’n moderne omgewing.

Meeste mense sal erken dat ʼn mens die een of ander tyd, of dit nou op hoërskool is of aan ’n universiteit, sal moet leer om in Engels te kommunikeer en funksioneer. Bly daar dan enige rede oor om in Afrikaans te studeer?

Vyf redes waarom ʼn Afrikaanse student (wat kies om so lank as moontlik sy of haar) onderrig in Afrikaans te ontvang) voordeel uit so ’n besluit sal put, volg hieronder.  Die stuk fokus veral op studies op tersiêre vlak.

  1. Om in Afrikaans te leer

Weens die uitfasering van Afrikaans uit die openbare en privaat sektor, gaan ʼn afgestudeerde student wat die werkplek betree, nie baie blootstelling aan Afrikaans kry nie. Dit kan wesenlike probleme veroorsaak veral in, byvoorbeeld, die regte of ʼn akademiese rigting.

Daar is dekades van regspraak en navorsing wat in Afrikaans gedoen of afgegee is en net verstaan kan word deur iemand wat Afrikaans magtig is. Die Afrikaanse student bestudeer vanaf sy eerste jaar aan ’n universiteit Engelse en Afrikaanse regspraak en navorsing, terwyl die Engelse studente (omdat hulle nie Afrikaans magtig is nie) nie juis die Afrikaanse leermateriaal in die klas gebruik nie (minstens nie in diepte nie).

Die Afrikaanse student het dus toegang tot die volle konspektus van sy studierigting se beskikbare bronne terwyl die Engelse student ná sy studies Afrikaans sal moet aanleer om die beskikbare Afrikaanse materiaal ook en met redelike gemak te kan gebruik en ondersoek.

  1. Om in Engels te leer

Een van die belangrikste funksies van universiteite is om studente as bevoeg te vind om die arbeidsmark te betree. As ʼn student by ʼn geakkrediteerde instelling ʼn graadkursus voltooi en sy graad ontvang, kan ʼn werkgewer aanvaar hy het die vereiste vlak van kennis ten opsigte van sy vakgebied.

Om akkreditasie te behou, moet universiteite op hoogte bly van internasionale tendense, asook die akademiese inhoud van instansies oor die wêreld heen. Hierdie studiemateriaal word hoofsaaklik in Engels gepubliseer.

Die Engelse student en die Afrikaanse student raadpleeg dieselfde bronne en studiemateriaal. Omdat die hele Afrikaanse klas aan ʼn universiteit minstens Engels as eerste addisionele taal op skool geleer het, word die Engelse studiemateriaal in die klas behandel (in Afrikaans). Die Afrikaanse student moet die Engelse vakterminologie leer en vergelyk met die Afrikaanse vakterminologie, en verbeter só sy Engels.

Die feit dat daar van die Afrikaanse student verwag word om die Engelse materiaal te raadpleeg en dan sy assesserings in Afrikaans te voltooi, gee hom die unieke geleentheid om die Engels te leer en verstaan. ʼn Afrikaanse student wat kies om in Engels te studeer, moet op sy eie die Engels baasraak, en sukkel boonop om die klas te volg totdat hy die Engels heeltemal baasgeraak het.

  1. Die een taal funksioneer as kontrole vir die ander

Om dieselfde konsep in twee tale te skryf, elimineer foute en onduidelikhede in die kursusmateriaal. Handboeke en kursusmateriaal wat oorgeskryf word tussen Engels en Afrikaans, noodsaak die outeur om te oorweeg of hy die konsep wat hy probeer oordra, duidelik genoeg geformuleer het sodat die leser dit sal kan oorskryf in Afrikaans of Engels.

Daar is ook ʼn magdom bronne wat in Afrikaans en Engels beskikbaar is soos, byvoorbeeld, wetgewing. Die Afrikaanse regsgeleerde kan die Afrikaanse weergawe van ʼn wet bestudeer om die dieper betekenis van die wet se inhoud te illumineer.  Terwyl die student vertaal uit die een taal na die ander, verdiep sy begrip van die vakinhoud terselfdertyd.

  1. Om die Afrikaanssprekende gemeenskap na die wêreld te bring

Omrede die Afrikaanse gemeenskap klein en eksklusief is vergeleke teenoor die Engelse gemeenskap, bevorder dit samewerking tussen Afrikaanse akademici en professionele persone. Die Afrikaanse student kan na willekeur in sowel die Engelse as die Afrikaanse gemeenskap funksioneer, terwyl die Afrikaanse student wat slegs in Engels studeer het, die gevaar loop om hom/haar te vervreem van die Afrikaanse gemeenskap.

Afrikaanse akademici haal mekaar se werk aan, bespreek dit onderling en vorm ʼn nuttige netwerk wat gebruik kan word om sukses te behaal in sowel die internasionale as die plaaslike omgewing.

Die Afrikaanse navorser kan ook vrylik navorsing doen oor onderwerpe wat spesifiek die Afrikaanssprekende gemeenskap raak, en sal ʼn afsetgebied vir sy werk hê. Dit gee sy navorsing betekenis wat keer dat dit bloot ʼn nuttelose akademiese tog is wat verlore raak in die moeras van internasionale bydraes. Die gebruik van Afrikaans op akademiese vlak bevorder só ʼn sin van samehorigheid en samewerking tussen Afrikaanssprekende mense.

Hierdie samewerking plaas Afrikaanssprekende persone in ʼn posisie om, ten spyte van ons klein getalle, ons stempel af te druk op die akademie, plaaslik en internasionaal. (Besoek die webwerf waar ʼn Afrikaanse professor, Andries Coetzee, as Afrikaanssprekende, ʼn span taalkundiges by die Universiteit van Michigan in ʼn posisie plaas om navorsing van onskatbare waarde te doen aangaande die ontwikkeling van tale oor generasies).

  1. Om die wêreld na die Afrikaanssprekende gemeenskap te bring

Die Afrikaanse graduandi kan ingewikkelde konsepte wat normaalweg slegs beskikbaar is aan dié wat in Engels studeer het, vertaal en oordra aan die algemene Afrikaanse persoon.

Die Afrikaanse pasiënt sal sy diagnose makliker kan verstaan indien sy dokter ook Afrikaanssprekend is. Die Afrikaanssprekende Jan Alleman sal waarskynlik ook sy regte as burger beter verstaan indien ʼn Afrikaanse regsgeleerde dit aan hom in sy moedertaal verduidelik en só sy belange beter beskerm.

Ons gaan nie universiteit toe sodat die dosent vir ons kan verduidelik hoe om Engels te praat nie, ons gaan sodat die dosent ons kan help om te gradueer en ʼn beroep te volg. Dit is baie makliker om die vakinhoud te bemeester en daarna te leer hoe om dit in Engels oor te dra aan ander, as wat dit is om Engels eers te bemeester voordat iemand die vakinhoud aan jou oordra.

Ons is dit aan onsself verskuldig om die gereedskap wat ons ouers en grootouers met baie opoffering vir ons ontwikkel het, te gebruik tot voordeel van onsself en ander.

Dit is belangrik om te volhard met ons studies in Afrikaans (soos wat ons omstandighede dit toelaat), en nie toe te laat dat vrees, as gevolg van radikale verandering van ons omstandighede, ons beweeg om die baba saam met die badwater uit te gooi nie.

Jy het net een kans om jou taal te leer, gryp dit aan. Dit gaan jou funksionaliteit in die buitewêreld nie inperk nie, maar uitbrei.

  • Dries Diamond, ʼn advokaat by die Pretoria Balie.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

lanie ·

Dis alles goed en wel. Maar kom ons wees realisties. Die internationale taal is Engels. Ons kan almal ons moedertaal praat, maar het n probleem veral as jy oorsee wil gaan werk, want dan moet jy al jou grade, diplomas en sertifikate in engels laat herdruk, (as dit die regte terme is) anders erken die oorsese markte niks. So kom ons studeer maar in Engels.

B-man ·

Engels is net ‘n internasionale taal omdat ons dit toelaat. Dink jy ‘n Fransman of Chinees dink ook so? As jy nou ‘n paar goed moet oordruk vir daardie onthalwe, so what? Ek is bly ek het in Afrikaans geswot, maar toe RAU oorswaai Engels toe, het die dosente die meeste gesukkel (want hulle moes dit skielik praat) en studente en dosente kon lekker redekawel oor wat die korrekte terme en betekenisse van begrippe is. Dankie vir die insiggewende artikel.

Henk Brand ·

Stem saam met B-man. Die oordruk van sertifikate is die kleinste van probleme wat sommer baie maklik opgelos kan word. Sommer by die inrigting waar jy in Afrikaans studeer het. As jy jou vakinhoud in jou moedertaal verstaan, het jy geen probleme om dit in Engels toe te pas nie, enige plek in die wereld. Ek luister eerder na ‘n Afrikaanse dosent wat Afrikaans doseer as een wat sukkel om dit in Engels te doen omdat hy moet.

marco polo ·

B-man, die Chinese dink beslis Engels is DIE internasionale taal en hulle spandeer miljoene om hulle bloedjies dit te laat leer. Engels is ook n verpligte vak op skool vir Chinese kinders. Danksy hierdie manie is daar derduisende werkgeleenthede in China vir Engelssprekendes, insluitende ons Afrikaners wat kan Engels praat. Maar ek moet met Lanie saamsten, probeer om minstens jou graadserifikaat in Engels gedruk te kry, dit spaar jou baie moeite om dit vertaal te kry. Wees realisties, die buiteland is waar ons kinders werk gaan kry.

Afrikaner in Frankryk ·

Lanie, jy gaan dit net na Engels moet vertaal as jy na ‘n Engelssprekende land gaan. In Frankryk aanvaar die staat en ander instansies slegs dokumentasie in Frans. So, Engelse dokumente moet in elk geval na Frans vertaal word. Net vir die rekord: my Afrikaanse seun kry die beste punte in Engels in sy internasionale klas met kinders van reg oor die wêreld. En boonop het die feit dat hy tweetalig was toe hy hier aangekom het hom ‘n derde taal soveel makliker laat aanleer. Gaan kyk gerus na navorsing oor die voordele van ‘n meertalige brein. Ek stem dus heeltemal saam met alles wat Dries in sy artikel skryf.

Gert ·

Dis hoekom ek slegs na Afrikaanssprekende dokters toe gaan. Hulle kan vir jou maklik en akkuraat verduidelik wat fout is. Daar het oor die 300 jaar ‘n volledige mediese terminologie ontwikkel, wat baie verskil van die Engelse terminologie, en wat ons dadelik verstaan, maar ons ken nie die Engelse terme nie.

Charles ·

Baie, baie dankie Adv. Diamond, daar is GEEN grondige redenasie of teenargument teen moedertaalonderrig nie, PUNT.

Die wat belangstel kan gerus ook Prof. Jaap Steyn se “Trouwe Afrikaners” en “Tuiste in Eie Taal” lees.

John ·

Alles is waar en reg. Is Akademia in die buiteland geakkrediteer? Sal studente wat aan ‘n Afrikaanse studente afgestudeer het, werk kry elders in die wèreld of in Suid-Afrika? Die kombinasie witvel en ‘n graad aan ‘n Afrikaanse inrigting is die kruks van die probleem en ‘n lekker lat om ons jongmense mee te slaan. ‘n Variasie van kwalifikasies en ander tale byleer is ‘n moontlike deur na beter dae, maar is ons kinders bereid. Vroeèrjare moes studente in die regte Latyn leer en predikante Hebreeus. Ons voorouers het Duits op skool geneem. Maar die jonges soek net ‘n Apple-tjie vir die dors en lekker rus oor naweke…

marco polo ·

John, jy laat my skoon oud voel met daai voorouers storie. Ek het Duits op skool gehad, want dit of Latyn was die enigste keuses vir n derde taal. Ek sou eerder kon doen met Frans of Spaans, maar latere studente moes n Afrika taal leer. Wat n lawwe idee in n plek waar ons taal verguis word en die massas Engels wil he.

Reinhardt ·

Ek het in AFrikaans studeer en ekt al menige werksaanbode gekry van internasionale maatskappye. Waar op aarde kom hierdie argument vandaan dat as jy iets in n spesifieke taal geleer het (wat nie Engels is nie) dat jy nerens werk sal kry nie? Een plus een is presies dieselfde as one plus one. Slegs die terminologie het verander.

Fanie Kemp ·

Baie dankie Adv.Dries Diamond. Ons het baie meer van jou kaliber professionele mense nodig.
Afrikaans is die taal met van die grootste woordeskat met vakterme in alle vakgebiede.
Daarom is talle en talle van ons Afrikaans afgestudeerde ( in Afrikaans ) kundiges in wye verskeidenheid dissiplines so in aanvraag in die buiteland. Let wel: nie net in Engelssprekende lande nie.
Maar, soos Adv. Dries tereg uitwys: Ons het juis Afrikaans sprekende kundiges in ons land meer as ooit nodig om in Afrikaans die derde grootste taalgemeenskap hier in hul moedertaal te bedien.
Ons MOET dit wat oor baie dekades uitgebou is, ‘n Akademiese taal wat Internasionaal erkenning geniet ( Universiteiete in baie lande bied Afrikaans as vak aan ) nie net bewaar nie maar verder uitbou en sorg dat nuwe vakterminologie in Afrikaans bekikbaar bly. Ons is dit aan ons nageslagte verskuldig.
‘N Taal wat sy Akademiese status verloor, kwyn en kan selfs sterf.

gatiep ·

Engels is die taal wat gebruik word om ander mense te onderdruk,en wil almal dwing om dit te praat.

Dawid Brunette ·

Namate die kwaliteit van die administrasie en onderrig by die (Engelse) universiteite afneem, sal mense beter verstaan dat dit nie net oor die behoud en uitbou van ‘n waardige akademiese taal, Afrikaans gaan nie. Ek ondersteun Akademia en ander privaat Afrikaanse instellings ten volle. Met Afrikaans kry jy die voordeel van tweetalige kennis, wat jou in staat sal stel om die Afrikaanssprekende gemeenskap in akademiese Afrikaans te dien.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.