Moet ons tevrede wees met die minimum standaard?

Foto: Twitter

Verlede maand het Suid-Afrika erg onder beurtkrag deurgeloop. Eskom steier van die een krisisbestuur na die ander en nog steeds is daar nie antwoorde nie. Ons ʼn nasie geword wat te dankbaar is as ʼn dag verbygaan sonder kragonderbrekings. Die vereiste van 100% krag wat 24 uur per dag, sewe dae per week, elke dag van die jaar beskikbaar is, is ondenkbaar. Eskom het die simptoom eintlik baie duidelik gediagnoseer as dat ons maar met die minimum standaard, middelmatige dienste, middelmatige regering en middelmatige prestasie tevrede geraak het. Ons het die strewe na uitnemendheid al lankal verloor.

Middelmatigheid is te bespeur in elke sfeer van ons samelewing en kan op een hand getel word as daar eilande van uitnemendheid te voorskyn kom:

  • Ons sien dit in die swak leierskap wat ons op plaaslike, provinsiale en nasionale sfere van regering ervaar;
  • Ons beleef dit in gebrekkige dienslewering waar sypaadjies nie in stand gehou word nie en slaggate die norm begin raak;
  • Ons sien dit waar moorde en ander ernstige misdaad soms nie meer in die media gerapporteer word nie en indien wel, dit weggesteek word tussen berigte van korrupsie en onbevoegdheid;
  • Ons sien en hoor dit elke dag as ons teenoor mekaar kla oor die toue mense by die plaaslike lisensiekantoor, binnelandse sake en die poskantoor;
  • Ons skud maar net ons kop as ons hoor dat die begunstigdes van maatskaplike toelaes elke dag meer word terwyl die een werkskeppingsprogram na die ander nie die mas opkom nie en korrupsie en selfverryking toeneem;
  • Ons beleef dit as nog ʼn blouligbrigade die een of ander belangrike persoon by die volgende laat afspraak moet kry en in die duurste en mees luukse motors by ons verbyjaag;
  • Ons spring uit ons velle van vreugde as ons sportspanne darem kwalifiseer om na ʼn volgende ronde deur te dring. Ons troos ons darem daaraan dat ons spelers in soveel internasionale spanne kan speel omdat hulle as gevolg van kwotas tuis nie plek kry of eers oorweeg word nie.
  • In ons reeds bedenklike onderwysstelsel word die verlaging van taaltoelatingsvereiste vir ’n BA-graadkursus na 30% allerweë toegejuig terwyl standaarde reeds op skoolvlak verlaag word om dit moontlik te maak.
  • Ons is nie vreeslik bekommerd met die verkiesingsveldtog van ʼn sukkelende land met 49% werklose jeugdiges (18 tot 34 jaar) nie, maar fokus eerder op emosionele kwessies soos grond en rassisme.

Suid-Afrika het ʼn land geword:

  • waar middelmatigheid nie net meer geduld word nie, maar beloon word;
  • waar uitnemendheid en prestasie die uitsondering word en nie meer die reël nie;
  • waar gemiddelde insette met die grootste salarisse en bonusse beloon word as die SABC en Eskom as kriteria geneem word;
  • waar prestasie en meriete nie vir bevordering belangrik is nie, maar wel velkleur en politieke konneksies;
  • waar ons verheug is as die krag aangaan en nie dat dit aanbly nie;
  • waar die meerderheid van ons staatsinstellings wat noodsaaklike dienste lewer, maar gemiddeld is in dienslewering en die dienste al hoe meer geprivatiseer word en al hoe meer onbekostigbaar is;
  • waar munisipale status gemeet word aan die duurste en spoggerigste motor vir burgemeesters en stadsbestuurders, terwyl hul munisipaliteite onder hulle in bankrotskap bestuur word;
  • waar kandidate op die kieslyste van die regerende party vir almal behalwe vir die party self,  ʼn verleentheid is as gevolg van hul betrokkenheid in staatskaping, korrupsie en totale onvermoë; en
  • waarin die bedrae ter sprake in die omvang van korrupsie, mense nie meer skok nie en Ace Magashule se lof nog steeds besing word.

Die strewe na middelmatigheid moet gesoek word in die kultuur van toeëiening (entitlement) wat toegelaat is om ons samelewings te oorheers. Kenners beskryf die kultuur van toeëiening (Culture of Entitlement) as volg:

  • ‘n Houding waar mense glo dat hulle nie deur verdienste iets hoef te kry nie;
  • Dit is aan hulle verskuldig as gevolg van wie hulle is, nie as gevolg van wat hulle doen nie;
  • In ‘n kultuur van toeëiening neem mense dit wat hulle het, as vanselfsprekend, bly vra vir meer, en is nooit tevrede nie; en
  • Om goed te lyk is meer belangrik as om goed te doen.

Daarom is dit dringend noodsaaklik dat ons moet beweeg na ʼn stelsel van verdienste en meriete in die werkplek en besigheid, verdienste en meriete in die samelewing en verdienste en meriete in die politiek.

Meriete vra nie of jy wit of swart is nie. Meriete vra slegs of jy gedrewe en bevoeg is om die werk te kan doen en uit te blink daarin. Meriete vra nie die kleur van jou vel nie dit vra net of jy die beste is in wat jy doen op die sportveld, in die openbare sektor, die privaat sektor, in die politiek en in die kabinet.

Slegs meriete en verdienste sal die Suid-Afrikaanse samelewing, onder meer die staatsdiens, verhef tot ʼn aanvaarbare standaard van uitnemendheid waar ons behoort te wees.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jan Bosman

Meer oor die skrywer: Jan Bosman

Jan Bosman is Hoofsekretaris van die Afrikanerbond.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Gemaskerde Sopbeen ·

En wat is die grootste vloekwoord vir “Afrika Demokrasie”? Meritokrasie….Is julle simpel? Hierdie land lyk soos hy lyk want die inwoners het die toppunt van hulle potensiaal bereik…..Dit kan nie beter gaan nie, want daar is niks om dit mee beter te laat gaan nie!!

Gys ·

Maar dis dan presies waarvoor die meerderheid mense in 1992 gevra het. En noudat hulle presies kry waarvoor hulle gevra het, nou klink hulle ontevrede. Of het hulle onder die illusie verkeer dat hulle eintlik iets anders sou kry?
Aksies het gevolge.

marco polo ·

Meriete se nek is al lankal omgedraai. Al wat oorbly is om te onthou hoe dit voorheen was, dit sal nooit weer dieselfde wees nie.

Jerry ·

Jan Bosman, jy is reg dat meriete en verdienste nie gaan oor velkleur nie, dit gaan oor ideologiese denke. Teenrevolusionere of in hierdie geval westerse denke vs revolusionere (kommunistiese/sosialistiese/marxistiese pan africanist) ideologiese denke. Daar bestaan geen kompromiee tussen hierdie denkes nie en dus geen oplossing omrede die een stel denke loodreg teenoorgesteld staan van die ander stel denke. Die revolusionere ideologie het dit ten doel om denke te verander deur presies die teenoorgestelde van westerse denke die manier van dinge doen te maak. Wat vir westers verkeerd en n skande is, is vir die revolusioner meriete en n revolusionere sukses of oorwinning. Die revolusioneres het dit ten doel om alle teenrevolusionere gemaksones te teiken en te verskuif na die revolusionere elite en revolusionere strukture ten koste van teenrevolusioneres wat daarvoor betaal. Dit doen hulle deur botallige poste strukture te skep by SOE’s, munisipaliteite en staatsinstellings. Hierdie botallige poste strukture is in der waarheid ANC revolusionere strukture wie op papier vir SOE’s vir salaris doeleindes werk, maar inderwaarheid vir die ANC werk wanneer ookal die ANC op hulle knoppies druk. Hulle verdienste bestaan agv lojaliteit teenoor die ANC en hulle meriete is daarop geskoei om jou te verarm en jou lewe hel te maak. Alles in die lewe wat jy geniet en as vanselfsprekend aanvaar word van jou kant van die draad af weg geskuif na die revolusionere kant van die draad. Dit gaan dus nie oor wit of swart nie, maar oor revolusionere denke vs teenrevolusionere denke!

Stoffel ·

Dit is die einde van die pad vir SA. Die verroting het sy merk gelaat op die land en sy burgers. SA is nou’n ware Afrikaland. Kyk noord, ons is nou dieselfde as die res. Niks en niemand kan die land meer omdraai nie.

B ·

Die strewe na uitnemendheid word deesdae inderdaad selfs gekritiseer deur die voorstanders van (‘n sekere tema van) ‘polities korrektheid’, regoor die spektrum.
Ek hoop regtig dat ons nie ook sal verval in ‘n ‘alles-is-aanvaarbaar’ mentaliteit, maar dat die strewe na beter nog steeds ‘n dryfveer sal wees.

Manie van Worcester ·

As ons dit kan vestig is daar hoop op sukses maar heelaas, dit sal nooit gebeur want dan blu te veel mense weer agter as dit by top poste kom

Alfred ·

Meriete en verdienste is Afrika vreemde konsepte. Vanuit ‘n eg Afrika perspektief is SA ‘n uiters suksesvolle land. Afrikane het ‘n totaal ander lewens-en wereldkonsep. Die frustrasie in SA is dat ons mense met ‘n Europese en Westerse agtergrond voortgaan om die situasie in die land vanuit ‘n Europese en Westerse oogpunt te beoordeel-solank ons dit doen sal ons gefrustreerd bly. Ons moet aanvaar ons regering is ‘n Afrika regering-pas aan en bly of probeer maar weggaan. SA sal nooit ooit weer soos ‘n Westerse of Europese land regeer word nie-ons moet nou berus daarby

Stoffel ·

Goed opgesom, Alfred. Broer Bosman kan maar preek soos hy wil.

Annie Webb ·

Dit lyk asof die groot verskil in ontwikkeling tussen die Eerste en Derde Wêreld juis lê in eersgenoemde se omarming van die beginsel van kompetisie en persoonlike strewe, en die daarstelling van belonings vir uitnemendheid. In die Derde Wêreld “besit” die leiers alles en die mense word deur die leiers en hulself “gelyk” gehou, wat meestal beteken dat alles daal tot die laagste gemene deler. Dié status quo is so deel van die kultuur dat enige strewe onder “gewone” mense deur hulself bestraf word en die grofste uitbuiting en korrupsie deur die “leiers” net aanvaar word, veral aangesien laasgenoemde gewoonlik hul posisies met geweld verkry en behou. En SA is nou stewig Derdewêrelds, tensy ‘n meer verwesterse politieke party ‘n meerderheid kan behaal. Maar ‘n tradisioneel wit, Westerse party het geen kans nie, getalle is al wat tel in ons demokrasie.

Dries du Toit ·

Annie en jy se daai westerse party is die DA. Want n wit westerse party kan nie slaag nie want jy jaag getalle ?????

Disselboom ·

Nee, ons moet nie tevrede wees met minimumstandaard nie. Daarom hoort ons kinders in skole wat buite die staatsvoorskriftelike CAPS en onderwyswette opleiding aanbied wat met die Eerste Wêreld tred hou, nie die laagste gemene deler nie. Waarin die A-presteerders kan kry en uitgedaag word om regtig te presteer, en elke leerling ‘n werklike beeld van sy vermoëns het en opgetrek word omdat dit boonste balk op ‘n werklike hoë peil is. Die land gaan net al meer afsak, want die jeug word in so stelsel van minimum geskool.

Gert ·

Ek dink die verwysing na middelmatigheid is eintlik baie positief en akkommoderend. Ek sou die term minderwaardigheid of self onbevoegdheid gebruik het.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.