Munisipale skurke moet vir wangedrag boet

Eugene Brink. (Foto: AfriForum)

Tsakani Maluleke, ouditeur-generaal (OG), het onlangs haar jongste ouditresultate vir 2019/2020 oor plaaslike regerings bekendgemaak. Weereens skets dit ’n sombere prentjie van hoe munisipaliteite bestuur word en wys dit gelyktydig (weliswaar onregstreeks) wat die gehalte van dienslewering in munisipaliteite behels.

Slegs 27 munisipaliteite het skoon oudits ontvang. Dit is inderdaad ’n verbetering op die 20 van die vorige boekjaar, maar dit is nogtans slegs 10% van alle munisipaliteite en steeds onder die 33 van die 2015/2016-boekjaar. Die res was grootliks ’n mengsel bevindinge wat wissel tussen gekwalifiseerd, ongekwalifiseerd, ongunstig en geweier.

’n Allemintige 57 munisipaliteite het geen mening ontvang nie as gevolg daarvan dat hul finansiële state onvolledig was of nie ingedien is nie. Uiteraard moet ʼn mens skepties wees hieroor, omdat baie van hierdie munisipaliteite oor peperduur konsultante beskik om mense, wat reeds veronderstel is om toe te sien dat die state korrek en beskikbaar is, se werk te doen. Daar kan met redelike sekerheid aangeneem word dat baie van hierdie munisipaliteite hulself bloot die vernedering van swak ouditmenings wou spaar en dan besluit om eerder net nie saam te werk nie.

Indien dit enigsins moontlik is, het munisipaliteite in provinsies soos die Vrystaat, Noordwes, Limpopo en die Oos-Kaap wéér agteruitgang getoon. Meer verstedelikte provinsies soos Gauteng, die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal het oor die algemeen beter as in die vorige boekjaar gevaar. Dus is daar uitsonderings, maar hierdie munisipaliteite is veral meer in die Wes-Kaap en Gauteng gekonsentreer. Daarteenoor het Noordwes al vir die afgelope vier boekjare geen skoon munisipale oudits ontvang nie en die uitwerking daarvan kan in paaie vol slaggate, straatligte wat nie werk nie en water- en kragonderbrekings gesien word.

Daar moet ook in gedagte gehou word dat hierdie oudituitslae slegs ’n kort periode van die “Covid-era” (waartydens die virus en inperking se volskaalse impak gevoel word) insluit. Die volle impak van die ekonomiese insinking, netto verlore werksgeleenthede en inkomste (dus ook munisipale belasting) en ander faktore moet derhalwe nog gevoel word en sal eers in die volgende stel resultate weerspieël word. Verwag dus dat munisipaliteite se finansies in die toekoms nog aansienlik gaan versleg en by sekere munisipaliteite wat reeds vóór die pandemie in die knyp was, gaan die situasie nie gou, indien ooit, weer verbeter nie.

Soos klokslag word daar jaarliks misnoeë deur die OG, publiek en ontleders oor die swak toestand van veral munisipaliteite, maar ook ander staatsdepartemente uitgespreek. Die bestuur van munisipaliteite is gebrekkig en moet verander, die regte mense word nie aangestel nie, politieke inmenging moet ophou en aanvoerkettingprotokol word veral, en blatant, verontagsaam. Hierdie lys gaan aan en die munisipale rade is ewe skuldig aan hierdie vergrype as diegene wat met administratiewe take belas is en klaaglik daarin misluk.

Oplossings – hoe korrek en edel ook al – word net so gou vergeet soos die oudituitslae wat met hulle gepaardgaan. Sporadies sal ’n tersaaklike minister oor die toestand van munisipaliteite weeklaag, of ’n munisipale bestuurder sal geskors word hangende ’n ewigdurende ondersoek van opsienbarende en bekende onreëlmatighede. Die probleem is egter dat die staat en die ANC hulself nie verantwoordbaar kan hou nie. Helaas gaan ’n minderheid van stemgeregtigde kiesers hulle vanjaar wéér die reg gee om met plundery en vermorsing voort te gaan. Die staat se instellings wat ten minste nominaal onafhanklik is, soos die OG, het ook nie die “tande” om hul bevindinge en aanbevelings verder te voer nie. Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) is te besig om spesialiseenhede vir apartheidsmisdade van 60 jaar gelede te stig as om hoegenaamd om te gee wat ’n swak en korrupte regering tans aan lewens en inkomste doen.

Die taak om dienslewering en aanspreeklikheid te verhoog, hang dus van die burgerlike samelewing en gemeenskappe in geografiese gebiede af. Diegene wat oor die toestand van hul dorpe en munisipaliteite omgee (en daar kan met sekerheid aangeneem word dat mense wat herhaaldelik vir die ANC en EFF stem nie werklik omgee nie), sal self met oplossings vorendag moet kom.

By AfriForum volg ons ’n veg-en-bou-strategie. Enersyds “bou” ons 155 takke en 160 buurtwagte deur die mislukkings ten opsigte van dienslewering en veiligheid aan te spreek, en om dorpe, stede en woongebiede te laat herleef. Andersyds behels die “geveg” om teen korrupsie en verval te veg (deur middel van aktivisme en druk) om die staat te dwing om amptenare aan die pen te laat ry (soos wat tans besig is om onder meer in Randfontein met rioolklagtes te gebeur) en met ’n omvattende regsstrategie vorendag te kom wat nie op die staat wag om te besluit wie en wanneer iemand vervolg moet word nie.

Die OG se bevindinge kan nie net keer op keer tot ’n voetnota versag word bloot omdat die gewone en grootliks uitgediende oplossings nie meer van toepassing is nie. Sodra die volle verslag beskikbaar is, sal ons die OG se verslag bestudeer om te besluit hoe munisipale skurke vir hul vele ernstige wandade en vergrype moet boet.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is ʼn entrepreneur, sake-konsultant en onafhanklike politieke kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.