Musk se Neuralink en ‘mensprogrammering’

(Foto: CFOTO / NurPhoto / NurPhoto via AFP)

Einde Mei het Elon Musk se maatskappy, Neuralink, toestemming van die Amerikaanse Food and Drug Administration (FDA) gekry om ʼn implantaat wat die brein beïnvloed deur middel van kliniese studies op mense te toets.

Die implantaat wat Neuralink ontwikkel het, is bedoel om neurologiese siektes aan te spreek, soos om verlamdes weer te laat loop. Dit is reeds op ape en varke getoets. Die eerste aansoek om dit op mense te toets is reeds in 2019 gebring en in 2022 weens bedenkinge oor die veiligheid daarvan afgekeur.

Dit beteken dat ʼn mikroskyfie so groot soos ʼn muntstuk in mense se brein ingeplant word en deur elektrodes die brein verander, wat weer ʼn uitwerking op die liggaamsfunksies het. Daar word ook soortgelyke implantate ontwikkel wat in die oog of rugmurg ingeplant kan word om mense weer te laat sien of hulle mobiliteit te verbeter. Dit kan blykbaar ook siektes soos geheueverlies, verslawings en depressie help beveg.

Wanneer dit by Musk kom, is ʼn mens nou al gewoond dat ʼn groot aankondiging nog nie beteken dat dit ook uitgevoer word nie. Sekere wetenskaplikes is skepties. Nietemin is dit net ʼn kwessie van tyd totdat dit moontlik is om deur middel van rekenaarskyfies mense te “programmeer”. Daar is ook ander maatskappye op dié veld bedrywig. Kunsmatige Intelligensie (KI) is tans die gonswoord en word as die volgende “groot ding” aangesien. Ons moet net enkele jare terugdink waar dit nog vergesog was dat batteryaangedrewe motors ewe vinnig as brandstofinspuitingsmotors is, om ons te kan indink watter ontwikkeling op die gebied van die brein-mikroskyfieskakeling nog voorlê.

Nog feitlik elke tegnologiese uitvinding in die geskiedenis is verkoop as synde voordelig vir die mensdom, al word dit ook misbruik vir gruweldade. Dink maar aan die splitsing van die atoom of genetiese manipulasie. Daar is gelukkig heelwat nasionale en internasionale wette en konvensies wat die ergste misbruik aan bande lê. Met Neuralink is dit soos met enige ander nuwe uitvindsel ook: dit kan, as dit reg aangewend word, nuttig en voordelig wees, maar kan ook die deure tot die hel oopmaak.

Uit ʼn teologiese oogpunt is die inplant van ʼn mikroskyfie in jou liggaam hoogs bedenklik. Musk se skyf is vir die genesing van siektes bedoel, maar die koppeling van ʼn mens met rekenaartegnologie is ʼn stap in die rigting van die skepping van ʼn cyborg, ʼn mens met funksies van ʼn rekenaar.

In ʼn tyd waar eeue oue, veral Christelik bepaalde etiese waardes, op hulle kop gekeer word is daar geen waarborg dat vorentoe ʼn rekenaarimplantaat in die brein nie net gebruik gaan word om siektes te voorkom nie, maar ook om vir mense die “regte” gedagtes te gee. Dit is al ʼn oeroue droom van veral linksgesinde denkers en leiers om die perfekte mens te skep.

Deur genetiese manipulasie is dit reeds moontlik (maar nog nie toelaatbaar nie) om fisies volmaakte mense te skep. As hulle ook nog so gemanipuleer kan word om te dink soos die leiers dit wil hê, dan sit ons inderdaad in ʼn distopiese scenario wat aan Openbaring herinner. Mense soos Klaus Schwab en Yuval Harari, wat aan die voorpunt van die globalisme is, praat en droom reeds in die rigting.

Musk, as persoon, val nie in die kategorie mense met ʼn politieke missie soos Schwab en Harari nie. Hy is taamlik libertaries ingestel en ook ʼn los kanon wat moeilik peilbaar is. Hy word gedryf deur ʼn visie van tegnologiese moontlikhede en neig blykbaar ook na Transhumanisme, gemeet aan sy opgewondenheid oor uitvindings wat in hierdie rigting gaan. Blykbaar speel etiese en godsdienstige oortuigings geen rol in sy denke nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hendrik ·

Met die eerste Dragon wat in die water geland het, met mense in, het Musk erken dat hy nie ‘n gelowige is nie maar dat hy wel die Her gevra het dat hul veilig land.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.