ʼn Ope brief: ‘Júlle is aandadig’

ANC-logo

ANC se logo op ‘n muur in Soweto, Johannesburg. Foto: Ben Sutherland/Flickr.com

Deur Monica Mynhardt

Dit gaan sleg met Suid-Afrika. Die land is besig om stadigaan ineen te stort wat infrastruktuur en beleidskwessies betref. Selfverrykende politici is besig om gewetenloos ons land van alle eer en vooruitsigte kaal te stroop.

Hierdie is egter nie ’n nuwe verskynsel nie – dit gebeur reeds vir etlike jare met die burgers van ons land wat skynbaar verlam staan en toekyk. Beslis nié almal nie, maar wel net genoeg om ons in hierdie benarde toestand te hou.

As burgers van ’n demokrasie is ons egter allermins uitgelewer aan skaapagtige lojaliteit teenoor diegene wat ons indoen. As burgers van ’n demokrasie beskik ons oor die mag om politici se mag aan hulle toe te eien wanneer hulle dit verdien, en weg te neem wanneer hulle dit misbruik. Dit lyk egter asof die meerderheid Suid-Afrikaners nie daarin belangstel om hierdie demokratiese reg tot voordeel van ons land uit te oefen nie – die ANC bly ná vanjaar se verkiesing steeds aan die bewind.

Die ANC het nie ’n wonderlike geskiedenis as regerende party nie. Nie net het hulle oor die afgelope paar dekades bewys dat hulle nie die vermoë het om ’n land suksesvol te regeer nie. Die ANC se onbevoegdheid om net basiese dienste te lewer en elementêre administratiewe funksies te vervul, het ons land stadig maar seker begin verwoes.

Eerder as om ons potensiaal as land te help ontsluit, het hierdie regering ons verdoem tot sukkelende staat. Benewens dít het hulle besluit om hierdie ongelooflike belangrike magsposisie te misbruik deur hulself te verryk ten koste van die landsburgers. Aanvanklik het ons gedink en gehoop dat staatskaping by die Gupta-familie en ANC elite begin en geëindig het. Ons moes egter oor die afgelope nege maande sit en luister hoe staatskaping aansienlik meer verreikend was as wat enigeen sou kon dink. Hierdie immorele selfverryking het byna elke afdeling en vlak van die openbare sektor infiltreer. Dit was asof die ganse ANC en alle vennote meegesleur geraak het in hierdie korrupsie.

Tog is dit ná vanjaar se nasionale verkiesing duidelik dat hierdie skreiende bewyse nie genoeg is om die ANC te onttroon nie. Dié party het ’n basis van staatsafhanklike lojaliste gekweek wat tot die dood toe by hulle sal staan. Hoewel die ANC se steun oor die jare heen wel afgeneem het, was die hoeveelheid mense wat deur hierdie party se herhaaldelike mislukkings ontnugter geword het, nog nie genoeg om ’n wesenlike verandering teweeg te bring nie. Die meerderheid Suid-Afrikaners gaan voort om tydens verkiesings hierdie party se wandade goed te keur en toe te laat.

So het 8 Mei vir ons weer ’n geleentheid gebied om mag te ontneem van diegene wat dit nie verdien nie en te gee aan dié wat eerder doen.

Vroeër die verkiesingseisoen het die ANC hul kandidaatlyste vir die komende verkiesing bekendgemaak. Hierdeur het die regerende party bevestig dat hy homself gaan preserveer ten koste van die ganse Suid-Afrika. Hierin verskyn drie uiters kontroversiële name: Nomvula Mokonyane, Mosebenzi Zwane en Malusi Gigaba. Dié drie was almal die afgelope sewe maande as beweerde medepligtiges tot staatskaping uitgewys. Die ANC se sekretaris-generaal, Ace Magashule, het hierop gesê dat dit slegs aantygings is en dat daar nog nie konkrete bewyse is wat enige iets staaf nie. Magashule, wat sélf een van die mees omstrede, korrupte en gevaarlike ANC-lede tans is, staan ook steeds aan die hoof van ’n groot magsblok in die ANC. Daar is ’n ganse boek geskryf oor hoe hy oor die afgelope 40 jaar sy politieke pad geplavei het met moord en korrupsie. Die blatante arrogansie van die ANC het hiermee baie duidelik geword.

Dié drie was medepligtiges, nou is hulle parlementslede. Hierdie gebaar spreek van ’n party wat so blind van magsbeheptheid geword het, dat hulle optree asof hulle onaantasbaar is.

Die ANC het vir té lank weggekom met al hul onderduimshede en vernietigende beleid en sodoende gewoond geraak daaraan. Hul aanname dat hulle met byna enige iets kan wegkom, was tot dusver ook nie so vreeslik verkeerd nie – Suid-Afrikaners het hulle die afgelope 25 jaar, en nou weereens, die mag gegee ten spyte van alle aanduidings dat dit die verkeerde ding is om te doen.

Die ANC het dit baie duidelik gemaak presies waar húl prioriteite lê. Die belangrike vraag is dan nou of die meerderheid van óns, die kiesers, se prioriteite in die toekoms weer by hierdie openlik erkende kriminele organisasie gaan lê. Alle Suid-Afrikaners wil beslis nié die ANC as regerende party hê nie. Die hartseer ding is egter dat álmal se lot deur die meerderheid se stem bepaal word. Solank as wat die meerderheid die ANC aan bewind hou, gaan ’n uitsonderlik uitdagende toekoms ons in die gesig staar.

’n Demokratiese bestel impliseer dat die regerende party se mag net so ver strek as dít wat die mense bereid is om aan hulle toe te eien. Politici kan net mag misbruik indien hulle dit kan verkrý. Landsburgers is dus allermins in ’n magtelose posisie wat die stand van sake in ons land betref. Dit is juis hierdie magtige invloed van die kiesers wat die koers van ons land kan bepaal. Diegene wat hierdie mag nie aanwend om vooruitgang teweeg te bring nie, kan net so aanspreeklik gehou word as die politici wat húl mag verkeerd gebruik.

George Orwell het die gewigtigheid van hierdie verantwoordelikheid opgesom deur te sê: “Mense wat korrupte politici verkies, is nie slagoffers nie, maar medepligtiges.”

Almal wat die afgelope verkiesing ANC-kiesers, -kaders en -kamerade was, dra by tot Suid-Afrika se dodelike agteruitgang – júlle ís aandadig.

  • Monica Mynhardt doen tans ‘n internskap by die Solidariteit Navorsingsinstituut.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

Cherokee ·

Dit het my ook onmiddellik opgeval, Anel. ‘n Harde maar pragtige skryfwerk wat ‘n doel kon dien in ‘n ander media.

Veritas ·

Monica dit slaan die meeste nugterdenkende mense stom dat die meerderheid dit nie raaksien nie. Al aanname wat ons kan maak, is dat die meerderheid kiesers óf baatvind deur korrupsie óf net eenvoudig te dom is om die werklikheid raak te sien.
Die ergste is dat ons nie met sekerheid kan sê dat dit beter sal gaan onder ‘n ander regering nie aangesien dit nie net die politici is wat skuldig is aan korrupsie nie maar dat die net baie wyer strek. Vir elke korrupte pokitikus, is daar ‘n magdom ander wat ook hierby betrokke is.
Die oplossing is om die sukkelende massa kiesers te oortuig dat dit verkeerd is om korrup te wees en dít blyk geen maklike taak te wees nie.

Gert ·

Ek glo dat ANC-ondersteuners ‘n heel ander idee het van demokrasie as die westerlinge. Vir hulle is dit ‘n manier om saam te skep aan korrupsie, jy kry jou korrupte maatjies in die regering, en dan suig julle saam die stelsel leeg. Verder is elkeen van die 17 miljoen wat lewe van welsynstoelae, uit die aard van die saak getroue ANC-ondersteuners.
Dis die probleem met sosialisme, kiesers stem vir hulle omdat hulle belowe om voortreflike mense se goed te vat en vir nuttelose mense te gee.

Chris du Plessis ·

Solank as wat ras-identiteit politiek in RSA bedryf word, solank sal daar nie n ware demokrasie wees nie. Dis duidlik dat die swart meerderheid nie instaat is om westerse demokrasie aan te wend nie. In die res van Afrika is dit dieselfde storie.
Hoe gouer blankes uit die politiek prentjie verdwyn, hoe beter vir almal want dit sal ras-identiteit politiek laat verdwyn en vervang word met prestasie gebaseerde poltiek, soos dit behoort te wees in n goeie demokrasie.
Selfbeskikking vir Afrikaners en ook ander mindeheidsgroepe kan die geleentheid skep om demokrasie in RSA te maak werk en ook geregtigheid te laat geskied.

wonder ·

Monica, Dit brief wat jy geblaas het vandaag moet jy asb verklaar in Engels en dit publiseer landswyd sodat die hele wereld dit kan lees en begin besef wat in ons land aan die gang is, en nie net die afrikaners nie. Ons weet wat aangaan maar omdat ons die minder is kan ons niks verander nie. Regisseer alles oor die ANC en gee dit vir die amerikaners om n top verkoper MOVIE te maak hulle sal dit laaik. en dan kan almal Sien die is nou die nuwe Suid Africa In sy Kanon>>>>>>>>

Jerry ·

Laat daar geen twyfel bestaan dat die aandadiges trots is op hulle aandadigheid, die dat die oortreders vergewe word en nog n kans gegun word. n Kans vir wat? n Kans om met n twee derde meerderheid verandering teweeg te bring om nog meer te vat by die voorheen bevoordeeldes vir die voorheen benadeeldes. Agteruitgang en verval vir ons is nie dit vir die revolusioneres nie, nee vir hulle beteken dit hoop. Dit beteken n beter lewe met geld vanaf die belastingbetalers via die staat reguit na die aandadiges toe. Verandering wat kolonialiste verarm en vernietig sal beteken dat sosiale vryheid behaal is, hoe duur die prys wat betaal word, ookal is. Die skrywer verwys tereg daarna dat dit n uitsonderlike uitdagende toekoms is wat voorle. Ek wil myself verstout deur te se dat gegewe die onoorkombare uitdagings mbt veiligheid en waarvan die grafstilte statistiek getuig, die twee derde meerderheid en die rigting wat die aandadiges aangedui het, voorspel die winde van verandering, n toekoms wat wink wat ek nie eers my vyande sal toewens nie!

Steven ·

Die aandadigheid strek verder.
Almal wat gestem het, het geloofwaardigheid aan ‘n kriminele stelsel gegee.

Dis reeds in 1994 begin waardie Blanke minderheidsgroep nie die stelsel moes ondersteun het nie.
Indien ons buite die demokratiese proses sou gestaan het, on ‘n beter uitkoms beding gewees het.

Nou is ons vasgevang in ‘n magstryd met die gepeupel wat die eise stel en die ekonomies aktiewe burger word vir alled gepynig.

Die model is onvolhoubaar en sal meegee, nes Venezuela en ander sosialistiese state…
Dis dan wanneer hel losbreek, wanneer hongersnood en onverdraagsaamheid sy ware karakter na vore bring in mense.

@Steven ·

Ek stem 100% saam met jou. Dis hoekom ek ook nie stem nie.

Kallie ·

Ontspan, sit terug. Pieter Groenewald en sy spannetjie het mos belowe om die slaanwerk te doen.

Hendrik ·

Aan almal wat nie die afgelope verkiesing gestem het nie, julle is aandadig aan die ANC se meerderheidsoorwinning. Dis eenvoudige laerskool wiskunde. In ‘n proporsionele bestel is elke stem wat nie uitgebring word nie, ‘n stem in die sak van die party met die meeste stemme – die ANC. Julle het die kans vir ‘n koalisie teen die ANC verskraal. Niemand sien julle “protes” deur nie te stem nie, raak nie. Eintlik dink ek julle is sommer net te lui om iets behalwe kla te doen.

Jimmy ·

Daar is 23 miljoen wat nie gestem het nie. Dit is ‘n boodskap dat die stille meerderheid geen vertroue in die politieke sisteem het nie.

Oujongvrou ·

Die hele Afrika lyk gehawend. Dis wat die mense wil he. Hulle soek nie vooruitgang en westerse dinge nie. Klein afdak langs n stofstraat met paar groentesoorte en hulle is so gelukkig as kan kom. Dis hoe dit is.?

Piet parys ·

Ja en die 23 miljoen skree die herdste oor alles wat verkeerd is maar is te slapgat om te stem

Jimmy ·

Piet Parys, feit is, 23 miljoen miljoen is meer as dubbeld wat vir die ANC gestem het, en baie meer as die 414 000 wat vir die VF+ gestem het. Dit is amper ses keer meer as die wit bevolking. Moenie jou bekommer oor Afrikaners wat skreeu nie, die meeste het klaar boedel oorgegee. Ander soek self oplossings sonder om op politici staat te maak. Die groot skreeu sal kom van swart mense, meestal jonges wat nie eens geregistreer het nie. Indien hierdie mense begin skreeu sal jy moet hardloop vir jou lewe. As hulle jou grond wil hê, gaan hulle dit vat.

koos ·

Gaan soek bietjie die volgende video greep op youtube:

Her Name is “Ms. Ann”

Klopjag ·

So hierdie stelsel van “demokrasie” het ons misluk, en ons staar nou ‘n baie wesenlike eksistensiële bedreiging in die gesig.

Wat is die volgende stap?

Klopjag ·

Sekerlik is die tyd nou ryp om te onderhandel vir ‘n onafhanklike gebied – ruil grond vrywilliglik vir ‘n kleiner stuk staatsgrond wat geoormerk is vir afstigting. Alle partye kan tevrede wegstap en nie ‘n druppel bloed hoef gegiet te word nie.

janneman ·

Die volgende stap is grondgryp. Die massas het slim gewerk, hulle het areas begin beheer deur “blockbusting”, en daardeur die meerderheid stem in gebiede bekom. Dia tyd dat ons as inderheid saamstaan en spesifieke areas teiken en opkoop, en die mense wat verkoop oorhaal om nie vreemdes te laat inkoop nie. Dan kan jy gebiede begin beheer, en dit ekonomies vedder ontwikkel vir eie groeps gewin. Ons het nie nodig om in afgelee plekke van voor af te gaan opbou teen n nie mededingende prys nie.

Kallie ·

Janneman, daar sal weer oor opgebou moet word in afgeleë plekke, weg van die massas. Die stedelike gebiede sal in elk geval stelselmatig afgebreek word.

skep jou eie toekoms ·

JONG AFRIKANERLEIERS moet kennisneem van die inhoud van hierdie skrywe, Dit bevat inligting wat jou lojaliteite, doelstellings en toekomsvisie moet bepaal. Ons het JONG LEIERS nodig om in die voorste linie onverskrokke en vreesloos weerstand te bied teen ‘n vyand wat nie oornag weggewens gaan word nie.

Jerry ·

Ek stem saam met “skep jou eie toekoms” jong Afrikanerleiers, maar ek verskil oor waar jongmense hulle eie toekoms moet skep. My beskeie opinie is om jou eie toekoms te skep in enige land waar jy en jou nageslagte welkom en veilig sal wees! Moet nie n land kies waar jy en jou nageslagte nie welkom en veilig gaan wees nie!

humor ·

Jerry wat maak jy in nog in hierdie land wat vir jou so ondraaglik is. Kry tog nou maar koers ons wil nie gedemoraliseer word nie

Andreas ·

‘n Naby familie-lid wat baie hoog gekwalifiseerd is in finansies en vir ‘n staatsdepartement werk, is die week vir twee dae in ‘n privaat hospitaal opgeneem met erge afwyking. Met die aankoms by die hospitaal het die persoon rukkings gehad. Die uitslag van die observasie, akute stress.

hercu ·

vertaal die stuk in Engels en plaas dit op sosiale media en direk aan Cyril Ramaphosa!!

ek dink dis hoe die meeste meeste mense in SA voel

Skuweberg ·

Monica, die inhoud van hierdie ope brief dui daarop dat jy al die eienskappe besit as een van die Jong leiers wat ‘n verskil sal kan maak in SA. Onverskrokke en vreesloos dankie dat jy opstaan vir die waarheid.

Klipindiebos ·

Neem n foto van die ope brief en die landsvlag. Raam dit met die inskripsie “OORKONDE AAN DIE ANC”

Johanna Botha ·

Vertaal asb ook in engels en ander tale ! So waar ! En die wat nie gaan stem het het eintlik saamgestem …lamsakke !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.