ʼn Terugblik, vorentoe kyk

Kevin Anderson. Foto: Twitter via @Wimbledon

Kleintyd kyk ek slaafs tennis op die televisie tydens die wintervakansie. Ek droom van ʼn besoek aan die grasbane en ja, om te speel op die hoofbaan.

Dis die vroeë 90’s en die SAUK het ʼn ateljee by Wimbledon. Chris van Onselen is die aanbieder.

Dis die era van Steffi Graf en Jana Navotna, Pete Sampras en Andre Agassi, Conchita Martinez en Richard Krajicjek, ʼn jong Martina Hingis en ʼn ouer Goran Ivanisevic.

Tussen wedstryde of as daar kante geruil word, hardloop ek buitentoe, gryp my Slazenger-raket en begin balle slaan teen die plaashuis se siersteenmuur.

Die ongelyke bakstene maak dat ek moet duik en spring en van rigting verander. Soos die toernooi verloop word die wintergras al hoe yler en die stofkolle al hoe meer. Ek slaan ʼn venster of twee stukkend en party balle eindig op die dak op. Ek is in die sewende hemel.

*

Julie 2009. Ek land op Heathrow. As deel van ʼn skole-tenniskompetisie wat my span gewen het, is die prys ʼn besoek aan Wimbledon. Dis somer in Europa. Wimbledon is ʼn grasgroen dorpie wat wemel van tennisspelers. Ek kyk hoe speel Roger Federer op die hoofbaan; eet aarbeie en room; ondersteun Jeff Coetzee saam sy familie en sien ʼn jong Kevin Anderson op ʼn buitebaan speel. Die hoofbaan lyk wêrelde weg vir die jong reus.

*

Raven Klaasen. Foto: All England Lawn Tennis Club, Joel Marklund (ANA)

Julie 2011. Dis winter op Potchefstroom. Wimbledon het die vorige week klaargemaak en Suid-Afrika speel om die Davis-beker teen Holland. Dit is my eerste week saam met die span. Ek werk as geestesbreier met die spelers: Rik de Voest, Izak van der Merwe, Weslie Moodie en Kevin Anderson. Weslie is siek en kan glad nie speel nie. Hy tree ʼn week later uit professionele tennis. Die voormalige Wimbledon-dubbelskampioen en ek praat die heel week terwyl die ander oefen; dit word ʼn meestersklas oor tegniek, besluitneming en die eise wat die sport aan jou stel. Die Woensdagmiddag maak oefening teen 17:00 klaar.

Die son sak reeds in die Wes-Transvaal; die lug is dun en die kwik daal vinnig. Kevin vra of hy nog ʼn mandjie balle kan dien. Ek en die kaptein, John-Laffnie de Jager, bly by hom. Kevin se dien is sy wapen en hy wil heeltemal voorbereid wees vir Vrydag. Ek staan aan die ander kant van die baan en tel balle op. En koes vir die kanonskote wat Kevin teen 230 km/h afvuur in die sterk skemer. Hy dien nog ʼn mandjie. Dis so te sê donker en yskoud. Ek leer daardie middag iets van vasbyt en meer doen as wat van jou verwag word. Dalk is die hoofbaan tog binne sy bereik.

September 2011. Dit is weer Davis-beker-tyd. Weer Potchefstroom. Met Weslie wat uitgetree het, is daar nou plek vir Raven Klaasen. Raven se enkelspelloopbaan staan einde se kante toe. Hy kies om te fokus op sy dubbelspel. Sy plek op die ranglys is naby 200. Dit ʼn moeilike week vir die span. Kevin sukkel met ʼn besering. Izak beseer sy gewrig vroeg in sy wedstryd. Ons kans om die Wêreldgroep te haal lyk skraal. Teen die Sondag is die skrif aan die muur. Dit is die laaste keer wat Kevin vir Suid-Afrika in die Davis-bekertoernooi speel.

Ek hou kontak met die spelers. Raven stel belang, gesels saam, vra vrae en ons begin op ʼn informele basis saamwerk; op sy vlak is daar nog nie geld vir iemand soos ek se dienste nie, maar ek help graag as iemand gretig is.

September 2012. Ons speel teen Kanada in Montreal. Direk ná die Amerikaanse Ope. Raven het die laaste jaar sy plek op die ranglys só verbeter dat hy in die eerste ronde kon speel; ʼn groot deurbraak in sy loopbaan. Hy vorder tot by die derde ronde. Iets is aan die gebeur.

In Kanada is dit die opmars van Milos Raonic en Vasek Pospisil. Saterdag wen Izak en Raven die dubbels teen Daniel Nestor en Pospisil. Nestor is een van die suksesvolste dubbelspelspelers nog. Raven begin glo dat hy op die hoogste vlak kan speel. Hy is 82ste in die wêreld en reeds 30 jaar oud.

September 2013. Suid-Afrika speel teen Slovenië om in Groep 1 te bly. Ons speel op klei. Ons swakste oppervlak. Izak is beseer. Rik begin die einde van sy loopbaan bereik. Jonger spelers word betrek. Raven is 60ste op die ranglys en nou ʼn senior speler in die span.

Hy speel die Saterdag dubbels saam met Nik Scholtz. In ʼn poging om die jonger speler te help op die baan dink hy te min aan sy eie spel en speel hy nie goed nie. Ná die wedstryd gesels ek en die kaptein kliphard met hom; dis net nie goed genoeg nie. Hy neem dit ter harte en gaan wen die volgende twee toernooie en speel in die eindstryd van die derde. Sy plek op die ranglys is ewe skielik 45ste.

Januarie 2014. Raven en sy dubbelspelmaat, Eric Butorac, daag op by die Australiese Ope sonder enige verwagtinge. Iets gebeur en hulle raak vuurwarm; wen drie gerekende spanne, onder andere die Bryan-broers. En speel in die eindstryd. Sy lewe verander. Hy kry die grootste tjek van sy lewe tot op daardie oomblik. Skiet op na no. 30 in die wêreld. Dit gee hom plek in elke groot toernooi wat sy kans op nog punte en geld verbeter. Hy is 32 jaar oud.

Roger Federer. Foto: Ng Han Guan, AP

2014-2018. Raven bly in die Top-30. Hy trou. Wen ʼn Masters. Wen ʼn paar 500’s. Verander van dubbelspelmaats. Speel in die Wimbledon-halfeindstryd. Speel in die ATP Tour-eindstryd. Wen nog ʼn groot toernooi. Word pa. Verander van dubbelspelmaat. Bly werk, bly glo. Die droom is nog lewend.

Julie 2018. Dit is weer tyd vir Wimbledon. Kevin het die vorige September in die Amerikaanse Ope-eindstryd gespeel. Hy is nou onder die wêreld se tien top-spelers. Raven het twee jaar van tevore in die halfeindstryd op Wimbledon gespeel en tot so hoog as no. 9 gevorder. Kevin is nou byna 32, Raven byna 36 jaar oud. En albei werk harder en speel beter as voorheen. Ná die eerste week is albei nog in die toernooi.

Kevin wen Roger Federer, op die hoofbaan, in vyf stelle. In die vorige wedstryd teen Monfils wen hy in vyf stelle. Dit is ʼn deurbraak. In die halfeindstryd wen hy John Isner in vyf stelle in daardie marathonstryd. Ek dink terug aan daardie Woensdagmiddag in Potchefstroom, sewe jare gelede. Dis nou al daardie ekstra myle deur sy loopbaan wat begin afbetaal.

Raven en sy spanmaat, Michael Venus, wen hul derde ronde en kwarteindronde in vyf stelle, hul halfeindstryd in vier. Op amper 36 is daar nog petrol in die tenk.

Ons het twee Suid-Afrikaners in die eindstryd van Wimbledon. Ek kyk albei finale punt-vir-punt.  Raven-hulle verloor in vyf stelle, Kevin in drie. Die pad na Wimbledon, na die eindstryd, is een van vasbyt. Die Suid-Afrikaners gryp ʼn nasie se verbeelding aan met hul veggees.

Ná Sondag se eindstryd stap ek buitentoe; die gras is vaal en die lug is dun, die son sak. Die siersteenmuur staan nog. Êrens in ʼn geut lê ʼn verbleikte tennisbal. En ek weet: Drome word tog waar. Dalk net nie soos ek gedink het dit sal nie.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Gielie Hoffmann

Meer oor die skrywer: Gielie Hoffmann

Gielie Hoffmann doen as leierskapskonsultant leierontwikkeling by skole en universiteite. Daarmee saam help hy sportspanne en atlete om geestelik voor te berei.

Deel van: Ander sport, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

11 Kommentare

Koos ·

Gielie, heerlike herinneringe, ook aan die jongtyd. Ek lees egter nou die dag dat SA tennis het erken dat hulle te min vir jong spelers, of dan liewer vir Kevin Anderson gedoen het. Dit was nie net met Kevin die geval nie, maar baie voor hom, ek dink aan daai jare van Johan Kriek, Kevin Curren, myself, die juniors, ander voor dit, daar is sovele. Skryf ook oor die oudstryders en bring hulde aan hulle, daar is ‘n kas vol!

Paul ·

O ja en bring ook hule aan Jaroslav Houba en en wat hy vir SA tennis vermag het. Ek dink weinig van julle wat hier die lees weet van hom.

Paul ·

Maar Maroela laat my net nie toe om enigiets oor Jaroslav Houba te sê het nie. Plaas dat hulle vir mense soos Cliff Drysdale nader om meer inligting oor daardie legende te kry. Gielie, ek neem aan jy weet van Houba se herkoms en dwergtennis wat hy hier kom bekend stel het, sy suksesse.

Willem ·

Interessant genoeg was Kevin nooit in die verlede beskikbaar om vir SA in die Davisbeker te verteenwoordig nie, gaan lees maar gerus self sy redes, maar nou na Wimbledon is hy ‘n volbloed SAner.

Gretha ·

En moet asseblief nie van die dames vergeet nie, hulle is éérs versaak. En waarom is almal dan nou so stil?

André ·

Ek was ook op van daardie kampe en het teen van daardie mense in toernooie gespeel. Een ou wat nie genoem word nie, se naam is Louis Badenhorst van Witrivier wat daardie jare ook op een van Houba se kampe was, en hy KON speel, het ook later oorsee kompiteer, maar ons het nie berigte van hom hier ter plase gekry om te lees nie. Louis, as jy my kan lees, ek woon nou nie ver van jou af nie, hier in Nelspruit.

Paul ·

Hier volg ‘n skrywe wat my broer vir my uit die Kaap gestuur het:

Mnr Houba het natuurlik n onuitwisbare indruk op al sy leerlinge en almal wat met hom in aanraking gekom het gemaak. Soos jy sal weet het hy teen die einde van die 40,s uit sy geboorteland Tsjeggo-Slowakye gevlug om weg te kom van kommunisme. Nie net hy nie maar ook sy leerling Jaroslav Drobny wat Wimbledon enkels titel gewen het begin 50,s.

Google jy Drobny dan sien mens hoedat hy na Engeland en Egipte gevlug het en later vir Egipte Davis Beker gespeel het. Alles weens kommunisme. Tog vergeet jy jou geboorteland nooit. Ek het dit gesien toe ek Houba se begrafnis bygewoon het. Kerk in Rondebosch. Kis voor in die kerk. Gedrapeer oor die kis sy geboorteland se vlag. Talle van sy leerlinge het sy begrafnis bygewoon.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.