’n Vae bedrag vir die NGV, maar wat is die werklike koste?

medies-pille-gesondheid-pyn-pixabay

Foto: Pixabay/Pexels.com

Ná jare van syfers wat uit die duim gesuig is, ontwykende optrede en raaiskote deur mense in die regering en ander sektore van die samelewing, het die Afrikaanse Sondagblad Rapport onlangs berig dat dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, aangedui het dat die regering in die toekoms ’n bykomende R30 miljard per jaar gaan bestee aan die implementering van die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV)-stelsel.

Die tesourie het onlangs skrikwekkende feite oor die stand van sake in die departement van gesondheid aan parlementslede verstrek. Sowat R600 miljoen wat vir voorbereiding vir die NGV bestem was, was teen die vierde kwartaal van verlede jaar nog nie bestee nie. Die eerste vraag wat beantwoord moet word, is hoe hulle beoog om ’n bykomende R30 miljard te bestee as hulle selfs nie eens ’n breukdeel van hierdie bedrag kan bestee nie.

Volgens Mkhize sal die geld bestee word aan voorgeboortesorg, chroniese medisyne en (vasgepende) tariewe vir dokters, wat verplig gaan word om ’n sekere aantal mense in ’n geografiese gebied te bedien. Ons het darem nou ’n vae idee van waaraan die geld bestee gaan word, al weet ons steeds nie hoe die toedeling gaan lyk nie en selfs of die jaarlikse R30 miljard korrek is en nie (ook) uit die duim gesuig is nie.

Die vraag is nou hoe en hoekom hierdie geld bestee gaan word, en leidrade hiervoor kan gekry word in wat Mkhize nié gesê het nie. Die regruk en bou van hospitale en die koop van nuwe toerusting is nie eens op die lys nie, of waarskynlik vir die minister nie belangrik genoeg om genoem te word nie. Om eerlik te wees, dit sal R30 miljard en nog baie meer kos om hierdie taak selfs net naastenby af te handel.

Die opleiding van dokters en verpleegkundiges – twee professies met ernstige personeeltekorte in Suid-Afrika – het ook nie Mkhize se lys gehaal nie. Die media berig ook dat die helfte van alle geregistreerde verpleegkundiges binne die volgende 15 jaar gaan aftree en dat daar nie naastenby genoeg jong verpleegkundiges is om hierdie groeiende gaping te vul nie. Die emigrasie van gesondheidswerkers na ontwikkelde lande as gevolg van die vraag na dienste vir ouerwordende bevolkings is nog ’n ernstige probleem wat al die afgelope twee dekades bestaan. Uitdagings – alles die gevolg van ’n toksiese mengsel van die regering se onbekwaamheid, burokrasie en swak beleid – met die akkreditering van gekwalifiseerde verpleegkundiges en om die privaat sektor toe te laat om personeel op te lei, is nog ’n oorsaak van hierdie tekort. Selfs die privaat sektor sukkel om vakatures te vul. ’n Mens kan dit ’n krisis noem.

In die lig van die genoemde en ongenoemde bestedingsprioriteite kan met veiligheid gesê word dat dit bloot die staat se bestaande bestedingsprioriteite weerspieël wat gesondheidsaangeleenthede betref. Daar is niks spesiaals nie. Dit is dienste en produkte wat gelewer moet word ongeag ’n plan om die NGV te implementeer. Wat tragies is, is hoe die huidige begrotings bestee en wanbestee word en dat hierdie dienste in talle gevalle klaaglik ontoereikend is om in die publiek se behoeftes te voorsien. As die huidige stand van openbare gesondheidsorg enigsins as ’n ernstige maatstaf kan dien, is ons baie ver van selfs naastenby iets wat soos universele gesondheidsorg van kwaliteit lyk.

Mkhize het ook genoem dat 30 bestuurders nou na die Verenigde Koninkryk, Japan, Frankryk en ander Europese lande gestuur word om te leer hoe universele gesondheidsorgstelsels werk. ’n Mens sou dink dit is lankal reeds gedoen, voordat die kabinet onlangs die NGV-wetsontwerp van 2018 goedgekeur het, wat ons blindelings gedompel het in iets waarvoor die land heeltemal onvoorbereid is.

En waarom nou hierdie lande, nadat die ANC sy ideologiese riglyne nog altyd uit Kuba, die Sowjetunie en, meer onlangs, Venezuela gekry het? Ryk Westerse lande – vir wie die ANC niks meer as minagting het nie – en Japan het nou blykbaar die toonbeeld geword waarop die NGV gemodelleer gaan word al verskil hierdie lande (en ook Kuba) se ekonomiese, demografiese en siekteprofiele heeltemal van dié van Suid-Afrika.

Mkhize, sy baas en hul party neem almal hul toevlug tot fantasie en wensdenkery by gebrek aan die wil om moeilike besluite te neem. Suid-Afrika se gesondheidsorgstelsel kan baie verbeter word deur dissipline by openbare instellings af te dwing, aanspreeklikheid te verhoog en die voet dwars te sit vir die militante sosialistiese vakbonde wat die stelsel en die publiek as bevoordeeldes daarvan ondermyn, en ook deur die privaat sektor in baie groter mate te betrek en te dereguleer. Dit is nie besonder moeilik nie, maar die ANC het klaarblyklik nie die morele eerlikheid of politieke wil om die besluite te neem wat saakmaak nie. Pleks daarvan kanaliseer hulle geld weg van ander bestedingsprioriteite of belas hulle ons tot die dood toe om hierdie hersenskim ’n werklikheid te maak.

Die NGV en die geld wat daaraan bestee word, is soos hoofpynpille (wat selfs lewensbedreigend kan wees) as die mees basiese en fundamentele kwessies nie reggestel word nie. Einde ten laaste is daar darem nou ’n newelagtige syfer aan die NGV geheg, maar die koste van versnelde emigrasie van gesondheidsberoepslui en belastingbetalers, verhoogde belasting, ’n genasionaliseerde privaat gesondheidsorgsektor en verdere regeringsonbevoegdheid moet nog bereken word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is ʼn entrepreneur, sake-konsultant en onafhanklike politieke kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

honourable member ·

Tragies om te dink n handjie vol van die tax betalers gaan weer die massas moet subsiseer vir gratis medies.

Jordaan ·

Jy doen dit in elk geval, al wat gaan verander is dat hulle jou ook nou gaan dwing om dieselfde “dienste” te gebruik.

Liamari ·

Kan dokters regtig gedwing word om pasiente te behandel vir ‘n sekere fooi? Het elkeen tog nie die reg om self te besluit of hy eerder privaat wil praktiseer nie? Wat se die wet hieroor? Hoe kan hulle almal dwing om by die NVG by te dra? Daar moet seer sekerlik ‘n hele paar hofsake wees voor ek gedwing kan word om tot die staat se fonds by te dra? Dis dan mos nou nie meer ‘n demokrasie nie, ons is dan onder ‘n kommunistiese bestel as almal gedwing word om vir die staat te werk of aan die staat te behoort?

John ·

Nee mense, ons moet gee en gee, handevat, vredemakers en die minste wees, gee, gee en gee want die hele Afrika wag op die wonderwerk wat in SA bewerk is deur die ANC, onderskryf deur die NP-onderhandelaars en hul towenaar, M. Dinge (so ‘n mooi beskrywende woordjie) gaan beter gaan. 67 is die syfer… nulle moet nog net bykom, vir die oplos van alle probleme. Wag en sien… SA gaan die wèreld wys… die pad aandui… na die hoe en waar dinge (so mooi woord) behoorlik werk… Moet net nie in die tussentyd siek word nie… Hang solank ‘n sakkie met kamfer en knoffel om die nek… dit werk glo…

HPV ·

Jip. En daar word net geneem en geneem tot vervelens toe! Nog ‘n instelling van die ANC wat jaarliks ‘n reddingsboei gaan benodig, en dink net ‘n hele R30 miljard om te verdeel en plunder. Mooi man!

Liamari ·

Kan medici regtig gedwing word om teen ‘n sekere tarief te werk en om oorlaai te word met die massas? Hoe beskerm die wet medici wat eerder privaat wil praktiseer? Hoe kan ons gedwing word om maandeliks by te dra tot die NGV? Dan is ons mos in ‘n kommunistiese bestel waar almal gedwing word om vir die staat te werk? EK weet van ‘n hele paar spesialiste wat aangedui het dat hulle glad nie meer sal werk nie. Hulle tree eerder af of emigreer. Dis ‘n ramp.

Frans C ·

My grootste vrees is dat die NVG die ondergang van baie kleiner mediese skemas gaan wees.Salaristrekkers en pensioenarisse sukkel reeds om die hemelhoë premies van die huidige skemas te betaal.
Om dus van hul te verwag dat hul ook tot ‘n NGV moet bydra kan lidmaatskap aan ‘n mediese fonds te duur maak.Hulle sal dus of moet bedank of afskaal na die laagste vlak van die mediese fonds.

Dit sal slegs die rykes en superrykes wees wat bydraes tot die NGV en mediese fondse sal kan bekostig.Mens kan verwag dat bydraes tot die NGV soos UIF van salaristrekkers en pensioenarisse verhaal sal word,wat weer ‘n ekstra las op werkgewers gaan plaas.

Soms wonder ek of ‘n mens nie net ‘n misplaaste lojaliteit aan Suid Afrika het nie.Wat help dit jy was vir 10jaar verbonde aan die ou SAW,het jou diensplig voltooi,getrou al die kampe en parades bygewoon as alles op ‘n skinkbord weggegee is en dit wat jy help beskerm het in ieder geval tot ‘n gemors onder die ANC verval?

Kobus ·

Die ouer garde blankes het gedoen wat gedoen moes word. Dit is nou agter ons en daarom moet ons aanbeweeg. Feit is, die land is nou afgebreek, met geen kans om dit weer op te bou solank militantes aan bewind bly nie. Die regering moet net onthou dat blankes die dinges uit die die staat gaan dagvaar vir swak mediese sorg en nalatigheid. Arm swartes aanvaar maar hul lot, want hulle is magteloos. Geld kan egter nie ‘n lewe terugbring nie.

hercu ·

Die ANC het mag gekry en die regering het korrup geword! daar’s pasiënte wat op hospitaalvloere doodbloei terwyl verpleegsters ‘n tee breek vat!  SA het ‘n openbare padstelsel wat die beste in Afrika was, wat nou nie geskik is vir enige voertuig nie, en ons het voortdurend treine wat uitbrand; talle geboue, skole, universiteite en munisipale kantore word verbrand. Deur SA se kwota-stelsels het julle ons sport in die afgrond in; die regering is oorhandig met ‘n burgerlike lugvaartmaatskappy wat een van die oudste en beste was; ons het SABC, SAL, Denel, die Poskantoor, Eskom, SARS, Transnet, Iskor, alles funksioneel en winsgewend oorhandig; julle het hulle bankrot gemaak, hulle aan onbekende oorsese mense verkoop, hulle geplunder en ALLES in die grond vertrap; alles wat die ANC ontvang het, is vernietig, beskadig, bankrot en/of afgebrand; die enigste wat julle in 25 jaar probeer het, het ‘n mislukking geword – soos VBS Bank; en nou beweer julle dat wit arrogansie die rede is waarom daar ‘n gebrek aan respek vir die swart meerderheidsregering is; ons het nie respek vir die ANC regering, nie omdat dit swart is nie, ons het nie respek, omdat hulle disfunksioneel, korrup en onbevoeg is – vertel ons:

hoekom moet ons, julle, die ANC steeds meer geleenthede gee as ons sien wat julle doen met wat ons in goeie werkende toestand vir julle gegee het in 1994!!

dennis jones ·

dit gaan oor basiese reg op lewe,hoekom moet n ryk persoon meer reg he op lewew as n arm persoon

Jordaan ·

As jy so begin redeneer is die uiteinde niemand mag omtrent enigiets doen met sy eie geld nie. Waarom kan die ryk mens meer spandeer om sy gesin en huis te beveilig, dit is mos dan ook onregverdig Moet almal dieselfde risiko he om vermoor te word?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.