Nederlandse stemuitslae dui op polarisasie

Thierry Baudet van die Forum vir Demokrasie by die bekendmaking van die verkiesingsuitslae in Amsterdam in Maart 2018. (Foto: Reuters/ Cris Toala Olivares)

“Aardverskuiwend”. “Monstersege”. Dít is die opskrifte in Nederlandse koerante ná 20 Maart se verkiesing vir provinsiale besture en indirek ook vir die lede van die dié land se senaat (“eerste kamer”).

Die nuwe Forum vir Demokrasie (FvD) van Thierry Baudet het van geen setels die grootste opposisieparty in die senaat geword. Die party het meer as 14% van die stemme gekry en 13 setels in die 75-setel senaat.

Die huidige regeringskoalisie van die VVD, CDA en D66 is sy meerderheid in die senaat kwyt. Premier Mark Rutte se VVD self het sowat 13% van die stemme en 12 setels. Die regeringspartye sal nou moet onderhandel vir steun oor wetsontwerpe in die senaat.

Groenlinks van Jesse Klaver, ’n party met ʼn verlinkse verlede, het nege setels in die senaat. Dié party het in die meeste groot stede die grootste party geword, soos in Amsterdam, Den Haag en Utrecht. Forum, eers in 2016 gestig, is daarenteen die grootste party in baie voorstede en ook in stede soos Tilburg en Almere.

Forum en identiteitspolitiek

Forum gee ’n duideliker stem aan gematigde identiteitspolitieke en eko-realistiese stemme onder die middelklas, werkersklas en jong mense. Die party het dus baie kiesers en etlike setels van die VVD (18%), CDA en PVV (31%) oorgeneem.

Thierry Baudet, die jong akademikus met ʼn uitspattige styl, se toespraak gisteraand gee ’n goeie idee van sy denke: Die Europese beskawing is een van die grootstes nóg in die wêreldgeskiedenis en Nederland is ’n deel daarvan. Die land se mense moet belangrike bevoegdhede wat hulle aan die EU afgegee het terugneem en massa-migrasie van vreemde kultuurdomeine beperk. Hulle moet ook nie baie van hul hulpbronne mors op ’n klimaatpolitiek terwyl Nederland maar ’n klein onderdeel van die aarde uitmaak nie.

Forum en PVV

Die anti-migrasie PVV en Forum vang vis in verskillende waters en gedra hulle byna asof daar ’n onderlinge nie-aanvalsverdrag is. Die PVV se steunbasis is ná die verkiesing kleiner, maar die party het sy kernbasis behou.

Forum het ’n gematigde identiteitspolitiek nou in wyer kringe in die Nederlandse politiek ingedra. Te oordeel na kennisse hier het Forum ook buitelandse Afrikaner-stemme getrek.

Die Volkskrant-spotprent met Baudet op ’n doodskis en soortgelyke propaganda om sy idees te koppel aan die Nieu-Seeland-terroris van dae gelede, het nie gewerk nie.

Forum het steeds ’n opdraande pad om die party self uit te bou en vele slagysters te vermy. Die gevestigde partye het egter gisteraand ’n stewige dwarsklap gekry.

Europese parlementsverkiesings

Baudet het toe TV-kameras gisteraand minute lank op hom gefokus het, sy toespraak gebruik om af te skop vir die Europese parlementsverkiesings in Mei. Hierdie kombinasie van rebelsheid en identiteitspolitiek gaan die politieke ordes in ander Europese lande ook verder roer.

Polarisasie neem toe in die politiek van Europese lande, veral oor klimaatpolitiek, migrasie, sosio-ekonomiese verdelings en nasionale bevoegdhede in die EU. Dis ook duidelik in die suksesse van Forum en Groenlinks.

Nes ʼn mens dink identiteitspolitieke kwessies mag verdwyn in Europa, duik daar iewers weer ’n insident op: Soos die Senegalese busbestuurder wat vandeesweek die bus met Italiaanse kinders aan die brand wou steek uit protes teen Europa se migrasiebeleid. Of die Turkse skutter met ’n verkragtingsklag en kriminele rekord, wat in hegtenis geneem is in verband met die skietdood van mense Maandag op ʼn trem in Utrecht.

Nuwe politieke patrone

Die politieke denkdomein is aan’t verander. Kiesers kies meer eklekties per kwessie en per verkiesing, eerder as om langdurig een party te steun. Protesstempolitiek en nuwe swewende kiesers het ’n stewige aandeel in uitslae.

Die politieke spektrum in Europese lande raak ook meer gefragmenteerd. Die kampe wat voorheen as sosiaal-demokraties of Christen-Demokraties of liberaal gegeld het, het nou meer partye as voorheen opgelewer. Dit raak al moeiliker om regeringskoalisies te vorm met ’n meerderheid en ook om hulle te laat werk.

Die gevestigde partye soos die VVD en CDA sal ook moet besin hoe hulle die suksesse van flankpartye by ontevrede kiesers hanteer. Dit is egter steeds dikwels gevestigde partye en hul ondersteuners wat die lakens uitdeel: in parlemente, diplomasie en verdediging, maar ook in sakesektore en universiteite.

Afrikaner-organisasies moet in Europa voortgaan om met ʼn spektrum van rolspelers kontak te bou en te behou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Heinrich Matthee

Dr. Heinrich Matthee is ʼn politieke en veiligheidsontleder wat spesialiseer in Midde-Oosterse en Moslem-politiek wêreldwyd. Dr. Matthee het meer as 14 jaar se ervaring in adviesdienste aan regerings, multinasionale maatskappye en nie-regeringsorganisasies. Hy skryf uit Nederland.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Ai ·

Komaan Holland, laat die buitelanders in man. Dit is mos soveel fun…
Nes die dae toe jul aan die voorpunt was om Apartheid in Suid Afrika te beveg! Jul staan mos nie vir om apart te wees nie al dan nie huh? Jul het mos mooi gewys jul hou van diversiteit so kom nou embrace dit, jul is mos nie hipokrate nie is jul?

Annie Webb ·

Piet, ek verskil 100% van dié stelling van jou. Dis ‘n puik artikel wat die belangrike nuus uitlig sonder dat persoonlike vooroordeel feite oordonder. Daar is absoluut niks met die “skryfstyl” verkeerd nie, waarvan praat jy? Ek sien uit na verdere artikels deur dié kundige skrywer, ons weet gans te min van die Europese politiek, waar daar nou juis gróót woelinge plaasvind.

Gerrit ·

Puik artikel. Nie vir Standaardgraad lesers nie. Ons media is so swak dat sulke joernalistiek, nie sal deurdring tot meeste Afrikaanssprekendes nie. Dit is om soos van Boet en Saartjie op te gradeer na NP van Wyk Louw. Dankie Maroela dat jul gereeld artikels plaas, wat wyer strek as sensasie, propaganda en spekulasie.

Zombie ·

Ek is van mening dat die skryfstyl van goeie gehalte is. Kan jy miskien ń uittreksel as voorbeeld van die “patetiese skryfstyl” verskaf, Piet? Moontlik kan dit ons ander lesers help om jou vae aanval op die kwaliteit van die skryfstyl beter te verstaan.
(Jou eie skryfstyl laat veel te wense na. Dit is vaag. ń Stelling word gemaak en dit word in dieselfde sin met ń vraag, sonder ń vraagteken, opgevolg.)

Skuilnaam ·

En wie moet vir die “gratis” nuus betaal? Jy moet dankbaar wees dat die Solidariteit beweging gratis nuss deur Maroela Media verskaf.

Herman ·

@ Piet. Moet asb nie n gegewe perd in die bek kyk nie. Jy lees gratis nuus en ek neem aan dis gratis geskryf ook.
Betaal maar jou geldtjie aan 24 en dan mag jy kritiseer.

Dankie aan die skrywer vir n brokkie internasionale nuus. Word opreg warder.

Marthinus Willemse ·

Piet het die reg op vryheid van spraak, ongeag of die diens gratis is of nie. Deur die geldargument te gebruik, vernietig jy eintlik die beginsel van vryheid van spraak. (Jy se dan eintlik: net rykes, wat geld het om te betaal vir nuus, kan vryheid van spraak uitoefen.)

Piet ·

Dankie Herman, vir jou oor die vingers tik lessie. Ek betaal nie vir nuus nie. Dit behoort n reg te wees vir elke wereld burger im gratis nuus te ontvang. Dit behoort ook n reg te wees vir elke wereld burger om vryheid van spraak te he, iets wat hier op MM beslis nie toegepas word nie, soos baie ander lesers kan getuig. Ek lees deesdae meer Engelse nuusblaaie waar meer nuus vrylik beskikbaar is, en waar kommentaar nie so streng gereguleer word nie.

Groete en mag dit met jou wel gaan.

Karin ·

Totsiens Piet. Mag dit goed gaan. Jou kommentaar sal nie gemis word nie.

Gert ·

Dankie tog uiteindelik begin die Europeërs (in hierdie geval Nederlanders) se oë oopgaan, en begin hulle sien deur die globaliste en sosialiste se onwerkbare beleide. Ek hoop net van harte hulle kan nog iets daaraan doen op hierdie laat stadium, met reeds byna 20% Moslems in die land.

Heinrich van Zyl ·

Kyk, as daar nou een wêrelddeel is waarvoor ek absoluut vere voel, is dit Wes-Europa.

Rupert Ashford ·

Die wiel draai, maar is dit dalk al te laat vir Wes-Europa?

Annie Webb ·

Die Europeërs en Britte het hulle ewe gedwee deur linkse regerings en media laat vertel hulle moet die oorstroming, mesaanvalle, verkragtings en “voertuigmoorde” deur migrante maar verdra, anders is hulle rassisties, xenofobies, ens. Eers toe pres. Trump in die VSA verkies is en dinge sê wat hulle net gedink het maar nie durf sê nie, het hulle ook moed geskep en begin teenstand bied. Dank aan die skrywer van dié artikel vir ‘n kykie in die politiek van een van ons “stamlande”. Ná dekades van linkse oorheersing, veral deur die media, draai die wiel nou. En ál vinniger.

Therese van Schalkwyk ·

Baie dankie vir hierdie insiggewende artikel oor die woelinge in die Nederlandse politiek. Én, sonder om ooit die woorde: verregse, ekstreme, populisties óf die verguisde T-woord nodig te vind. ‘n Vars briesie sowaar.

Wat die voorlaaste paragraaf betref, die gevestigde partye se hantering van die sterk Geert Wilders – party in die verlede kan ‘n aanduiding wees oor hóé hulle besin oor die suksesse van flankpartye. Kiesers se wense word gewoonlik ignoreer en dis bloot foeter voort. Soos die skrywer tereg sê: dis steeds die gevestigde partye wat poste en gunste aanbied.
(HAT geraadpleeg oor “die lakens uitdeel”.)
Elke land het klaarblyklik sy politieke ‘moeras’, in ‘n mindere of meerdere mate.

Die wyse waarop Afrikaner-organisasies moet sméék om die aandag van ons vernaamste stamland op die vergrype van die ANC te vestig, laat ‘n bitter smaak.
Heinrich van Zyl (hierbo) se gevoel is dus heeltemal te verstane.

Jeremia ·

Dis inderdaad eintlik te laat vir Europa en sy oorspronklike inwoners. Wat More toe nie eeue gelede heeltemal kon regkry nie, toe hulle deur Karel Martel verslaan is, het die afgelope tyd gebeur.
Die baie hoë prys van die ou kolonies kan oral op die vasteland en Engeland gesien word.
Die EU en VN en ander soortgelyke organisasies sorg dat instroming versnel.
Die Untergang des Abendlandes wat ook in Engels vertaal is!

Gys ·

Vir al wat ek omgee, kan al Wes-Europa se paleise in moskees omskep word.
Oos-Europa en die Kaukasiese streek is in elk geval baie interessanter vir vakansies.

George in Bloem ·

Ek soos baie ander viel eintlik maar vere wat in die patetiese ou landjie aangaan. Hulle was voor in die koor toe die messe uitgedeel is om die blanke in Suid Afrika mee in die rug te steek. Hulle liberale uitkyk gaan die oorsaak wees van hulle ondergang soos meeste ander van die lande in hierdie deel van die wereld. Nogal ironies..

John ·

…. selfs aspirien, sè dokters, is nie so gesond as wat ons dink nie en om die heeltyd aan die Europese kiesers ligte pynmiddels wat ontsteking teèwerk te voer, om so die groei van die erge sweer te verbloem, is wat gebeur… maar noem dit kamma demokrasie. Europa was gewees… dit het klaar oorgegee aan sosialistiese-mengelmoes-partye met vreemde gelowe… ag so mooi… en binnekort dra al die Hollandse anties kopdoekies uit angs… en noem dit meèlewing… met diegene wat eintlik hul land bestuur.

Stephan de S ·

Dankie Heinrich….die paar artikels van jou wat ek al gelees het,was nog altyd vol insig en helderheid. Iemand het jou goed geleer om na die wêreld en gebeurtenisse te kyk. Sien uit na nog artikels deur jou geskryf.

aj ·

As gevolg van die ewolusionêre-, geneties vasgelegde oorlewingsdrang by ALLE spesies, klou ‘soortgelyke’ groepe (bv. Kaukasiërs) aan mekaar en verstoot ANDERSE groepe (bv. Afrikane).

Dit gebeur wedersyds (aantrekking of afstoting).

Met ander woorde:

Rasse voorkeur en afkeur spruit voort uit die drang om OORLEWING van die soort (spesie/ras) en is daarom onuitwisbaar deel van die mens.

FACE IT!

As gevolg van wensdenkery by die liberale humaniste word dié bg. geneties bepaalde rasse vooroordeel ONTKEN.

Na dekades van pogings om dié ‘liberale sosiale eksperiment ‘ van ”nie rassigheid’ te propageer het dit wêreldwyd MISLUK !

Hou nou op daarmee!

Viva Thierry Baudet!
Viva Forum vir Denokrasie!!!

Arrie ·

Hollanders bly hardkoppig…geen wonder die Afrikaner was nog altyd verward nie. Laat die duiwel by de voordeur in jul klootsakke en jul gaan vinnig by die agterdeur uit. Wakker slaap!

Simba ·

Dit is n wonder Nederland s nie lankal oorstroom deur immigrante nie, daar is prostitusie en drugs lankal wettig.

Frans C ·

Dit is seker maar omdat dat Noord en Zuid Holland van die bekendste provinsies is dat
daar na alle mense van Nederland as Hollanders verwys word.

Bande in europa bou ·

Laaste sin baie belangrik, ons moet sterk aan bande met ander westerse samelewings bou voor ons wereldwyd uitgedryf word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.