Nobelprys vir Vrede vir Iranse vroueregte-aktivis

Iranse vroulike menseregte-aktivis, Narges Mohammadi, kyk toe terwyl sy op 19 November 2007 ‘n sessie bywoon in die voormalige kantoor van die Verdedigers van Menseregtevereniging in sentraal Teheran, Iran. (Foto: Morteza Nikoubazl / NurPhoto / NurPhoto via AFP)

Vanjaar se Nobelprys vir Vrede is aan die Iranse vroue- en menseregteaktivis Narges Mohammadi toegeken. Die nuus het nou ondergegaan in die skoknuus van die aanval op Israel, maar dit bly ʼn belangrike gebeurtenis elke jaar.

Mohammadi is die vise-president van die organisasie Defenders of Human Rights Center (DHRC), wat hom beywer vir die regte van vroue, godsdienstige minderhede, politieke gevangenes, vir die afskaffing van die doodstraf in Iran en vir menseregte in die algemeen. Mohammadi sit al sedert 2010, met kort onderbrekings, in die tronk weens haar weerstand teen die bewind en dien ʼn langdurige tronkstraf uit.

Met die toekenning word nie net erkenning aan Mohammadi as persoon gegee nie, maar ook aan die duisende vroue wat teen die onderdrukkende regime in Iran betoog en daarvoor geslaan, in hegtenis geneem en selfs gedood is. Alhoewel Iran tans veral in die nuus is as geswore vyand van Israel en as befondser en beskermer van die terreurgroep Hamas wat die aanvalle op Israel uitvoer, is dié land ook wat sy binnelandse politiek betref ʼn wrede en onderdrukkende regime.

Mohammadi is selfs binne die tronk ʼn aktivis wat rekord hou oor mishandelings van gevangenes en wat stakings probeer organiseer, todat sy later in ʼn enkelsel gesper is. Sy was ook ʼn inspirasie vir die landswye betogings van vroue in 2022 nadat ʼn vrou deur die godsdienstige polisie in hegtenis geneem en doodgeslaan is omdat sy haar kopdoek nie volgens voorskrif gedra het nie. Mohammadi se man Taghi Rahmani is in ballingskap in Parys, Frankryk, en voer die stryd van daar. Mohammadi kan, wat dikwels die geval is met die wenners van die Nobelprys vir Vrede, dit weens haar status as gevangene nie self in ontvang neem nie.

Die toekenning van die Nobelprys vir Vrede word dikwels beïnvloed deur die nuusgebeure en meesal aan mense of organisasies toegeken wat oorloë en konflikte beëindig. Dit word egter ook toegeken aan aktiviste vir menseregte, minderhede en selfs vir omgewing. Daar is tans soveel konflikareas dat dit moeilik is om een uit te sonder, en ander konflikte wat al as beëindig beskou is, het weer uitgebreek. Dit is goed dat Iran se Islamitiese regime deur vanjaar se toekenning aan Mohammadi weer aan die kaak gestel word. Dit is 20 jaar gelede dat die prys laas aan ʼn Iranse aktivis, Shirin Ebadi, toegeken is wat die stigter van die DHRC is en ʼn soortgelyke stryd as Mohammadi voer.

Die Iranse teokrasie bestaan al sedert 1979 en verskeie opstande teen dié bewind is bloedig onderdruk, afgesien van die alledaagse onderdrukking van vroue, etniese en godsdienstige minderhede en opposisiegroepe. Dit was vanjaar een van die dapperder keuses om ʼn aktivis wat in die tronk is, boonop in ʼn magtige en aggressiewe land, as wenner aan te wys. Talle kere het die Nobel-komitee persone of organisasies as wenner gekies wat magtig en invloedryk is en ook nie ʼn tekort aan geld het nie, soos Barak Obama, Al Gore, die Europese Unie of verskeie onderorganisasies van die Verenigde Nasies.

Die aankondiging van die Nobelpryse geskied sedert 1901 en vind elke jaar in Oktober in Stockholm, Swede plaas en begin met toekennings vir prestasies in verskeie natuurwetenskappe asook in literatuur. Die Nobelprys vir Vrede as “politieke prys” word algemeen as die hoogtepunt en die toekenning wat die meeste aandag trek beskou en word, anders as die ander Nobelpryse, in die Noorweegse hoofstad Oslo toegeken. Die waarde van die prys is 10 miljoen Sweedse Krone (omtrent 860 000 Euro of R17,54 miljoen).

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.