Nóg ’n skandaal. Nog ’n dag in die VSA

rhoda-kadalie-2019-01-28

Rhoda Kadalie. Foto: Verskaf.

Die hoofopskrifte in The Wall Street Journal van 8 Mei 2020 lui: “Die kwytskelding van Michael Flynn”. Die anti-Trump Bloomberg News sê: “Geregtigheid uiteindelik vir Michael Flynn”. En The New York Times lees: “Flynn het twee keer gelieg.”

Toe ek Suid-Afrika verlaat het om by my dogter aan te sluit in die land van vryheid, het ek nooit kon dink dat korrupsie my so sal walg soos toe ek nog in SA was nie. In my  skryfstukke het ek probeer om lesers ‘n blik op die binnewerking van Washington DC te gee – deur Dan Brown beskryf as ‘n stad wat “alles het wat Rome, Parys en Londen het ten opsigte van indrukwekkende argitektuur en magsbasisse van formaat. Washington bied nie slegs pragtige obeliske, piramides, ondergrondse tonnels en manjifieke kuns nie, maar ook ‘n groot skaduwêreld wat ons regtig nie sien nie (my beklemtoning).” Dit is op hierdie skaduwêreld wat advokaat-generaal (AG) Bill Barr sy soeklig laat val het toe hy ‘n mosie ingedien het om die saak teen generaal Michael Flynn – op grond van dokumente wat aan die prokureurs van Flynn bekendgemaak is – te laat vaar. Hierdie dokumente het as bewys gedien van die onderduimse gekonkel van die FBI om Flynn uit die weg te ruim. Die vraag is, wie het gelas dat Flynn vervolg moet word?

Michael Flynn in Februarie 2017 in die Withuis. (Foto: AP Photo/Carolyn Kaster)

Kort nadat Donald Trump die presidentstoel ingeneem het, het hy die weermag driester-luitenant-generaal Michael Flynn, wat daarvan beskuldig is dat hy vir die FBI gelieg het, afgedank. Flynn, voormalige direkteur van die Verdedigingsintelligensie-agentskap (DIA) van 2012 tot 2014 onder president Barack Obama, was ‘n senior adviseur vir Trump se verkiesingsveldtog en daarna (van 23 Januarie tot 13 Februarie 2017) nasionale sekerheidsadviseur.

Vreemd genoeg het Obama met die neerlê van sy amp as president vir Trump gewaarsku om versigtig te wees vir twee mense: Kim Jong-un, president van Noord-Korea, en generaal Michael Flynn. James Comey, direkteur van die Amerikaanse Federale Speurdiens (FBI), het op 5 Januarie 2017 FBI-agente na die Withuis gestuur om ‘n onderhoud met Flynn te voer oor sy kontak met die Russe. Flynn is wysgemaak dat dit slegs ‘n vriendelike gesprek met die opvolgende president was en dat hy nie ‘n prokureur nodig gehad het nie. Tog is hy uitgevra oor sy gesprekke met die Russiese ambassadeur Sergey Kislyak en die Amerikaanse sanksies teen Rusland net voor Trump se inhuldiging. Vrae was spesifiek geformuleer om Flynn in ’n strik van leuens te vang.

Robert Mueller. (Foto: AP Photo/Alex Brandon)

Toe senior regsadviseur Robert Mueller aangestel is om die kamstige Rusland-kollusie te ondersoek, het hy Flynn geteiken. Waarom Flynn se gesprekke as “strafbaar” beskou is, gaan die verstand te bowe, want soos The Federalist (14 Mei) aangevoer het: “Natuurlik het Flynn, as toetredende nasionale veiligheidsadviseur, gesprekke met talle staatshoofde en ambassadeurs gedurende hierdie tyd gevoer, dus was dit nie vreemd om met die Russiese ambassadeur te praat nie.”

In die federale hof op 1 Desember 2017 het Flynn ingestem tot ‘n ooreenkoms met advokaat Mueller om skuldig te pleit vir ‘n misdryf van “opsetlike en bewuste” vals verklarings aan die FBI. Hy het ook ingestem om sy samewerking te gee ten opsigte van die Mueller-ondersoek, wat teen daardie tyd tot ‘n skulderkenning en ses maande-tronkstraf gemanipuleer is. Hy het later sy pleitooreenkoms verander en besluit om sy saak te beveg. Om regskoste te dek, het Flynn sy huis en sy spaargeld verloor en dreigemente van afpersing – om sy seun aan te kla as hy nie die verslae onderteken nie – het hom in die gesig gestaar. Die bedoeling was om sy lewe te verwoes. Hulle het daarin geslaag.

Michael Flynn. (Foto: AP Photo/Manuel Balce Ceneta, File)

Flynn het egter met hand en tand baklei om sy onskuld te bewys. Trump het dikwels vir Flynn se onskuld ingestaan, maar hom nietemin afgedank. Onthou, die FBI se aantygings van misdaad is ernstig van aard en sal Flynn se posisie in die administrasie ondraaglik maak. Sonder ’n duit en met sy reputasie daarmee heen, het Flynn ‘n invloedryke regspan, onder leiding van die formidabele dr. Sidney Powell ingeroep. Haar soeke na noodsaaklike dokumente ten gunste van sy saak, is erg bemoeilik, veral deur sy vorige regsadviseur. Toe Mueller, spesiale raadgewer, ná ’n ondersoek van 18 maande geen kollusie tussen die Trump-veldtog en Rusland kon bewys nie, het AG Barr besluit om sommige sake rakende strafregtelike vervolging na die hoofondersoekbeampte, John Durham, te verwys, terwyl Barr voortgegaan het om die oorsprong van vals anti-Trump-dossiere, onwettige lasbriewe, die betrokkenheid van buitelandse spioene, uitlekkery, afluistery, ens. na te speur.

Pres. Donald Trump. Foto: (Doug Mills/The New York Times via AP, Pool)

Op grond van die ondersoeke deur sy kantoor, het Barr in Februarie 2020 ‘n gerekende Amerikaanse prokureur, Jeffrey Jensen, aangestel om Flynn se saak (omrede die baie onreëlmatighede daarin) te hersien. Verrassend genoeg het die departement van justisie vroeër die maand, op aanbeveling van Jensen, die saak teen generaal Flynn laat vaar omdat daar geen wettige gronde vir hul ondersoek was nie. Die Amerikaanse staatsprokureur Shea het aangevoer dat die FBI ‘n saak saamgeflans het sonder enige wettige grondslag; in der waarheid het Flynn die Russiese inmenging in die VSA se sake ontmoedig: “Die versoek van mnr. Flynn, dat Rusland ‘eskalerende’ spanning moet vermy in reaksie op Amerikaanse sanksies in ‘n poging om geopolitieke spanning te laat bedaar, het ooreengestem met sy belang in die welsyn van die Verenigde State … Eintlik was daar in die afstandgesprekke geen aanduiding dat mnr. Flynn ‘gehiet en gebied word deur … die Russiese Federasie’ nie, nog minder op ‘n manier wat ‘nasionale veiligheid bedreig het’.”

AG Barr het saamgestem en gesê dat hy die lasgewing uitgereik het. “Hier kan geen misdaad bewys word nie. Hulle het (in daardie stadium) nie ’n grondige rede gehad vir ‘n teenintelligensie-ondersoek na Flynn nie.” Hoe dit ook al sy, regter Emmett Sullivan het geweier om die mosie te laat vaar ten spyte van beduidende bewyse van Flynn se onskuld. In plaas daarvan het hy ‘n ongehoorde skuif gemaak en buitepartye genooi om amicus curiae-dokumente aan die hof voor te lê voordat hy ’n hofbeslissing kan maak. Obama se verset het inderdaad die regbank, media, akademie en die staatsdiens so geïnfiltreer dat die oppergesag van die reg net so vaag blyk te wees soos respek vir die Grondwet.

Verskeie kwessie wat uitstaan in die Flynn-saak:

  1. Terwyl Flynn op 24 Januarie 2017 skuldig gepleit het dat hy vir die FBI gelieg het, was dit duidelik dat die agente van die buro elke protokol van die proses oortree het; hulle het nagelaat om hom te vertel dat hy ondersoek word; hulle het nagelaat om hom te vertel dat hy ‘n prokureur nodig het (McCabe het valslik beweer dat hy hom aangeraai het om een ​​te kry); en hulle het doelbewus nie deur die raad van die Withuis  te werk gegaan nie;
  2. Die mosie om die saak teen Flynn uit te gooi, het aan die lig gebring dat Flynn nie met Rusland geheul het nie; dat direkteur Comey geen wettige rede gehad het om sy adjunkte na die Withuis te stuur om ’n onderhoud met Flynn te voer nie (Comey het selfs so ver gegaan en dit in ’n TV-uitsending bevestig);
  3. Dokumente het verder aan die lig gebring dat FBI-agente erken het dat hulle geen bewyse teen Flynn gehad het nie. In ‘n stadium wou hulle die saak sluit, maar het dit toe in elk geval oopgehou soos deur die “sewende verdieping” (die FBI-base) vereis is, aldus die FBI-agent Peter Strzok. Handgeskrewe aantekeninge van Bill Priestap, hoof van die teenintelligensiediens, het hul voornemens onthul: “Wat is ons doel? Erkenning van die waarheid? Of om hom te laat lieg, sodat ons hom kan vervolg of afgedank kry?”
  4. In teenstelling met die beëdigde getuienisse van Yates, Clapper en Rice, dat hulle niks het om Flynn mee te beskuldig nie, het hulle die leuen dat Flynn ‘n Russiese agent was, telkemale in die openbaar herhaal – kop in een mus met die inskiklike media, veral CNN, MSNBC, The Washington Post en The New York Times.
Barack Obama

Barack Obama. (Foto: AP Photo/Pablo Martinez Monsivais)

Die aanklaer van Mueller, Brandon Van Grack, is onkant gevang met die stortvloed van gedeklassifiseerde bewyse deur die waarnemende direkteur van nasionale intelligensie, Richard Grenell, en het hom van die saak onttrek. Die dokumente wys duidelik hoe siek en vals die Obama-administrasie was rakende die vernietiging van Trump – daarom die komplot teen Flynn (deur waarneming en afluistery), met die samewerking van die gewone vertrouelinge tydens ‘n vergadering in sy kantoor vroeg in Januarie 2017. Teenwoordig was visepresident Joe Biden, Susan Rice, nasionale veiligheidsadviseur, die destydse direkteur van die CIA, John Brennan, die destydse direkteur van die nasionale intelligensiediens, James Clapper, die destydse direkteur van die FBI, James Comey, die destydse adjunkprokureur-generaal, Sally Yates, en president Obama.

Ná die vergadering het Obama hulle verdaag, maar Yates en Comey (wat in die Trump-administrasie sou voortgaan) gevra om agter te bly. Waarnemende advokaat-generaal Yates was verbaas dat Obama heeltemal vertroud was met Flynn se gesprekke met die Russiese ambassadeur Kislyak, terwyl sy, as waarnemende AG, min geweet het.

(Foto: AP Photo/Marcio Jose Sanchez)

Die meer ernstige vraag wat ondersoek moet word, is waarom is Flynn geteiken? Hoe kan Obama se obsessie met Flynn verklaar word? Obama het sy mes vir Flynn ingehad sedert hy sy sogenaamde sukses met die vernietiging van Al-Qaeda weerspreek het. Flynn het ontken dat dié terroristeorganisasie, volgens Obama, op die vlug was nadat hy Osama Bin Laden vermoor het; dat Al Qaeda hulself vinnig in Noord-Afrika en die Midde-Ooste geherposisioneer het; en dat Isis nie verslaan is nie.

Die tweede, meer kommerwekkende rede: Obama se behoefte om Flynn te vernietig, spruit uit die feit dat hy as voormalige senior intelligensiedirekteur, en as toekomstige adviseur van die nasionale veiligheidsagentskap vir Trump, die hele Amerikaanse Federale Speurdiens (FBI), die Amerikaanse Intelligensiediens (CIA), die Nasionale Intelligensieagentskap (NIA) van Rusland / kollusiekomplot aan die kaak sou stel om die president te onttroon. As sodanig was hy ‘n direkte bedreiging vir Obama se poging tot ’n staatsgreep en sou hy die hele kaartehuis binne ‘n oomblik laat intuimel het.

(Foto: AP Photo/Andrew Harnik)

Die skokkende vonds van geheime dokumente wat op 7 Mei aan die lig gekom het, het die diepte van die FBI se misdrywe onthul – agente wie se belangrikste plig juis is om misdaad te ondersoek, nie te skep nie. Flynn se gesprek met Amb Kislyak het geen predikaat vir ‘n kriminele ondersoek verskaf nie. Flynn is klaarblyklik afgeluister, sy naam is bekendgemaak en aan die media uitgelek. Die vraag is, wie was daarvoor verantwoordelik?

Die komediant Dennis Miller beweer wrang: Washington DC is vir leuens soos Wisconsin vir kaas is. Die omgekrapte president, wat sedert sy verkiesing ondermyn is in die uitvoering van sy pligte, verklaar: “Hy was ‘n onskuldige man …”

“Hy is ‘n wonderlike heer. Hy is deur die Obama-administrasie geteiken, en hy is geteiken met die doel om ‘n president te probeer plattrek, en wat hulle gedoen het, is ‘n skande. Ek hoop dat ‘n groot prys hiervoor betaal sal word.”

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Rhoda Kadalie

Die rubriekskrywer Rhoda Kadalie is afgetree en woon tans in die VSA. Sy is die voormalige direkteur van Impumelelo Sosiale Innovasiesentrum, menseregtekommissaris en akademikus.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Mauritz ·

Soos gewoonlik het Rhoda goeie insig in sake waaroor sy berig of kommentaar lewer. Wat my opval is: Wysig ‘n paar name van mense en plekke en sy kon dalk oor gebeure in Suid-Afrika berig het.

Maria ·

Hoogs interessante stuk!! Baie dankie. So kom alles oor tyd uit want die wiel knars voort!

Boerkind ·

Dankie Rhoda! Ek lees graag jou feitelik korrekte werk! Ja, jy is reg, arme Trump gaan deur hel en die media is deel daarvan. Ook hier, sien ons maar dieselfde korrupte media. Hulle is te vol valsheid om hierdie land se eie regering, president en totale inploffing as gevolg van ‘n vernietigende ANC met sy kommunistiese regime aan te vat. Nee, hulle sal liewer klakkeloos die internasionale “media” napraat! Het Trump sy eie mense ooit al as “invaders” bestempel? Het Trump sit en toekyk (soos CR) hoe sy land geplunder word? Ag, daar is nie eens ‘n vergelyking nie – as ons maar ‘n Trump gehad het…. nou het ons net die “bevelsraad”, N Zuma, Cele, Fikele… en liewe t-hemp Patel… CR? Nee wat, ek dink net in sy eie “media” is daar nog respek vir hom as ‘n leier….

Jack ·

Demokratiese stelsels en instelling word oral ter wereld deur die sosialiste/kommuniste in die wereld geteiken en geinfiltreer met die doel om die wereld in ‘n sosialistiese utopie te omskep, daar waar almal gelyk, ewe ryk en ewe gelukkig sal wees. Die agterdeur waardeur die kommunisme toegang verkry is liberalisme en multi-kulturalisme.

Nou is dit ongelukkig so dat die sogenaamde liberales, met die massiewe en deurlopende steun van die grootste propaganda masjien wat nog ooit bestaan het die hoofstroom massa media, die narratief geskep/geskaak dat hulle die enigste “goeie” mense is , wat glo in vryheid, gelykheid, demokrasie, nie-rassigheid ens en enige iemand wat van hulle verskil is rassiste en onderdrukkes van die armes, die LGBT groep ens.

Enige iemand wat van hulle verskil, soos Trump of Flynn of behoudendes, of gewoonweg net blankes wat trots is op hulle afkoms en geestelike erfenis, moet sleg gese and afgekraak en vernietig word. Lieg en konkel soos nodig.

Jakes ·

Stem……maar die groot dryfkrag agter die klomp libs is geld…….kyk na Soros, Pelosi, Sanders en die Clintons , Obama en die mal klomp in Brussels.

Human ·

Dankie Rhoda vir die “Fake News” nou het jy Don Tantrum Trump se juig kommando se dag gemaak.

Henk ·

Hierdie artikel is jy nooit as te nimmer in Netwerk24 lees nie !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.