Oktober, ʼn belangrike en rigtinggewende verkiesingsmaand

stembus-stem-stemmery

Foto: The-declaration.org

In Oktobermaand vanjaar vind verskeie nasionale en streeksverkiesings plaas, (of het reeds plaasgevind), wat met belangstelling dopgehou word en wat toekomstige rigtings kan aandui. In tye van blitsvinnige internetkommunikasie, beïnvloed verkiesings in een land dié in ʼn ander een meer as in die verlede, en speel plaaslike en selfs nasionale sake minder van ʼn rol, terwyl globale tendense belangriker word.

Voorverlede naweek (7 Oktober) was in Brasilië die verkiesing vir president, kongres, goewerneurs en plaaslike owerhede.

Veral die presidentsverkiesing is met groot belangstelling dopgehou. Die regsgesinde kandidaat Jair Bolsonaro het die stoutste verwagtings oortref en in die eerste ronde met amper 47% ver uitgestyg, nadat peilings vir hom omtrent 27% voorspel het. Hy moet nou op 28 Oktober in die uitklopronde teen die kandidaat van die linkse Arbeidersparty, Fernando Haddad, staan. Alhoewel Bolsonaro se oorwinning nie ʼn uitgemaakte saak is nie, is sy kanse baie goed en sal sy verkiesing tot president die populistiese golf nuwe stukrag gee. Immers is mnr. Bolsonaro se bynaam “die Donald Trump van Suid-Amerika”, omdat hy ewe uitgesproke en polities onkorrek is (en ewe gehaat deur die hoofstroommedia en die globale elite). Bolsonaro se veldtog was ook merkwaardig, omdat dit feitlik uitsluitlik deur die sosiale media gevoer is en sy eie party, die Sosiaal-Liberale Party, voor die verkiesing baie klein was en min uitvoerende mag gehad het. Ná die verkiesing het dit nou oornag ʼn groot party geword.

België het op 14 Oktober sy provinsiale en munisipale verkiesings gehou. Die uitslae was baie divers en plaaslike sake het uit die aard van die saak ʼn groter rol gespeel as nasionale sake, sodat ʼn duidelike tendens na links of regs nie vasgestel kan word nie. Die gematigd-regse Nuwe Vlaamse Alliansie (NVA) wat die deelstaat Vlaandere regeer, het effens verloor, maar die nasionalistiese Vlaams Belang (VB) het goed gevaar en sy steun aansienlik verhoog. Ook die hoofstroom konserwatiewe Vlaamse Christen-Demokrate (CDN-V) het goed gevaar. Aan die linkerkant het die Groenparty goed gedoen, maar die Sosialiste, tradisioneel sterk in die Franse deelstaat Wallonië, het steun verloor. Opmerklik is ook dat die land ʼn toenemend meer diverse samelewing word en dat partye wat spesifiek vir migrante se belange staan, opgang maak. Enkele stede het reeds burgemeesters uit die migrantegemeenskap.

In Duitsland is twee streeksverkiesings, een in Beiere op 13 Oktober en een in Hesse op 28 Oktober. In Beiere het die Christen-Sosiale Unie (CSU), sustersparty van kansellier Merkel se Christen-Demokratiese Unie (CDU) sy volstrekte meerderheid verloor en skerp teruggesak. Die CSU is regs van die CDU en veral meer uitgesproke oor die beperking van die migrasiestrome en bots daaroor met kansellier Merkel, maar ʼn neerlaag vir die CSU is ook ʼn neerlaag vir Merkel as algehele leier. Die regse Alternatief vir Duitsland (AfD) het die eerste keer sy intog in die Beierse streeksparlement geneem met ʼn stewige uitslag, maar ook die Groenparty aan die ander kant van die spektrum het besonder goed gevaar, terwyl die Sosiaal-Demokrate (SPD) ʼn harde hou gekry het. In Hesse regeer die CDU (met ʼn Merkel-lojalis as premier) in koalisie met die Groenparty en sal na alle verwagting ook steun verloor. Die Sosiaal-Demokrate (SPD) behoort verder te verloor, terwyl die AfD ook in Hesse, die laaste provinsie waar hulle nog nie verteenwoordig is nie, goed behoort te doen. Nog ʼn swak vertoning van haar party kan mev. Merkel se amper onaantasbare posisie as partyleier in die gedrang bring. Selfs die nasionale koalisie met die SPD kan in die gedrang kom, want ʼn vuisvoos SPD kan voel dat hulle in die opposisie beter kan vaar as in die regering.

In die Duitssprekende outonome provinsie Suid-Tirool in Italië word op 21 Oktober gestem. Tans regeer die gematigd-konserwatiewe Suid-Tiroolse Volksparty (SVP), wat met die vorige verkiesing in 2013 vir die eerste keer sy volstrekte meerderheid verloor het, in ʼn koalisie met die gematigd-linkse Demokratiese Party (DP). Na alle aanduidings sal die SVP met die liggewig premier Arno Kompatscher steun verloor, veral na regs. Die stygende misdaad en verandering van die streek se karakter deur migrante uit die Derde Wêreld sorg ook daar vir onmin. Die regsgesinde party Die Freiheitlichen en die Suid-Tiroolse Vryheid kan daarby baat. Al twee staan ook vir groter selfbeskikking en wil die outonomiestatuut nuut onderhandel en die bande met Oostenryk versterk.

Afghanistan kies ook op 20 Oktober. Die verkiesing is soos gewoonlik oorskadu deur geweld en die kanse dat ʼn stabiele regering tot stand en die land tot ruste kom, is klein. Wie ook al die verkiesing wen, gaan ten beste die hoofstad Kaboel en omgewing beheer, terwyl groot dele onder die skrikbewind van die radikaal-Islamitiese Taliban is.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Santie ·

Dankie Sebastiaan! Die wêreldwye politieke swaai na regs is belangrike nuus maar word natuurlik deur die linkse media geïgnoreer of hoogstens in negatiewe terme beskryf. Hou ons asseblief op hoogte. Ek volg die Belge op ‘n Facebook-blad genaamd ReAct maar kon nog nooit die politieke partye onderskei nie. Nogmaals dankie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.