Om federalisme werklik te waardeer, moet jy dit ervaar

Ernst van Zyl.

Ek en my kollega Ernst Roets het onlangs die Verenigde Nasies (VN) in Europa besoek as deel van AfriForum se internasionale bewusmakingsveldtog. ʼn Sekondêre oogmerk van hierdie reis was om weereens te skakel en bestaande bande met gevestigde vriende van Afrikaners in die semi-outonome Italiaanse provinsie van Suid-Tirool te versterk.

Verskeie van my ervarings op hierdie buitelandse reis het vir my die wesenlike praktiese waarde van die federale idee, en die afwenteling van mag wat dit impliseer, uitgebeeld en ek het daardeur tot waardevolle nuwe insigte gekom.

Switserland se kantonstelsel

My eerste praktiese ervaring van federalisme was in Genève, Switserland. Die Switserse federale kantonstelsel is in 1848 ingestel.

Dié stelsel, met 26 afgebakende kantons, maak dit moontlik vir Switserland om volhoubare, vreedsame linguistiese en kulturele diversiteit binne ʼn enkele groter nasionale entiteit te geniet.

Weens Switserland se vier nasionale tale, naamlik, Duits, Frans, Italiaans en Romansh, speel federalisme ʼn sleutelrol in die handhawing van sosiale kohesie, die bewaring van kultuur en die voorkoming van konflik.

Genève val byvoorbeeld binne ʼn Franssprekende gedeelte van Switserland en vorm deel van die geografiese Franse kanton van Genève, amptelik ook bekend as die Republiek en Kanton Genève. Die straatname, spyskaarte, handelstaal, kennisgewingborde, ensovoorts laat jou maklik voel of jy ʼn stad in Frankryk besoek.

Die onmiskenbare kulturele kontras tussen kantons het ooglopend geword met ons treinrit na Suid-Tirool. Met ons wegtrek in Genève was Frans hoofsaaklik die taal oor die interkom, maar toe die trein in Bern stop, hoor ons skielik Duits saam met Frans oor die interkom – aangesien die kanton van Bern demografies tweetalig is. Met ons aankoms in die Duitse stad Zürich, is die stasie weer hoofsaaklik gekenmerk deur die gebruik van Duits.

Vlae van die verskillende Switserse kantons (Foto: AFP)

Die Switserse federale kantonstelsel verseker dat kantons alle magte behou wat nie aan die konfederasie gedelegeer is nie – hetsy deur die federale grondwet of ander nasionale wetgewing.

Die kantons het byvoorbeeld beheer oor, en is verantwoordelik vir, gesondheidsorg, openbare onderwys, wetstoepassing, welsynsbesteding, belasting en so meer. Elke kanton bepaal sy amptelike taal(e) en mag verdrae met ander kantons sluit en selfs met ander lande ook. Elke kanton se grondwet bepaal op sy beurt weer die mate van outonomie wat aan munisipaliteite gedelegeer word. Sommige munisipaliteite in Switserland het byvoorbeeld beheer oor hul eie plaaslike polisiemag en elke kanton bepaal ook sy eie openbare vakansiedae.

Suid-Tirool se selfbestuur

Die semi-outonome Italiaanse provinsie van Suid-Tirool word ʼn beduidende vlak van selfbestuur en outonomie gegun – dit sluit in ʼn reeks wetgewende en uitvoerende magte, asook ʼn fiskale bestel wat dit toelaat om 90% van sy belastinginkomste te behou.

Suid-Tirool is sedert 2016 die rykste provinsie in Italië en ook een van die welvarendste in die Europese Unie. In 2022 het hul reeds 50 jaar van uiters suksesvolle groter outonomie gevier.

Demografies het Suid-Tirool weens historiese redes ʼn Duitssprekende meerderheid. By die Verenigde Nasies se Forum vir Minderheidsaangeleenthede in Genève is Suid-Tirool ten minste drie keer genoem as ʼn voorbeeld van ʼn minderheidsgroep wat suksesvol outonomie oor vele sake gegun is.

Die Suid-Tirolers het groot respek vir ons Afrikanerhelde en vind aanklank by ons eie eeue-oue stryd vir vryheid en selfbeskikking teen groot oormagte. Die Südtiroler Freundeskreis der Afrikaaner (Suid-Tiroolse Vriendekring van die Afrikaners) is 12 jaar gelede in 2010 op die been gebring om groter samewerking en beter verhoudings tussen die twee gemeenskappe te bewerkstellig.

In Bozen, die hoofstad van Suid-Tirool, is ons hartlik deur ons vriende verwelkom. By Christoph von Ach, wat ons genooi het vir aandete, se huis is een van die eerste goed wat ek opgemerk het ʼn borsbeeldjie van generaal De la Rey en ʼn boek oor Paul Kruger op sy boekrak.

‘n Standbeeld van die Tiroolse held Andreas Hofer (Foto: Fondation Napoléon / Photo12 via AFP)

Een van die Tirolers se eie groot volkshelde is Andreas Hofer, ʼn herbergier wat in 1809 die leier van die Tiroolse Rebellie teen Napoleon se inval geword het. Net soos die Afrikaners in die Anglo-Boereoorloë, was die Tirolers ook meestal nederige boere wat dapper weerstand gebied het teen ʼn groot imperialisties mag wat hul wou verswelg.

Met my besoek aan die Opfer für die Freiheit (Offer vir Vryheid)-museum, het ek baie geleer oor die uitgerekte Suid-Tiroolse stryd vir vryheid en outonomie gedurende die 20ste eeu. Toe die fascistiese Mussolini-regime in 1922 in Italië aan bewind gekom het, was ʼn proses van “Italianisering” op die Suid-Tirolers deur die Italiaanse regering afgedwing.

Hierdie het onder meer die verandering van Duitse straat-, dorp- en stadsname ingesluit. Die stad Bozen waar ons besoek afgelê het, het byvoorbeeld steeds vandag ook ʼn Italiaanse naam: Bolzano. Suid-Tirolers is selfs geforseer om hul name en vanne van Duits na Italiaans te verander. Verder is Italiaans as die enigste amptelike openbare taal ingestel. Duitse skole is gesluit en daarna verbied, en Duitse onderwysers en staatsamptenare is afgedank.

Massa-immigrasie van Italianers vanuit die suide van die land is deur die regering aangemoedig om Suid-Tirool se demografie te verander en selfs werkreservering is spesifiek vir Italianers ingestel.

Dit is geen wonder dat die Suid-Tirolers só ʼn sagte plekkie vir Afrikaners het nie. Beide volke deel ʼn soortgelyke geskiedenis van dapper weerstand teen die oordonderende bedreiging vanaf ʼn imperiale mag.

Opvallend is ook die vele parallelle en soortgelyke meganismes van onderdrukking tussen die bogenoemde poging tot kultuuruitwissing deur die Italiaanse regering op die Suid-Tiroolse minderheid en die ANC-regering se hedendaagse aanvalle en wetgewing wat Afrikaners en ander minderheidsgroepe teiken.

Slot

Hierdie insiggewende Europese skakeltoer het opnuut twee gedagtes sterk by my bevestig. Eerstens, dat elke kultuurgemeenskap dit verdien om sy lot in sy eie hande te neem. Tweedens, dat geen volk dit kan bekostig om ʼn eiland te wees nie.

Ander lande of gemeenskappe se modelle en oplossings kan ook nie eenvoudig slaafs deur ons gekopieer word nie. Ons sal ons eie oplossings vir ons unieke omstandighede en behoeftes moet ontwikkel. Ander lande en gemeenskappe kan wel vir ons ryk bronne van lesse, insigte, idees en inspirasie wees.

Switserland het vir my die praktiese uitvoering van federalisme met betrekking tot veral taal en kultuur gedemonstreer. Ons vriende in Suid-Tirool het my daaraan herinner het dat daar talle gemeenskappe daarbuite is wat aanklank vind by en begrip het vir Afrikaners se stryd om vryheid en wat dus meer as bereid is om ʼn hand van vriendskap en ondersteuning na ons toe uit te reik.

Goeie vriendskappe en inspirasie is bates wat vir Afrikaners goud werd is en ek voel geëerd om my beskeie bydrae te lewer deur beide vir Afrikaners en AfriForum te help versamel.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst van Zyl

Ernst van Zyl is AfriForum se hoof van openbare betrekkinge en die regisseur van die dokumentêre film Selfbestuur. Hy het ʼn meestersgraad (cum laude) in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch behaal, is medeaanbieder van die Podlitiek-podsending, bied die Afrikaanse podsending In alle Ernst aan en het ʼn kanaal vir politieke kommentaar en onderhoude op YouTube. Ernst publiseer gewoonlik bydraes op X (voorheen bekend as Twitter) en YouTube onder sy skuilnaam Conscious Caracal.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.