Linkses, trek jul sokkies op!

Argieffoto: Pixabay

“Trek jou sokkies op” is woorde waarmee almal wat Afrikaans is, grootgeword het.

Dit is op verskeie maniere gebruik. Die letterlike betekenis het daarop gedui dat jou kouse op jou skoene hang en jy iets aan jou slordige voorkoms moet doen. Opgetrekte kouse was ’n sterk aanduiding van netheid en dat jy trots is op jou voorkoms. Of dit nou jou skoolklere, safaripak of sportklere was – dit was altyd belangrik om jou kouse opgetrek te hou. Sommiges van ons het selfs kousrekke ingespan om ons kouse netjies onder die knieë op hul plek te hou.

Soms is die sinnetjie ook figuurlik gebruik om jou aan te spoor. “Jy moet jou sokkies optrek!” het in menige klaskamer daarop gedui dat daar verwag word dat jy harder sal werk en ophou om afskeepwerk te doen.

Nog ’n gebruik was in ’n dissiplinêre konteks. “Jy beter jou sokkies optrek!” het beteken dat jy vinnig in pas moet kom en dit waarmee jy besig is, vir jou eie beswil moet stop.

So het “trek op jou sokkies” ’n begrip geword wat elke jong Afrikaner baie goed verstaan. ’n Begrip wat verstaan is binne ’n kulturele konteks waar netheid, hardwerkendheid en gedissiplineerdheid erken en waardeer is. ’n Kultuur waar daar verwag word van jou om jou sokkies op te trek, omdat dit die norm is. Dit is ’n norm wat so deel is van wie ons is, dat dit as vanselfsprekend aanvaar word. Hierdie vanselfsprekende aanvaarding van netheid, hardwerkendheid en gedissiplineerdheid is van die boublokke van meriete en kompetisie, soveel so dat jou meriete en om te kompeteer, skade ly indien hierdie belangrike boublokke nie teenwoordig is nie.

In ’n wêreld soos dié wat die politieke heersers van Suid Afrika geskep het, waar gelykheid en verteenwoordigendheid die maatstaf geraak het om te bepaal of daar aan verwagtinge voldoen word, het die beginsel daarvan om jou sokkies op te trek, nie meer noodwendig ’n bepalende deurslag in jou sukses of vooruitgang nie. Hierdie linkse denke se uitkomste het tot gevolg gehad dat dié wat nié hul sokkies optrek nie, ook die geleentheid het om dieselfde te bereik as dié wat deurlopend en nougeset hul sokkies op hul plek hou.

Die gevolg is ’n kultuur waar netheid, hardwerkendheid en gedissiplineerdheid nie bepalend is vir dit wat jy bereik nie en die aansporing om dit te doen, daarmee sy krag verloor. Die gevolg is ’n glybaan van uitnemendheid na middelmatigheid na ondergemiddelde prestasie. Solank ons almal gelyk by die wenpaal kom, is dit goed so, al hang ons kouse op ons enkels.

Ag bog, man!

Ek is deur my ouers en onderwysers grootgemaak om voortdurend te let daarop dat my sokkies nie afsak nie. Ek trek my kouse op, want dit is wie ek is en dit is deel van my Afrikanerkultuur. As die ANC, linkse bewegings soos die Black Lives Matter (BLM) – en dié wat soos hulle dink in Afrika – wil hê ons moet hulle respekteer, dan is dit tyd dat hulle begin om hul sokkies op te trek.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Henk Schalekamp

Henk Schalekamp is voorsitter van Solidariteit Beleggingsmaatskappy en dien op die rade van Akademia, Sol-Tech, Solidariteit Eiendomme en Solidariteit Finansiële Dienste.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.