Om koers te hou in onstuimige waters

Ernst Roets (foto: AfriForum)

In ʼn terugskouing oor sy lewe het die 79-jarige Bertrand Russell opgemerk dat die wêreld sedert sy kinderjare grondig verander het.

Vanuit sy huis in Surrey, Engeland, het hierdie Britse filosoof in die jaar 1952 gesê: “Ek het my bes probeer om, ondanks my ouderdom, gewoond te raak aan ʼn lewe in ʼn wêreld sonder atoombomme, ʼn wêreld waar antieke ryke soos die oggendmis verdwyn, waar ons gewoond moet raak aan Asiatiese selfverbreiding, die kommunistiese bedreiging…” En voortgegaan: “Die wêreld verskil so hemelsbreed van wat dit was toe ek jonk was, dat dit vir ʼn ou man geweldig moeilik is om in so ʼn wêreld te leef.”

Russell se opmerking herinner aan die verhaal van die post-1994-Afrikaner-oom wat hom doodgetreur het. In sy jong dae was ʼn funksionerende Suid-Afrikaanse staat ʼn gegewe. Die Suid-Afrikaanse rand was sterker as die Amerikaanse dollar. Afrikaners het prestasies behaal wat wêreldwyd geprys is. Die Suid-Afrikaanse weermag was so sterk dat militêre ontleders gewaarsku het dat die Afrikaners in staat was om die ganse Afrika tot by Kaïro te verower – indien ons sou wou. Dit is nie te sê dat alles maanskyn en rose was nie. Die stelsel van ouds het ernstige gebreke bevat en was inderdaad gedoem om te misluk.

Ek deel nie die oom se pessimisme nie, omdat ek nie met sy verwysingsraamwerk grootgeword het nie. Die eerste politieke gebeurtenis wat ek kan onthou, was die TV-nuusberig waar die ou Suid-Afrikaanse vlag gestryk en die nuwe Suid-Afrikaanse vlag in sy plek gehys is. Van Nelson Mandela se termyn as president kan ek basies niks onthou nie – wat ek van Mandela weet, het ek in geskiedenisboeke gelees. Ek het onder ʼn rasbehepte ANC-regering en ʼn verbrokkelende Suid-Afrikaanse staat grootgeword.

Dit wil nie sê dat niks in my leeftyd verander het nie. Ek onthou die optimisme dat die nuwe Suid-Afrika sou werk. Ek onthou dat dit minder as twintig jaar gelede nog polities inkorrek was om die woord “Afrikaner” te gebruik. Afrikaners het verkies om kultureel na hulleself as “die Afrikaanse mense” te verwys, dikwels tot ontsteltenis van bruin Afrikaanssprekendes wat ook Afrikaanse mense is, maar kultureel van Afrikaners verskil. Ek onthou hoe Adriaan Basson in 2011 aangevoer het dat Afrikaans en Afrikaners nie in die nuwe Suid-Afrika bedreig word nie (hy glo dit klaarblyklik nog steeds). Ek onthou in 2014, toe ek ʼn bestuurskursus by GIBS gedoen het, hoe almal in my klas met groot optimisme oor die post-Zuma-Suid-Afrika gepraat het. Ek was die enigste een wat nie gedink het dinge gaan veel beter word ná Zuma nie.

Terug by die gevierde filosoof. Terwyl hy oor die groot veranderinge van sy leeftyd nagedink het, het hy opgemerk: “Ek wil nie leer om my hoop vir die wêreld te verander nie. Ek is bereid om my oortuigings oor die stand van die wêreld te verander, oor wat gebeur, maar nie oor wat ek hoop nie. Ek hoop om vas te staan daaroor.”

Dit is ʼn eerbare stelling – mits jou hoop vir die wêreld in die werklikheid geanker is. Die grootste pyn en lyding van die afgelope eeu was die gevolg van politieke projekte wat ten doel gehad het om een of ander “hoop” vir die wêreld ʼn werklikheid te maak. Wanneer daardie “hoop” die produk van ʼn ideologie is wat nie op die werklikheid neergesit kan word nie, probeer politici (aangehits deur filosowe) graag om die werklikheid te verander om by hulle “hoop” aan te pas. Dink maar aan die “hoop” van Karl Marx dat vrede en voorspoed ʼn werklikheid sou word as almal volgens hul vermoë werk en volgens hul behoefte ontvang, en die “hoop” van die postmoderniste dat die mensdom bevry sal word as ons almal entoesiasties deelneem aan die ontkenning van basiese feite. Kom ons maak dit meer omstrede: Dink aan die “hoop” dat Suid-Afrika se probleme opgelos gaan word as almal afstand doen van hul natuurlike identiteite (ons Afrikanerskap, dus) en uitsluitlik ʼn nuwe, kunsmatige identiteit (ons Suid-Afrikanerskap) omhels.

Om te kla dat die wêreld verander is normaal. Dit is selfs gesond. Baie dinge wat nooit moes verander nie, het inderdaad verander. Ons moet egter nie die fout maak om te dink dat ons die eerste geslag is wat hiermee worstel nie. Selfs antieke denkers soos Plato en Cicero het daaroor gekla. Dat die wêreld verander, is nie nuut nie. Soms is verandering goed, maar dit is dikwels inderdaad sleg. Ons moet vír goeie verandering stry terwyl ons téén slegte verandering stry. Die onderskeid is egter nie altyd ooglopend nie. Ons aanvoeling vir hierdie onderskeid moenie in die een of ander ideologie geanker wees nie, maar in die werklikheid.

In Suid-Afrika is dit soms moeilik om aan voorbeelde van goeie verandering te dink, terwyl slegte verandering oral sigbaar is. Tog is ons by AfriForum optimisties oor die toekoms. Ons weet dat sekere dinge nog slegter sal word. Tog sien ons ook dat onrealistiese hoop reeds tot ontnugtering gelei het, dat ons gemeenskap nou beter georganiseerd is as ooit tevore, dat ons die moeilike denksprong van staatsafhanklikheid na selfonderhoudendheid reeds gemaak het, dat daar al hoe meer buitelandse belangstelling en steun vir ons saak is, en dat ons saak inderdaad moreel reg is.

Ons het geval, voorraadopname gedoen en lesse geleer. Ons staan weer op. Daar lê moeilike tye vir ons voor, maar ons het inderdaad rede om optimisties te wees.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst Roets

Dr. Ernst Roets is beleidshoof van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

piet ·

Ons ou weermag kon dan nie eers ‘n paar kubane baasraak nie en om die ekonomie te vergelyk met 50 jaar terug is onsinnig. Soos die skrywer tereg opmerk, was die vorige bestel gebrekkig en onvolhoubaar. dis daarom sinneloos om te vergelyk met 50+ jaar terug, totaal en al ‘n ander landskap en era waar net sekeres bevoordeel is.

annie ·

Soos Piet sê, is onthou subjektief afhangende van ‘n mens se persoonlike ideologiese lewensuitkyk gebou op eie ervaring en verwagtinge. Die geskiedenis van SA is ingewikkelder as bloot Afrikaners wat Swartes onderdruk. Afrika het bestaan uit bewegende groepe vanuit alle oorde en almal het mekaar gespeel met Brittanje as mag- cum rykdom-jagter wat ten alle koste swart stamme as speelbal gebruik het om ander lande en veral Afrikaners te help uitkikker. Rassisme is ‘n lekker woord as oplossing/rede vir alle probleme vir diegene wat kwaad is vir wie hulle was, is en dit waarin hulle hul nou bevind.

Republikein in die Wes Kaap ·

Moet net nie arm witmense agterlaat nie. Hulle het nie hulpbronne vir luukse “ons doen dit self nie.” Ja, Helpende Hand deel kospakkies en komberse uit, maar dit lig nie mense uit armoede nie. Veral vrouens trek swaar. Wat my deesdae bekommer is nuwe klasseverskille wat ontstaan tussen Afrikaner gemeenskappe. Welvarendes spog alles wat hulle doen vir die “kultuur”, maar armes word agtergelaat. Ons beweeg terug na 1900.

piet ·

Dis waar wat jy se omtrent die klasse verskille tussen Afrikaners. Ons kom nie uit ‘n agtergrond van “ubuntu” nie, ons ken dit nie eintlik nie. Ander kulture het lankal besef om na mekaar om te sien. Ek verwag dat die Afrikaner wat welaf is op die arm Afrikaner gaan neersien en hom nog verder vertrap. Ek het eerstehandse kennis hiervan wat in my eie familie gebeur het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.