Om saam te bid (of nie)

gebed-hande-bybelstudie

Foto: Godsgirl_madi/Pixabay.com

As ons net saam met die mense gaan bid met wie ons saamstem, gaan daar te min gebid word in hierdie land. Suid-Afrika kan doen met meer eenheid en meer gebed.

Gebed is ʼn misterie. Tony Campolo het een keer gesê hy verstaan nie hoe gebed werk nie, “but I’ve tried to pray and I tried not to pray … and praying works better!”

Elke nou en dan wil iemand weet wat dink ek van Angus Buchan se saambidgeleentheid en ander soortegelyke geleenthede. My antwoord is: As jy wonder of jy saam met jou broers en susters oor denominasionele, kultuur- en ander grense heen moet gaan bid, gaan bid.

Ek het al (meer as een keer) saam met Moeder Teresa se “Sisters of Mercy” in Kalkutta gebid. Ek het ook al saam met AGS-pastore, Baptiste, mense van onafhanklike kerke, Anglikane, Dopper-dominees en selfs saam met ʼn Koptiese monnik gebid, en dit altyd as ʼn groot voorreg en wonderlike leerervaring beleef.

Natuurlik stem ek nie met alles rondom die betrokke massabyeenkomste (en alles wat daaroor gesê word) saam nie – ek glo byvoorbeeld nie dat God ons nou skielik duideliker hoor as ons in ons derduisende op een plek geraas maak en saam bid nie. Hy luister selfs as ʼn kind iewers alleen fluister.

Ek dink ook nie almal moet noodwendig na hierdie byeenkomste toe gaan nie. Elkeen kan maak soos hy/sy gemaklik is. Maar ek glo ons land kan doen met meer eenheid en verdraagsaamheid en dat die kerk ʼn voorbeeld hierin kan wees.

Baie van ons bewonder Desmond Tutu vir die feit dat hy destyds bereid was om saam met die NG- en ander kerkleiers te bid (van kerke wat apartheid geregverdig het en swart mense in eredienste verbied het). Dit het egter allermins beteken dat hy hulle optrede goedgekeur het!

Hy was eenvoudig meer verdraagsaam as die mense met wie hy –as gevolg van hulle onverdraagsaamheid – nie saamgestem het nie.

In Johannes 17 bid Jesus vir eenheid onder sy volgelinge en in vers 20 en 21 sê Hy: “Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat deur hulle woorde tot geloof in My sal kom. Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.”

Mag iets van Jesus se gebed in Johannes 17 ook in ons tyd waar word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Strydom

Jaco is betrokke by ECHO, ’n geloofsgemeenskap wat geleenthede en ondersteuning bied aan jongmense in nood en probeer om weer die eenvoud van kerkwees te herontdek. Hy skryf rubrieke vir onder andere Beeld en Kerkbode. Lees sy artikels op ECHO Jeugontwikkeling se webwerf.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Johann ·

My beskeie mening is dat as daar soveel verskillende gelowe van alle tonge tale nasies en geslagte is dat die mense almal in stille gebed verkeer vir ‘n sekere tyd en dat elke geloof teenwoordig se leiers dit bekragtig deur slegs ‘n Amen daarop sonder enige reelase

Genieve ·

Ek gaan ook ingeskakel wees,want ek glo gebed verande sake.

John ·

Ons kan egter nie saam met mense bid wie nie Christus as Middelaar tot die Vader aanvaar nie, want sulke gebede is bloot sosiale samesyn en bereik Hom nie. Gode en beelde is ‘n gruwel voor die Here. Ons kan nie besluit of ‘n gebed aanneemlik gaan wees nie… dis uitsluitlik die Vader se prerogatief. Ons sou seker wel in vrede saam met mekaar kon leef indien ons mekaar se verskille kon respekteer maar ideologie en godsdiens vervloei en erge botsings spruit juis uit godsdiensverskille.

Marcus ·

God hoor die sagte enkel gebed, baie waar!
Maar die President sal eerder opdaag in die stadion as by iemand se TV.
Byeenkomste het net ‘n beter impak. Dis waarom ons Sondae kerk toe gaan.

Ruida ·

Dis so waar. Die Woord sě: moenie die onderlinge byeenkoms verwaarloos nie. Met so baie Christene bymekaar! DIT verbly God se hart…net die samesyn…die lofprysing alleen…WOW!

Sharon ·

Of ons alleen of saam bid. God hoor elkeen van ons. Hy het nie n voorkeur in kleur, taal, rykdom vet of maer nie. Hy ag almal gelyk. Dit is hoekom ons Bybel se die liefde oorheers alles. Alleen kan ons nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.