Omdat ons so sê

vlag suid-afrika

Argieffoto.

Johan Schoeman

Die Amerikaanse kommentator Noam Chomsky ontvang krediet vir die titel van hierdie stuk. Hy het ʼn boek geskryf met soortgelyke titel waarin hy die outokrasie van die Amerikaanse buitelandse beleid beskryf en kritiseer, met spesifieke verwysing na die modus operandi om eenvoudig daarop aan te dring dat lande doen wat Amerika aan hulle voorskryf of die gevolge daarvan dra. Die boek bevat Chomsky se ontledings hiervan tussen 2011 en 2014, en is vir diegene wat in die VSA se rol in Suid-Afrika se geskiedenis belangstel, baie ter sake[1].

Maar waarom hiermee afskop? Wel, ons het 2015 so afgesluit en 2016 blykbaar so begin. Met die verwagting dat jy die staat se idee en begripsideologie moet ondersteun of verontwaardiging, tronkstraf of erger, afhangende van wie jy is, is jou voorland. Hierdie kwessie is natuurlik nie nuut nie. Die 20ste eeu is deurspek met gebeure wat hiermee verband hou. En die lakeie in Afrika het natuurlik hulle eie vorme hiervan. Dit sal nie die eerste of laaste keer wees dat die resultaat van harde dinkwerk (hier die demokrasie) verdraai en gebruik word om die een of ander minder genuanseerde opset te voed nie. Een voorbeeld uit ou Europa, wat hulself as die nuwe Europa ook via hierdie filosofie in ʼn strik laat vang het: Vaclav Havel, die leier van die Fluweelrewolusie wat Tsjeggo-Slowakye van die Sowjet-unie help bevry het, het uitvoerig oor hierdie kwessie geskryf. Havel was toneelskrywer en filosoof, en beskrywe in ʼn essay in 1978 die proses waardeur diktature oorleef. Sy gevolgtrekking is dat dit nie gebeur deur die uitoefening van blote brute mag of die skep van vrees nie, maar veral deur die skep van mites. En hierdie mites moet geoperasionaliseer word vanaf die hoogste, ideologiese vlak tot op die vlak van die kleinste, alledaagse gebeurtenis. Havel noem die voorbeeld van die groentehandelaar in Tsjeggo-Slowakye wat tydens die Sowjet-unie se besetting van die land elke oggend ʼn plakkaat buite sy winkel opgesit het: “Werkers van die wêreld verenig!” Op sy klein, alledaagse manier het die handelaar seker gemaak dat die staat hom met rus laat en so hulle mite help dien.

As jy egter eers besluit het om nie met die mite saam te gaan nie, het jy basies drie keuses. Die wisselende sukses van al drie, ook aan die suidpunt van Afrika, neem nogal ʼn redelike deel van geskiedenisboeke in beslag. Die eerste is om jou fisiek teen die mite te verset. Ek vermoed baie min sien vandag in elk geval hiervoor kans. ʼn Tweede keuse, en een wat ook deur Havel gebruik is, sou wees die skep van ʼn alternatiewe vorm van bestaan, naas die heersende mite. Dit beteken nie net die skep van strukture nie, maar verteenwoordig ook ʼn manier van leef. Wat sou dit omvat? Ek sou my voorstel dat die insien van verbande tussen die mite en dit wat in die alledaagse gebeur, die kritiese denke oor gebeure, die bevraagtekening, die debatvoering, die wonder oor kortpaaie vir oplossings en soms selfs die ignorering van die mite alles deel sou kon vorm van ʼn plakkaat wat elke dag buite jou winkel opgesit kan word. Die derde keuse is natuurlik die beoefening van diplomasie tussen die mite en jou eie beskouinge. Hiervoor sien baie vandag beslis kans, aangesien dit die minste moeite en die kleinste bedreiging verteenwoordig, moreel “reg” klink en verder geldmaak as jou betrokkenheid by die allesoorheersende mark ook nog hierby inval. Hoekom dan nie?

Dit kom dus ten einde laaste neer op keuses; weliswaar ongelooflike dringende keuses. Ek glo nie Havel sou diplomasie met die magshebbers voorstel as die verkose uitweg nie.[2] As ʼn mens die “gevierde” stelsel waaronder hy moes leef eers aan die lyf gevoel het, kry sommige illusies vinnig aandag. Voorbeelde hiervan ken ons plaaslik ook wel deeglik, waar slegs die amptelik bevestigde inhoud (waar so iets wel bestaan) van konsepte geld en geen ander nie. Verder maak ons die reëls soos die wedstryd voortgaan. Wat Havel wel sou voorstaan is die skep van alternatiewe, hoe klein ook al. Maar veral die vermoë om in elke situasie raak te sien hoe die goedgekeurde mite funksioneer en jou intellektueel daarvoor in te rig.

Daarvoor is daar nog ’n klein kans. Maar weet die wind is teen jou.

  • Johan Schoeman is die sekretaris van die Solidariteit Beweging.

Bykomende inligting:

[1] Sien: http://www.penguin.co.uk/books/because-we-say-so/9780241188354/

[2] Vir voorbeelde hiervan sien: http://www.rmastudies.org.nz/documents/AbileneParadoxJerryHarvey.pdf en https://en.wikipedia.org/wiki/Stockholm_syndrome

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Bok-Bok ·

Ag vaderland, so hoogdrawend, so ‘n verbale gebokspring. Ek reken mnr Schoeman voel nou stukke beter nadat hy sy hart uitgeskryf het en die leser totaal vermoeid nou die aftog gaan blaas – hopelik saam met die wind.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.