Omgekeerde apartheid? Ek gaan bly veg en bou!

Deur René van der Vyver

René van der Vyver

“Omgekeerde apartheid.” Jy hoor dit seker gereeld? Erger nog… Ervaar jy dit gereeld?

Ek het onlangs na die fliek Poppie Nongena gekyk en dit het my aan die dink gesit. Ek het baie geleer oor die apartheidsjare, waarvan ek nie deel was nie, want enigiemand wat jonger as 28 is, is ná apartheid gebore. Dit het egter ook my oë oopgemaak vir die hedendaagse rassediskriminasie wat ek beleef.

Ja, Poppie Nongena en baie ander het seergekry in die apartheidsjare en wou hê dat die ongeregtighede reggestel moes word. Was “regstel” dalk eerder vervang met “omkeer”? Indien dit is, is die taak voltooi.

Hoekom sê ek so? Soos die storie van Poppie uitgebeeld het, word ek vandag, as gevolg van my velkleur, gereeld soos ʼn tweedeklasburger in Suid-Afrika behandel. Ek voel vervreem van my geboorteland. Van my medelandsburgers verkondig dan dat ek, en almal met ʼn wit vel, in die see gejaag moet word. Medelandsburgers sing “Kill the Boer” by byeenkomste in openbare plekke waar ek dit met ʼn seer hart moet aanhoor. Medelandsburgers sê dat wit mense moet “teruggaan na Europa”, asof die laaste 370 jaar wat baie Afrikaners help bou het aan Suid-Afrika, nooit gebeur het nie. Ek hoort nie in Europa nie. Ek hoort hier!

Beurse, universiteitstoelating en werksgeleenthede herinner my gereeld dat ek toenemend deur die ANC-regering as ʼn tweedeklasburger beskou word. Daar word dan blatant in al die bogenoemde dikwels gestipuleer dat mense met ʼn wit vel nie daarvoor in aanmerking sal kom nie.

My persoonlike ervaring by staatsinstellings of -dienste is ook nie aangenaam nie, want dit voel baie keer of ek soos ’n buitelander by binnelandse sake hanteer word. Die poskantoor en Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) is ongelukkig ook skuldig in dié opsig. En nog erger, ek leef soos baie landgenote in vrees. Ek vrees dat ek langs die pad deur die verkeerspolisie afgetrek kan word, want my lisensie het verval en die regering maak dit feitlik onmoontlik vir my om dit te hernu. Ek het al telkemale 04:00 in ʼn lang ry by die verkeersdepartement gaan staan, net om teen 08:00 te hoor “die water is af, ons kan nie vandag lisensies hernu nie”.

Ek mag ook nie na donker op die straat wees nie – dis te gevaarlik. Die misdaadsyfer in Suid-Afrika is so hoog dat selfs volwassenes nie veilig voel om winkels toe te gaan nie. Mense het ’n wesenlike vrees om beroof, verkrag of vermoor te word.

Wanneer die Springbokke ’n belangrike wedstryd speel, voel ek vervreem. Kan ek hulle ondersteun as spelers op grond van ras en velkleur eerder as vaardighede gekies word? Die kwotastelsels van sport laat sekere landsburgers reeds so vroeg as laerskool uitgesluit en vervreem voel wanneer hulle, as gevolg van hul velkleur, nie deel van ’n sportspan mag wees nie.

Openbare universiteite is ook nie meer ruimtes waar Afrikaanse studente tuis voel nie, want “Afrikaans must fall”. Dit lyk of skole ook nie gespaar sal word nie in die lig van die minister van basiese onderwys se planne om die Skolewet te verander sodat die staat volle seggenskap oor die taalbeleid van skole kan kry.

In die fliek van Poppie word daar klem geplaas op die jeug se beswaar teen ʼn gedwonge taalbeleid in skole. Daar is dan ʼn skermgreep van ʼn afgebrande skool waar die woorde “Black Power” op die muur geverf is.

Die jeug destyds, wat deur apartheid onderdruk is, het geveg teen onreg. Vandag veg ons, die jeug, weer teen onreg en ’n nuwe vorm van onderdrukking. Die verskil is ons sien die belangrikheid daarvan in om te bou en ’n verskil te maak. Ek is geleer dat om ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap te maak, jy moet bou, eerder as afbreek en vernietig.

Terwyl Afrikaans die onderspit by openbare universiteite delf, bou die Afrikanergemeenskap aan wêreldklasonderwysinstellings soos Sol-Tech, Akademia en Bo-Karoo Opleiding. Dieselfde kan gesê word met betrekking tot skoolonderrig. Die Solidariteit Skoleondersteuningstelsel (SOS) koester die visie om bestaande Afrikaanse skole in stand te help hou en om nuwes te help bou. Hierdie bou-manier van opstand is vir die Afrikanervolk nie nuut nie. Dit loop eerder soos ʼn goue draad deur ons trotse geskiedenisverhale.

Vandag moet ek en jy gereeld hoor van ander se “freedom struggle”, maar die Afrikaner se vryheidstryd duur al lank voort. Ons is nou, met alles waaraan ons bou, ook weer besig met ons “struggle”.

Nee, al word ek gereeld as ’n tweedeklasburger behandel, sal ek nie toelaat dat dit my identiteit afkraak nie. Ek weet van beter as daar vir my vertel word dat my identiteit krimineel is, omdat ek kamstig “die land gesteel het”. Ek koester eerder die tasbare identiteitsmerker dat ek ’n Afrikaner is met ondernemingsgees, veggees en bougees. ’n Bougees wat ’n toekoms bou ten spyte van vele uitdagings.

“Omgekeerde apartheid?” Ek gaan bly veg en bou!

  • René van der Vyver is ’n veldtogbeampte by AfriForum.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
Janine

Uitstekend gestel!

Schalk

Ongelukkig is die afsnypunt vir apartheid nie hoe oud is jy nie of wanneer jy gebore is nie. Nee dit is net een kleur vir die toekoms. Ek het simpatie vir ons jeug. Maar hou koers moet nie moed opgee nie.

Hannes

Puik skrywe!

Sandra

En die ergste van alles, die apartheid storie word meestal genoem deur jongmense wat nie eens by apartheid betrokke was nie. Te jonk om die struggle te ken. Die jeug moet eerder veg vir ‘n beter Suid Afrika, sonder rassisme van enige kant, sodat niemand soos hulle ouers en oupa en ouma, in so ‘n land moet leef nie. Die jeug van elke kleur, moet eerder aan ‘n beter toekoms saam werk.

FM

Ek is opgewonde oor ons land se toekoms.
Soveel jongmense van die blanke en swart gemeenskappe het positiewe, intelligente gesprekke met my gevoer.
Elke maal wat ‘n swart persoon my so vriendelik in Afrikaans groet en bedien sien ek die wonderwerkende liefde van ons Here.
Dis jongmense soos René wat nie moed verloor nie en deurdruk om duidelik standpunt te neem wat respek en verandering bring.
Baie dankie vir René en Maroela Media
Ek het hoop vir Suid-Afrika