Ons gooi mekaar nog steeds met modder

dr-leopold-scholtz-kruispaaie

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

Die laaste week of wat het – vir die soveelste keer – ’n vurige debat in Suid-Afrika uitgebreek oor die vraag of apartheid ’n misdaad teen die mensdom is. Die aanleiding was dat Kallie Kriel, hoof van AfriForum, in ’n onderhoud in antwoord op ’n vraag van Eusebius MacKaiser ontken het dat apartheid inderdaad ’n misdaad teen die mensdom was.

Sedertdien het byna al wat leef en beef hulle oor die kwessie uitgespreek. Talle bydraes, van links én regs, het bestaan uit emosie, geskreeu en geskel.

Dit help nie. Kom ons benader die vraag rasioneel en genuanseerd. Laat ons respek hê vir die sterk gevoelens aan alle kante, maar ons kan ons nie daardeur laat lei nie.

Ek moet ewenwel begin met ’n belangrike nuansering: Niks wat hieronder staan, moet vertolk word as ’n morele goedkeuring van rassevooroordeel of -diskriminasie nie. As historikus verstáán ek waarvandaan apartheid kom, en is ek in staat om dit in die konteks van sy tyd te sien, maar al verstaan ek waarvandaan byvoorbeeld slawerny kom, keur ek dit nie goed nie.

Hoe ook al, diegene wat meen apartheid wás ’n misdaad teen die mensdom, voer gewoonlik twee argumente aan. Die een is dat die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies ’n besluit met dié strekking in 1974 aanvaar het; die ander dat die sogenaamde Rome-Statuut van die Internasionale Strafhof dit in 2002 herhaal het.

Kom ons kyk na albei.

Die “International Convention on the Suppression and Punishment of the Crime of Apartheid” (1973) definieer dit as “inhuman acts committed for the purpose of establishing and maintaining domination by one racial group of persons over any other racial group of persons and systematically oppressing them”.

Die voorgeskiedenis van die besluit strek terug tot 1971, toe die destydse Sowjetunie en Guinee ’n konsep by die Algemene Vergadering ingedien het en is twee jaar later formeel aanvaar. Dit het uiteindelik in 1976 volkeregtelike status gekry nadat 20 state dit bekragtig het.

Dis belangrik om te weet wie hulle was: Benin, Bulgarye, Belarus, Tsjad, Tsjeggo-Slowakye, Ecuador, Oos-Duitsland, Guinee, Hongarye, Irak, Katar, Mongolië, Pole, Somalië, Sirië, die Sowjetunie, die Verenigde Arabiese Emirate, Tanzanië en Joego-Slawië.

Geeneen van dié state het gesistematiseerde rassediskriminasie soos Suid-Afrika bedryf nie. Maar hoeveel van hulle was demokrasieë? Nul – hulle was sonder uitsondering wrede diktature waar mense basies geen regte gehad het nie.

Dis ook belangrik om te weet wie nie destyds of sedertdien agter die besluit gaan staan het nie: Die meeste Westerse demokrasieë. Baie van hulle het regstreeks of onregstreeks deurgeloop onder die hiel van Adolf Hitler se Nazi-Duitsland en het dus eerstehandse kennis van die onderwerp gehad.

Dit was inderdaad die Weste se vernaamste beswaar. Ná die Tweede Wêreldoorlog is verskeie Nazi-leiers skuldig bevind aan wat toe ’n nuwe begrip in die volkereg was, naamlik misdade teen die mensdom, wat ingesluit het die doelbewuste volksmoord op ’n geskatte ses miljoen Jode.

Soos die Duits-Kanadese politieke wetenskaplike Heribert Adam dit stel: “In short, if anything and everything amounts to fascism and genocide, then nothing is fascism and genocide. The propagandistic inflation of serious accusations cheapens the fate of the real victims of fascism.”

Dus, in alle redelikheid: Dat die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies apartheid tot ʼn misdaad teen die mensdom verklaar het, sê nie veel nie.

Kom ons kyk nou na die tweede.

In 2002 het die Internasionale Strafhof apartheid gedefinieer as “inhumane acts … committed in the context of an institutionalised regime of systematic oppression and domination by one racial group over any other racial group or groups and committed with the intention of maintaining that regime”.

Misdade teen die mensdom, het die Statuut voortgegaan, sluit in moord, uitwissing, gedwonge deportasie van bevolkings, aanhouding in oortreding van die fundamentele beginsels van die volkereg, apartheid, marteling, en die vervolging van identifiseerbare groepe op politieke, rasse-, etniese, kulturele, religieuse of geslagsgronde.

Verskeie punte kan nou gemaak word.

Ten eerste, in die reg geld ’n ou Romeinse beginsel: Nulla poena sine lege (“geen straf sonder ’n wet”). Dit beteken bloot dat jy nie gestraf kan word vir iets wat nie deur ’n geldige wet strafbaar gestel word nie.

Die Rome-statuut het van krag geword in 2002 – agt jaar nadat die laaste stukkies apartheid op die Suid-Afrikaanse wetboek verdwyn het. Dus, sou jy kon sê, kan die Statuut streng gesproke nie geld vir die apartheidsbeleid wat in die jare 1948-’94 in Suid-Afrika toegepas is nie.

As dit wél geld, moet dit immers ook met terugwerkende krag geld vir die informele segregasie wat álle Westerse lande in hul kolonies toegepas het. (Deesdae sal daar nogal mense wees wat meen Europa moet inderdaad vir sy koloniale verlede vervolg word.)

Maar goed, albei bogenoemde punte kom neer op ’n formalistiese benadering. Beskuldigings kragtens die twee punte is eerder politiek van aard en moet dus ook op daardie vlak beantwoord word.

As jy kyk na wat deesdae in die volkereg as misdade teen die mensdom geld, is daar bitter min lande wat onskuldig is. Amerika martel terreurverdagtes (hulle noem dit versagtend waterboarding of enhanced interrogation) en sy president val die vrye media aan as “vyande van die volk”; Rusland en China arresteer albei opposisiepolitici as hulle betogings lei en maak dit bitter moeilik om hoegenaamd opposisie te voer; daar is min state in Afrika of die Midde-Ooste wat nie die grense van die regstaat oorskry nie, ensovoorts.

Só gesien, is daar eintlik nie baie min state in die wêreld wat hulle nié aan misdade teen die mensdom skuldig maak nie. Maar by ons in Suid-Afrika gooi ons mekaar met modder oor iets wat al byna ’n kwarteeu in die verskiet lê.

Uiteraard, in baie mense se harte leef die bitterheid voort. Apartheid was in die praktyk ’n intense belediging wat diep gegryp het. Ná 1902 het die gloeiende kole van die Britte se verdrukking van die Afrikaners nog dekades lank gesmeul – en plek-plek voel jy die hitte nog. Is dit ’n wonder dat sommige mense steeds nie kan vergewe nie?

Uiteindelik sal ons maar moet aanvaar dat dié soort debatte, gevoed deur meer emosie as rasionele denke, nog lank met ons gaan wees. Ons kan die groeiende polarisasie aanhelp deur self terug te skel, of ons kan kalm en rasioneel bly.

Kallie Kriel se vermoë om rustig en verstandig te reageer op al die bliksemstrale wat van alle kante op hom afgevuur is, is indrukwekkend. Doe zo voort, Kallie. Vroeër of later, as die hitte van die emosie afneem, sal die rede hopelik deurbreek.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

14 Kommentare

Eish ·

Altyd soos n vars briesie.
Baie dankie vir die perspektief.
Sterkte in Nederland.

Casper Labuschagne ·

Wat my dwars in die krop steek is wanneer die verklaring van die V.N. dat Apartheid ‘n sonde teen die mensdom is, gebruik word as motivering om simbole te verbied soos spesifiek die vorige landsvlag asook Die Stem. Dit is ‘n afdraandpad wat sal beteken dat sekerlik ‘n groot deel van die Afrikaner se herkoms en geskiedenis sodoende as ongewens verklaar kan word en dat die Afrikaner onbepaald as sondebok gebrandmerk sal wees. Maak geen fout nie, ek sing Die Stem as Afrikaner uit patriotiese trots en geensins as ‘n hulde aan Apartheid nie en het geen bedoeling om ander daardeur te wil verneder nie. Ek waai ook nie die ou landsvlag in enigeen se gesig nie, maar daardie simbole is nie in die minste vergelykbaar met byvoorbeeld die Nazi hakkekruis nie.

Paul ·

Hoor hoor! Dankie ook vir die laaste paragraaf, Kallie verdien dit.

tamboti ·

Wette, morele opvattings en oortuigings verander, ja soms die meerderheid s’n ook.
‘n Paar honderd jaar gelede sou dit moreel of wetlik reg wees om slawe te koop, hard te laat werk en ook hul kinders te besit, en natuurlik hulle goed behandel. Wel die meeste van die mensdom het nou anders besluit. Nou sit ons met groot werkloosheid en armoede / hongesnood?
Alles moet in balans gehou word, uiterstes is onstabiel, onbuigsaamheid gewaarborg om gebreek te word.
My punt: Apartheid was vir ‘n spesifieke doel, dit was dalk met te veel foute uitgevoer en dalk onbuigsaam toegepas. Ons huidige eenparty regering se (demokratiese) bestel kan ook as misdaad teen ons burgers bestempel word: gedwonge integrasie, kwotas, BBBEE, vertrapping van minderheidsbelange en kultuurerfenis, korrupsie en vele meer.
Soos die skrywer se: dink nugter en nie emosioneel nie.

Hendrik ·

Wel dan moet buwusmaking van die huidge regerings se beleidsrigting deuglik bekend gemaak word reg deur die wereld. Met 50 moorde p/d, 20 mense p/d gedood in motorongelukke, 1 Transitorooftog p/d en x sterftes p/d in hospitaal is S.A beslis beslig met misdaad teen S.A se burgery.,

Piet ·

Miskien kan Leopold vir ons se watter “regimes” is almal as misdaad teen die mensdom verklaar. Komminisme?

Henry ·

Baie dankie vir die feitelike agtergrond oor die VN se 1974 besluit oor die sogenaamde ‘misdaad teen die mensdom’ waarvan die eertydse RSA regering beskuldig is, asook die latere Rome-statuut.

Die siele wat tot vandag toe hierdie ou koei uit die modderpoel sleep en afspoel, is altyd tjoepstil oor watter berugte 20 state in 1974 hierdie holrug geryde ‘openbaring’ uiteindelik bekragtig het.

Sover my beperkte kennis strek, was die VN se ledetal gedurende die middel sewentiger jare ongeveer 140.
:-)

Paul ·

Dr Leopold, ek hoop van harte dat hierdie skrywe van jou sal die mense ook op Netwerk24 kan lees.

Paul ·

In explanation of the US vote against the convention, Ambassador Clarence Clyde Ferguson Jr. said: “[W]e cannot…accept that apartheid can in this manner be made a crime against humanity. Crimes against humanity are so grave in nature that they must be meticulously elaborated and strictly construed under existing international law…”

JdV ·

Dr. Scholtz, aanvanklik het ek verwag dat u artikel ‘n bepaalde rigting gaan inslaan, en toe is ek aangenaam verras dat u Kallie Kriel komplemteer met sy hantering van die onderwerp en kritiek. Baie dankie daarvoor. Kallie verdien dit.

Kreatiewe Denker Selfaktualiseerder Erdvark van Hoop ·

Dankie dr. Scholtz.
Te veel Suid-Afrikaners het nie volhoubare eerbare beroepe en werk sodat hul hande en kop kreatiewe werksuitsette kan lewer ter bevordering van selfaktualisering en selftrots en dat hy /sy ‘n opbouende impak op medemens, samelewing en omgewing kan maak. Elke mens, hoe beskeie ookal, soek tog erkenning. Die Skepper het nie die mens geskape om elke dag heeldag vakansie te hou nie. Verdamp hoop en werksgeleenthede en die mens raak ‘n onrustige soogdier en groepsdier wat sondaars en skuldiges soek. Eenvoudig gestel: sosiale onrus. En o’wee, pasop sondebok!

peet van breda ·

Die modder kom net van eenkant af. Die ander party reageer dood eenvoudig net uit self verdediging. Die pers en pollitiek hou rassisme en verdeeldheid lewendig veral met hul verkiessing veldtogte. Poppulisme en magsbeheptheid het integriteit en deugsaamheid vervang.

Jerry ·

Moddergooi verdeel die Afrikaner wat nie noodwendig n slegte ding is nie. Moddergooi is juis nou nodig en belangrik, omrede dit die Afrikaner in sy verskillende groeperings skool om sterker te staan, beter dialoog te voer en deur slimmer om te gaan met inisiatiewe. Dit maak die Afrikaner meer gedetermineerd om situasies nog beter te verstaan en te hanteer. Dit bring ook mee dat daar meer as een oplossing vir die hantering van probleme tafel toe kom. Moddergooiery kan die Afrikaner tot beter insigte bring. Moet tog in hemelsnaam nie ophou om modder te gooi of om duiwelsadvokaat te wees nie! Emosionele uitbarstings of nie, moddergooi moet op die agenda bly.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.