Ons is die natrekkers van die God wat voorsien

Ds. Johann Ernst het dié boodskap op 16 Desember 2022 tydens die Geloftedagvieringe by die Voortrekkermonument in Pretoria gelewer.

Die inwyding van die Voortrekkermonument in Pretoria in 1949. (Foto: Verskaf.)

Wie is die “ons” waarvan die Gelofte sê: “Hier staan ons …”? Wie is die “ons” waarvan die woorde bo-op die senotaaf sê “Ons vir jou Suid-Afrika”? Wie is die “ons” wat vanoggend presies 184 jaar ná die historiese slag van Bloedrivier hier by die Voortrekkermonument saamkom?

Ons moet vanmôre, voor ons hiervandaan verder gaan, sekerheid kry oor wie hierdie “ons” is. Want hiersonder sal die verlede nie vir ons sin maak nie. Hiersonder sal ons die hede nie verstaan nie, en hiersonder sal ons die weg na die toekoms nie vind nie.

Daar word vrae gevra oor die gelofte. Daar word vrae gevra oor hierdie Monument. Daar word vrae gevra oor ons wat hier saamkom. En daar word antwoorde gegee. Antwoorde waarmee ons mag saamstem én antwoorde waarvan ons mag verskil.

Ons is die natrekkers van die God wat voorsien

Die Bloedrivier-gelofte begin met besonder betekenisvolle woorde: “Hier staan ons voor die Heilige God van hemel en aarde.”

Wanneer daar, nogal dikwels met kritiek, nagedink word oor die inhoud van die gelofte, word daar vrae gevra oor die “deurbring” van die dag, oor die “nakoming” deur die nageslag en die “bewoording” van die oorspronklike teks. Maar die vraag “aan Wie” die gelofte gerig is, word nie eintlik gevra nie.

In hoofkommandant Andries Pretorius se verslag aan die Volksraad en sy sekretaris, Jan Baantjes, se joernaal staan dat die drie gemeentes (let wel: nie kommando’s nie) onderweg op Sondag 9 Desember 1838 ingestem het om aan die “Almagtige” ʼn  gelofte te doen. Die gelofte kom uit die kerk.

Wat ook al die presiese woorde, begin die gelofte by dié God wat die heelal geskep het, dit bymekaar hou en daaroor die oppergesag voer.

Naas sy heilige en goddelike Woord, ken ons God deur middel van sy skepping, onderhouding en regering van die hele wêreld. Artikel 2 van ons kosbare Nederlandse Geloofsbelydenis sê dit só:

“Dit is immers voor ons oë soos ’n mooi boek waarin alle skepsels, groot en klein, net soos letters is wat ons die onsigbare dinge van God, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, duidelik laat sien.”

Dit beteken dat God die Almagtige, die God van hemel en aarde, op enige oomblik, op enige plek by elke mens op aarde betrokke is. Hy ken elke mens se storie van geboorte tot dood. Hy weet waar ons vandaan kom, wat ons nou deurmaak en waarheen ons op pad is.

Dit gaan nie goed met die Hebreërs aan wie die onbekende skrywer sy skrywe rig nie. Hulle was besig om in moedeloosheid te verval en het gevaar geloop om van die geloof afvallig te word. Hulle word egter opgeroep om terug te kyk na die geloofshelde van gister wat hard gestry het en die geloof enduit behou het.

Hulle word opgeroep om nie vas te kyk teen vandag nie. Al lyk die dinge vir hulle op die oomblik nie goed nie en al kry hulle baie swaar in die vreemde, sê God deur die skrywer vir hulle (13:5b en 6):

“Ek sal jou beslis nie verlaat nie en ook nie in die steek laat nie,” sodat ons met vertroue kan sê “Die Here is vir my ’n helper, ek sal beslis nie bang wees nie. Wat sal ’n mens aan my doen?”

Hulle word opgeroep om vorentoe te kyk en enduit te stry in die geloof, sodat hulle die beter toekoms wat God reeds vir hulle voorsien het, kan bereik. Maar hulle word veral opgeroep om na bo te kyk en Hom te sien wat aan die regterkant van die troon sit en deur wie God nou alles regeer (12:2) “die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof.”

Paulus bid in Efesiërs 1 dat God Drie-enig ons geestesoë só sal verhelder dat ons weet watter hoop sy roeping inhou en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat God vir die gelowiges bestem het, en hoe geweldig groot God se krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo.

En dan vervolg Paulus: “Aan Hom (ons Here Jesus Christus wat aan die regterhand van God sit) het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as hoof van die kerk.”

In haar trefferlied “Die Koning kom” vra Juanita du Plessis: “Wie regeer? Wie is in beheer? Wie’s die Begin en die Einde, Die Een wat is, wat was en wat kom?”

Kan ons dit vanoggend vanuit die geskiedenis in aanloop tot en na afloop van die Bloedrivier-gebeure bevestig dat ons die natrekkers is van die God wat nog altyd voorsien?

Wel, toe die Kaap nog Hollands was en die Trek van die emigranteboere uit die Kaap nog nie eers ʼn gedagte was nie, is ʼn seuntjie op 24 Augustus 1801 in Ten Mile Creek, Pennsilvanië in die VSA vir Jacob en Hanah Lindley gebore. Sy naam was Daniel Lindley. In 1831 is hy in Price Edward, Virginia georden as predikant van die Presbiteriaanse Kerk.

Die Amerikaanse Sendingraad stuur hom as sendeling om onder die Matebele te kom werk, maar nadat hy in 1837 feitlik ʼn jaar lank met ʼn ossewa die 1 600 kilometer vanaf Kaapstad na die sendelingpos naby opperhoof Mzilikazi se kraal by Mosega afgelê het, moet hy die hele pad terugry omdat die kommando onder leiding van Gert Maritz, ondersteun deur Hendrik Potgieter en Sarel Cilliers, die Matebele oor die Limpopo verdryf het en sy sendingveld van hom weggeneem het.

Van die Kaap is Lindley toe Natal toe, waar hy as sendeling onder die Zoeloes gaan werk het. Maar die verhaal van Daniel Lindley eindig nie hier nie. Dit het maar net begin. Dit vervolg later. Ons sal weer sien hoe God se voorsienigheid in die lewe van Daniel Lindley effektief gewerk het.

Ons is die kinders van die God wat beproef

Die Bloedrivier-gelofte het ʼn aanloop en ʼn gevolg – ʼn eers en ʼn later. Wie die teks van die gelofte lees en hom of haar daaroor uitspreek, sonder om ook die konteks volledig in aanmerking te neem, laat nie reg geskied aan wat aanvanklik daartoe aanleiding gegee het en wat uiteindelik daaruit voortgekom het nie.

Dit is vir ons moeilik om ons terug te dink aan wat presies in die loop van 1838 in die gedagtes en gemoed van die emigranteboere in Natal aangegaan het. Dit moes egter afgestuur het op ʼn tyd van volslae verslaentheid, moedeloosheid, troosteloosheid, uitsigloosheid, hulpeloosheid en magteloosheid.

Die moord op Piet Retief en sy manskappe, waaronder sy seun, en die daaropvolgende doodslag van veral kinders en vroue by Doornkop, Bloukrans en Moordspruit, het oral skokgolwe deur die Trekkergemeenskap gestuur.

Die strafekspedisie wat daarop gevolg het, waarin onder meer Dirk Uys en sy seun Dirkie gesneuwel het en Hendrik Potgieter daarna as verraaier uitgekryt is en oor die Drakensberg teruggetrek het, het tragies misluk. Op 23 September 1838 sterf Gerrit Maritz, die enigste oorblywende Trekleier in Natal en die man wat die mismoedige Trekkers nog probeer oorreed het om in Natal te bly. Eintlik het die trek in Natal tot ʼn einde gekom.

Min mense weet dit, maar die moord op Retief en sy manskappe en die doodslag daarna van veral vroue en kinders, was nie Dingaan se enigste verraderlike daad in dié tyd nie.

Ongeveer ses maande tevore het Dingaan vir hoofman Dube en sy volgelinge van die Qadi-stam aan die Tugela gevra om pale te gaan kap en aan te dra na Mgungundlovu as bewys van hulle onderdanigheid. Met die taak afgehandel, is die weerlose paaldraers in Dingaan se kraal oorval en doodgeslaan.

Toe hoofman Dube hoor wat gebeur het, het hy en sy volgelinge ʼn nabygeleë bos ingevlug, maar feitlik almal van hulle, klein en groot, is om die lewe gebring. ʼn Ma en haar seuntjie het ontkom en gevlug. Later het hulle veiligheid gevind by niemand anders as Daniel Lindley se sendingstasie nie.

Hierdie seuntjie, wat predikant geword het, was die oupa van John Dube, die eerste president van die ANC. God voorsien soms op ʼn vreemde manier. In dieselfde tyd, in dieselfde landstreek, kyk wit en swart die dood in die oë en word die toekoms vir hulle almal duister.

Die woord “as” in die Gelofte sê hier eintlik alles. ʼn Dosent in teologie aan die Universiteit Stellenbosch, wat haar nie die konteks van die gelofte kon indink nie, het die volgende in haar kerk se kerkblad daaroor te sê gehad:

“Die ganse gelofte berus op ʼn enkele woord: ‘as’. Die Voortrekkers se belofte aan God, wat nie net hulleself bind nie maar ook hulle nageslagte – diegene met geen sê in hierdie transaksie nie – is volledig voorwaardelik. Die bepalings waaraan God moet voldoen binne hierdie onderhandeling is tweeledig: God moet die Voortrekkers beskerm en hulle vyand aan hulle oorlewer. God se beloning vir God se kantkiesery is die viering van Geloftedag. Die prys is egter hoog: ʼn (Ander) groep mense moet “oorgegee” word in die hand van die Voortrekkers. Hiermee word die beloofde heil ingebed in ʼn logika van geweld – en Afrikanertrots se Afrikanergod se Afrikanerheil.”

Maar dit is nie wat die “as” sê nie!

Die “as” spreek van totale oorgawe aan en afhanklikheid van God ná al die verskriklike terugslae. Dit het meer die betekenis van “asseblief” en is gegrond op die oortuiging dat “as dit die wil van God is, sal ons op ʼn konkrete en tasbare wyse Hom daarvoor eer en dank.

Diepe afhanklikheid van God in ons grootste uur van nood, ʼn diepe besef dat ons ons eie wil moet prysgee om aan God se wil gehoorsaam te wees en ʼn diepe dankbaarheid teenoor Hom wat tog, sonder enige aanspraak van ons kant af, ons vanaf ons wankelende knieë gehoor het, ons veilig bewaar het en aan ons bo verwagting uitkoms gegee het, lê immers agter die Gelofte.

Die geloftemakers staan nie voor die almagtige God van hemel en aarde as Voortrekkers of Afrikaners nie, maar as gelowige kinders van hul Hemelse Vader. Hulle is kerkmense. Die aanhef tot die Gelofte praat eerste van “broeders” en dan van landgenote.

In die aantog na Bloedrivier sê Andries Pretorius dat die rus en die redelikheid van broederliefde wat onder hulle heers terwyl hulle saam in een huis woon, bo sy verwagting is. Hy gee opdrag hoe hulle, wat onder die lig van die Evangelie gebore is, hulle moet gedra en dat geweld teen vroue en kinders nie toelaatbaar is nie.

Swaarkry is nie verniet nie

Die Hebreërskrywer bied aan gelowiges in nood ʼn onuitspreeklike troos. Die aand wat die gelofte vir die eerste keer afgelê is, naamlik op 9 Desember 1838, het die aanwesiges uit Psalm 38 gesing, dié psalm wat ons goed ken:

“Straf tog nie in ongenade, my misdade, Heer, verdra my met geduld. Wil tog nie in toorn ontsteek nie, en U wreek nie op my sonde en sondeskuld.”

Straf het hier die betekenis van tugtiging of dan dissipline. God se mense is gedissiplineerde mense! Waar God woon en werk, is daar gehoorsaamheid aan sy gesag oor ons lewe!

Dit is wat Hebreërs 12 ons leer. Soos ʼn pa sy kinders voortdurend dissiplineer, so dissiplineer ons Hemelse Vader ons ook. Dit is juis die bewys van God-se-kind-te-wees, as ons deur beproewing tot heiligheid gebring word. Dit is hoe ons gelowige voorsate hulle leed en pyn verdra en verwerk het.

Hulle het geweet dat God as hulle Vader hulle onder alle omstandighede liefgehad het en dat die dag weer sal kom dat trane in blydskap, vrees in vrede en onreg in geregtigheid sal oorgaan.

Hebreërs 12:11: “Wanneer ons getug word, lyk die tug op daardie oomblik nie na iets om oor bly te wees nie, maar om van te huil. Later lewer dit egter vir dié wat daardeur gevorm is, ʼn goeie vrug: vrede omdat hulle gehoorsaam is aan die wil van God.”

Ons is die huisgenote van die God wat by ons woon

Die belofte van die gelofte was om ʼn huis tot eer van die Here op te rig waar dit Hom sal behaag.

Dit is hier waar ons die verhaal van Danie Lindley moet afsluit. Wie het dit beskik dat ʼn Amerikaanse sendeling die stigter, eerste voltydse predikant en oprigter van die eerste kerke in Natal (Pietermaritzburg), die Transgariep (Winburg) en die Transvaal (Mooirivier/Potchefstroom) sou word?

En enkele jare daarna het hy teruggekeer na die sendingveld om sy roeping na te kom, waarvandaan hy in 1874 na die VSA teruggekeer het en in Morristown, New Jersey gesterf het. God het beskik en voorsien. Eer en dank Hom daarvoor!

Die eintlike nalatenskap van die gelofte is die kerk. In die Amptelike Program en Gedenkboek van die Inwyding van die Voortrekkermonument in 1949 staan ten opsigte van die tafereel (fries) wat die bou van die geloftekerkie te Boesmansrand (Pietermaritzburg) wys, die volgende:

“Weliswaar is die kerkie in Pietermaritzburg gebou en word Dingaansdag (Geloftedag) gevier, maar in elke Boeregemeenskap is die eerste en vernaamste gebou steeds nog die kerk, wat ook beskou kan word as ʼn vervulling van die gelofte.”

Is dit nog só? Is dit nie hier waar ons besig is om die stryd, waarvoor daar reeds hard gestry is, te verloor nie? Watter rol speel die kerk en kerklike lewe vandag in ons persoonlike, gesins- en openbare lewe?

Saam met die Hebreërskrywer moet ons vandag praat oor die sonde wat ons so maklik verstik. Ons moet praat oor geestelike moegheid en uitsakking. Ons moet praat oor die lewe-en-dood stryd waarin ons tans verkeer omdat die magte van die duisternis dreig om die oorhand oor ons almal te kry.

Ons moet nie net praat oor die magsmisbruik deur regeerders wat net hulleself dien en geen respek meer vir God en sy gebod het nie. Ons moet onder God se kragtige hand iets daaraan doen! Ons moet iets doen oor die geweld teen vroue en kinders wat nie by die Nongoxi-bos, Bloukrans en Weenen geëindig het nie. Ons moet iets doen aan die uitermate hoë voorkoms van moord in ons land en diegene tot orde roep wat dit aanblaas en goedpraat.

Ons moet iets doen aan die grondkwessie deur grond wat wederegtelik bekom is, inskiklik terug te gee, en grond wat wettig bekom is teen die valse verraderlike en gewelddadige ontneming daarvan weerhou. Ons moet iets doen aan kerke wat leeg loop. Ons moet iets doen aan kerkherstel, suiwer teologie- en godsdiensbeoefening, behoud van gesonde huwelike en gesinne en die lewering van onbaatsugtige diens aan mekaar en aan alle ander mense.

Wat siek is, moet gesond word. Wat verkeerd geloop het, moet reggemaak word. Wat stukkend is, moet heelgemaak word. Wat weggeraak het, moet gevind word. Ons moet die woorde van Hebreërs 12 vers 12 en 13 ernstig opneem as ons vandag hiervandaan gaan:

“Versterk daarom die slap hande en lam knieë, en loop die reguit pad. Dan sal wat lam is, nie uit lit raak nie, maar gesond word.”

Hoor weer wat dr. DF Malan by die opening van die Voortrekkermonument op 16 Desember 1949, vandag presies 73 jaar gelede gesê het: “Quo Vadis? Waarheen? Terug na u Christelike wandel; terug na u Christelike geloof; terug na u Kerk; terug na u God!”

Die groot vraag is nie of die opkomende geslagte onder ons Geloftedag herdenk nie. Die vraag is of ons, oud en jonk, gegewe die grootse Godgebeure in ons eie verlede, die oog op Hom het wat ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, die kruis verduur het sonder om vir die skande daarvan terug te deins.

Om 12:00 sal die son se strale gefokus op die senotaaf in die Voortrekkermonument val, mits die son natuurlik skyn. ʼn Senotaaf is ʼn leë grafmonument vir iemand wat elders begrawe is. Dink vir ʼn oomblik na oor die leë graf van Hom wat nie elders nie, maar juis in daardie spesifieke graf begrawe is. Die son het weer in daardie graf geskyn nadat Hy op ʼn Sondag as die Oorwinnaar daaruit gekom het.

Daarom kan elke Sondag, nee, elke dag van ons lewe, ʼn dankdag tot sy eer wees!

Amen.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.